Die lewe in ’n vlugtelingkamp
WAT kom in jou gedagtes op wanneer jy die woord “vlugtelingkamp” hoor? Het jy al ooit een besoek? Hoe lyk ’n vlugtelingkamp nou eintlik?
Toe hierdie artikel geskryf is, was daar 13 vlugtelingkampe in die westelike deel van Tanzanië. Ongeveer 500 000 vlugtelinge uit ander Afrikalande, wat weens burgeroorloë moes vlug, is deur die Tanzaniese regering gehelp, in samewerking met die Verenigde Nasies se Hoë Kommissaris vir Vlugtelinge (UNHCR). Hoe is die lewe in so ’n kamp?
Aankoms by die kamp
’n Tienermeisie met die naam Kandida verduidelik wat gebeur het toe sy en haar familie ’n paar jaar gelede daar aangekom het: “Hulle het vir ons ’n rantsoenkaartjie met ’n identiteitsnommer gegee, en ons familie is na die Nyarugusu-vlugtelingkamp gestuur. Daar het ons ’n erf- en ’n straatnommer gekry. Ons is gewys waar om bome af te kap en gras bymekaar te maak sodat ons ons eie huisie kon bou. Ons het roustene gemaak. Die UNHCR het vir ons ’n stuk plastiek gegee wat ons oor die dak gesit het. Dit was harde werk, maar ons was bly toe ons eenvoudige huisie klaar was.”
Die rantsoenkaartjie word elke tweede Woensdag gebruik. “Ja, ons staan in ’n ry by die veldkombuis om basiese voedselitems te kry wat deur die UNHCR uitgedeel word”, sê Kandida verder.
Wat is op die daaglikse spyskaart van elke persoon?
“Ons kry elkeen ongeveer 3 koppies mieliemeel, een koppie ertjies, 20 gram sojameel, 2 eetlepels kookolie en 10 gram sout. Soms kry ons ook ’n koekie seep, wat ons die hele maand moet hou.”
Wat van skoon water? Is dit beskikbaar? ’n Jong vrou met die naam Riziki sê: “Ja, water word uit nabygeleë riviere deur middel van pypleiding na groot opgaartenks gepomp. Die water word met chloor behandel voordat dit na die talle waterpunte in elke kamp gepomp word. Ons probeer nogtans om die water te kook voordat ons dit drink sodat ons nie siek word nie. Dikwels is ons van die oggend tot die aand besig om water te gaan haal en ons klere by hierdie waterpunte te was. Ons mag net een en ’n half emmers water per dag gebruik.”
As jy deur een van die kampe ry, sal jy kleuterskole, laerskole en hoërskole sien. Daar is soms selfs klasse vir volwassenes in die kamp. ’n Polisiestasie en ’n regeringskantoor net buite die kamp verseker dat die kamp veilig is. Jy sien dalk ook ’n groot mark met talle klein stalletjies waar vlugtelinge groente, vrugte, vis, hoender en ander basiese voedselsoorte kan koop. Van die plaaslike bevolking kom mark toe om goed te verkoop. Maar waar kry die vlugtelinge geld om enigiets te koop? Party plant ’n groentetuintjie aan en verkoop die groente by die mark. Ander verkoop miskien van die meel of ertjies wat hulle kry en gebruik die geld om vleis of vrugte te koop. Ja, die kamp lyk dalk meer na ’n dorp as ’n kamp. Dit is algemeen om mense by die mark te sien lag en gesels, net soos hulle in hulle tuisdorpe sou doen.
As jy by die hospitaal aangaan, sal een van die dokters jou dalk inlig dat daar ’n paar klinieke in die kamp is waar algemene gesondheidsprobleme behandel word; noodgevalle en ernstige probleme word na die hospitaal verwys. Die kraamafdeling by die hospitaal is natuurlik belangrik, aangesien daar in ’n kamp met 48 000 vlugtelinge sowat 250 geboortes per maand kan wees.
Geestelik goed gevoed
Getuies van Jehovah regoor die wêreld wonder dalk hoe dit met hulle geestelike broers in die kampe in Tanzanië gaan. Altesaam is daar ongeveer 1 200 wat in 14 gemeentes en 3 groepe georganiseer is. Hoe gaan dit met hulle?
Een van die eerste dinge wat hierdie toegewyde Christene gedoen het toe hulle by die kampe aangekom het, was om ’n stuk grond te vra waarop hulle ’n Koninkryksaal kon bou. So sou die vlugtelinge weet waar om die Getuies te vind en waar om hulle weeklikse vergaderinge by te woon. In die Lugufu-kamp is daar 7 gemeentes met altesaam 659 bedrywige Christene. By hulle vergaderinge op ’n Sondag is die gesamentlike bywoning van hierdie 7 gemeentes gewoonlik omtrent 1 700.
In al die kampe vind die Getuies ook baat by groter Christelike byeenkomste. Toe die eerste streekbyeenkoms in die Lugufu-kamp gehou is, het 2 363 dit bygewoon. Die Getuies het ’n doopbad net buite die byeenkomsterrein gebou. Die doopbad was ’n gat in die grond met ’n plastiekvoering wat sou keer dat die water wegsyfer. Die broers het per fiets water aangery van ’n rivier ongeveer twee kilometer daarvandaan. Aangesien hulle net 20 liter op ’n keer kon aanry, het dit baie ritte beteken. Die doopkandidate, in beskeie kleredrag, het in ’n ry gestaan om gedoop te word. Altesaam 56 is deur algehele onderdompeling gedoop. Een voltydse bedienaar met wie daar by die byeenkoms ’n onderhoud gevoer is, het vertel dat hy met 40 mense ’n Bybelstudie hou. Vier van sy studente is by daardie byeenkoms gedoop.
Die takkantoor van Jehovah se Getuies het gereël dat reisende opsieners hulle gereeld besoek. Een van hulle sê: “Ons broers is ywerig in die bediening. Hulle het ’n groot velddiensgebied, en in een gemeente bring die elke Getuie ongeveer 34 uur per maand in die bediening deur. Baie hou vyf of meer Bybelstudies met belangstellendes. Een pionier [voltydse bedienaar] het gesê dat sy nêrens ’n beter gebied kon hê nie. Mense in die kampe waardeer ons publikasies baie.”
Hoe bereik Bybellektuur die kampe? Die takkantoor stuur dit met die trein na Kigoma, ’n dorp op die oostelike oewer van die Tanganjika-meer. Daar ontvang broers die publikasies en reël dat dit na die gemeentes geneem word. Soms huur hulle ’n bakkie en gaan lewer die lektuur self by al die kampe af. Dit neem ongeveer drie of vier dae oor baie slegte paaie.
Materiële hulp
Jehovah se Getuies in Frankryk, België en Switserland het veral baie hulp aan vlugtelinge in hierdie kampe verleen. Sommige het die kampe in Tanzanië besoek, met die goedkeuring van die Departement van Binnelandse Sake en die UNHCR. Die Getuies in Europa het tonne sojamelk, klere, skoene, skoolboeke en seep geskenk. Hierdie items is gestuur om aan alle vlugtelinge uitgedeel te word, in ooreenstemming met die Bybelbeginsel wat sê: “Solank ons die geleentheid het, laat ons dan aan almal goed doen, maar veral aan dié wat in die geloof aan ons verwant is.”—Galasiërs 6:10.
Hierdie humanitêre pogings het baie goeie resultate opgelewer en baie vlugtelinge is gehelp. Die Vlugtelinggemeenskapskomitee in een van die kampe het hulle waardering so uitgespreek: “Dit is vir ons ’n eer om julle namens ons hele gemeenskap te bedank vir die humanitêre hulp wat julle organisasie al drie keer verleen het . . . Die klere is aan 12 654 behoeftige mans, vroue en kinders, sowel as pasgebore babas gegee . . . Die Muyovozi-vlugtelingkamp het tans 37 000 inwoners. Altesaam 12 654 mense, oftewel 34,2 persent van die bevolking, is gehelp.”
In nog ’n kamp is daar vir 12 382 vlugtelinge elkeen drie kledingstukke gegee, en ’n ander kamp het duisende skoolboeke ontvang wat hulle in hoër- en laerskole en in dagsorgsentrums kan gebruik. Die logistiekbeampte van die UNHCR in een van die streke het gesê: “Ons is baie dankbaar vir die skenking wat in die dringende behoefte van die mense in die vlugtelingkampe [voorsien]. Die mees onlangse besending wat ontvang is, was 5 vraghouers met boeke wat ons gemeenskapsdienste onder die vlugtelinge versprei het. . . . Baie dankie hiervoor.”
Selfs plaaslike koerante het kommentaar gelewer oor die hulp wat verleen is. ’n Opskrif in die Sunday News van 20 Mei 2001 het gesê: “Klere vir vlugtelinge in Tanzanië op pad.” Die uitgawe van 10 Februarie 2002 het berig: “Die vlugtelinggemeenskap waardeer die skenking omdat party van die kinders, wat weens ’n gebrek aan klere nie meer skool toe gegaan het nie, nou weer die klasse gereeld bywoon.”
Geknel maar nie sonder uitweg nie
Vir die meeste vlugtelinge neem dit ongeveer ’n jaar om by die lewe in die kamp aan te pas. Hulle lei eenvoudige lewens. Jehovah se Getuies in hierdie kampe gebruik baie van hulle tyd om vir hulle medevlugtelinge van die vertroostende goeie nuus van God se Woord, die Bybel, te vertel. Hulle vertel van ’n nuwe wêreld, waar almal “van hulle swaarde ploegskare [sal] moet smee en van hulle spiese snoeimesse. Hulle sal nie, nasie teen nasie, die swaard ophef nie, en ook sal hulle nie meer leer om oorlog te voer nie.” Dan “sal elkeen onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom sit, en daar sal niemand wees wat hulle laat bewe nie; want die mond van Jehovah van die leërs het dit gespreek”. Met God se seën sal dit ongetwyfeld ’n wêreld sonder vlugtelingkampe wees.—Miga 4:3, 4; Psalm 46:9.
[Prent op bladsy 8]
Huise in die Nduta-kamp
[Prente op bladsy 10]
Lukole-Koninkryksaal (regs) Doop in Lugufu (onder)
[Prent op bladsy 10]
Streekbyeenkoms in die Lugufu-kamp