Het die kwaad oorwin?
DIE idee van ’n kosmiese stryd tussen die magte van goed en kwaad het regdeur die geskiedenis eindelose bespiegelings deur skrywers en filosowe tot gevolg gehad. Daar is egter ’n boek wat die akkurate geskiedenis van die stryd tussen God en die Duiwel bevat. Daardie boek is die Bybel. Dit werp lig op die geskille wat by hierdie konflik betrokke is en maak dit moontlik om te bepaal wie werklik geseëvier het.
Kort nadat die eerste man en vrou geskep is, het ’n onsigbare geesskepsel, Satan die Duiwel, God se heerskappy bevraagteken. Hoe? Deur op subtiele wyse te beweer dat God goeie dinge van sy skepping weerhou en dat mense beter sou vaar as hulle onafhanklik van hom is.—Genesis 3:1-5; Openbaring 12:9.
Later, in die dae van die aartsvader Job, het Satan nog ’n geskil geopper. Satan het Job se onkreukbaarheid teenoor God probeer ondermyn en gesê: “Vel vir vel, en alles wat ’n mens het, sal hy gee vir sy siel” (Job 2:4). Wat ’n verregaande bewering! Deur die algemene term “’n mens” pleks van die naam Job te gebruik, het Satan die onkreukbaarheid van elke mens in twyfel getrek. Hy het as ’t ware beweer: ‘’n Mens sal enigiets doen om sy lewe te red. Gee my net ’n kans, en ek sal enigeen van God af kan wegkeer.’
Om te bepaal wie oorwin het in die stryd tussen God en die Duiwel, moet ons twee vrae beantwoord: Kan die mens met welslae oor homself regeer? Het die Duiwel daarin geslaag om almal van die ware God af weg te keer?
Kan mense met welslae oor hulleself regeer?
Mense eksperimenteer al duisende jare lank met verskeie soorte regerings. Verskillende regeringsvorme, soos monargie, aristokrasie, demokrasie, outokrasie, Fascisme en Kommunisme, is deur die geskiedenis heen op die proef gestel. Toon die blote feit dat daar voortdurend geëksperimenteer moes word, dan nie dat hierdie verskillende regeringsvorme te kort geskiet het nie?
“Die Romeinse volk was as ’t ware onbewustelik betrokke by ’n groot administratiewe eksperiment”, skryf H. G. Wells in A History of the World, wat in 1922 uitgegee is. Hy sê verder: “Dit het voortdurend verander en nooit enige bestendigheid verkry nie. In ’n sekere sin het die eksperiment misluk. In ’n ander sin bly die eksperiment onafgehandel, en Europa en Amerika probeer vandag nog die raaisels van wêreldwye staatkunde oplos waarvoor die Romeinse volk eerste te staan gekom het.”
Die eksperiment met regeringsvorme het regdeur die 20ste eeu voortgeduur. Teen die einde van daardie eeu het demokrasie groter aanvaarding as ooit tevore geniet. In teorie probeer demokrasie almal insluit. Maar het demokrasie bewys dat die mens met welslae sonder God kan regeer? Jawaharlal Nehru, ’n voormalige eerste minister van Indië, het gesê dat demokrasie goed is, maar het bygevoeg: “Ek sê dit omdat ander stelsels erger is.” Die voormalige Franse president Valéry Giscard d’Estaing het gesê: “Ons beleef tans ’n krisis met betrekking tot verteenwoordigende demokrasie.”
Reeds in die vyfde eeu v.G.J. het die Griekse filosoof Plato ’n swakheid in die demokratiese regeringstelsel opgemerk. Volgens die boek A History of Political Theory het hy “die onkunde en onbevoegdheid van politici, wat die grootste vloek van demokrasieë is”, aangeval. Baie hedendaagse politici kla dat dit moeilik is om begaafde individue te vind wat bevoeg is om in die regering te dien. Mense “is ontevrede met leiers wat so onbekwaam lyk wanneer die probleme waarvoor hulle te staan kom, so groot is”, het The Wall Street Journal gesê. Dit het verder gesê: “Hulle is gegrief omdat hulle besluiteloosheid en korrupsie vind wanneer hulle na leiding soek.”
Beskou nou die heerskappy van koning Salomo van eertydse Israel. Jehovah God het Salomo uitsonderlike wysheid gegee (1 Konings 4:29-34). Hoe het die nasie Israel gedurende Salomo se 40 jaar lange heerskappy gevaar? “Juda en Israel was baie”, antwoord die Bybel, “so talryk soos die sandkorrels wat aan die see is; hulle het geëet en gedrink en was bly.” Die verslag sê ook: “Juda en Israel het in veiligheid gewoon, elkeen onder sy eie wingerdstok en onder sy eie vyeboom, van Dan tot Berseba, al die dae van Salomo” (1 Konings 4:20, 25). Met ’n wyse koning wat as die sigbare verteenwoordiger van die onsigbare Opperheerser, Jehovah God, oor hulle geheers het, het die nasie onoortreflike bestendigheid, voorspoed en vreugde geniet.
Wat ’n skerp teenstelling was daar tog tussen die mens se heerskappy en God s’n! Kan enigeen in alle eerlikheid sê dat Satan geseëvier het in die geskil oor heerskappy? Nee, want die profeet Jeremia het tereg verklaar: “Ek weet goed, o Jehovah, dat aan die mens sy weg nie behoort nie. Dit behoort nie aan die mens wat loop om sy voetstappe te rig nie.”—Jeremia 10:23.
Kan Satan almal van God af wegkeer?
Kon Satan sy bewering bewys dat hy almal van God af kan wegkeer? In hoofstuk 11 van die Bybelboek Hebreërs noem die apostel Paulus ’n aantal getroue manne en vroue uit voor-Christelike tye. Dan sê hy: “Die tyd sal my ontbreek as ek nog sou vertel van Gideon, Barak, Simson, Jefta, Dawid sowel as Samuel en die ander profete” (Hebreërs 11:32). Paulus verwys na hierdie lojale knegte van God as ’n “groot wolk van getuies” (Hebreërs 12:1). Die Griekse woord wat hier vir “wolk” gebruik word, beteken nie ’n afsonderlike, duidelik omlynde wolk met ’n bepaalde grootte en vorm nie, maar ’n groot vormlose wolkmassa. Omdat daar in die verlede soveel getroue knegte van God was, is dit gepas om hulle met ’n groot wolkmassa te vergelyk. Ja, deur die eeue heen het tallose mense hulle wilsvryheid uitgeoefen en gekies om aan Jehovah God getrou te bly.—Josua 24:15.
Wat van ons dag? Regoor die wêreld het Jehovah se Getuies tot meer as sesmiljoen toegeneem ondanks die verskriklike vervolging en teenstand wat hulle gedurende die 20ste eeu ondervind het. Nog sowat negemiljoen assosieer met hulle, en baie van hulle neem definitiewe stappe om ’n hegte persoonlike verhouding met God op te bou.
Die beste antwoord op Satan se bewering dat hy mense van Jehovah af kan wegkeer, is voorsien deur God se eie Seun, Jesus Christus. Nie eens verskriklike pyn aan ’n folterpaal het hom sy onkreukbaarheid laat prysgee nie. Met sy laaste asem het Jesus uitgeroep: “Vader, in u hande vertrou ek my gees toe.”—Lukas 23:46.
Satan gebruik alles in sy mag—van versoekings tot openlike vervolging—om mense onder sy beheer te hou. Hy gebruik “die begeerte van die vlees en die begeerte van die oë en die spoggerige vertoon van ’n mens se lewensmiddele” om mense te versoek sodat hy hulle van Jehovah af kan weghou of weglok (1 Johannes 2:16). Satan het ook ‘die verstande van die ongelowiges verblind sodat die verligting van die glorieryke goeie nuus oor die Christus nie sou deurskyn nie’ (2 Korintiërs 4:4). En Satan huiwer nie om van dreigemente gebruik te maak en mensevrees uit te buit om sy doel te bereik nie.—Handelinge 5:40.
Maar die Duiwel kry nie die oorhand oor diegene wat aan God se kant is nie. Hulle het Jehovah God leer ken en geleer om ‘hom met hulle hele hart en met hulle hele siel en met hulle hele verstand lief te hê’ (Matteus 22:37). Ja, die onwrikbare lojaliteit van Jesus Christus en van tallose mense het Satan die Duiwel ’n volslae nederlaag toegedien.
Wat hou die toekoms in?
Sal mense vir ewig met regeringsvorme eksperimenteer? Die profeet Daniël het voorspel: “In die dae van dié konings sal die God van die hemel ’n koninkryk oprig wat nooit vernietig sal word nie. En die koninkryk sal aan geen ander volk oorgedra word nie. Dit sal al hierdie koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, en self sal dit tot onbepaalde tye bly staan” (Daniël 2:44). Die Koninkryk wat die God van die hemel oprig, is ’n hemelse regering in die hande van Jesus Christus. Dit is dieselfde Koninkryk waarvoor Jesus sy volgelinge leer bid het (Matteus 6:9, 10). Daardie Koninkryk sal alle menseregerings tydens “die [komende] oorlog van die groot dag van God die Almagtige” vernietig en sy invloed oor die hele aarde uitoefen.—Openbaring 16:14, 16.
Wat wag op Satan? Die Bybel beskryf hierdie toekomstige gebeurtenis: “[’n Engel van Jehovah] het die draak gegryp, die oorspronklike slang, wat die Duiwel en Satan is, en hom vir duisend jaar gebind. En hy het hom in die afgrond geslinger en dit gesluit en dit bo hom verseël, sodat hy die nasies nie meer sou mislei totdat die duisend jaar geëindig het nie” (Openbaring 20:1-3). Slegs nadat Satan in die afgrond van onbedrywigheid gewerp is, sal die Duisendjarige Heerskappy van Jesus Christus begin.
Wat ’n aangename plek sal hierdie aarde dan wees! Goddeloosheid en diegene wat dit veroorsaak, sal nie meer daar wees nie. Die Bybel beloof: “Die kwaaddoeners sal uitgeroei word . . . Maar die sagmoediges sal die aarde besit, en hulle sal hulle inderdaad verlustig in die oorvloed van vrede” (Psalm 37:9-11). Hulle vrede sal deur niks bedreig word nie—nie deur ’n mens of dier nie (Jesaja 11:6-9). Selfs miljoene wat hulle deur die geskiedenis heen aan die Duiwel se kant geskaar het weens onkunde en omdat hulle nie die geleentheid gehad het om Jehovah te leer ken nie, sal opgewek word en Goddelike onderrigting ontvang.—Handelinge 24:15.
Teen die einde van die Duisendjarige Heerskappy sal die aarde ’n paradys wees, en die mensdom daarop sal volmaak wees. Dan sal Satan vir “’n klein rukkie” losgelaat word, waarna hy vir ewig vernietig sal word saam met alle ander teenstanders van God se heerskappy.—Openbaring 20:3, 7-10.
Aan wie se kant sal jy jou skaar?
Gedurende die 20ste eeu het Satan verwoesting gesaai op die aarde. Die toestande op aarde toon nie dat hy geseëvier het nie, maar is eerder ’n teken dat ons in die laaste dae van hierdie goddelose wêreld lewe (Matteus 24:3-14; Openbaring 6:1-8). Nie die intensiteit van goddeloosheid op aarde of die beskouing van die meeste mense bepaal wie die oorwinning behaal het nie. Die bepalende faktore is wie se manier van regeer die beste is en of enigiemand God uit liefde gedien het. In albei gevalle behoort die oorwinning aan Jehovah.
As Satan reeds verkeerd bewys is in die tyd wat toegelaat is, waarom laat God dan toe dat goddeloosheid voortduur? Jehovah is geduldig “omdat hy nie wil hê dat enigeen vernietig moet word nie, maar wil hê dat almal tot berou moet kom” (2 Petrus 3:9). Dit is God se wil “dat alle soorte mense gered moet word en tot juiste kennis van die waarheid moet kom” (1 Timoteus 2:4). Mag jy die tyd wat nog oor is, gebruik om die Bybel te bestudeer en ‘kennis in te neem van die enigste ware God en van die een wat hy uitgestuur het, Jesus Christus’ (Johannes 17:3). Jehovah se Getuies sal jou met graagte help om daardie kennis in te neem sodat jy jou ook kan skaar by die miljoene wat standvastig aan die seëvierende kant staan.
[Prente op bladsy 5]
Deur hulle onkreukbaarheid te handhaaf, het Jehovah se Getuies bygedra tot Satan se nederlaag
[Prent op bladsy 7]
Jehovah het talle lojale knegte aan sy kant