Oorwinning in die Federale Grondwetlike Hof
JEHOVAH SE GETUIES in Duitsland het ’n epogmakende oorwinning in die Federale Grondwetlike Hof in Karlsruhe behaal. Hulle het sodoende ’n belangrike stap in verband met hulle wetlike erkenning geneem.
Jehovah se Getuies is al meer as 100 jaar in Duitsland bedrywig. Hulle het hewige vervolging verduur tydens twee 20ste-eeuse diktatorskappe—die Nasionaal-Sosialiste en die Kommuniste. Sedert 1990 probeer die Getuies wetlike erkenning verkry as ’n korporasie van publieke reg. Ná twee gunstige hofbeslissings en een tersydestelling het die Getuies na die Federale Grondwetlike Hof geappelleer, wat op 19 Desember 2000 sy uitspraak gelewer het.
Eenparige beslissing ten gunste van Jehovah se Getuies
Al sewe regters van die hof het ten gunste van die Getuies uitspraak gelewer. Die regters het ’n uitspraak van 1997 deur die Federale Administratiewe Hof tersyde gestel en daardie hof beveel om die Getuies se aansoek te hersien.
Die Federale Grondwetlike Hof het die geleentheid gebruik om kommentaar te lewer oor die fundamentele verhouding tussen die Staat en godsdiensgroepe. Basies word ’n godsdiens se status “bepaal deur sy optrede en nie sy opvattings nie”.
Die hof het ook genoem dat Getuies “nie die beginsel van demokrasie aanval” en “nie demokrasie met ’n ander vorm van regering wil vervang” wanneer hulle “Christelike neutraliteit” handhaaf nie. Die feit dat die Getuies nie aan politieke verkiesings deelneem nie, moet dus nie teen hulle tel in hulle aansoek om wetlike erkenning nie.—Johannes 18:36; Romeine 13:1.
Die hof het verder gesê dat ’n gelowige—hetsy ’n Getuie of iemand van ’n ander geloof—hom soms in ’n situasie kan bevind waar die eise van die Staat met die vereistes van sy geloof bots. As die persoon sy gewete volg deur eerder “die leerstellings van sy geloof as die wet te gehoorsaam”, sal die Staat dit dalk beskou as iets wat geregverdig is en wat binne die bestek van godsdiensvryheid val.—Handelinge 5:29.
Die hofbeslissing was voorbladnuus. Daar was amper nie ’n koerant in Duitsland wat nie oor die saak berig het nie. Al die groot televisie- en radiostasies het daaroor verslag gelewer of onderhoude uitgesaai. Nog nooit vantevore is daar in Duitsland soveel publisiteit aan die naam Jehovah gegee nie.
[Foto-erkenning op bladsy 8]
AP Photo/Daniel Maurer