Gilead se 108ste klas is aangespoor om heilige diens te verrig
IN DIE Bybel word die uitdrukking “heilige diens” dikwels gebruik om na die aanbidding van God te verwys. Dit kom van ’n Griekse woord wat daarna verwys om diens aan God te verrig (Romeine 9:4). Die 5 562 wat na die gradueringsprogram van die 108ste klas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead geluister het, het gehoor hoe sprekers praktiese raad gee wat die gegradueerdes sal help om heilige diens te verrig wat vir Jehovah God aanneemlik is.a
Theodore Jaracz, ’n lid van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies, het as voorsitter gedien. Die program is geopen met lied 52, “Ons Vader se naam”. Die tweede vers van hierdie lied lui: “Ons soek altyd na maniere om u grote naam te eer.” Dit het die gevoelens van die studente van die gradueringsklas (wat uit 10 lande gekom het) goed weergegee. Dit is hulle opregte begeerte om hulle opleiding in hulle sendingtoewysings te gebruik, wat in 17 verskillende lande sal wees.
In sy inleidingskommentare het broer Jaracz die aandag gevestig op die studente se vyf maande lange intensiewe Bybelstudie wat hulle vir diens in ander lande voorberei het. Dit het hulle gehelp om ‘seker te maak van alle dinge’, dit wil sê om wat hulle voorheen geleer het noukeurig te ondersoek in die lig van God se Woord, en om ‘vas te hou aan wat voortreflik is’ (1 Tessalonisense 5:21). Hy het hulle aangemoedig om altyddeur getrou te bly aan Jehovah, sy Woord en die toewysings waarvoor hulle opgelei is. Wat sal hulle help terwyl hulle dit alles doen?
Praktiese raad om heilige diens te verrig
Lon Schilling, ’n lid van die Bethelbedryfskomitee, het gepraat oor die onderwerp “Sal jy die toets van redelikheid slaag?” Hy het die aandag gevestig op die waarde van redelikheid, wat Goddelike wysheid weerspieël (Jakobus 3:17). Redelikheid behels dat ’n mens toegewend, regverdig, matig, bedagsaam en verdraagsaam is. “Redelike mense is gebalanseerd in hulle handelinge met ander. Hulle gaan nie oor tot uiterstes nie”, het broer Schilling gesê. Wat kan ’n sendeling help om redelik te wees? Hy moet ’n beskeie beskouing van homself hê, van geleenthede gebruik maak om na ander te luister en by hulle te leer en gewillig wees om die beskouings van ander in ag te neem sonder om Goddelike beginsels op te offer.—1 Korintiërs 9:19-23.
“Moenie vergeet om te eet nie!” was die interessante titel van die volgende deel op die program, wat aangebied is deur Samuel Herd, nog ’n lid van die Bestuursliggaam. Hy het die waarde van ’n goeie geestelike dieet beklemtoon as ’n mens sterk genoeg wil bly om heilige diens te verrig. “Julle geestelike bedrywighede”, het broer Herd gesê, “sal binnekort toeneem wanneer julle julle toewysing in die predikings- en onderrigtingswerk met hart en siel begin uitvoer. Julle sal derhalwe ook meer geestelike voedsel moet inneem sodat julle kragte nie afneem nie.” ’n Bestendige dieet van geestelike voedsel kan ’n sendeling help om nie aan geestelike depressie te ly en terug te verlang huis toe nie. Dit dra by tot vergenoegdheid, asook vasbeslotenheid om jou toewysing van heilige diens getrou uit te voer.—Filippense 4:13.
Een van die Gileadinstrukteurs, Lawrence Bowen, het die gegradueerdes aangespoor met dié toespraak: “Gaan terug na die begin.” Wat het hy bedoel? Hy het almal in die gehoor gevra om na Spreuke 1:7 (NW) te blaai, wat sê: “Die vrees van Jehovah is die begin van kennis.” Die spreker het verduidelik: “Enigiets wat die allerbelangrikste feit ignoreer dat Jehovah bestaan, kan nooit werklik as ware kennis geklassifiseer word nie, en dit kan ook nie tot behoorlike insig lei nie.” Broer Bowen het besonderhede van God se Woord, die Bybel, vergelyk met stukkies van ’n legkaart. Wanneer die stukkies saamgevoeg word, word ’n prentjie gevorm. Hoe meer stukkies daar is, hoe groter en duideliker word die prentjie en hoe meer waardering bou ’n mens op. Dit kan almal help om heilige diens aan God te verrig.
Wallace Liverance, registrateur van die Gileadskool, het die reeks toesprake afgesluit. Sy tema was: “Offer dank aan God.” Hy het die aandag gevestig op die verslag van Jesus wat die tien melaatses genees het (Lukas 17:11-19). Net een het teruggedraai om God te loof en Jesus te bedank. “Die ander was ongetwyfeld baie verheug dat hulle gereinig is. Hulle het goed gevoel daaroor, maar dit lyk of hulle net daarin belanggestel het om deur die priester rein verklaar te word”, het broer Liverance gesê. Die geestelike reiniging wat ’n mens ondervind as jy die waarheid leer, tesame met dankbaarheid, behoort jou te beweeg om God vir sy goedheid te dank. Die studente van die 108ste klas van Gilead is aangemoedig om oor al God se bedrywighede en goedheid te peins sodat hulle diens en offerandes hulle dankbaarheid teenoor God kan weerspieël.—Psalm 50:14, 23; 116:12, 17.
Ondervindinge en onderhoude wat toon hoe dit gedoen word
Mark Noumair, nog ’n Gileadinstrukteur, het die volgende deel op die program behartig. Dit het gehandel oor die velddiensondervindinge van die klas gedurende hulle opleidingstyd. Die studente het gemiddeld ongeveer 12 jaar in die voltydse bediening deurgebring voordat hulle Gilead toe gekom het. Terwyl hulle die skool bygewoon het, het hulle baie Bybelstudies met mense van verskillende agtergronde begin, wat toon dat die studente weet hoe om ‘alles vir alle soorte mense te word’.—1 Korintiërs 9:22.
Ná die deel met die studente se ondervindinge het Charles Molohan en William Samuelson ’n onderhoud gevoer met party lede van die Bethelgesin en reisende opsieners wat Gilead al bygewoon het. Een van die broers met wie daar ’n onderhoud gevoer is, Robert Pevy, het in die Filippyne gedien nadat hy aan die 51ste klas van Gilead gegradueer het. Hy het die klas hieraan herinner: “Wanneer daar ook al ’n probleem is, gee almal gewoonlik hulle voorstelle oor hoe om die probleem op te los. Daar is altyd iemand wat slimmer is as jy, iemand wat ’n beter idee gaan hê. Maar as jy na die Bybel toe gaan en probeer sien wat God se beskouing van sake is, sal niemand dit kan oortref nie. Dit sal altyd die regte antwoord wees.”
Om die uitstekende geestelike program af te rond, het John Barr, ’n lid van die Bestuursliggaam, oor die tema “Verrig aanneemlike heilige diens aan Jehovah” gepraat. Hy het gewys hoe heilige diens in die veldbediening verrig kan word om regskapenes te help om God op ’n aanneemlike manier te aanbid. Nadat broer Barr Jesus se woorde in Matteus 4:10 gelees het, het hy gesê: “As ons Jehovah alleen wil aanbid, moet ons alle subtiele vorme van afgodediens vermy, soos gierigheid, ’n begeerte na rykdom en selfverheerliking. Hoe bly maak dit ons tog om te dink dat ons sendelinge deur die jare heen sedert die vroeë 1940’s ’n uitstekende rekord in hierdie opsig opgebou het! En ons is seker dat julle as gegradueerdes van die 108ste klas van Gilead hulle goeie voorbeeld sal navolg. Julle gaan heilige diens verrig aan Jehovah, wat alleen waardig is om dit te ontvang.”
Dit was ’n positiewe klimaks vir ’n opbouende program. Toe was dit tyd om die groete oor te dra van vriende regoor die wêreld, om die diplomas te oorhandig en om ’n brief van die klas te lees wat waardering uitgespreek het vir die opleiding wat hulle ontvang het. Die gegradueerdes is vermaan om deursettingsvermoë in hulle toewysings en in hulle diens aan Jehovah te openbaar. Die program is afgesluit toe almal in die gehoor, wat gaste uit 25 lande ingesluit het, saam gesing en gebid het.
[Voetnoot]
a Die program op 11 Maart 2000 is van die Wagtoring-onderrigsentrum in Patterson, New York, af aangebied.
[Venster op bladsy 23]
KLASSTATISTIEK
Aantal lande verteenwoordig: 10
Aantal lande waarheen gestuur: 17
Aantal studente: 46
Gemiddelde ouderdom: 34
Gemiddelde jare in waarheid: 16
Gemiddelde jare in voltydse diens: 12
[Prent op bladsy 24]
108ste Gradueringsklas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead
In die lys hieronder word rye van voor na agter genommer, en name word van links na regs in elke ry aangegee.
(1) Amadori, E.; Cook, O.; Byrne, M.; Lee, A. (2) Newsome, D.; Pederzolli, A.; Bigras, H.; Kato, T.; Gatewood, D. (3) Eade, D.; Eade, J.; Wells, S.; Jamison, J.; Gonzales, M.; Gonzales, J. (4) Kato, T.; Lohn, D.; Niklaus, Y.; Preiss, S.; Foster, P.; Ibarra, J. (5) Amadori, M.; Manning, M.; James, M.; Boström, A.; Gatewood, B.; Newsome, D. (6) Foster, B.; Jamison, R.; Hifinger, A.; Koffel, C.; Koffel, T.; Byrne, G. (7) Hifinger, K.; Manning, C.; Cook, J.; Boström, J.; Lohn, E.; Pederzolli, A. (8) James, A.; Wells, L.; Preiss, D.; Niklaus, E.; Lee, M.; Ibarra, P.; Bigras, Y.