Hoe Jehovah ons lei
“Lei my op die pad van regskapenheid.”—PSALM 27:11, NW.
1, 2. (a) Hoe lei Jehovah sy volk vandag? (b) Hoe kan ons die vergaderinge ten volle benut?
JEHOVAH is die Bron van lig en waarheid, soos ons in die vorige artikel geleer het. Sy Woord verlig ons weg terwyl ons op die pad van regskapenheid wandel. Jehovah lei ons deur ons in sy weë te onderrig (Psalm 119:105). Soos die psalmis van die ou tyd, gee ons met waardering ag op God se leiding en bid ons: “Onderrig my, o Jehovah, in u weg, en lei my op die pad van regskapenheid.”—Psalm 27:11, NW.
2 Een manier waarop Jehovah vandag onderrigting voorsien, is deur Christelike vergaderinge. Benut ons hierdie liefdevolle voorsiening ten volle deur (1) dit gereeld by te woon, (2) aandagtig na die program te luister en (3) ywerig deel te neem aan programdele wat gehoordeelname vereis? Is ons ook dankbaar wanneer ons wenke kry wat ons sal help om “op die pad van regskapenheid” te bly?
Hoe is jou vergaderingbywoning?
3. Hoe het ’n voltydse bedienaar die goeie gewoonte aangekweek om vergaderinge gereeld by te woon?
3 Party Koninkryksverkondigers woon al van kleins af vergaderinge gereeld by. “Toe ek en my susters in die 1930’s grootgeword het”, sê ’n voltydse bedienaar van Jehovah se Getuies, “was dit nie vir ons nodig om ons ouers te vra of ons vergadering toe gaan nie. Ons het geweet ons gaan tensy ons siek was. Ons gesin het eenvoudig net nie van vergaderinge af weggebly nie.” Soos die profetes Anna, is hierdie suster ‘nooit afwesig’ van Jehovah se plek van aanbidding nie.—Lukas 2:36, 37.
4-6. (a) Waarom bly party Koninkryksverkondigers van vergaderinge af weg? (b) Waarom is dit noodsaaklik dat ons vergaderinge bywoon?
4 Is jy onder dié wat Christelike vergaderinge gereeld bywoon of bly jy maklik van vergaderinge af weg? Party Christene wat gedink het dat hulle in dié opsig redelik goed vaar, het besluit om seker te maak. Hulle het ’n paar weke lank boekgehou van elke vergadering wat hulle bygewoon het. Toe hulle aan die einde van die bepaalde tyd na die aantekeninge gekyk het, was hulle verbaas om te sien hoeveel vergaderinge hulle nie bygewoon het nie.
5 ‘Dit is geen wonder nie’, sal iemand dalk sê. ‘Mense is vandag onder soveel druk dat dit nie vir hulle maklik is om vergaderinge gereeld by te woon nie.’ Dit is beslis waar dat ons in spanningsvolle tye lewe. Wat meer is, die druk gaan ongetwyfeld toeneem (2 Timoteus 3:13). Maar maak dit nie gereelde vergaderingbywoning selfs noodsaakliker nie? Sonder ’n gereelde dieet van heilsame geestelike voedsel om ons krag te gee, kan ons nie verwag dat ons die druk van hierdie stelsel sal kan weerstaan nie. Sonder gereelde assosiasie kan ons dalk selfs in die versoeking kom om “die pad van die regverdiges” heeltemal te verlaat! (Spreuke 4:18). Wanneer ons aan die einde van ’n moeilike dag by die huis kom, voel ons weliswaar nie altyd lus om ’n vergadering by te woon nie. Maar wanneer ons wel gaan, al is ons moeg, vind ons daarby baat, en ons moedig ons mede-Christene by die Koninkryksaal aan.
6 Hebreërs 10:25 gee nog ’n belangrike rede waarom ons vergaderinge gereeld moet bywoon. Daar spoor die apostel Paulus mede-Christene aan om ‘des te meer te vergader namate hulle die dag sien nader kom’. Ja, ons moenie die feit uit die oog verloor dat “die dag van Jehovah” nader kom nie (2 Petrus 3:12). As ons die gevolgtrekking sou maak dat die einde van hierdie stelsel nog ver is, kan ons dalk toelaat dat persoonlike belange die plek begin inneem van noodsaaklike geestelike bedrywighede, soos vergaderingbywoning. Soos Jesus gewaarsku het, sal ‘dié dag dan skielik, in ’n oomblik, oor ons kan kom’.—Lukas 21:34.
Wees ’n goeie luisteraar
7. Waarom is dit belangrik vir kinders om aandag te skenk by vergaderinge?
7 Dit is nie genoeg om bloot die vergaderinge by te woon nie. Ons moet aandagtig luister en aandag skenk aan wat daar gesê word (Spreuke 7:24, NW). Dit geld ook vir ons kinders. Wanneer ’n kind skool toe gaan, word daar van hom verwag om aandag te skenk aan die onderwyser, al hou hy nie van ’n sekere vak nie of al kan hy dit dalk nie verstaan nie. Die onderwyser weet dat daar ten minste iets in die les sal wees waarby die kind baat sal vind as hy probeer aandag skenk. Is dit dus nie redelik vir skoolgaande kinders om aandag te skenk aan die onderrigting wat by gemeentelike vergaderinge gegee word, in plaas van toegelaat te word om te slaap sodra die vergadering begin nie? Die kosbare waarhede in die Skrif sluit weliswaar ook “sommige dinge wat moeilik is om te verstaan” in (2 Petrus 3:16). Maar ons moet nie ’n kind se leervermoë onderskat nie. God onderskat dit nie. In Bybeltye het hy sy jong knegte beveel om te ‘luister en te leer en Jehovah te vrees en te sorg dat hulle al die woorde van hierdie wet onderhou’, al was van hierdie woorde ongetwyfeld moeilik vir kinders om te verstaan. (Deuteronomium 31:12, NW; vergelyk Levitikus 18:1-30.) Verwag Jehovah vandag enigsins minder van kinders?
8. Watter stappe neem party ouers om hulle kinders te help om by vergaderinge aandag te skenk?
8 Christenouers besef dat hulle kinders se geestelike behoeftes deels bevredig word deur wat hulle by die vergaderinge leer. Daarom sorg party ouers dat hulle kinders voor die vergaderinge ’n bietjie slaap sodat hulle uitgerus kan wees wanneer hulle by die Koninkryksaal aankom en gereed kan wees om te leer. Party ouers beperk moontlik hoe lank hulle kinders op vergaderingaande televisie kyk; ander vind selfs dat dit verstandig is om dit glad nie toe te laat nie (Efesiërs 5:15, 16). En sulke ouers beperk die dinge wat hulle kinders se aandag kan aftrek tot ’n minimum en moedig hulle kinders aan om te luister en te leer, in ooreenstemming met hulle ouderdom en vermoë.—Spreuke 8:32.
9. Wat kan ons help om ons luistervermoë te ontwikkel?
9 Jesus het met volwassenes gepraat toe hy gesê het: “Skenk . . . aandag aan hoe julle luister” (Lukas 8:18). Deesdae is dit dikwels makliker gesê as gedaan. Om aandagtig te luister, is weliswaar harde werk, maar die vermoë om te luister, kan ontwikkel word. Probeer die hoofgedagtes identifiseer terwyl jy na ’n Bybeltoespraak of ’n vergaderingdeel luister. Dink aan wat die spreker volgende gaan sê. Wees op die uitkyk na punte wat jy in jou bediening kan gebruik of in jou lewe kan toepas. Hersien die punte in jou gedagte terwyl hulle bespreek word. Maak kort aantekeninge.
10, 11. Hoe het party ouers hulle kinders gehelp om beter luisteraars te word, en watter metodes het jy nuttig gevind?
10 Die beste tyd om goeie luistergewoontes aan te kweek, is terwyl ’n kind nog klein is. Selfs voor party kinders skoolgaan en kan lees en skryf, moedig hulle ouers hulle aan om gedurende vergaderinge “aantekeninge” te maak. Hulle maak ’n merkie op ’n stuk papier as hulle bekende woorde soos “Jehovah”, “Jesus” of “Koninkryk” hoor. Sodoende kan kinders leer om te konsentreer op wat van die verhoog af gesê word.
11 Selfs ouer kinders het soms aanmoediging nodig om aandag te skenk. Toe ’n gesinshoof opmerk dat sy 11-jarige seun gedurende ’n Christelike byeenkoms sit en dagdroom, het hy hom ’n Bybel gegee en hom gevra om die tekste na te slaan wanneer die sprekers dit noem. Die vader, wat aantekeninge gemaak het, het dan die teks gevolg in die Bybel wat sy seun vasgehou het. Daarna het die seun met groter geesdrif na die byeenkomsprogram geluister.
Laat jou stem gehoor word
12, 13. Waarom is dit belangrik om saam met die gemeente te sing?
12 Koning Dawid het gesing: “Ek . . . wil gaan rondom u altaar, o HERE, om die stem van lof te laat hoor” (Psalm 26:6, 7). Vergaderinge van Jehovah se Getuies bied ons uitstekende geleenthede om ons geloof in die openbaar bekend te maak. Een manier waarop ons dit kan doen, is deur saam met die gemeente te sing. Dit is ’n belangrike aspek van ons aanbidding, maar dit kan maklik oor die hoof gesien word.
13 Sommige kinders wat nog nie kan lees nie, leer die woorde van die Koninkryksliedere wat elke week by die vergaderinge gesing gaan word uit hulle kop. Hulle geniet dit terdeë om saam met die volwassenes te sing. Maar namate kinders groter word, is hulle dalk nie meer so geneig om Koninkryksliedere saam te sing nie. Party volwassenes is ook skaam om by die vergaderinge te sing. Sang vorm nietemin deel van ons aanbidding, net soos die veldbediening deel van ons aanbidding is (Efesiërs 5:19). Ons doen ons bes om Jehovah in die veldbediening te loof. Kan ons hom nie ook verheerlik deur lofliedere uit ons hart te sing nie—of ons nou mooi kan sing of nie?—Hebreërs 13:15.
14. Waarom moet ons die materiaal wat ons by gemeentelike vergaderinge bestudeer goed voorberei?
14 Ons loof God ook wanneer ons opbouende kommentare lewer gedurende vergaderingdele wat gehoordeelname vereis. Dit verg voorbereiding. Dit neem tyd om oor die dieper aspekte van God se Woord te peins. Die apostel Paulus, ’n ywerige student van die Skrif, het dit besef. Hy het geskryf: “O die diepte van God se rykdom en wysheid en kennis!” (Romeine 11:33). Gesinshoofde, dit is noodsaaklik dat julle elke lid van julle gesin help om God se wysheid, soos dit in die Skrif geopenbaar word, na te speur. Neem tyd gedurende die gesinsbybelstudie om moeilike punte te verduidelik en jou gesin te help om vir die vergaderinge voor te berei.
15. Watter wenke kan ’n mens help om by vergaderinge te antwoord?
15 As jy meer dikwels by vergaderinge wil antwoord, kan jy gerus vooraf uitwerk wat jy graag wil sê. Dit hoef nie iets ingewikkelds te wees nie. ’n Gepaste Bybelteks wat met oortuiging gelees word of ’n paar goed gekose woorde wat uit die hart kom, sal waardeer word. Party verkondigers vra die studiehouer of hulle die eerste kommentaar op ’n sekere paragraaf kan gee, en sodoende kry hulle die geleentheid om hulle geloof bekend te maak.
Die onervarenes word wys
16, 17. Watter raad het ’n ouer man vir ’n bedieningskneg gegee, en waarom was dit doeltreffend?
16 By die vergaderinge van Jehovah se Getuies word ons dikwels daaraan herinner om God se Woord daagliks te lees. Dit verkwik ons as ons dit doen. Dit help ons ook om wyse besluite te neem, persoonlikheidsgebreke te oorkom, versoekings te weerstaan en ons geestelike balans te herwin as ons ’n misstap begaan het.—Psalm 19:7, NW.
17 Ervare gemeentelike ouer manne is gereed om ons die skriftuurlike raad te gee wat ons nodig het. Al wat ons moet doen, is om dit ‘uit te skep’ deur hulle om Bybelraad te vra (Spreuke 20:5). Eendag het ’n ywerige jong bedieningskneg ’n ouer man wenke gevra wat hom kon help om meer bruikbaar in die gemeente te word. Die ouer man, wat die jong man goed geken het, het sy Bybel by 1 Timoteus 3:3 oopgemaak, waar dit sê dat aangestelde manne “redelik” moet wees. Hy het vriendelik vir die jong man gewys op watter maniere hy redelikheid in sy verhoudinge met ander kon openbaar. Het die jong man aanstoot geneem toe hy die reguit raad ontvang het? Glad nie! “Die ouer man het die Bybel gebruik”, het hy verduidelik, “en ek het dus besef dat die raad van Jehovah af kom.” Die bedieningskneg het die raad met waardering toegepas, en hy maak goeie vooruitgang.
18. (a) Wat het ’n jong Christenmeisie gehelp om versoekings op skool te weerstaan? (b) Aan watter Bybeltekste dink jy as jy voor versoekings te staan kom?
18 God se Woord kan jongmense ook help om te “vlug . . . vir die begeertes wat eie is aan die jeug” (2 Timoteus 2:22). ’n Jong Getuie van Jehovah wat onlangs haar hoërskoolopleiding voltooi het, het regdeur haar skoolloopbaan versoekings weerstaan deur oor sekere Bybeltekste te peins en dit toe te pas. Sy het dikwels gedink aan die raad in Spreuke 13:20: “Gaan met die wyse om, dan word jy wys.” Daarom het sy probeer om net vriende te maak met mense wat diepe respek vir skriftuurlike beginsels het. Sy het geredeneer: “Ek is nie beter as enigiemand anders nie. As ek met verkeerde maats deurmekaar raak, sal ek hulle tevrede wil stel, en dit kan tot probleme lei.” Paulus se raad in 2 Timoteus 1:8 het haar ook gehelp. Hy het geskryf: “Moet jou . . . nie skaam oor die getuienis aangaande ons Here nie, . . . maar dra jou deel in die lyding van kwaad vir die goeie nuus.” In ooreenstemming met hierdie raad het sy by elke gepaste geleentheid moedig vir haar klasmaats van haar Bybelse oortuiging vertel. Wanneer sy ook al Mondeling moes doen, het sy ’n onderwerp gekies wat haar die geleentheid sou gee om taktvol van God se Koninkryk te getuig.
19. Waarom kon een jong man nie die druk van hierdie wêreld weerstaan nie, maar wat het hom geestelike krag gegee?
19 As ons ooit van “die pad van die regverdiges” sou afdwaal, kan God se Woord ons help om ons weë te verander (Spreuke 4:18). ’n Jong man wat in Afrika woon, het dit ondervind. Toe een van Jehovah se Getuies hom besoek het, het hy ’n Bybelstudie aanvaar. Hy het gehou van wat hy leer, maar het kort voor lank slegte omgang by die skool begin hê. Mettertyd het hy ’n onsedelike lewe begin lei. “My gewete het my gepla, en ek moes eenvoudig ophou om vergaderinge by te woon”, erken hy. Later het hy weer vergaderinge begin bywoon. Die jong man het hierdie interessante opmerking gemaak: “Ek het besef dat die hoofrede vir dit alles was dat ek geestelik honger gely het. Ek het nie persoonlike studie gedoen nie. Dit is waarom ek nie versoekings kon weerstaan nie. Toe het ek Die Wagtoring en Ontwaak! begin lees. Ek het geleidelik my geestelike krag herwin en ’n skoon lewe begin lei. Dit was ’n goeie getuienis vir diegene wat gesien het watter veranderinge ek aangebring het. Ek is gedoop, en nou is ek gelukkig.” Wat het hierdie jong man die krag gegee om sy vleeslike swakhede te oorkom? Hy het deur middel van gereelde, persoonlike Bybelstudie sy geestelike krag herwin.
20. Hoe kan ’n jong persoon Satan se aanvalle weerstaan?
20 Christenjongmense, julle word vandag aangeval! As julle Satan se aanvalle wil weerstaan, moet julle gereeld geestelike voedsel inneem. Die psalmis, wat blykbaar self ’n jong man was, het dit verstaan. Hy het Jehovah gedank dat hy sy Woord voorsien het sodat ’n ‘jongeling sy pad suiwer kan hou’.—Psalm 119:9.
Waar God ons ook al lei, sal ons volg
21, 22. Waarom moet ons nie dink dat die weg van die waarheid te moeilik is nie?
21 Jehovah het die nasie Israel uit Egipte tot in die Beloofde Land gelei. Die roete wat hy gekies het, het dalk uit ’n mens se oogpunt onnodig moeilik gelyk. In plaas van die skynbaar makliker, direkter roete langs die Middellandse See te kies, het Jehovah sy volk op ’n moeilike roete deur die woestyn gelei. Maar God het dit eintlik uit goedhartigheid gedoen. Al was die roete langs die see korter, sou dit die Israeliete deur die land van die vyandiggesinde Filistyne geneem het. Deur ’n ander roete te kies, het Jehovah sy volk ’n vroeë konfrontasie met die Filistyne gespaar.
22 Net so ook lyk die pad waarlangs Jehovah ons vandag lei dalk soms moeilik. Elke week het ons ’n vol program van Christelike bedrywighede, wat gemeentelike vergaderinge, persoonlike studie en velddiens insluit. Ander paaie lyk dalk makliker. Maar slegs as ons God se leiding volg, sal ons die bestemming bereik waarvoor ons so hard werk. Laat ons dus voortgaan om die noodsaaklike onderrigting van Jehovah af in te neem, en laat ons vir ewig bly op “die pad van regskapenheid”!—Psalm 27:11, NW.
Kan jy verduidelik?
• Waarom is dit uiters belangrik dat ons Christelike vergaderinge gereeld bywoon?
• Wat kan ouers doen om hulle kinders te help om aandag te skenk by vergaderinge?
• Wat behels dit om ’n goeie luisteraar te wees?
• Wat kan ons help om kommentaar te lewer by vergaderinge?
[Prent op bladsy 16, 17]
Deur Christelike vergaderinge by te woon, word ons gehelp om Jehovah se dag in gedagte te hou
[Prente op bladsy 18]
Daar is verskillende maniere waarop ons Jehovah by Christelike vergaderinge loof