“Hoe kan ons ons gemeentes wakker maak?”
DAARDIE vraag wat onlangs deur die Franse Katolieke tydskrif Famille Chrétienne (Christengesin) gevra is, het min mense verbaas. Brittanje se kardinaal Hume het die gemeentes selfs “slapende reuse” genoem. Daar is voorgestel dat kerkgroepe wat vir ander preek, gevorm moet word as ’n manier om die lomerige toestand teë te werk. “Direkte evangelisasie met nuwe metodes”, noem ’n Italiaanse priester dit. Hoewel die Pous onlangs sulke inisiatiewe aangemoedig het, voel nie almal dat dit nodig is om hulle geloof te verkondig nie.
Pigi Perini, ’n predikant in Milaan, het Afrika onlangs besoek, waar ’n non vir hom gesê het: “Ek is al 40 jaar hier, en ek het dit reggekry om nooit die naam van Jesus uit te spreek nie sodat dit nie die Afrikakultuur vernietig nie.” Die predikant kom tot die gevolgtrekking: “Ons praat nie meer oor Jesus nie, ons vertel ander nie meer van Jesus nie, ons verkondig nie meer die evangelie nie!” Maar vir baie ander is die predikingswerk ’n belangrike deel van hulle lewe en ’n manier om geestelik wakker te bly. Pigi Perini erken: “Jy kom twee mense by die mark teë wat oor Christus gesels of wat ’n Bybel onder die arm dra en jy sê vir jouself: Kyk, Jehovah se Getuies!”
Miljoene mense geniet dit om God se Woord met Jehovah se Getuies te bespreek. Die Getuies het ongetwyfeld ook in jou omgewing ’n reëling vir Bybelbesprekings. Soos in die eerste eeu spoor hierdie ywerige Christene mekaar aan om hulle geloof aan ander te verkondig. By hulle vergaderplekke (wat Koninkryksale genoem word) vind ’n mens hartlikheid en vriendelike assosiasie. Jy kan gerus een van die vergaderinge bywoon wat deur Jehovah se Getuies gereël is en sien hoe jy geestelike lomerigheid kan teëwerk.