Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w99 10/1 bl. 26-27
  • Goddelike raaisels en God se voorneme

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Goddelike raaisels en God se voorneme
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Talle Bybelse raaisels
  • Hoe heilige geheime ontsluit word
  • Lig word gewerp op “duister woorde”
  • Kyk na die lig
  • Verkry wysheid en aanvaar dissipline
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • ‘O God, stuur u lig’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
  • Die boek Spreuke—Baie wysheid in min woorde
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Jehovah—’n God wat geheime openbaar
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
w99 10/1 bl. 26-27

Goddelike raaisels en God se voorneme

WANNEER ’n mens nie weet wat dit is nie, is dit iets; maar wanneer ’n mens weet wat dit is, is dit niks nie. Wat is dit? ’n Raaisel.

In vandag se uiters pragmatiese samelewing is mense geneig om raaisels as ’n kinderspeletjie te beskou, maar in die ou tyd was raaisels “’n toets van wysheid”, sê The Interpreter’s Dictionary of the Bible.—Vergelyk Spreuke 1:5, 6.

Jehovah het soms, pleks van sy wil of voorneme duidelik uiteen te sit, sy profetiese woorde doelbewus onduidelik gemaak deur analogieë, “duister woorde” of verwarrende raaisels te gebruik (Psalm 78:2, King James Version; Numeri 12:8). Trouens, hoewel die Hebreeuse woord vir raaisel net 17 keer in die Bybel gebruik word, is die Skrif letterlik vol raaisels en spreuke.

Talle Bybelse raaisels

Koning Salomo kon na bewering selfs die ingewikkeldste vrae of raaisels oplos wat mense hom gevra het (1 Konings 10:1). Dit was beslis as gevolg van godgegewe wysheid. As daar enige waarheid steek in verslae van eertydse geskiedskrywers dat Salomo eenkeer ’n raaiselwedstryd teen koning Hiram van Tirus verloor het, het dit waarskynlik gebeur nadat hy Jehovah se gees weens sy afvalligheid verloor het. Die rigter Simson was ook lief vir raaisels. By een geleentheid, nadat hy krag van die heilige gees ontvang het, het ’n raaisel hom die geleentheid gegee om die harte van God se vyande met vrees te vervul.—Rigters 14:12-19.

Baie Bybelse raaisels hou egter direk verband met Jehovah se voornemens. Kyk byvoorbeeld na Genesis 3:15. Hierdie profesie, wat die grondslag is van die tema van die Bybel, is op sigself in sekere mate ’n raaisel, ’n “heilige geheim” (Romeine 16:25, 26). Benewens die bonatuurlike visioene en openbarings wat Paulus ontvang het, het hy ook sekere aspekte van God se voorneme in “vae omtrekke”, of letterlik “duistere uitdrukking”, gesien (1 Korintiërs 13:12; 2 Korintiërs 12:1-4). En wat van die eindelose bespiegeling oor die geheimsinnige getal van die wilde dier—“seshonderd-ses-en-sestig”—wat skielik en sonder verduideliking in Openbaring 13:18 verskyn? Wie kan hierdie Goddelike raaisels oplos, en wat is die doel daarvan?

Hoe heilige geheime ontsluit word

Vir baie van ons is gesig die kosbaarste van ons vyf sinne. Maar sonder lig sou die mens se gesigsvermoë byna nutteloos wees. Ons sou feitlik blind gewees het. Dit is ook die geval met die menseverstand. Dit het ’n verbasende vermoë om patrone uit te ken, logika aan te wend en dus raaisels op te los. Maar nog iets is nodig om heilige geheime te ontsluit. Hoewel party mense oplossings kan gee tot die raaisels in die Bybel, kan net die Outeur daarvan, Jehovah, die God van lig, openbaar wat dit eintlik beteken.—1 Johannes 1:5.

Ongelukkig is mense dikwels te trots en te onafhanklik om op Jehovah te wag vir antwoorde. Daar is diegene wat deur die geheimsinnigheid gefassineer word en oplossings buite God se Woord probeer vind omdat hulle na intellektuele stimulering soek, nie noodwendig na die waarheid nie. Die Joodse mistisisme met sy Kabbala het byvoorbeeld probeer uitvind wat die magiese betekenis van getalle en die letters van die Hebreeuse alfabet is. Aan die ander kant het die Gnostici van die tweede eeu die Hebreeuse en Griekse Geskrifte gebruik om geheime betekenisse daarin te probeer ontdek.

Maar al hierdie soekery het hulle net verder in heidense ritusse of bygelowe gelei en weg van Goddelike waarheid af. ‘As die wêreld dan vol boosheid is’, het die Gnostici geredeneer, ‘kan die Skepper daarvan, Jahweh, nie ’n goeie God wees nie.’ Is dit die beste gevolgtrekking waarmee hulle vorendag kon kom? Hoe oppervlakkig is menslike redenasies tog nie! Dit is geen wonder nie dat die apostel Paulus, wat gestry het teen afvallige idees wat later deur Gnostiese sektes ontwikkel is, hierdie ernstige waarskuwing in sy briewe gegee het: “Moenie verder gaan as die dinge wat geskrywe staan nie”!—1 Korintiërs 4:6.

Lig word gewerp op “duister woorde”

Maar waarom sou ’n God van lig enigsins “duister woorde” uiter? Die hele doel van ’n raaisel is om ’n mens jou verbeelding te laat gebruik sowel as jou vermoë om afleidings te maak. Dit word dus regdeur die Skrif gevind, soos smaaklike garnering in ’n heerlike maaltyd, en is soms bloot gebruik om die belangstelling van die gehoor te wek of om die boodskap wat oorgedra is treffender te maak. In hierdie gevalle word verduidelikings gewoonlik onmiddellik daarna gegee.—Esegiël 17:1-18; Matteus 18:23-35.

Jehovah gee wysheid mildelik maar nooit onoordeelkundig nie (Jakobus 1:5-8). Kyk byvoorbeeld na die boek Spreuke, ’n geïnspireerde versameling van talle gedagteprikkelende gesegdes wat party dalk as raaisels beskou. Dit verg tyd en bepeinsing om hulle te verstaan. Maar hoeveel mense is bereid om die moeite te doen? Die wysheid wat daarin vervat is, kan net verkry word deur diegene wat gewillig is om daarna te soek.—Spreuke 2:1-5.

Jesus het eweneens illustrasies gebruik om sy luisteraars se hartstoestand te openbaar. Skares het om hom saamgedrom. Hulle het sy verhale geniet. Hulle het baie van sy wonderwerke gehou. Maar hoeveel was gewillig om hulle lewenswyse te verander en hom te volg? Hoe anders was Jesus se dissipels tog wat Jesus keer op keer uitgevra het oor sy leringe sodat hulle dit kon verstaan en wat hulleself gewillig verloën het om sy volgelinge te word!—Matteus 13:10-23, 34, 35; 16:24; Johannes 16:25, 29.

Kyk na die lig

“Belangstelling in raaisels”, sê een bron, “val blykbaar saam met tye van intellektuele ontwaking.” Vandag is ons uiters bevoorreg om in ’n tyd te lewe waarin geestelike ‘lig opgegaan het’ vir God se volk (Psalm 97:11, NW; Daniël 12:4, 9). Kan ons geduldig op Jehovah wag om sy voornemens volgens sy tydrooster te openbaar? Nog belangriker, tree ons onmiddellik op om ons lewe te verander wanneer ons bewus word van hoe ons ons meer na God se geopenbaarde wil kan skik? (Psalm 1:1-3; Jakobus 1:22-25). As ons dit wel doen, sal Jehovah ons pogings seën sodat die heilige gees, net soos ’n bril wat swak sig regstel, ons sal help om die pragtige mosaïek van die Goddelike voorneme duidelik met ons geestesoog te kan sien, en ons geestelike sig sal verskerp.—1 Korintiërs 2:7, 9, 10.

Skriftuurlike raaisels verheerlik Jehovah inderdaad as die “Openbaarder van die geheime” (Daniël 2:28, 29). Daarbenewens deursoek Jehovah ook harte (1 Kronieke 28:9). Dit behoort ons nie te verbaas om uit te vind dat die lig van Goddelike waarheid nog altyd progressief duideliker geword het nie (Spreuke 4:18; Romeine 16:25, 26). Laat ons nie kennis van die diep dinge van God probeer verkry deur middel van mistisisme of oppervlakkige mensewysheid wat net tot frustrasie kan lei nie, maar laat ons eerder vol vertroue op Jehovah God staatmaak om die lig van waarheid op sy “duister woorde” te werp en sy wonderlike voornemens op sy vasgestelde tyd aan sy getroue knegte bekend te maak.—Amos 3:7; Matteus 24:25-27.

[Foto-erkenning op bladsy 26]

Biblia Hebraica Stuttgartensia, Deutsche Bibelgesellschaft Stuttgart

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel