Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w99 5/15 bl. 7-9
  • ’n Geskiedkundige besoek maak ’n eiland bly

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Geskiedkundige besoek maak ’n eiland bly
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Onderhofies
  • Gelukkige reünie
  • Byeenkomshoogtepunte
  • “Dinge wat ons nooit sal vergeet nie”
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
w99 5/15 bl. 7-9

’n Geskiedkundige besoek maak ’n eiland bly

Kuba, ’n pragtige eiland in die Karibiese See, het onlangs ’n ongeëwenaarde tyd van geestelike verkwikking ondervind. Die einde van 1998 het ’n langverwagte seën meegebring vir Jehovah se Getuies wat in hierdie Wes-Indiese land woon. Vir die eerste keer in meer as 30 jaar het lede van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies die land besoek, en hulle is deur 15 ander afgevaardigdes vergesel. Die besoekers was burgers van Australië, België, Groot Brittanje, Italië, Nieu-Seeland, Oostenryk en Puerto Rico.

DIT was ’n geskiedkundige gebeurtenis vir die 82 258 Koninkryksverkondigers daar en die 87 890 wat in die lente van 1998 saam met hulle die Here se Aandmaal gevier het.

Van 1 tot 7 Desember 1998 het Lloyd Barry, John Barr en Gerrit Lösch die Bethelhuis in Havana besoek en van die “God se weg van die lewe”-streekbyeenkomste bygewoon wat in Kuba gehou is. Hulle was bly dat hulle met reisende ouer manne kon vergader en Kubaanse staatsamptenare beter kon leer ken.

“Dit was vir my en my vrou ’n teokratiese hoogtepunt van ’n leeftyd”, het John Barr gesê. “Ons liewe broers en susters in Kuba is so vol ywer vir die waarheid! Ek het teruggekom met die gevoel dat ons wêreldwye broederskap waarlik kosbaar is!” “Hierdie betekenisvolle week het my gehelp om die situasie van ons broers daar beter te verstaan”, het Lloyd Barry bygevoeg.

Gedurende die afgelope vyf jaar is Jehovah se Getuies in Kuba groter godsdiensvryheid toegestaan, en kommentare deur die Kubaanse owerheid bring ’n mens onder die indruk dat hulle graag wil hê dat dit moet voortduur.

In September 1994 is ’n drukkery in die Bethelhuis in Havana opgerig. Jehovah se Getuies kon weer openlik vergader en van huis tot huis getuig. Later, in 1998, het die owerheid hierdie besoek van ’n internasionale afvaardiging van 18 Getuies van Jehovah, waaronder drie lede van die Bestuursliggaam, toegelaat.

Gelukkige reünie

Toe die afgevaardigdes by die José Martí-lughawe in Havana aankom, is hulle gasvry ontvang deur ’n afvaardiging staatsamptenare en ’n groep van die Bethelhuis, waaronder ’n broer wat die laaste besoek aan Kuba van ’n lid van die Bestuursliggaam—Milton Henschel—in 1961 onthou. Die broer was toe 12 jaar oud; hy is nou ’n reisende opsiener.

Toe die afgevaardigdes by die Bethelhuis aankom, is hulle verwelkom met ruikers swaardlelies, rose, jasmyn en geel en rooi madeliefies, wat ’n broer spesiaal vir hierdie geleentheid gekweek het. Baie het trane in hulle oë gehad terwyl die Bethelgesin die afgevaardigdes verwelkom het. Later het hulle saam ’n maaltyd geëet van Kubaanse gebraaide varkvleis, rys en boontjies, slaai, jukka met mojo (’n sous wat van knoffel en olyfolie gemaak word) en vars vrugte. Ná die maaltyd het elke lid van die Bestuursliggaam ’n opbouende toespraak gehou oor die kosbare voorreg van Betheldiens. Broer Lösch se kommentare was veral hartroerend omdat hy met die broers in Spaans gepraat het. Die Bethelgesin bestaan uit 48 gereelde vrywillige werkers en 18 tydelike helpers.

Hoewel boeke en Bybels vir die broers in Kuba in Italië gedruk word, word Die Wagtoring en Ontwaak! in swart en wit op twee mimeograafmasjiene in Kuba gedruk. Dit verg lang ure en herhalende handearbeid in beknopte vertrekke om al die tydskrifte te druk wat nodig is. Die vrywilligers waardeer hulle kosbare diens aan Jehovah op ’n baie spesiale manier.—2 Korintiërs 4:7.

Byeenkomshoogtepunte

Die 18 afgevaardigdes het in drie groepe verdeel om die streekbyeenkomste by te woon wat op drie plekke gehou is—Havana, Camagüey en Holguín. Op elk van die drie dae is ’n groot groep broers en susters, waaronder baie ouer manne en pioniers, genooi om die byeenkoms op elke plek by te woon. Die plaaslike Getuies is vertel dat dit ’n spesiale geleentheid sou wees, maar hulle het nie geweet dat lede van die Bestuursliggaam daar sou wees nie. Stel jou hulle verbasing voor toe hulle sien dat hierdie liewe broers en hulle vrouens Vrydagoggend uit die gehuurde busse klim!

Die byeenkomste is in opelugfasiliteite gehou wat deur die broers gebou is met die toestemming van die owerheid. By die Havana-byeenkomsterrein is die teksverwysing “Psalm 133:1” op een van die klippe by die ingang gegraveer. Dit het die broers herinner aan die woorde van daardie teks: “Kyk! Hoe goed en hoe aangenaam is dit dat broers in eenheid saamwoon!” (NW). Daar was beslis gedurende die byeenkoms goeie en aangename Christenassosiasie op daardie plek.

Die besoekers het kommentaar gelewer oor die uitstekende manier waarop die toesprake en die onderhoude behartig is, en hulle was beïndruk deur die aanbieding van die drama, wat gebaseer is op die Bybelverhaal van Daniël hoofstuk 3, wat in eertydse Babilon afspeel. ’n Suster het gesê: “Al die akteurs was uitstekend, en die stemsinchronisasie is so goed gedoen dat jy nie daarvan bewus was dat die klank voor die tyd opgeneem is nie. . . . Die bose Babiloniër het regtig boos gelyk, en die drie Hebreërs was onwrikbaar en vasberade.”

Verteenwoordigers van die Kantoor van Godsdienssake en ander regeringsamptenare wat gekom het om die byeenkomste te sien, het die broers oor hulle organisasievermoë en goeie gedrag geprys. Broer Barry het sy opregte waardering uitgespreek vir die uitstekende manier waarop die Kubaanse owerheid die besoekende afgevaardigdes behandel het. Die broers het met staande toejuigings, wat dikwels ’n hele paar minute geduur het, hulle waardering vir die toesprake getoon, asook vir die feit dat die owerheid die byeenkomste toegelaat het. “Dit is meer as wat ons verwag het—’n kleinskaalse internasionale byeenkoms!” het een Christengesin gesê. “Dit was wonderlik, want dit het bewys gelewer van Jehovah se groot mag om sy beloftes te vervul.”

Die byeenkomste het ander ook die geleentheid gebied om die Getuies beter te leer ken. Een van die busbestuurders het die byeenkoms Saterdag en ook Sondag bygewoon. Hy het gesê dat hy baie dinge oor Jehovah se Getuies gehoor het, maar nou weet hy dat hulle goeie, vreedsame mense is.

“Dinge wat ons nooit sal vergeet nie”

Die mense van Kuba het die afgevaardigdes deur hulle hartlikheid en vriendelikheid beïndruk. Die Kubane is vlytig, beginselvas en goedhartig. “Meer as een keer het volslae vreemdelinge aangebied om ons te help”, het een afgevaardigde gesê.

Die afgevaardigdes is diep beïndruk deur die geloof, vreugde en liefde wat hulle mede-Getuies in Kuba aan die dag lê. Ten spyte van ontsaglike struikelblokke het hulle Jehovah hulle vesting gemaak (Psalm 91:2, NW). John Barr het gesê: “Soveel dinge het my aangenaam verras op hierdie besoek, my eerste aan Kuba—die prag van die land, die aangename geaardheid van die mense wat ek ontmoet het en veral die absolute lewenslus van die Kubaanse Getuies. Ek het nog nooit in my lewe gehoor dat broers ons Koninkryksliedere so hartlik sing of so lank hande klap wanneer geestelike dinge hulle harte geraak het nie! Dít is dinge wat ons nooit sal vergeet nie. Ons sal dit altyd koester.”

Psalm 97:1 sê: “Laat baie eilande bly wees!” Jehovah se Getuies op die eiland Kuba is waarlik bly oor die groter vryheid wat hulle het om God te aanbid en oor die geskiedkundige besoek van hierdie internasionale afvaardiging.

[Prente op bladsy 8]

Baie gesinne het die spesiale “God se weg van die lewe”-streekbyeenkomste in Kuba bygewoon

[Prent op bladsy 8]

Die Bethelhuis in Havana is in 1994 heropen

[Prent op bladsy 8]

Lede van die Bestuursliggaam teken Bybels wat as geskenke aan staatsamptenare gegee is

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel