Die Kollegiante—Bybelstudie het hulle anders gemaak
Het jy al van die Kollegiante gehoor?
Hierdie klein, 17de-eeuse Nederlandse godsdiensgroep was anders as die gevestigde kerke van daardie tyd. Hoe so, en wat kan ons by hulle leer? Om uit te vind, moet ons teruggaan in die geskiedenis.
IN 1587 het Jakobus Arminius (of Jakob Harmensen) in die stad Amsterdam aangekom. Hy het glad nie gesukkel om werk te kry nie, want sy résumé was indrukwekkend. Op die ouderdom van 21 het hy aan die Universiteit van Leiden in Holland gegradueer. Daarna het hy ses jaar in Switserland deurgebring en teologie onder Theodorus Beza gestudeer, wat die opvolger van die Protestantse Hervormer Johannes Calvyn was. Geen wonder dat Protestante in Amsterdam bly was om die 27-jarige Arminius as een van hulle pastore aan te stel nie! Maar ’n paar jaar later was baie kerklidmate spyt oor hulle keuse. Waarom?
Voorbeskikking word ’n geskilpunt
Kort nadat Arminius ’n pastoor geword het, het spanning onder Amsterdam se Protestante oor die leerstelling van voorbeskikking ontstaan. Hierdie leerstelling het die kern van Calvinisme gevorm, maar sommige kerklidmate het gevoel dat ’n God wat redding vir sommige en veroordeling vir ander voorbeskik het, ongevoelig en onregverdig is. Die Calviniste het verwag dat Arminius die andersdenkendes sou regsien, aangesien hy ’n leerling van Beza was. Maar Arminius het hom eerder, tot die ontsteltenis van die Calviniste, aan die kant van die andersdenkendes geskaar. Teen 1593 het dit so ’n hewige geskil geword dat dit die stad se Protestante in twee groepe verdeel het—dié wat die leerstelling gesteun het en dié wat dit verwerp het, die gematigdes.
Binne ’n paar jaar het hierdie plaaslike geskil ’n landwye skeuring onder die Protestante veroorsaak. Uiteindelik, in November 1618, het ’n konfrontasie onafwendbaar gelyk. Die Calviniste, met die steun van die leër en die openbare mening, het die andersdenkendes (wat toe die Remonstrantea genoem is) na ’n nasionale raadsvergadering, die Protestantse Sinode van Dordrecht, ontbied. Aan die einde van die vergadering is al die Remonstrantse predikante ’n keuse gegee: Teken ’n ooreenkoms om nooit weer te preek nie, of verlaat die land. Die meeste het verkies om die land te verlaat. Streng Calviniste het die plek van die Remonstrantse predikante ingeneem. Calvinisme het geseëvier—of so het die sinode gehoop.
Ontstaan en uitbreiding van die Kollegiante
Soos elders het die Remonstrantse gemeente in die dorpie Warmond, naby Leiden, sy pastoor verloor. Maar anders as al die ander plekke het die gemeente nie die pastoor aanvaar wat deur die sinode as plaasvervanger aangestel is nie. En toe ’n Remonstrantse predikant sy lewe gewaag het om in 1620 na Warmond terug te keer om na die gemeente om te sien, het party gemeentelede hom ook verwerp. Hierdie lede het hulle godsdiensvergaderinge in die geheim begin hou, sonder die hulp van enige geestelike. Later is hierdie vergaderinge kolleges genoem en diegene wat dit bygewoon het Kollegiante.
Hoewel die Kollegiante meer weens omstandighede as uit beginsel ontstaan het, het hierdie situasie spoedig verander. Een van die gemeentelede, Gijsbert van der Kodde, het aangevoer dat die groep, deur sonder die leiding van geestelikes te vergader, in groter mate met die Bybel en die metode van die vroeë Christene ooreengestem het as die gevestigde kerke. Die geestelikeklas, het hy gesê, is iets wat ná die dood van die apostels ontstaan het om werk te skep vir mans wat nie ’n ambag wou leer nie.
In 1621 het Van der Kodde en eendersdenkende lidmate hulle vergaderinge na die naburige dorpie Rijnsburgb verskuif. ’n Paar jaar later, toe godsdiensvervolging plek gemaak het vir verdraagsaamheid, het die manier waarop die Kollegiante hulle vergaderinge gehou het deur die hele land bekend geword en “voëls van verskillende vere” aangetrek, soos die geskiedkundige Siegfried Zilverberg dit gestel het. Daar was Remonstrante, Mennoniete, Sociniane en selfs teoloë. Party was landbouers. Ander was digters, drukkers, dokters en ambagsmanne. Die filosoof Spinoza (Benediktus de Spinoza) en die opvoedkundige Johann Amos Comenius (of Jan Komenski), sowel as die beroemde skilder Rembrandt van Rijn, was die beweging goedgesind. Die verskillende idees wat hierdie vroom mense saam met hulle gebring het, het ’n invloed op die ontwikkeling van die Kollegiante se opvattings gehad.
Ná 1640 het hierdie dinamiese groep vinnig gegroei. Kolleges is die een na die ander in Rotterdam, Amsterdam, Leeuwarden en ander stede gestig. Tussen 1650 en 1700, sê die geskiedenisprofessor Andrew C. Fix, het “die Kollegiante . . . een van die belangrikste en invloedrykste godsdiensgroepe in die sewentiende-eeuse Holland geword”.
Die Kollegiante se opvattings
Aangesien rede, verdraagsaamheid en vryheid van spraak onderskeidende kenmerke van die Kollegiante-beweging was, was individuele Kollegiante vry om verskillende opvattings te hê. Nogtans was hulle verenig deur ’n paar gemeenskaplike oortuigings. Alle Kollegiante het byvoorbeeld persoonlike Bybelstudie as belangrik beskou. Elke lidmaat, het een Kollegiant geskryf, behoort “self ondersoek in te stel en nie God deur iemand anders te leer ken nie”. En dit is ook wat hulle gedoen het. Volgens die 19de-eeuse kerkgeskiedkundige Jakobus C. van Slee het die Kollegiante meer Bybelkennis gehad as ander godsdiensgroepe van daardie tyd. Selfs teenstanders het die Kollegiante geprys vir hulle vermoë om die Bybel met vaardigheid te gebruik.
Maar hoe meer die Kollegiante die Bybel bestudeer het, hoe meer het hulle oortuigings ontwikkel wat verskil het van dié van die hoofstroomkerke. Bronne wat uit die 17de tot die 20ste eeu dateer, beskryf van hulle opvattings:
Die vroeë kerk. Die Kollegiant en teoloog Adam Boreel het in 1644 geskryf dat die vroeë kerk sy verbond met Christus verbreek het en die leiding van die heilige gees verloor het toe dit in die tyd van keiser Konstantyn by die politiek betrokke geraak het. Hy het bygevoeg dat valse leringe gevolglik vermenigvuldig het en tot sy dag toe nog bestaan het.
Die Hervorming. Die 16de-eeuse Hervorming wat deur Luther, Calvyn en ander gelei is, het die kerk nie genoegsaam hervorm nie. Die Hervorming het eerder, volgens ’n vooraanstaande Kollegiant en geneesheer Galenus Abrahamsz (1622-1706), die godsdienssituasie vererger deur twiste en haat te verwek. Ware hervorming behoort die hart te verander, iets wat die Hervorming nie gedoen het nie.
Die kerk en die geestelikes. Die gevestigde kerke is verdorwe, wêrelds en sonder Goddelike gesag. Die beste wat enigeen kan doen wat godsdiens ernstig opneem, is om die kerk waaraan hy behoort te verlaat sodat hy nie deel het aan die sonde daarvan nie. Om iemand as geestelike aan te stel, het die Kollegiante gesê, is strydig met die Skrif en “skadelik vir die geestelike welsyn van die Christengemeente”.
Koninkryk en Paradys. Een van die stigters van die Amsterdamse kollege, Daniel de Breen (1594-1664), het geskryf dat Christus se Koninkryk nie ’n geestelike koninkryk in ’n mens se hart is nie. Die onderwyser Jakob Ostens, ’n Kollegiant in Rotterdam, het gesê dat “die aartsvaders na aardse beloftes uitgesien het”. Kollegiante het eweneens uitgesien na die tyd wanneer die aarde in ’n paradys omskep gaan word.
Drie-eenheid. Party vooraanstaande Kollegiante het weens die invloed van Sociniaanse opvattings die Drie-eenheid verwerp.c Daniel Zwicker (1621-78) het byvoorbeeld geskryf dat enige leerstelling wat in stryd met die rede is, soos die Drie-eenheid, “onmoontlik en vals” is. In 1694 is ’n Bybelvertaling uitgegee wat deur die Kollegiant Reinier Rooleeuw vertaal is. Dit het die laaste deel van Johannes 1:1 só weergegee: “En die woord was ’n god” en nie soos die ortodokse vertaling: “En die woord was God” nie.d
Weeklikse vergaderinge
Hoewel die Kollegiante nie oor alle opvattings saamgestem het nie, het hulle kolleges in verskillende stede baie dieselfde gefunksioneer. Die geskiedkundige Van Slee skryf dat die vergaderinge in die vroeë dae van die Kollegiante-beweging selde vooraf voorberei is. Op grond van die apostel Paulus se woorde oor die belangrikheid daarvan om te “profeteer”, het die Kollegiante gemeen dat alle manlike lede die kollege vryelik kon toespreek (1 Korintiërs 14:1, 3, 26). Gevolglik het vergaderinge tot diep in die nag geduur, en party in die gehoor het “vas aan die slaap” geraak.
Later het vergaderinge meer georganiseerd geraak. Kollegiante het nie net op Sondae vergader nie, maar ook op weeksaande. Sodat die spreker en die gemeente vir al die vergaderinge van daardie jaar kon voorberei, is ’n gedrukte program opgestel met ’n lys van die Bybelverse wat bespreek sou word sowel as die spreker se voorletters. Nadat die vergadering met lied en gebed geopen is, het ’n spreker die Bybelverse verduidelik. Wanneer hy klaar was, het hy die mans gevra om hulle menings te gee oor die onderwerp wat so pas bespreek is. Daarna het ’n tweede spreker die toepassing van dieselfde verse verduidelik. Die vergadering is met lied en gebed afgesluit.
Kollegiante in die dorp Harlingen, in die provinsie Friesland, het ’n interessante manier gehad om hulle vergaderinge op tyd te hou. ’n Spreker wat langer gepraat het as wat hy veronderstel was, moes ’n klein boete betaal.
Nasionale byeenkomste
Die Kollegiante het ook die nodigheid van groter samekomste gesien. Vanaf 1640 het Kollegiante dus twee maal per jaar (in die lente en die somer) van oor die hele land na Rijnsburg gereis. Hierdie samekomste, skryf die geskiedkundige Fix, het hulle die geleentheid gebied om “vertroud te raak met die idees, gevoelens, opvattings en bedrywighede van hulle broers van heinde en ver”.
Van die besoekende Kollegiante het kamers by die dorpenaars gehuur terwyl ander in die Groote Huis gebly het, ’n herehuis met 30 kamers wat aan die Kollegiante behoort het. Gemeenskaplike maaltye vir 60 tot 70 mense is daar bedien. Ná ete kon besoekers deur die herehuis se groot tuin gaan wandel om ‘God se werke, ’n aangename gesprek of ’n oomblik van bepeinsing’ te geniet.
Hoewel nie alle Kollegiante doop as noodsaaklik beskou het nie, het baie wel. Doop het dus ’n kenmerk van die groot samekomste geword. Die geskiedkundige Van Slee sê dat die seremonie gewoonlik op ’n Saterdagoggend plaasgevind het. Lied en gebed is gevolg deur ’n toespraak oor die nodigheid van onderdompeling. Daarna het die spreker die volwassenes wat gedoop wou word, genooi om ’n belydenis van hulle geloof te doen, soos: “Ek glo dat Jesus Christus die Seun van die lewende God is.” Ná die toespraak met gebed afgesluit is, het al die aanwesiges na die plek geloop waar die doopplegtigheid plaasgevind het en toegekyk hoe die mans en vroue in die water kniel, sodat die water tot by hulle skouers gekom het. Die doper het dan die kop van die nuwe gelowige stadig vorentoe en onder die water gedruk. Ná die seremonie het almal na hulle sitplekke teruggekeer vir nog ’n toespraak.
Saterdagmiddag om 5:00 het die eintlike vergadering begin met ’n kort Bybellesing, lied en gebed. Om te verseker dat daar altyd ’n spreker byderhand was, het die kolleges van Rotterdam, Leiden, Amsterdam en Noord-Holland beurte gemaak om sprekers vir elke byeenkoms te voorsien. Sondagoggend is opsygesit vir die viering van die Here se Aandmaal. Ná ’n toespraak, gebed en lied het die mans en dan die vroue van die brood en die wyn geneem. Nog toesprake is op Sondagaand gehou, en Maandagoggend het almal byeengekom vir die slottoespraak. Die meeste van die toesprake wat by hierdie byeenkomste gehou is, sê Van Slee, was van ’n praktiese aard en het toepassing bo ontleding van die Skrif beklemtoon.
Die dorpenaars van Rijnsburg was bly dat hierdie samekomste daar gehou kon word. Een 18de-eeuse waarnemer het geskryf dat die instroming van vreemdelinge, wat redelik baie geëet en gedrink het, ’n goeie bron van inkomste vir die dorpie was. Daarbenewens het die Kollegiante, ná elke byeenkoms, ’n som geld aan Rijnsburg se armes geskenk. Die dorpie het ongetwyfeld die verlies gevoel toe daardie vergaderinge in 1787 tot ’n einde gekom het. Daarna het die Kollegiante-beweging geleidelik van die toneel verdwyn. Waarom?
Waarom hulle van die toneel verdwyn het
Teen die einde van die 17de eeu het onenigheid ontstaan oor die rol van rede in godsdiens. Party Kollegiante het gemeen dat menslike redenering voorkeur moet geniet bo Goddelike openbaring, maar ander het nie saamgestem nie. Hierdie geskilpunt het uiteindelik die hele Kollegiante-beweging verdeel. Slegs nadat die vernaamste voorstanders aan albei kante van die geskil gesterf het, is die Kollegiante weer verenig. Maar ná hierdie onenigheid was die beweging “nooit weer dieselfde nie”, sê die geskiedkundige Fix.
Toenemende verdraagsaamheid in die 18de-eeuse Protestantse kerke het ook daartoe bygedra dat die Kollegiante geleidelik van die toneel verdwyn het. Namate die Kollegiante se beginsels van rede en verdraagsaamheid oor die algemeen meer aanvaarbaar in die gemeenskap geword het, “het die lig van Kollegiantisme wat vroeër alleen geskyn het, in die helder dagbreek van die Verligting verdwyn”. Teen die einde van die 18de eeu is die meeste Kollegiante deur die Mennoniete en ander godsdiensgroepe opgeneem.
Aangesien die Kollegiante nie na eenheid van denke in hulle beweging gestreef het nie, was daar omtrent soveel verskillende opvattings as wat daar Kollegiante was. Hulle het dit besef en het derhalwe nie beweer dat hulle “verenig [is] in dieselfde gedagtegang”, soos die apostel Paulus Christene aangespoor het om te wees nie (1 Korintiërs 1:10). Maar terselfdertyd het die Kollegiante uitgesien na die tyd wanneer fundamentele Christelike opvattings, soos eenheid van denke, ’n werklikheid sou word.
As ’n mens in gedagte hou dat die ware kennis nog nie in die dae van die Kollegiante oorvloedig geword het nie, het hulle ’n voorbeeld gestel waarby baie godsdienste vandag kan leer. (Vergelyk Daniël 12:4, NW.) Die feit dat hulle Bybelstudie beklemtoon het, is in ooreenstemming met die apostel Paulus se raad: “Maak seker van alle dinge” (1 Tessalonisense 5:21). Persoonlike Bybelstudie het Jakobus Arminius en ander laat besef dat party lank gehuldigde godsdiensleerstellings en -gebruike glad nie op die Bybel gegrond was nie. Toe hulle dit besef het, het hulle die moed gehad om van gevestigde godsdiens te verskil. Sou jy dieselfde gedoen het?
[Voetnote]
a In 1610 het die andersdenkendes ’n formele remonstransie (’n dokument wat die redes vir hulle teenkanting uiteengesit het) aan die Nederlandse regeerders gestuur. Daarna is hulle die Remonstrante genoem.
b Omdat die Kollegiante hier vergader het, is hulle ook Rijnsburgers genoem.
c Sien die Ontwaak! van 22 November 1988, bladsy 19, “Die Sociniane—Waarom het hulle die Drie-eenheid verwerp?”
d Het Nieuwe Testament van onze Heer Jezus Christus, uit het Grieksch vertaald door Reinier Rooleeuw, M.D. (Die Nuwe Testament van Ons Here Jesus Christus, uit Grieks vertaal deur Reinier Rooleeuw, M.D.)
[Prent op bladsy 24]
Rembrandt van Rijn
[Prente op bladsy 26]
Die dorpie Warmond waar Kollegiante hulle ontstaan gehad het, en die De Vliet-rivier waar doopplegtighede plaasgevind het
[Foto-erkenning op bladsy 23]
Agtergrond: Met vergunning van die American Bible Society Library, New York