Rasji—’n invloedryke Bybelkommentator
WAT was een van die eerste boeke wat in Hebreeus gedruk is? ’n Kommentaar oor die Pentateug (die vyf boeke van Moses). Dit is in 1475 in Reggio Calabria, Italië, gepubliseer. Wie was die skrywer daarvan? ’n Man wat as Rasji bekend gestaan het.
Waarom het ’n kommentaar hierdie unieke onderskeiding gekry? In sy boek Rashi—The Man and His World sê Esra Sjeresjewski dat Rasji se kommentaar “’n basiese teks in die Joodse huis en in die huis van studie geword het”. Geen ander Joodse letterkundige werk is al ooit so hoog aangeskryf nie . . . Meer as 200 superkommentare wat regstreeks handel oor Rasji se kommentaar oor die Pentateug is bekend.”
Is net Jode deur Rasji se kommentare beïnvloed? Hoewel baie dit nie besef nie, word Bybelvertalings al eeue lank deur Rasji se kommentaar oor die Hebreeuse Geskrifte beïnvloed. Maar wie was Rasji, en hoe het dit gekom dat hy soveel invloed gehad het?
Wie was Rasji?
Rasji is in die jaar 1040 in Troyes, Frankryk, gebore.a As ’n jong man het hy na Joodse godsdiensskole in Worms en Mainz in die Rynland gegaan. Daar het hy onder sommige van die vernaamste Joodse geleerdes in Europa gestudeer. Op ongeveer 25-jarige ouderdom het sy persoonlike omstandighede hom genoodsaak om na Troyes terug te keer. Rasji, wat reeds as ’n uitmuntende geleerde erken is, het gou die godsdiensleier van die plaaslike Joodse gemeenskap geword en sy eie godsdiensskool gestig. Mettertyd het hierdie nuwe sentrum van Joodse geleerdheid selfs invloedryker geword as dié van Rasji se onderrigters in Duitsland.
Op daardie tydstip het die Jode in Frankryk in relatiewe vrede en harmonie gelewe met hulle bure wat verklaarde Christene was, wat vir Rasji groter vryheid gegee het om sy akademiese werk te doen. Maar hy was beslis nie ’n afsydige geleerde nie. Ten spyte van sy aansien as ’n onderrigter en hoof van die skool het Rasji ’n bestaan gemaak as ’n wynmaker. Hierdie grondige kennis van gewone ambagte het hom in nouer voeling gebring met die gemiddelde Jode en hom gehelp om hulle omstandighede te verstaan en meegevoel daarmee te hê. Die ligging van Troyes het ook tot Rasji se insig bygedra. Aangesien die stad langs groot handelsroetes geleë was, was dit ’n kosmopolitaanse sentrum, en dit het Rasji in staat gestel om goed bekend te raak met die gewoontes en gebruike van verskillende nasies.
Waarom was ’n kommentaar nodig?
Die Jode het bekend gestaan as die volk van die boek. Maar “die boek”—die Bybel—was in Hebreeus en “die volk” het nou Arabies, Duits, Frans, Spaans en ’n menigte ander tale gepraat. Hoewel die meeste Jode van kleins af Hebreeus geleer is, het hulle talle Bybelse terme nie duidelik verstaan nie. Daarbenewens is mense eeue lank weens ’n sterk neiging in rabbynse Judaïsme ontmoedig om die letterlike betekenis van die Bybelteks na te gaan. Allegorieë en legendes wat met Bybelse woorde en verse verband gehou het, was baie algemeen. Baie van hierdie kommentare en verhale is in lywige geskrifte opgeteken, wat gesamentlik die Midrasj genoem is.b
Rasji se kleinseun, rabbi Samuel ben Meir (Rasjbam), was ook ’n Bybelgeleerde. In sy kommentaar oor Genesis 37:2 het hy gesê dat “die ouer kommentators [voor Rasji] . . . geneig was om preke (derasjot) te hou, wat hulle as die belangrikste oogmerk beskou het, [maar] hulle was nie daaraan gewoond om die letterlike betekenis van die Bybelteks deurdringend te ondersoek nie”. Dr. A. Cohen (hoofredakteur van die Soncino Books of the Bible) lewer kommentaar oor hierdie neiging en skryf: “Dit is waar dat die rabbi’s ’n reël neergelê het dat geen interpretasie toegelaat is wat onverenigbaar was met die pesjat of duidelike betekenis van die teks nie; maar in die praktyk het hulle hulle nie veel aan hierdie reël gesteur nie.” In so ’n godsdiensmilieu het die gemiddelde Jood verlore gevoel wanneer hy die Bybelteks gelees het en gevoel dat hy die een of ander verklarende hulpmiddel nodig gehad het.
Rasji se doelwit en metodes
Rasji se lewenslange doelwit was om die teks van die Hebreeuse Geskrifte vir alle Jode verstaanbaar te maak. Om dit te bereik, het hy aantekeningboeke van kommentare oor spesifieke woorde en verse begin versamel wat hy gemeen het vir die leser moeilik sou wees om te verstaan. In sy aantekeninge meld Rasji sy onderrigters se verduidelikings en gebruik hy sy omvattende kennis van die hele spektrum van rabbynse lektuur. Rasji het alle beskikbare bronne in sy taalkundige navorsing gebruik. Hy het aandag geskenk aan hoe die klinkeraanduidings en aksenttekens van die Masorete die betekenis van die teks beïnvloed. Om die betekenis van ’n woord te verduidelik, verwys sy kommentaar oor die Pentateug dikwels na die Aramese vertaling (Targoem van Onkelos). Rasji was aanpasbaar en vindingryk in sy ondersoek van nuwe moontlikhede wat die verklaring van voorsetsels, voegwoorde, die betekenis van werkwoorde en ander aspekte van die grammatika en sintaksis betref. Sulke kommentare het ’n waardevolle bydrae gelewer om die sintaksis en grammatika van Hebreeus te verstaan.
In teenstelling met die oorheersende neiging in rabbynse Judaïsme het Rasji altyd die aandag op die eenvoudige, letterlike betekenis van ’n teks probeer vestig. Maar die ontsaglike hoeveelheid Midrasj-lektuur, wat die Jode so goed geken het, kon nie geïgnoreer word nie. ’n Treffende kenmerk van Rasji se kommentaar is die manier waarop hy dit in verband bring met die einste Midrasj-geskrifte wat dikwels die letterlike betekenis van die Bybelteks onduidelik gemaak het.
In sy kommentaar oor Genesis 3:8 verduidelik Rasji: “Daar is baie aggadiesec midrasjim wat ons wysgere reeds heel goed in Beresjit Rabbah en ander midrasjversamelings gerangskik het. Maar ek stel uitsluitlik belang in die suiwer betekenis (pesjat) van die vers en in aggadot wat die skriftuurlike verslag in sy konteks verduidelik.” Deur net dié midrasjim te kies en te verwerk wat na sy mening gehelp het om die betekenis of konteks van ’n vers te verduidelik, het Rasji midrasjim uitgeskakel wat teenstrydigheid of verwarring veroorsaak het. As gevolg van hierdie verwerking het toekomstige geslagte van Jode meestal vertroud geraak met Rasji se keurige versamelings van die Midrasj.
Hoewel Rasji ruim erkenning aan sy onderrigters gegee het, het hy nie gehuiwer om van hulle te verskil wanneer hy gemeen het dat hulle verduidelikings die duidelike uitlegging van ’n teks weerspreek nie. Wanneer hy nie ’n sekere gedeelte verstaan het nie of gemeen het dat hy dit voorheen verkeerd verduidelik het, was hy bereid om dit te erken, en hy het selfs gevalle gemeld waar sy studente hom gehelp het om sy begrip reg te stel.
Deur sy tye beïnvloed
Rasji was baie beslis op hoogte van sy tyd. Een skrywer het dit só opgesom: “[Rasji se] groot bydrae tot die Joodse lewe was sy hervertolking van alle betekenisvolle gedeeltes in die taal van die tyd, wat hy in sulke duidelike, verstaanbare taal, met sulke warmte en menslikheid, met sulke ongewone vaardigheid en kundigheid gedoen het, dat mense sy kommentare as heilige geskrifte vereer het en as letterkunde liefgehad het. Rasji het Hebreeus geskryf asof dit Frans was, met skerpsinnigheid en elegansie. Wanneer hy nie die presiese Hebreeuse woord gehad het nie, het hy ’n Franse woord in die plek daarvan gebruik en dit met Hebreeuse letters gespel.” Hierdie getranslitereerde Franse woorde—Rasji het meer as 3 500 van hulle gebruik—het ’n waardevolle bron geword vir studente in die Oud-Franse taalwetenskap en uitspraak.
Hoewel Rasji se lewe in ’n atmosfeer van relatiewe kalmte begin het, was daar in sy latere jare al hoe meer spanning tussen Jode en verklaarde Christene. In 1096 het die Eerste Kruistog verwoesting gesaai in die Joodse gemeenskappe van die Rynland, waar Rasji gestudeer het. Duisende Jode is doodgemaak. Dit lyk of die nuus van hierdie slagtings Rasji se gesondheid aangetas het (wat geleidelik agteruitgegaan het tot sy dood in 1105). Van daardie tyd af was daar ’n opmerklike verandering in sy kommentare oor die Skrif. Een uitsonderlike voorbeeld is Jesaja hoofstuk 53, wat praat van Jehovah se lydende kneg. Vroeër het Rasji hierdie tekste op die Messias toegepas, soos wat die Talmoed ook doen. Maar dit lyk of hy ná die Kruistogte gedink het dat hierdie verse op die Joodse volk van toepassing was, wat onregverdige lyding deurgemaak het. Dit was ’n keerpunt in Joodse interpretasie van hierdie tekste.d Die Christendom se onchristelike gedrag het talle, waaronder Jode, dus van die waarheid aangaande Jesus afgekeer.—Matteus 7:16-20; 2 Petrus 2:1, 2.
Hoe het hy Bybelvertaling beïnvloed?
Rasji se invloed het gou verder as Judaïsme gestrek. Die Franse Franciskaanse Bybelkommentator Nikolaas van Lira (1270-1349) het so dikwels na die beskouings van “rabbi Salomo [Rasji]” verwys dat hy die bynaam “Salomo se aap” gegee is. Baie kommentators en vertalers is weer deur Lira beïnvloed, onder andere die voorlopers van die vertalers van die Engelse King James Version en die hervormer Martin Luther, wat Bybelvertaling in Duitsland radikaal verander het. Luther het Lira so dikwels as gesag gebruik dat ’n gewilde rympie gesê het: “As Lira nie op die lier gespeel het nie, sou Luther nie gedans het nie.”
Rasji is grootliks beïnvloed deur rabbynse denke wat nie met Christelike waarheid ooreenstem nie. Maar met sy diep insig in Hebreeuse terme, sintaksis en grammatika in die Bybel en sy voortgesette poging om die suiwer en letterlike betekenis van die teks te onderskei, het Rasji ’n betekenisvolle bron van vergelyking vir Bybelnavorsers en -vertalers voorsien.
[Voetnote]
a “Rasji” is ’n Hebreeuse akroniem wat gevorm is uit die eerste letters van die woorde “Rabbi SJlomo Jitschaki [rabbi Salomo ben Isak]”.
b Die woord “Midrasj” kom van ’n Hebreeuse grondwoord wat beteken “om navraag te doen, te studeer, ondersoek in te stel” en by uitbreiding “om te preek”.
c Aggada (meervoud aggadot) beteken letterlik “vertelling” en verwys na die niewetlike elemente in rabbynse geskrifte, wat dikwels nie-Bybelse verhale van Bybelkarakters of legendes oor rabbi’s ingesluit het.
d Sien die venster “My Servant”—Who Is He?, op bladsy 28 van die brosjure Will There Ever Be a World Without War?, uitgegee deur die Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania, vir verdere inligting oor hierdie Skrifgedeelte.
[Foto-erkenning op bladsy 26]
Teks: Per gentile concessione del Ministero dei Beni Culturali e Ambientali