Ek verheug my in Jehovah ondanks beproewinge
SOOS VERTEL DEUR GEORGE SCIPIO
In Desember 1945 het ek in ’n hospitaalsaal gelê, geheel en al verlam met die uitsondering van my hande en voete. Ek het gedink dat dit ’n tydelike toestand was, maar ander het getwyfel of ek ooit weer sou loop. Wat ’n beproewing was dit tog vir ’n bedrywige 17-jarige! Ek het geweier om so ’n prognose te aanvaar. Ek het soveel planne gehad, onder andere om die volgende jaar saam met my werkgewer na Engeland toe te gaan.
EK WAS die slagoffer van ’n polio-epidemie wat ons eilandtuiste St. Helena getref het. Dit het tot die dood van 11 mense gelei en talle met liggaamsgebreke gelaat. Terwyl ek in die bed gelê het, het ek baie tyd gehad om oor my kort lewe en oor my toekoms na te dink. Terwyl ek dit gedoen het, het ek begin besef dat ek ten spyte van my ellende rede het om my te verheug.
’n Beskeie begin
In 1933, toe ek vyf jaar oud was, het my pa, Tom, ’n polisieman en ’n prediker in die Baptistekerk, ’n paar boeke by twee van Jehovah se Getuies gekry. Hulle was voltydse evangeliedienaars, oftewel pioniers, wat die eiland ’n rukkie besoek het.
Een van die boeke was Die harp van God. My pa het dit gebruik om die Bybel met ons gesin en verskeie belangstellendes te studeer. Dit was ingewikkeld, en ek het baie min daarvan verstaan. Maar ek onthou nog hoe ek elke teks wat ons bespreek het in my eie Bybel gemerk het. My pa het gou besef dat dít wat ons gestudeer het die waarheid was en dat dit verskil het van wat hy in die Baptistekerk verkondig het. Hy het ander daarvan begin vertel en van die preekstoel af begin preek dat daar geen Drie-eenheid, geen helse vuur en geen onsterflike siel is nie. Dit het heelwat opspraak in die kerk verwek.
’n Kerkvergadering is uiteindelik belê om die geskil te probeer besleg. Die vraag is geopper: “Wie ondersteun die Baptiste?” Die meerderheid het. Die volgende vraag was: “Wie ondersteun Jehovah?” Ongeveer 10 of 12 het. Hulle is gevra om die kerk te verlaat.
Dit was die beskeie begin van ’n nuwe godsdiens op St. Helena. My pa het met die hoofkwartier van die Wagtoringgenootskap in die Verenigde State in aanraking gekom en ’n transkripsiemasjien aangevra om opnames van Bybellesings vir die publiek te speel. Hulle het gesê dat die masjien te groot is om na St. Helena te stuur. ’n Kleiner grammofoonspeler is gestuur, en die broers het later nog twee bestel. Hulle het te voet en op donkies deur die eiland gegaan en die boodskap aan die mense verkondig.
Namate die boodskap alom verkondig is, het die teenstand vererger. By my skool het die kinders gesing: “Kom aan land, kom aan land, kom luister na Tommy Scipio se grammofoonplaat!” Vir my, ’n skoolseun wat die goedkeuring van sy portuurs wou hê, was dit ’n kwaai beproewing. Wat het my gehelp om dit te verduur?
Ons groot gesin—van ses kinders—het ’n gereelde gesinsbybelstudie gehad. Elke oggend voor ontbyt het ons ook die Bybel saam gelees. Dit het ons gesin ongetwyfeld oor die jare gehelp om getrou in die waarheid te bly. Ek het op ’n vroeë ouderdom ’n liefde vir die Bybel ontwikkel, en deur die jare heen het ek by die gewoonte gebly om die Bybel gereeld te lees (Psalm 1:1-3). Toe ek op 14-jarige ouderdom die skool verlaat het, het ek ’n goeie grondslag in die waarheid gehad en was die vrees vir Jehovah reeds in my hart. Dit het my in staat gestel om my in Jehovah te verheug ondanks daardie beproewinge.
Nog beproewinge en vreugdes
Terwyl ek in daardie siekbed aan my vroeë jare en toekomsverwagtinge gelê en dink het, het ek uit my studie van die Bybel besef dat hierdie siekte nie ’n toets of straf van God was nie (Jakobus 1:12, 13). Die polio was nietemin ’n swaar beproewing, en die res van my lewe sou ek die gevolge daarvan ondervind.
Namate ek herstel het, moes ek weer leer loop. Ek het ook die gebruik van sommige spiere in my arms verloor. Ek kan nie eers onthou hoeveel keer ek elke dag geval het nie. Maar deur innige gebede en volgehoue inspanning kon ek teen 1947 met behulp van ’n kierie loop.
Gedurende daardie tyd het ek verlief geraak op ’n jong vrou, Doris, wat dieselfde geloofsoortuiging as ek gehad het. Ons was te jonk om aan trou te dink, maar ek was vasbeslote om my loopvermoë verder te verbeter. Ek het ook my bedanking ingedien omdat ek nie op so ’n klein salaris sou kon trou nie, en ek het my eie tandheelkundige laboratorium begin, wat die volgende twee jaar in werking was. Ons is in 1950 getroud. Teen daardie tyd het ek genoeg geld verdien om ’n kleinerige motor te koop. Nou kon ek die broers neem om vergaderinge by te woon en velddiens te doen.
Teokratiese vooruitgang op die eiland
In 1951 het die Genootskap hulle eerste verteenwoordiger na ons toe gestuur. Dit was Jacobus van Staden, ’n jong man van Suid-Afrika. Ons het destyds pas in ’n ruim huis ingetrek en kon hom dus ’n hele jaar lank huisves. Aangesien ek my eie baas was, het ons baie tyd saam in die predikingswerk deurgebring, en ek het baie waardevolle opleiding van hom ontvang.
Jacobus, of Koos vir ons, het gereelde gemeentelike vergaderinge georganiseer, en ons almal was baie bly om dit te kan bywoon. Ons het ’n vervoerprobleem gehad, aangesien daar net twee motors onder al die belangstellendes was. Die gebied is ongelyk en heuwelagtig, en daar was destyds min goeie paaie. Gevolglik was dit nogal moeilik om almal by die vergaderinge te kry. Party het al vroeg in die oggend begin loop. Ek het drie in my kleinerige motor geneem en hulle dan ’n ent verder langs die pad afgelaai. Hulle het uitgeklim en verder geloop. Ek het omgedraai, nog drie ’n ent ver geneem, hulle afgelaai en weer teruggegaan. Op die manier het almal uiteindelik by die vergadering gekom. Ná die vergadering het ons dieselfde prosedure gevolg om almal by die huis te kry.
Koos het ons ook geleer hoe om doeltreffende aanbiedings by die deure te doen. Ons het talle goeie ondervindings gehad, asook party wat nie so goed was nie. Maar die vreugde wat ons in die veldbediening gesmaak het, het al die beproewinge oortref wat teenstanders van ons predikingswerk vir ons veroorsaak het. Een oggend het ek saam met Koos gewerk. Terwyl ons na ’n deur toe gestap het, het ons ’n stem in die huis gehoor. ’n Man het hardop uit die Bybel gelees. Ons kon die bekende woorde van Jesaja 2 duidelik hoor. Toe hy by vers 4 kom, het ons geklop. ’n Vriendelike ou oom het ons ingenooi, en ons het Jesaja 2:4 gebruik om die goeie nuus van God se Koninkryk aan hom te verduidelik. Ons het ’n Bybelstudie met hom begin, hoewel hy op ’n baie moeilik bereikbare plek gewoon het. Om daar uit te kom, moes ons teen ’n heuwel af, oor ’n stroom met behulp van trapklippe, teen nog ’n heuwel uit en dan af na sy huis toe. Maar dit was die moeite werd. Hierdie sagmoedige oom het die waarheid aangeneem en is gedoop. Ten einde die vergaderinge by te woon, het hy met twee kieries geloop tot by ’n plek waar ek hom die res van die pad met die motor kon neem. Hy het later as ’n getroue Getuie gesterf.
Die kommissaris van polisie het ons werk teëgestaan en herhaaldelik gedreig om Koos van die eiland af te verban. Een keer per maand het hy Koos vir ondervraging ingeroep. Die feit dat Koos hom altyd reguit antwoorde uit die Bybel gegee het, het hom selfs nog kwater gemaak. By elke geleentheid het hy Koos gewaarsku om op te hou preek, maar elke keer het hy ’n getuienis ontvang. Hy het voortgegaan om die werk teë te staan selfs nadat Koos St. Helena verlaat het. Skielik het die kommissaris, ’n groot, sterk man, siek en baie maer geword. Die dokters kon nie uitvind wat met hom verkeerd was nie. Gevolglik het hy die eiland verlaat.
Doop en bestendige groei
Nadat Koos drie maande op die eiland was, het hy gemeen dat dit gepas is om ’n doopdiens te hou. Dit was ’n probleem om ’n gepaste swembad te kry. Ons het besluit om ’n groot gat te grawe, dit te pleister en vol water te maak. Die aand voor die doop het dit gereën, en die volgende oggend was ons verheug toe ons sien dat die gat tot oorlopens toe vol was.
Daardie Sondagoggend het Koos die dooptoespraak gehou. Toe hy die doopkandidate vra om te staan, het 26 van ons opgestaan om die gebruiklike vrae te antwoord. Ons het die voorreg gehad om die eerste Getuies te wees wat op die eiland gedoop is. Dit was die gelukkigste dag in my lewe, want ek was altyd bekommerd dat Armageddon sou kom voor ek gedoop is.
Twee gemeentes is uiteindelik gestig, een in Levelwood en een in Jamestown. Elke week het drie of vier van ons 13 kilometer na een gemeente gereis om die Teokratiese Bedieningskool en Diensvergadering op Saterdagaand te hou. Ná velddiens Sondagoggend het ons teruggegaan en in die middag en aand dieselfde vergaderinge, asook die Wagtoring-studie, in ons eie gemeente gehad. Ons naweke was dus vol heilsame teokratiese bedrywighede. Ek wou die predikingswerk so graag voltyds doen, maar ek het ’n gesin gehad om te onderhou. Daarom het ek in 1952 weer as voltydse tandarts vir die regering begin werk.
In 1955 het reisende verteenwoordigers van die Genootskap, kringopsieners, die eiland elke jaar begin besoek, en hulle het vir ’n deel van hulle besoek in my huis gebly. Hulle het ’n positiewe invloed op ons gesin gehad. Omstreeks dieselfde tyd het ek ook die voorreg gehad om die Genootskap se drie rolprente op die eiland te vertoon.
Die opwindende “Goddelike Wil”-byeenkoms
In 1958 het ek weer uit die regeringsdiens bedank sodat ek die “Goddelike Wil”- Internasionale Byeenkoms in New York kon bywoon. Daardie byeenkoms was ’n mylpaal in my lewe—’n geleentheid wat my groot rede gegee het om my in Jehovah te verheug. Omdat daar nie gereelde vervoer na die eiland was nie, was ons vyf en ’n half maande weg. Die byeenkoms was agt dae lank, en die sessies was van nege-uur in die oggend tot nege-uur in die aand. Maar ek het nooit moeg geword nie, en ek het na elke dag uitgesien. Ek het die voorreg gehad om St. Helena twee minute lank op die program te verteenwoordig. Dit was ’n senutergende ondervinding om die groot skares in Yankee-stadion en op die Polo-terrein toe te spreek.
Die byeenkoms het my in my voorneme versterk om ’n pionier te word. Die openbare toespraak, “God se Koninkryk heers—Is die wêreld se einde naby?” was veral bemoedigend. Ná die byeenkoms het ons die Genootskap se hoofkwartier in Brooklyn besoek en ’n toer deur die fabriek onderneem. Ek het met broer Knorr, die destydse president van die Wagtoringgenootskap, gepraat oor die vooruitgang van die werk in St. Helena. Hy het gesê dat hy graag eendag die eiland sou wou besoek. Ons het bandopnames van al die toesprake sowel as baie rolprente van die byeenkoms saamgebring om vir familie en vriende te wys.
Ek bereik my doel om voltyds te dien
Nadat ek teruggekeer het, is ek weer my ou werk aangebied, aangesien daar geen tandarts op die eiland was nie. Ek het egter vir hulle verduidelik dat ek van plan is om die voltydse bediening te betree. Ná baie onderhandelinge is daar ooreengekom dat ek drie dae per week kon werk, maar met ’n hoër salaris as toe ek ses dae per week gewerk het. Jesus se woorde was in my geval waar: “Hou dan aan om eers die koninkryk en sy regverdigheid te soek, en al hierdie ander dinge sal vir julle bygevoeg word” (Matteus 6:33). Dit was nie altyd vir my maklik om met my swak bene oor die heuwelagtige terrein van die eiland te loop nie. Ek was nietemin 14 jaar lank ’n pionier en kon baie mede-eilanders help om die waarheid te leer—beslis ’n rede tot groot vreugde.
In 1961 wou die regering my twee jaar lank op ’n gratis kursus na die Fidji-eilande stuur sodat ek ’n gekwalifiseerde tandarts kon word. Hulle het selfs aangebied om my gesin saam met my te stuur. Dit was ’n aanloklike aanbod, maar nadat ek dit goed oorweeg het, het ek dit van die hand gewys. Ek wou nie so lank van die broers af weggaan en die voorreg om hulle te dien prysgee nie. Die senior- mediese beampte wat dit gereël het, was baie ontsteld. Hy het gesê: “As jy dink die einde is so naby, kan jy nog steeds die geld gebruik wat jy intussen sal verdien.” Maar ek het voet by stuk gehou.
Die volgende jaar is ek na Suid-Afrika genooi om die Koninkryksbedieningskool by te woon, ’n maand lange opleidingskursus vir gemeentelike opsieners. Ons het waardevolle onderrigting ontvang wat ons gehelp het om op bekwamer wyse na ons gemeentelike toewysings om te sien. Ná die skool het ek verdere opleiding ontvang deur saam met ’n reisende opsiener te werk. Ek het die twee gemeentes op St. Helena meer as tien jaar lank as waarnemende kringopsiener gedien. Mettertyd was daar ook ander bekwame broers beskikbaar, en toe is ’n rotasiestelsel gebruik.
Intussen het ons van Jamestown na Levelwood getrek, waar daar meer hulp nodig was, en ons het tien jaar daar gewoon. Gedurende hierdie tyd het ek die kers aan albei kante gebrand—ek was ’n pionier, het drie dae per week vir die regering gewerk en ’n kruidenierswinkeltjie gehad. Daarbenewens het ek na gemeentelike sake omgesien, en ek en my vrou het vir ’n gesin van vier groeiende kinders gesorg. Ek het die probleem oorkom deur uit my werk te bedank, die winkel te verkoop en die hele gesin drie maande met vakansie na Kaapstad te neem. Ons het toe na Ascension-eiland getrek en ’n jaar daar gewoon. In daardie tyd kon ons baie mense help om juiste kennis van Bybelwaarheid op te doen.
Toe ons na St. Helena teruggekeer het, het ons weer in Jamestown gaan bly. Ons het ’n huis opgeknap wat aan die Koninkryksaal verbind was. Ek en my seun John het ’n roomyskar van ’n ou Ford-bakkie gemaak om in ons materiële behoeftes te voorsien, en die volgende vyf jaar het ons roomys verkoop. Kort nadat ons die onderneming begin het, het ek ’n ongeluk met die bakkie gehad. Dit het omgeval en my bene vasgedruk. Gevolglik is van die senuwees onder my knieë dood, en dit het my drie maande geneem om te herstel.
Ryk seëninge in die verlede en in die toekoms
Deur die jare heen het ons baie seëninge gehad—bykomende redes om ons te verheug. Een daarvan was ons reis na Suid-Afrika in 1985 om ’n nasionale streekbyeenkoms by te woon en om die nuwe Bethelhuis te besoek, wat toe nog in aanbou was. Nog ’n rede was toe ek saam met my seun John ’n klein aandeel daaraan gehad het om ’n pragtige Byeenkomssaal naby Jamestown te bou. Ons is ook bly dat drie van ons seuns as ouer manne dien en een kleinseun in die Suid-Afrikaanse Bethel dien. En ons het ongetwyfeld groot vreugde en bevrediging gesmaak deur baie mense te help om juiste kennis van die Bybel op te doen.
Ons velddiensgebied is beperk, met net ongeveer 5 000 mense. Dit het nietemin goeie resultate opgelewer om dieselfde gebied oor en oor te werk. Baie min mense behandel ons onbeskof. St. Helena is bekend vir sy vriendelikheid, en jy sal gegroet word waar jy ook al gaan—hetsy jy op die pad loop of in jou motor ry. My ondervinding is dat dit al hoe makliker word om vir die mense te getuig as jy hulle beter leer ken. Ons het nou 150 verkondigers, hoewel baie al na die buiteland getrek het.
Noudat al ons kinders groot is en weggetrek het, is ek en my vrou weer op ons eie ná 48 jaar van getroude lewe. Haar lojale liefde en ondersteuning oor die jare het my gehelp om Jehovah ondanks beproewinge vreugdevol te bly dien. Ons liggaamlike krag neem af, maar ons geestelike krag word elke dag vernuwe (2 Korintiërs 4:16). Ek sien saam met familie en vriende uit na ’n wonderlike toekoms wanneer ek in selfs ’n beter liggaamlike toestand sal wees as wat ek op 17-jarige ouderdom was. My hartewens is om in alle opsigte volmaaktheid te geniet en bowenal om ons liefdevolle, sorgsame God, Jehovah, en sy heersende Koning, Jesus Christus, vir ewig te dien.—Nehemia 8:10, NW.
[Prent op bladsy 26]
George Scipio en drie van sy seuns, wat as ouer manne dien
[Prent op bladsy 29]
George Scipio en sy vrou Doris