Het jy geloof soos dié van Abraham?
“Wanneer die Seun van die mens kom, sal hy werklik die geloof op die aarde vind?”—LUKAS 18:8.
1. Waarom is dit moeilik om jou geloof vandag sterk te hou?
DIT is nie maklik om jou geloof vandag sterk te hou nie. Die wêreld plaas groot druk op Christene met die doel om hulle aandag van geestelike dinge af te keer (Lukas 21:34; 1 Johannes 2:15, 16). Baie voer ’n stryd om aan die lewe te bly as gevolg van oorloë, rampe, siekte of hongersnood (Lukas 21:10, 11). In etlike lande is daar ’n sterk sekulêre kultuur, en enigeen wat in ooreenstemming met sy geloof lewe, word as onredelik, selfs fanaties, beskou. Daarbenewens word baie Christene weens hulle geloof vervolg (Matteus 24:9). Die vraag wat Jesus byna 2 000 jaar gelede geopper het, is beslis gepas: “Wanneer die Seun van die mens kom, sal hy werklik die geloof op die aarde vind?”—Lukas 18:8.
2. (a) Waarom is sterk geloof noodsaaklik vir ’n Christen? (b) Wie se voorbeeld van geloof kan ons gerus ondersoek?
2 Dit is egter so dat sterk geloof noodsaaklik is as ons nou sukses in die lewe wil behaal en in die toekoms die beloofde ewige lewe wil ontvang. Die apostel Paulus het Jehovah se woorde aan Habakuk aangehaal en geskryf: “‘My regverdige sal weens geloof lewe’, en ‘as hy terugdeins, het my siel geen behae in hom nie’. . . . Sonder geloof is dit onmoontlik om vir [God] welbehaaglik te wees” (Hebreërs 10:38–11:6; Habakuk 2:4). Paulus het vir Timoteus gesê: “Stry die voortreflike stryd van die geloof, kry ’n stewige houvas op die ewige lewe waartoe jy geroep is” (1 Timoteus 6:12). Hoe is dit dan moontlik om onwrikbare geloof te hê? Om daardie vraag te beantwoord, sal dit goed wees as ons na ’n man kyk wat ongeveer 4 000 jaar gelede gelewe het, maar wie se geloof nog steeds groot respek afdwing in drie vername godsdienste—Islam, Judaïsme en die Christelike godsdiens. Daardie man is Abraham. Waarom was sy geloof so merkwaardig? Kan ons hom vandag navolg?
Gehoorsaamheid aan God se bevele
3, 4. Waarom het Tera met sy huishouding van Ur na Haran getrek?
3 Abraham (wat oorspronklik Abram genoem is) word baie vroeg in die Bybel vir die eerste keer gemeld. In Genesis 11:26 lees ons: ‘Tera het die vader geword van Abram, Nahor en Haran.’ Tera en sy gesin het in Ur van die Galdeërs gewoon, ’n florerende stad in die suide van Mesopotamië. Maar hulle het nie daar gebly nie. “Tera het sy seun Abram geneem en Lot, die seun van Haran, sy kleinseun, en Sarai [Sara], sy skoondogter, die vrou van sy seun Abram, en dié het saam met hulle uit Ur van die Chaldeërs getrek om na die land Kanaän te gaan. En hulle het tot by Haran gekom en daar gaan woon” (Genesis 11:31). Abraham se broer Nahor het ook met sy gesin na Haran getrek (Genesis 24:10, 15; 28:1, 2; 29:4). Maar waarom het Tera van die florerende Ur na die verafgeleë Haran getrek?
4 Ongeveer 2 000 jaar ná Abraham se tyd het die getroue man Stefanus hierdie ongewone stap deur Tera se gesin verduidelik toe hy voor die Joodse Sanhedrin verskyn het. Hy het gesê: “Die God van heerlikheid het aan ons voorvader Abraham verskyn terwyl hy in Mesopotamië was, voordat hy hom in Haran gevestig het, en hy het vir hom gesê: ‘Trek weg uit jou land en van jou familielede en kom na die land wat ek jou sal wys.’ Toe het hy uit die land van die Galdeërs weggetrek en hom in Haran gevestig” (Handelinge 7:2-4). Tera het hom onderwerp aan Jehovah se wil vir Abraham toe hy saam met sy huishouding na Haran getrek het.
5. Waarheen het Abraham ná sy vader se dood gegaan? Waarom?
5 Tera se familie het hulle in hierdie nuwe stad gevestig. Toe Abraham jare later van “my land” gepraat het, het hy nie Ur in gedagte gehad nie, maar die omgewing van Haran (Genesis 24:4). Tog sou Haran nie Abraham se permanente tuiste wees nie. Volgens Stefanus “het God [Abraham], nadat sy vader gesterf het, van woonplek laat verander, na hierdie land waarin julle nou woon” (Handelinge 7:4). In gehoorsaamheid aan Jehovah se bevel het Abraham, vergesel deur Lot, die Eufraat oorgesteek en in die land Kanaän gekom.a
6. Watter belofte het Jehovah aan Abraham gemaak?
6 Waarom het Jehovah Abraham na Kanaän laat trek? Die rede het verband gehou met God se voornemens vir daardie getroue man. Jehovah het vir Abraham gesê: “Gaan jy uit jou land en uit jou familie en uit jou vader se huis, na die land wat Ek jou sal wys. En Ek sal jou ’n groot nasie maak en jou seën en jou naam so groot maak, dat jy ’n seën sal wees. En Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek; en in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word” (Genesis 12:1-3). Abraham sou die vader word van ’n groot nasie wat Jehovah se beskerming sou geniet en die land Kanaän sou besit. Wat ’n wonderlike belofte tog! Maar Abraham moes groot veranderinge in sy lewe maak om daardie land te beërf.
7. Watter veranderinge moes Abraham bereid wees om te maak om Jehovah se belofte te beërf?
7 Toe Abraham Ur verlaat het, het hy ’n florerende stad verlaat en waarskynlik ook sy vader se familie—belangrike bronne van sekuriteit in daardie patriargale tye. Toe hy Haran verlaat het, het hy hom afgeskei van sy vader se huis, wat sy broer Nahor se gesin ingesluit het, en na ’n onbekende land getrek. In Kanaän het hy nie binne die mure van ’n stad veiligheid gesoek nie. Waarom nie? Kort nadat Abraham in die land gekom het, het Jehovah vir hom gesê: “Trek die land deur in sy lengte en sy breedte, want Ek sal dit aan jou gee” (Genesis 13:17). Die 75-jarige Abraham en sy 65-jarige vrou, Sara, het hierdie bevel gehoorsaam. “Deur geloof het hy as ’n vreemdeling in die land van die belofte vertoef soos in ’n vreemde land en in tente gewoon.”—Hebreërs 11:9; Genesis 12:4.
Geloof soos dié van Abraham vandag
8. Wat moet ons aankweek, in die lig van die voorbeeld van Abraham en ander getuies van die ou tyd?
8 Abraham en sy gesin word ingesluit onder die “groot wolk van [voor-Christelike] getuies” wat in Hebreërs hoofstuk 11 gemeld word. In die lig van die geloof van hierdie vroeë knegte van God spoor Paulus Christene aan om ‘elke gewig af te lê en die sonde [ongeloof] wat ons maklik verstrik’ (Hebreërs 12:1). Ja, ongeloof kan “ons maklik verstrik”. Maar in Paulus se dag en ons s’n was dit vir ware Christene moontlik om sterk geloof aan te kweek wat met dié van Abraham en ander individue van die ou tyd vergelyk kan word. Paulus het met verwysing na homself en mede-Christene gesê: “Ons is dan nou nie die soort wat terugdeins tot vernietiging nie, maar die soort wat geloof het tot die behoud van die siel.”—Hebreërs 10:39.
9, 10. Watter bewys is daar dat daar baie is wat vandag geloof soos dié van Abraham het?
9 Die wêreld het weliswaar sedert Abraham se tyd verander. Maar ons dien nog steeds dieselfde “God van Abraham”, en hý verander nie (Handelinge 3:13; Maleagi 3:6). Jehovah verdien vandag om aanbid te word net so veel soos hy dit in Abraham se tyd verdien het (Openbaring 4:11). Baie wy hulle ten volle aan Jehovah toe en maak, soos Abraham, enige nodige veranderinge in hulle lewe sodat hulle God se wil kan doen. Verlede jaar het 316 092 in die openbaar bewys gelewer van hulle toewyding deur hulle “in die naam van die Vader en van die Seun en van die heilige gees” in water te laat doop.—Matteus 28:19.
10 Vir die meeste van hierdie nuwe Christene was dit nie nodig om na ’n ver en vreemde land te reis om hulle toewyding uit te leef nie. In geestelike sin het baie van hulle egter ver gereis. Elsie was byvoorbeeld ’n towenares in Mauritius. Almal was bang vir haar. ’n Spesiale pionier het ’n Bybelstudie met Elsie se dogter begin, en dit het Elsie die geleentheid gegee om haar ‘van die duisternis na die lig te keer’ (Handelinge 26:18). Weens haar dogter se belangstelling het Elsie ingestem om My boek met Bybelverhale te bestudeer. Haar studie is drie keer per week gehou aangesien sy voortdurend aanmoediging nodig gehad het. Haar okkulte gebruike het haar glad nie gelukkig gemaak nie, en sy het talle persoonlike probleme gehad. Maar uiteindelik was sy in staat om die lang reis van demonisme na ware aanbidding te voltooi. Wanneer mense van haar dienste wou gebruik maak, het sy verduidelik dat slegs Jehovah hulle teen kwaad kan beskerm. Elsie is nou ’n gedoopte Getuie, en 14 van haar familielede en vriende het die waarheid aangeneem.
11. Watter aanpassings is diegene wat hulle aan Jehovah toewy bereid om te maak?
11 Vir die meeste van diegene wat hulle verlede jaar toegewy het om God te dien, was dit nie nodig om sulke groot veranderinge te maak nie. Maar almal is van ’n geestelik dooie toestand na ’n geestelik lewende toestand verander (Efesiërs 2:1). Hoewel hulle nog steeds fisies in die wêreld is, is hulle nie meer ’n deel daarvan nie (Johannes 17:15, 16). Soos gesalfde Christene, wie se ‘burgerskap in die hemele bestaan’, is hulle soos “vreemdelinge en tydelike inwoners” (Filippense 3:20; 1 Petrus 2:11). Hulle het hulle lewe in ooreenstemming gebring met God se standaarde, veral omdat hulle deur liefde vir God en liefde vir hulle naaste beweeg is (Matteus 22:37-39). Hulle jaag nie selfsugtige, materialistiese doelwitte na of meen ook nie dat hulle persoonlike vervulling in hierdie wêreld moet vind nie. Hulle vestig hulle aandag eerder op die beloofde ‘nuwe hemele en nuwe aarde waarin regverdigheid sal woon’.—2 Petrus 3:13; 2 Korintiërs 4:18.
12. Watter bedrywigheid wat verlede jaar gerapporteer is, lewer bewys dat Jesus gedurende sy teenwoordigheid “die geloof op die aarde” gevind het?
12 Toe Abraham na Kanaän getrek het, was hy en sy gesin op hulle eie daar en kon hulle op net Jehovah se ondersteuning en beskerming reken. Maar die 316 092 Christene wat onlangs gedoop is, is glad nie alleen nie. Jehovah ondersteun en beskerm hulle weliswaar deur sy gees, soos hy in Abraham se geval gedoen het (Spreuke 18:10). Maar daarbenewens ondersteun hy hulle deur ’n dinamiese, internasionale “nasie” wat groter is as party hedendaagse nasies van die wêreld (Jesaja 66:8). Verlede jaar het ’n hoogtepunt van 5 888 650 burgers van hierdie nasie bewys gelewer van hulle lewende geloof deur hulle naaste van God se beloftes te vertel (Markus 13:10). Hulle het ’n geweldige hoeveelheid tyd, naamlik 1 186 666-708 uur, bestee aan hierdie werk om belangstellendes te vind. As gevolg hiervan is 4 302-852 Bybelstudies met mense gehou wat graag geloof wil aankweek. As ’n verdere bewys van hulle ywer het 698 781 lede van hierdie “nasie” óf voltyds óf ’n maand of meer aan die pionierdiens deelgeneem. (Besonderhede van die werk wat Jehovah se Getuies verlede jaar gedoen het, verskyn op bladsye 12 tot 15.) Hierdie merkwaardige verslag is ’n positiewe, lewende antwoord op Jesus se vraag: “Wanneer die Seun van die mens kom, sal hy werklik die geloof op die aarde vind?”
Getrou ondanks beproewinge
13, 14. Beskryf sommige van die moeilikhede waarmee Abraham en sy familie in Kanaän te kampe gehad het.
13 In Kanaän het Abraham en sy huis dikwels met moeilike situasies te kampe gehad. Daar was ten minste een kwaai hongersnood wat hom gedwing het om van Kanaän na Egipte af te trek. Wat meer is, die heerser van Egipte en die heerser van Gerar (naby Gasa) het Abraham se vrou, Sara, vir hulleself probeer neem (Genesis 12:10-20; 20:1-18). Daar was ook konflikte tussen Abraham se veewagters en Lot se veewagters, en dit het ’n skeiding tussen die twee huise veroorsaak. Abraham het op onselfsugtige wyse vir Lot eerste laat kies watter deel van die land hy wou hê, en Lot het besluit om in die Jordaanstreek te woon, wat soos Eden gelyk het weens sy vrugbaarheid en prag.—Genesis 13:5-13.
14 Toe het Lot die slagoffer geword van ’n oorlog tussen die koning van die verafgeleë Elam en sy bondgenote en die konings van vyf stede op die laagvlakte Siddim. Die invallende konings het die plaaslike konings verslaan en baie buit geneem, onder andere Lot en sy besittings. Toe Abraham hoor wat gebeur het, het hy hierdie konings onbevrees agternagesit en kon hy Lot en sy huis asook die plaaslike konings se besittings terugkry (Genesis 14:1-16). Maar dit was nie Lot se slegste ondervinding in Kanaän nie. Hy het om die een of ander rede in Sodom gaan woon, ten spyte van die stad se onsedelike reputasie (2 Petrus 2:6-8).b Toe Lot deur twee engele gewaarsku is dat die stad vernietig gaan word, het hy saam met sy vrou en dogters gevlug. Lot se vrou het egter die uitdruklike instruksies van die engele geïgnoreer en gevolglik in ’n soutpilaar verander. Lot is gedwing om ’n tyd lank saam met sy twee dogters in ’n grot in Soar te woon (Genesis 19:1-30). Hierdie gebeure moes Abraham baie ontstel het, veral aangesien Lot as deel van Abraham se huis na Kanaän gekom het.
15. Watter negatiewe denke het Abraham klaarblyklik vermy ondanks die probleme waarmee hy te kampe gehad het terwyl hy in tente in ’n vreemde land gewoon het?
15 Het Abraham ooit gewonder of hy en Lot saam met sy vader se familie in die veiligheid van Ur of saam met sy broer Nahor in Haran moes gebly het? Het hy ooit gewens dat hy hom in die veiligheid van ’n ommuurde stad kon vestig pleks van in tente te woon? Het hy miskien gewonder of dit verstandig was om die opofferinge te maak wat met die lewe van ’n swerwer in ’n vreemde land gepaardgegaan het? Die apostel Paulus het met verwysing na Abraham en sy familie geskryf: “As hulle werklik bly dink het aan daardie plek waaruit hulle weggetrek het, [sou hulle] die geleentheid gehad het om terug te keer” (Hebreërs 11:15). Maar hulle het nie teruggekeer nie. Hulle is nie afgeskrik deur die ontberinge wat hulle moes verduur nie en het gebly waar Jehovah hulle wou hê.
Volharding vandag
16, 17. (a) Met watter moeilikhede het baie Christene vandag te kampe? (b) Watter positiewe gesindheid het Christene? Waarom?
16 Soortgelyke volharding kan vandag in Christene gesien word. Hoewel dit vir ware Christene ’n bron van groot vreugde is om God te dien, is die lewe in hierdie laaste dae nie vir hulle maklik nie. Hoewel hulle in ’n geestelike paradys woon, gaan hulle gebuk onder dieselfde ekonomiese druk as ander mense (Jesaja 11:6-9). Baie het onskuldige slagoffers in die oorloë van die nasies geword, en party het sonder hulle eie toedoen tot volslae armoede verval. Daarbenewens verduur hulle die probleme waarmee ongewilde minderhede te kampe het. In baie lande verkondig hulle die goeie nuus ten spyte van wydverspreide onverskilligheid. In ander lande is hulle die skyf van slinkse aanvalle deur diegene wat ‘moeilikheid deur verordening beraam’ en ‘onskuldige bloed veroordeel’ (Psalm 94:20, 21, vgl. NW). Selfs in lande waar Christene nie verdruk word nie en waar hulle deur sommige mense geprys word vir hulle hoë standaarde, is hulle daarvan bewus dat hulle anders is as hulle skool- en werksmaats—amper soos Abraham wat in tente gewoon het terwyl die meeste mense om hom in stede gewoon het. Ja, dit is nie maklik om in die wêreld te lewe en tog “geen deel” daarvan te wees nie.—Johannes 17:14.
17 Is ons dan spyt dat ons ons aan God toegewy het? Wens ons dat ons deel van die wêreld gebly het en soos al die ander mense was? Is ons spyt oor die opofferinge wat ons in Jehovah se diens gemaak het? Hoegenaamd nie! Ons kyk nie met verlange terug nie, maar besef eerder dat enigiets wat ons opgeoffer het in werklikheid geen waarde gehad het in vergelyking met die seëninge wat ons nou geniet en wat ons in die toekoms gaan geniet nie (Lukas 9:62; Filippense 3:8). Is mense in die wêreld buitendien gelukkig? Die waarheid is dat baie van hulle antwoorde soek wat ons reeds het. Hulle ly omdat hulle nie dieselfde leiding as ons volg wat ons van God deur middel van die Bybel ontvang nie (Psalm 119:105). En baie van hulle smag na die Christenbroederskap en genotvolle omgang wat ons met medegelowiges geniet.—Psalm 133:1; Kolossense 3:14.
18. Wat is uiteindelik die gevolg wanneer Christene moed soos dié van Abraham openbaar?
18 Ons moet weliswaar soms moedig wees soos Abraham toe hy Lot se ontvoerders agternagesit het. Maar wanneer ons moedig is, seën Jehovah die uitkoms. In Noord-Ierland het haat byvoorbeeld diep wortelgeskiet as gevolg van sektariese geweld, en dit verg moed om neutraal te bly. Maar getroue Christene het Jehovah se woorde aan Josua ter harte geneem: “Wees sterk en vol moed, wees nie bevrees of verskrik nie; want die HERE jou God is met jou, oral waar jy heengaan” (Josua 1:9; Psalm 27:14). Deur die jare heen het hulle moedige standpunt mense se respek afgedwing, en vandag kan hulle vryelik in alle gemeenskappe van daardie land getuig.
19. Waar wil Christene wees, en waarna sien hulle met vertroue uit wanneer hulle Jehovah se leiding volg?
19 As ons Jehovah se leiding volg, hoef ons nooit daaraan te twyfel dat die uiteinde van enige situasie waarvoor ons te staan kom tot sy heerlikheid en tot ons blywende voordeel sal strek nie. Ondanks uitdagings en opofferinge is daar nêrens anders waar ons eerder wil wees as in Jehovah se diens nie, waar ons omgang met ons Christenbroers geniet en met vertroue uitsien na die ewige toekoms wat God belowe het.
[Voetnote]
a Abraham het sy broerskind Lot waarskynlik aangeneem toe Lot se vader gesterf het.—Genesis 11:27, 28; 12:5.
b Sommige het al aangevoer dat Lot vir groter veiligheid in ’n stad gaan woon het nadat hy onder diegene was wat deur vier konings weggevoer is.
Onthou jy?
◻ Waarom is sterk geloof noodsaaklik?
◻ Hoe het Abraham getoon dat hy sterk geloof gehad het?
◻ Hoe gaan toewyding gepaard met veranderinge in ’n mens se lewe?
◻ Waarom is ons bly om God te kan dien ondanks enige probleme waarmee ons te kampe het?
[Prente op bladsy 7]
Abraham was bereid om groot veranderinge in sy lewe te maak om die belofte te beërf
[Prente op bladsy 9]
Die getuienis toon dat Jesus gedurende sy teenwoordigheid “die geloof op die aarde” gevind het