Redding behoort aan Jehovah
“Die ware God is vir ons ’n God van reddingsdade.”—PSALM 68:20, NW.
1, 2. (a) Waarom kan ons sê dat Jehovah die Bron van redding is? (b) Hoe sou jy Spreuke 21:31 verduidelik?
JEHOVAH is die Redder van mense wat hom liefhet (Jesaja 43:11, NW). Israel se beroemde koning Dawid het dit uit persoonlike ondervinding geweet, en hy het met hart en siel gesing: “Redding behoort aan Jehovah” (Psalm 3:8, NW). Die profeet Jona het dieselfde woorde in vurige gebed gebruik terwyl hy in die buik van die groot vis was.—Jona 2:9, NW.
2 Dawid se seun Salomo het ook geweet dat Jehovah die Bron van redding is, want hy het gesê: “Die perd word reggemaak vir die dag van die geveg, maar die oorwinning [“redding”, NW] is deur die HERE” (Spreuke 21:31). In die eertydse Midde-Ooste het osse die ploeg getrek, was donkies pakdiere, het mense op esels gery en is perde in oorlogvoering gebruik. Voor die Israeliete egter die Beloofde land binnegegaan het, het God beveel dat hulle toekomstige koning “nie vir hom baie perde [mag] aanskaf nie” (Deuteronomium 17:16). Oorlogsperde sou nie nodig wees nie, want Jehovah sou sy volk red.
3. Watter vrae verdien ons aandag?
3 Die Soewereine Heer Jehovah is “’n God van reddingsdade” (Psalm 68:20, NW). Wat ’n bemoedigende gedagte tog! Maar watter “reddingsdade” het Jehovah al gedoen? En wie het hy gered?
Jehovah red die opregtes
4. Hoe weet ons dat Jehovah godvrugtige mense red?
4 Almal wat ’n regskape lewe as God se toegewyde knegte probeer lei, kan vertroosting put uit die apostel Petrus se woorde: “Jehovah [weet] hoe om mense van godvrugtige toegewydheid uit beproewing te verlos, maar om onregverdige mense te bewaar vir die dag van die oordeel om afgesny te word.” Petrus het hierdie punt bewys deur te sê dat God “hom nie daarvan weerhou het om ’n eertydse wêreld te straf nie, maar Noag, ’n prediker van regverdigheid, met sewe ander veilig bewaar het toe hy ’n sondvloed oor ’n wêreld van goddelose mense gebring het”.—2 Petrus 2:5, 9.
5. Onder watter omstandighede het Noag as “’n prediker van regverdigheid” gedien?
5 Stel jou die toestande in Noag se dag voor. Gematerialiseerde demone is op die aarde. Die kinders van hierdie ongehoorsame engele behandel mense wreed, en ‘die aarde is vol geweld’ (Genesis 6:1-12). Maar hierdie bullebakke kan Noag nie dwing om Jehovah se diens te verlaat nie. Hy is eerder “’n prediker van regverdigheid”. Hy en sy gesin bou ’n ark en twyfel nooit dat goddeloosheid in hulle leeftyd tot niet gemaak sal word nie. Noag se geloof veroordeel daardie wêreld (Hebreërs 11:7). Vandag kom toestande ooreen met dié van Noag se dag, wat aandui dat dit die laaste dae van hierdie goddelose stelsel van dinge is (Matteus 24:37-39; 2 Timoteus 3:1-5). Sal jy dus, soos Noag, getrou wees as ’n prediker van regverdigheid en saam met God se volk dien terwyl jy op die redding van Jehovah wag?
6. Hoe bewys 2 Petrus 2:7, 8 dat Jehovah die regskapenes red?
6 Petrus verskaf verdere bewys dat Jehovah die regskapenes red. Die apostel sê: “[God het] die regverdige Lot verlos . . . , wat grootliks deur die wettrotserende mense se oorgawe aan losbandige gedrag gekwel was—want dié regverdige man het deur wat hy gesien en gehoor het terwyl hy onder hulle gewoon het, van dag tot dag sy regverdige siel gepynig weens hulle wettelose dade” (2 Petrus 2:7, 8; Genesis 19:1-29). Geslagsonsedelikheid het vir miljoene in hierdie laaste dae ’n lewenswyse geword. Word jy, soos Lot, ‘grootliks gekwel deur die oorgawe aan losbandige gedrag’ waaraan soveel mense hulle vandag skuldig maak? Indien wel, en indien jy regverdigheid beoefen, kan jy onder dié wees wat Jehovah sal red wanneer hierdie goddelose stelsel vernietig word.
Jehovah red sy volk van verdrukkers
7. Hoe toon Jehovah se handelinge met die Israeliete in Egipte dat hy sy volk van verdrukking verlos?
7 So lank as wat hierdie ou stelsel bestaan, sal Jehovah se knegte vervolg en deur vyande verdruk word. Maar hulle kan vol vertroue wees dat Jehovah hulle sal verlos, want hy het sy verdrukte volk in die verlede gered. Gestel jy was ’n Israeliet wat deur die Egiptenaars in Moses se tyd verdruk is (Exodus 1:1-14; 6:7). God tref Egipte met die een plaag na die ander (Exodus 8:5–10:29). Wanneer die dodelike tiende plaag die lewe van die Egiptiese eersgeborenes eis, laat Farao Israel toe om te trek, maar later mobiliseer hy sy magte en sit hulle agterna. Maar hy en sy manne word kort voor lank in die Rooi See vernietig (Exodus 14:23-28). Jy sing hierdie lied saam met Moses en die hele Israel: “Jehovah is ’n krygsman. Jehovah is sy naam. Farao se strydwaens en sy krygsmag het hy in die see gewerp, en die keur van sy krygsmanne het in die Rooi See gesink. Die bruisende waters het hulle bedek; soos ’n klip het hulle in die dieptes afgesak” (Exodus 15:3-5, NW). ’n Soortgelyke ramp wag op alle verdrukkers van God se volk in hierdie laaste dae.
8, 9. Gee ’n voorbeeld uit die boek Rigters wat bewys dat Jehovah sy volk van verdrukkers red.
8 Jare nadat die Israeliete die Beloofde Land binnegegaan het, het rigters die reg onder hulle toegepas. Die volk is soms deur ander nasies verdruk, maar God het getroue rigters gebruik om hulle te verlos. Hoewel ons miskien op soortgelyke wyse ‘kreun weens onderdrukkers en dié wat ons rondstoot’, sal Jehovah ons ook as sy lojale knegte red (Rigters 2:16-18, NW; 3:9, 15). Trouens, die Bybelboek Rigters verseker ons hiervan en van die groter redding wat God deur middel van sy aangestelde Regter, Jesus Christus, sal voorsien.
9 Kom ons gaan terug na die dae van rigter Barak. Omdat die Israeliete valse aanbidding beoefen en nie God se guns geniet nie, het die Kanaänitiese koning Jabin hulle 20 jaar lank wreed oorheers. Sisera is die owerste van die groot Kanaänitiese leërmag. Maar ‘’n skild of spies is nie te sien onder veertigduisend in Israel nie’, al is die nasie moontlik viermiljoen sterk (Rigters 5:6-8). Die Israeliete is berouvol en roep uit tot Jehovah. Soos God deur die profetes Debora beveel, bring Barak 10000 man op die berg Tabor bymekaar, en Jehovah laat die vyand in die vallei onder die hoë berg Tabor optrek. Sisera se krygsmag en 900 strydwaens dreun oor die vlakte en Kison se droë rivierbedding. Maar ’n stortreën laat oorweldigende vloedwaters in die Kison afkom. Terwyl Barak en sy manne onder die sluier van die storm teen die berg Tabor afgaan, sien hulle die verwoesting wat gesaai is toe Jehovah se toorn ontvlam het. Barak se manne vel die vreesbevange, vlugtende Kanaäniete een vir een neer, en nie een ontsnap nie. Wat ’n waarskuwing is dit tog vir ons verdrukkers wat dit waag om teen God te veg!—Rigters 4:3-16; 5:19-22.
10. Waarom kan ons seker wees dat God sy hedendaagse knegte van al hulle verdrukkers sal red?
10 Jehovah sal sy hedendaagse knegte van al hulle verdrukkende vyande red, net soos hy godvresende Israel in tye van gevaar gered het (Jesaja 43:3; Jeremia 14:8). God het Dawid “uit die hand van al sy vyande” gered (2 Samuel 22:1-3). Laat ons dus moedig wees, al word ons as Jehovah se volk verdruk of vervolg, want sy Messiaanse Koning sal ons van verdrukking bevry. Ja, “die siele van die behoeftiges sal hy red. Hy sal hulle siel verlos van verdrukking en geweld” (Psalm 72:13, 14). Daardie verlossing is inderdaad naby.
God red diegene wat op hom vertrou
11. Watter voorbeeld van vertroue op Jehovah het die jong Dawid gestel?
11 As ons die redding van Jehovah wil sien, moet ons moedig op hom vertrou. Dawid het moedige vertroue in God gestel toe hy uitgegaan het om teen die reus Goliat te veg. Stel jou daardie reusagtige Filistyn voor waar hy voor die jong Dawid staan, wat uitroep: “Jy kom na my met ’n swaard en met ’n spies en met ’n lans, maar ek kom na jou in die Naam van die HERE van die leërskare, die God van die slagordes van Israel, wat jy uitgedaag het. Vandag sal die HERE jou in my hand oorlewer, dat ek jou kan verslaan en jou hoof van jou wegneem, en die lyke van die leër van die Filistyne vandag aan die voëls van die hemel en die wilde diere van die aarde kan gee, sodat die hele aarde kan weet dat Israel ’n God het. Dan sal hierdie hele menigte moet erken dat die HERE nie deur swaard en deur spies verlos nie; want die stryd behoort aan die HERE.” Kort daarna is Goliat dood, en die Filistyne word totaal verslaan. Dit is duidelik dat Jehovah sy volk gered het.—1 Samuel 17:45-54.
12. Waarom kan dit nuttig wees om Dawid se held Eleasar te onthou?
12 Wanneer ons voor vervolgers te staan kom, moet ons “moed bymekaarskraap” en groter vertroue in God stel (Jesaja 46:8-13, NW; Spreuke 3:5, 6). Neem byvoorbeeld hierdie voorval by ’n plek met die naam Pas-Dammim. Israel het voor die Filistynse magte teruggeval. Maar vrees kry nie vir Eleasar, een van Dawid se drie groot helde, onder nie. Hy neem in ’n garsland stelling in en verslaan die Filistyne manalleen met die swaard. Sodoende ‘red Jehovah Israel met ’n groot redding’ (1 Kronieke 11:12-14, NW; 2 Samuel 23:9, 10). Niemand verwag dat ons ’n leërmag manalleen moet verslaan nie. Maar soms kan ons alleen wees en deur vyande onder druk geplaas word. Sal ons biddend op Jehovah, die God van reddingsdade, vertrou? Sal ons sy hulp vra sodat ons nie inligting oor ons medegelowiges aan vervolgers bekend maak nie?
Jehovah red handhawers van onkreukbaarheid
13. Waarom was dit moeilik om in die tienstammeryk van Israel onkreukbaarheid teenoor God te handhaaf?
13 As ons deur Jehovah gered wil word, moet ons ons onkreukbaarheid teenoor hom ten alle koste handhaaf. God se volk van die ou tyd het met verskeie beproewinge te kampe gehad. Dink aan wat jy sou deurgemaak het as jy in die tienstammeryk van Israel gewoon het. Rehabeam se hardvogtigheid het veroorsaak dat tien stamme hom nie meer ondersteun het nie en die noordelike koninkryk van Israel gevorm het (2 Kronieke 10:16, 17; 11:13, 14). Van al hulle konings was Jehu die beste, maar selfs hý het ‘nie met sy hele hart in die wet van die HERE gewandel nie’ (2 Konings 10:30, 31). Daar was nietemin handhawers van onkreukbaarheid in die tienstammeryk (1 Konings 19:18). Hulle het geloof in God beoefen, en hy was met hulle. Handhaaf jy onkreukbaarheid teenoor Jehovah ondanks toetse van jou geloof?
14. Watter redding het Jehovah in die dae van koning Hiskia teweeggebring, en wat het gelei tot die Babiloniese verowering van Juda?
14 Die algemene verontagsaming van God se Wet het rampspoedige gevolge vir die koninkryk van Israel gehad. Toe die Assiriërs dit in 740 v.G.J. verower het, het individue uit die tienstammeryk ongetwyfeld na die tweestammeryk van Juda gevlug, waar hulle Jehovah by sy tempel kon aanbid. Vier van Juda se 19 konings in Dawid se geslagslyn—Asa, Josafat, Hiskia en Josia—was uitsonderlik in hulle toegewydheid aan God. In die dae van die onkreukbare Hiskia het die Assiriërs met ’n magtige leër teen Juda opgetrek. In antwoord op Hiskia se smeekbedes het God net een engel gebruik om 185 000 Assiriërs in een nag dood te maak, en sodoende Sy aanbidders gered! (Jesaja 37:36-38). Later het die volk se versuim om die Wet te hou en ag te slaan op die waarskuwings van God se profete gelei tot die Babiloniese verowering van Juda en die vernietiging van sy hoofstad, Jerusalem, en die tempel in 607 v.G.J.
15. Waarom het Joodse ballinge in Babilon volharding nodig gehad, en hoe het Jehovah hulle uiteindelik verlos?
15 Joodse ballinge het volharding nodig gehad om hulle onkreukbaarheid teenoor God te handhaaf terwyl hulle sowat 70 droewige jare in Babiloniese gevangenskap was (Psalm 137:1-6). Een opmerkenswaardige handhawer van onkreukbaarheid was die profeet Daniël (Daniël 1:1-7; 9:1-3). Stel jou sy vreugde voor toe die bevel van die Persiese koning Kores in 537 v.G.J. in werking getree het sodat die Jode na Juda kon terugkeer om die tempel te herbou! (Esra 1:1-4). Daniël en ander het jare lank volhard, maar hulle het op die ou end gesien hoe Babilon ondergaan en hoe Jehovah se volk verlos word. Dit behoort ons te help volhard terwyl ons wag op die vernietiging van “Babilon die Grote”, die wêreldryk van valse godsdiens.—Openbaring 18:1-5.
Jehovah red altyd sy volk
16. Watter redding het God in die dae van koningin Ester bewerk?
16 Jehovah red altyd sy knegte wanneer hulle aan sy naam getrou is (1 Samuel 12:22; Jesaja 43:10-12, NW). Kom ons gaan terug na die dae van koningin Ester—na die vyfde eeu v.G.J. Koning Ahasveros (Xerxes I) het Haman as eerste minister aangestel. Haman is briesend omdat Mordegai die Jood weier om voor hom neer te buig, en gevolglik smee hy ’n plan om hom en al die Jode in die Persiese Ryk uit te wis. Hy beskryf hulle as wetsoortreders, laat sy voorstel ekonomies aanloklik lyk en word toegelaat om met die koning se seëlring ’n dokument te verseël wat beveel dat hulle uitgewis word. Ester maak moedig aan die koning bekend dat sy ’n Jood is en vlek Haman se moorddadige komplot oop. ’n Rukkie later hang Haman aan die einste paal wat hy vir Mordegai se teregstelling laat oprig het. Mordegai word eerste minister gemaak met die magtiging om die Jode toe te laat om hulleself te verdedig. Hulle behaal ’n groot oorwinning oor hulle vyande (Ester 3:1–9:19). Hierdie gebeurtenis behoort ons geloof te versterk dat Jehovah reddingsdade ten behoewe van sy gehoorsame hedendaagse knegte sal doen.
17. Hoe het gehoorsaamheid ’n rol gespeel in die verlossing van eerste-eeuse Joodse Christene wat in Judea gewoon het?
17 Nog ’n rede waarom God sy knegte red, is omdat hulle hom en sy Seun gehoorsaam. Stel jou in die plek van Jesus se eerste-eeuse Joodse dissipels. Hy sê vir hulle: “Wanneer julle Jerusalem deur leërkampe omsingel sien, dan moet julle weet dat sy verwoesting naby gekom het. Laat dié wat in Judea is dan na die berge begin vlug” (Lukas 21:20-22). Jare gaan verby, en jy wonder wanneer hierdie woorde vervul sal word. Dan, in 66 G.J., is daar ’n Joodse opstand. Romeinse leërs onder Cestius Gallus omsingel Jerusalem en vorder tot by die tempelmure. Skielik, sonder enige verklaarbare rede, trek die Romeine terug. Wat sal Joodse Christene doen? In Eusebius se Ecclesiastical History (Boek III, hoofstuk V, 3) sê hy dat hulle uit Jerusalem en Judea gevlug het. Hulle is gespaar omdat hulle Jesus se profetiese waarskuwing gehoorsaam het. Gee jy net so vinnig ag op skriftuurlike riglyne van “die getroue bestuurder” wat oor al Jesus se “besittings” aangestel is?—Lukas 12:42-44.
Redding tot ewige lewe
18, 19. (a) Watter redding het Jesus se dood moontlik gemaak, en vir wie? (b) Wat was die apostel Paulus vasbeslote om te doen?
18 Die feit dat Joodse Christene in Judea ag geslaan het op Jesus se waarskuwing het hulle lewens gered. Maar Jesus se dood maak redding tot ewige lewe vir “alle soorte mense” moontlik (1 Timoteus 4:10). Die mensdom se behoefte aan ’n losprys het ontstaan toe Adam gesondig het en sodoende lewe vir homself verloor het en al sy nakomelinge in slawerny aan sonde en die dood verkoop het (Romeine 5:12-19). Die diereofferandes wat onder die Mosaïese Wet geoffer is, het sondes slegs op sinnebeeldige wyse gedek (Hebreërs 10:1-4). Aangesien Jesus nie ’n menslike vader gehad het nie en God se heilige gees Maria klaarblyklik van die tyd dat sy swanger geword het tot Jesus se geboorte “oorskadu” het, is hy gebore sonder dat hy enige sonde of onvolmaaktheid geërf het (Lukas 1:35; Johannes 1:29; 1 Petrus 1:18, 19). Toe Jesus as ’n volmaakte handhawer van onkreukbaarheid gesterf het, het hy sy eie volmaakte lewe aangebied om die mensdom terug te koop en te bevry (Hebreërs 2:14, 15). Christus het ‘homself dus as ’n ooreenstemmende losprys vir almal gegee’ (1 Timoteus 2:5, 6). Nie almal sal van hierdie voorsiening vir redding gebruik maak nie, maar dit dra God se goedkeuring weg dat die voordele daarvan aangewend word ten behoewe van diegene wat dit in geloof aanvaar.
19 Deurdat Christus die waarde van sy losprysofferande aan God in die hemel aangebied het, het hy Adam se nakomelinge teruggekoop (Hebreërs 9:24). Jesus kry dus ’n Bruid wat bestaan uit sy 144 000 gesalfde volgelinge wat tot hemelse lewe opgewek word (Efesiërs 5:25-27; Openbaring 14:3, 4; 21:9). Hy word ook ’n “Ewige Vader” vir diegene wat sy offerande aanneem en die ewige lewe op die aarde ontvang (Jesaja 9:5, 6; 1 Johannes 2:1, 2). Wat ’n liefdevolle reëling tog! Paulus se waardering daarvoor kan duidelik gesien word in sy tweede geïnspireerde brief aan die Christene in Korinte, soos die volgende artikel sal toon. Trouens, Paulus was vasbeslote dat niks hom sou keer om mense te help om gebruik te maak van Jehovah se wonderlike voorsiening vir redding tot die ewige lewe nie.
Hoe sou jy antwoord?
◻ Watter skriftuurlike bewys is daar dat God sy regskape knegte red?
◻ Hoe weet ons dat Jehovah diegene red wat op hom vertrou en hulle onkreukbaarheid handhaaf?
◻ Watter voorsiening het God vir redding tot die ewige lewe gemaak?
[Prent op bladsy 12]
Dawid het op Jehovah, die “God van reddingsdade”, vertrou. Wat van jou?
[Prent op bladsy 15]
Jehovah red altyd sy volk, soos hy in koningin Ester se dag getoon het