Die verdediging van ons geloof
“Heilig die Christus as Here in julle harte, en wees altyd gereed om julle te verdedig voor elkeen wat van julle ’n rede vir die hoop in julle eis.”—1 PETRUS 3:15.
1, 2. Waarom verbaas teenstand Jehovah se Getuies nie, maar wat wil hulle graag hê?
IN DIE meeste lande word Jehovah se Getuies oor die algemeen as eerlike mense met hoë sedes beskou. Baie sien hulle as goeie bure wat nie moeilikheid veroorsaak nie. Maar ironies genoeg, hierdie vredeliewende Christene het al onregverdige vervolging verduur—in tye van oorlog en van vrede. Sulke teenstand verbaas hulle nie. Trouens, hulle verwag dit. Hulle weet per slot van rekening dat getroue Christene in die eerste eeu G.J. “voorwerpe van haat” was. Waarom moet diegene wat vandag ware volgelinge van Christus probeer wees dan verwag om enigsins anders behandel te word? (Matteus 10:22). Buitendien sê die Bybel: “Almal wat met godvrugtige toegewydheid in verbintenis met Christus Jesus wil lewe, sal ook vervolg word.”—2 Timoteus 3:12.
2 Jehovah se Getuies wil nie vervolg word nie, en hulle geniet ook nie die ontberinge—boetes, gevangenskap of wrede behandeling—wat daarmee gepaardgaan nie. Hulle wil graag ‘’n kalm en stil lewe lei’ sodat hulle die goeie nuus van God se Koninkryk sonder belemmering kan verkondig (1 Timoteus 2:1, 2). Hulle waardeer die godsdiensvryheid wat hulle in die meeste lande het om hulle aanbidding te beoefen, en hulle doen pligsgetrou wat hulle kan om ‘vreedsaam te wees teenoor alle mense’, wat die leiers van menseregerings insluit (Romeine 12:18; 13:1-7). Waarom is hulle dan “voorwerpe van haat”?
3. Wat is een rede waarom Jehovah se Getuies ten onregte gehaat word?
3 Jehovah se Getuies word ten onregte gehaat om basies dieselfde redes as wat die vroeë Christene vervolg is. Eerstens leef Jehovah se Getuies hulle godsdiensoortuigings uit op maniere wat hulle by party mense ongewild maak. Hulle is byvoorbeeld ywerige verkondigers van die goeie nuus van God se Koninkryk, maar mense kry dikwels ’n verkeerde indruk van hulle ywer en beskou hulle prediking as “aggressiewe proselitisme”. (Vergelyk Handelinge 4:19, 20.) Hulle is ook neutraal wat die politiek en die oorloë van die nasies betref, en soms het party verkeerdelik gedink dat dit die Getuies dislojale burgers maak.—Miga 4:3, 4.
4, 5. (a) Hoe was Jehovah se Getuies al die skyf van valse beskuldigings? (b) Wie was al dikwels die grootste aanstigters van vervolging teen Jehovah se knegte?
4 Tweedens is Jehovah se Getuies soms die skyf van valse beskuldigings—skaamtelose leuens en verdraaide voorstellings van hulle opvattings. As gevolg hiervan is hulle die skyf van onregverdige aanvalle in party lande. Omdat hulle daarbenewens bloedlose mediese behandeling versoek wat in ooreenstemming met hulle begeerte is om die Bybel se bevel te gehoorsaam om ‘ons van bloed te onthou’, is hulle verkeerdelik as “kindermoordenaars” en “’n selfmoordkultus” bestempel (Handelinge 15:29). Maar die feit is dat Jehovah se Getuies lewe as baie kosbaar beskou en die beste mediese sorg wat beskikbaar is vir hulleself en hulle kinders probeer verkry. Die beskuldiging dat talle kinders van Jehovah se Getuies elke jaar sterf omdat bloedoortappings geweier word, is heeltemal ongegrond. En omdat Bybelwaarheid nie dieselfde uitwerking op alle gesinslede het nie, is Getuies ook daarvan beskuldig dat hulle gesinne opbreek. Maar diegene wat Jehovah se Getuies ken, weet dat hulle groot waarde aan gesinslewe heg en die Bybel se bevele probeer gehoorsaam dat man en vrou mekaar moet liefhê en respekteer en dat kinders hulle ouers moet gehoorsaam, hetsy hulle gelowiges is of nie.—Efesiërs 5:21–6:3.
5 In baie gevalle is die grootste aanstigters van vervolging teen Jehovah se knegte godsdiensteenstanders wat hulle invloed by die politieke owerheid en die media gebruik om die bedrywighede van die Getuies te probeer onderdruk. Hoe moet ons, Jehovah se Getuies, op sulke teenstand reageer—hetsy dit weens ons opvattings en gebruike of weens valse beskuldigings is?
“Laat julle redelikheid aan alle mense bekend word”
6. Waarom is dit belangrik om ’n gebalanseerde beskouing van diegene buite die Christengemeente te hê?
6 Ons moet allereers die regte beskouing—Jehovah se beskouing—hê van diegene wat nie ons godsdiensoortuigings deel nie. Anders kan ons ander se vyandigheid of verwyt onnodig uitlok. “Laat julle redelikheid aan alle mense bekend word”, het die apostel Paulus geskryf (Filippense 4:5). Die Bybel spoor ons dus aan om ’n gebalanseerde beskouing van diegene buite die Christengemeente te hê.
7. Wat behels dit om ons “sonder vlek van die wêreld te bewaar”?
7 Aan die een kant vermaan die Skrif ons baie duidelik om ons “sonder vlek van die wêreld te bewaar” (Jakobus 1:27; 4:4). Hier verwys die woord “wêreld”, soos in baie plekke in die Bybel, na die mensemassa buiten ware Christene. Ons lewe te midde van hierdie mensegemeenskap; ons kom in aanraking met hulle by die werk, op skool en waar ons woon (Johannes 17:11, 15; 1 Korintiërs 5:9, 10). Maar ons bewaar ons sonder vlek van die wêreld deur gesindhede, spraak en gedrag te vermy wat met God se regverdige weë bots. Dit is ook lewensbelangrik dat ons besef watter gevaar noue omgang met hierdie wêreld inhou, veral met diegene wat Jehovah se standaarde heeltemal verontagsaam.—Spreuke 13:20.
8. Waarom gee die raad om ons sonder vlek van die wêreld te bewaar ons geen rede om op ander neer te sien nie?
8 Maar die raad om ons sonder vlek van die wêreld te bewaar, gee ons geen rede om diegene wat nie Jehovah se Getuies is voor die voet te verkleineer nie (Spreuke 8:13). Onthou die voorbeeld van die Joodse godsdiensleiers wat in die vorige artikel bespreek is. Die godsdiensvorm wat hulle voortgebring het, het nie Jehovah se goedkeuring weggedra nie; en dit het ook nie tot goeie verhoudinge met nie-Jode bygedra nie (Matteus 21:43, 45). Hierdie fanatiese manne het van hulle eiegeregtige posisie op die nie-Jode neergesien. Ons het nie so ’n eng uitkyk soos hulle nie, en daarom behandel ons nie nie-Getuies met minagting nie. Soos die apostel Paulus wil ons hê dat almal wat die Bybel se boodskap van waarheid hoor, God se guns moet verkry.—Handelinge 26:29; 1 Timoteus 2:3, 4.
9. Watter uitwerking moet ’n gebalanseerde, skriftuurlike beskouing hê op die manier waarop ons van mense praat wat nie ons oortuigings deel nie?
9 ’n Gebalanseerde, skriftuurlike beskouing moet ’n uitwerking hê op die manier waarop ons oor nie-Getuies praat. Paulus het vir Titus opdrag gegee om die Christene op die eiland Kreta te herinner “om van niemand kwaad te spreek nie, om nie strydlustig te wees nie, om redelik te wees en alle sagmoedigheid teenoor alle mense aan die dag te lê” (Titus 3:2). Let op dat Christene “van niemand” kwaad moes spreek nie—nie eers van die nie-Christene op Kreta nie, waarvan party berug was vir hulle leuens, vraatsug en luiheid (Titus 1:12). Dit sal dus onskriftuurlik van ons wees om met neerhalende woorde van diegene te praat wat nie ons oortuigings deel nie. ’n Meerderwaardige gesindheid sal mense nie na Jehovah se aanbidding aantrek nie. Maar wanneer ons ander in ooreenstemming met die redelike beginsels van Jehovah se Woord beskou en behandel, ‘versier ons die leer’ van God.—Titus 2:10.
Wanneer om te swyg, wanneer om te spreek
10, 11. Hoe het Jesus getoon dat hy geweet het wanneer dit (a) ‘’n tyd was om te swyg’? (b) ‘’n tyd was om te spreek’?
10 Daar is “’n tyd om te swyg en ’n tyd om te spreek”, sê Prediker 3:7. Hierin lê die uitdaging dus: om te besluit wanneer om teenstanders te ignoreer en wanneer om vir ons geloof op te kom. Ons kan baie leer uit die voorbeeld van iemand wat altyd volmaakte oordeel aan die dag gelê het—Jesus (1 Petrus 2:21). Hy het geweet wanneer dit ‘’n tyd was om te swyg’. Toe die hoofpriesters en die ouer manne Jesus byvoorbeeld valslik voor Pilatus beskuldig het, het hy “geen antwoord gegee nie” (Matteus 27:11-14). Hy wou niks sê wat die uitvoering van God se wil vir hom sou verhinder nie. Hy het eerder besluit dat sy reputasie van hom moes getuig. Hy het geweet dat nie eers die waarheid hulle trotse verstande en harte sou verander nie. Hy het gevolglik hulle aantyging geïgnoreer en geweier om sy doelbewuste stilswye te verbreek.—Jesaja 53:7.
11 Jesus het egter ook geweet wanneer dit ‘’n tyd was om te spreek’. Hy het hom soms reguit en openlik teen sy kritici uitgespreek en hulle valse beskuldigings weerlê. Toe die skrifgeleerdes en Fariseërs byvoorbeeld Jesus se geloofwaardigheid voor ’n skare probeer aantas het deur hom daarvan te beskuldig dat hy demone deur middel van Beëlsebub uitdryf, het hy besluit om nie die valse aanklagte daar te laat nie. Hy het hierdie leuen met vernietigende logika en ’n kragtige illustrasie weerlê. (Markus 3:20-30; sien ook Matteus 15:1-11; 22:17-21; Johannes 18:37.) Toe Jesus eweneens voor die Sanhedrin gesleep is nadat hy verraai en in hegtenis geneem is, het die hoëpriester Kajafas op slinkse wyse van hom geëis: “Ek stel jou onder eed by die lewende God om vir ons te sê of jy die Christus, die Seun van God, is!” Dit was ook “’n tyd om te spreek”, want as hy stilgebly het, kon hulle gedink het dat hy ontken dat hy die Christus is. Jesus het dus geantwoord: “Ek is.”—Matteus 26:63, 64; Markus 14:61, 62.
12. Watter omstandighede het Paulus en Barnabas beweeg om in Ikonium met vrymoedigheid te spreek?
12 Neem ook die voorbeeld van Paulus en Barnabas. Handelinge 14:1, 2 sê: “In Ikonium het hulle saam in die sinagoge van die Jode ingegaan en op so ’n wyse gespreek dat ’n groot menigte Jode sowel as Grieke gelowiges geword het. Maar die Jode wat nie geglo het nie, het die siele van mense van die nasies opgestook en ten kwade teen die broers beïnvloed.” The New English Bible sê: “Maar die onbekeerde Jode het die nie-Jode aangehits en hulle teen die Christene opgestook.” Die Joodse teenstanders, vir wie dit nie genoeg was dat net hulle die boodskap verwerp nie, het ’n smeerveldtog begin en die nie-Joodse bevolking bevooroordeeld teen die Christene probeer maak.a Hoe moes hulle die Christelike godsdiens tog gehaat het! (Vergelyk Handelinge 10:28.) Paulus en Barnabas het gevoel dat dit ‘’n tyd was om te spreek’, sodat die nuwe dissipels nie deur openbare smaad ontmoedig word nie. Paulus en Barnabas “het dus geruime tyd daaraan bestee om op gesag van Jehovah met vrymoedigheid te spreek”, en Hy het getoon dat dit sy goedkeuring wegdra deur hulle in staat te stel om wonderdadige tekens te doen. Dit het tot gevolg gehad dat party “vir die Jode, maar ander vir die apostels” was.—Handelinge 14:3, 4.
13. Wanneer is dit gewoonlik “’n tyd om te swyg” as ons gesmaad word?
13 Hoe moet ons dus reageer wanneer ons gesmaad word? Dit hang alles van die omstandighede af. Party situasies vereis dat ons die beginsel toepas dat daar ‘’n tyd is om te swyg’. Dit is veral waar wanneer hardnekkige teenstanders ons in sinlose argumente probeer betrek. Ons moenie vergeet dat sommige mense eenvoudig nie die waarheid wil ken nie (2 Tessalonisense 2:9-12). Dit is nutteloos om met mense te probeer redeneer wie se harte in trotse ongeloof verhard is. Wat meer is, as ons ons daarop toespits om met elke valse beskuldiger wat ons aanval te debatteer, kan ons aandag afgelei word van ’n baie belangriker en lonender werk—om opregtes van hart te help wat werklik Bybelwaarheid wil leer. Wanneer ons dus met teenstanders te doen kry wat daarop uit is om leuens oor ons te versprei, is die geïnspireerde raad: “Vermy hulle.”—Romeine 16:17, 18; Matteus 7:6.
14. Op watter maniere kan ons ons geloof voor ander verdedig?
14 Dit beteken natuurlik nie dat ons nie ons geloof verdedig nie. Daar is per slot van rekening ook “’n tyd om te spreek”. Ons is tereg besorg oor opregte mense wat aan lasterlike kritiek teen ons blootgestel is. Ons is bereid om ’n goeie verduideliking van ons hartgrondige oortuigings aan ander te gee; trouens, ons verwelkom die geleentheid. Petrus het geskryf: “Heilig die Christus as Here in julle harte, en wees altyd gereed om julle te verdedig voor elkeen wat van julle ’n rede vir die hoop in julle eis, maar doen dit met saggeaardheid en diep respek” (1 Petrus 3:15). Wanneer mense wat opreg belangstel, vra dat ons bewyse gee vir die opvattings wat ons na aan die hart lê, wanneer hulle vra oor die valse aantygings wat teenstanders teen ons inbring, is dit ons verantwoordelikheid om ons geloof te verdedig deur gegronde antwoorde uit die Bybel te gee. Daarbenewens kan ons voortreflike gedrag boekdele spreek. Wanneer onbevooroordeelde waarnemers sien dat ons werklik volgens God se regverdige standaarde probeer lewe, kan hulle onmiddellik sien dat die aantygings teen ons vals is.—1 Petrus 2:12-15.
Wat van lasterlike publisiteit?
15. Wat is een voorbeeld van hoe Jehovah se Getuies die skyf van verdraaide inligting in die media was?
15 Jehovah se Getuies is soms die skyf van verdraaide inligting in die media. Op 1 Augustus 1997 het ’n Russiese koerant byvoorbeeld ’n lasterlike artikel gepubliseer wat onder andere beweer het dat Getuies vereis dat hulle lede ‘hulle vrouens, mans en ouers sonder meer verwerp as hulle nie hulle geloof verstaan of deel nie’. Enigeen wat werklik bekend is met Jehovah se Getuies weet dat die aantyging vals is. Die Bybel sê dat Christene ongelowige gesinslede met liefde en respek moet behandel, en Getuies probeer daardie riglyn volg (1 Korintiërs 7:12-16; 1 Petrus 3:1-4). Die artikel is nietemin gedruk, en baie lesers is sodoende verkeerd ingelig. Hoe kan ons ons geloof verdedig wanneer ons valslik beskuldig word?
16, 17 en venster op bladsy 16. (a) Wat het Die Wagtoring eenkeer gesê oor ons reaksie op valse inligting in die media? (b) Onder watter omstandighede sal Jehovah se Getuies moontlik op negatiewe berigte in die media reageer?
16 Ook hier is daar “’n tyd om te swyg en ’n tyd om te spreek”. Die Wagtoring het dit eenkeer so gestel: “Of ons vals inligting in die media ignoreer of die waarheid op ’n gepaste wyse verdedig, hang van die omstandighede, die aanstigter van die kritiek en sy oogmerk af.” In party gevalle is dit raadsaam om negatiewe berigte te ignoreer en sodoende nie verdere publisiteit aan die leuens te gee nie.
17 In ander gevalle is dit dalk “’n tyd om te spreek”. ’n Verantwoordelike joernalis of verslaggewer het dalk verkeerde inligting oor Jehovah se Getuies gekry en sal moontlik akkurate inligting oor ons verwelkom. (Sien die venster “’n Wanvoorstelling word reggestel”.) As negatiewe berigte in die media vooroordeel opwek wat ons predikingswerk belemmer, kan verteenwoordigers van die takkantoor van die Wagtoringgenootskap die inisiatief neem om die waarheid op ’n gepaste wyse te verdedig.b Bekwame ouer manne kan byvoorbeeld aangewys word om die feite voor te lê, soos op ’n TV-program, waar ’n versuim om ’n verskyning te maak, kan impliseer dat Jehovah se Getuies nie ’n antwoord het nie. In sulke aangeleenthede is dit goed as individuele Getuies die riglyne van die Wagtoringgenootskap volg en hulle samewerking aan sy verteenwoordigers gee.—Hebreërs 13:17.
Die wetlike verdediging van die goeie nuus
18. (a) Waarom het ons nie die toestemming van menseregerings nodig om te preek nie? (b) Wat sal ons doen wanneer ons nie toegelaat word om te preek nie?
18 Ons magtiging om die goeie nuus van God se Koninkryk te verkondig, kom uit die hemel. Jesus, wat ons beveel het om hierdie werk te doen, is “alle gesag in die hemel en op die aarde” gegee (Matteus 28:18-20; Filippense 2:9-11). Ons het derhalwe nie die toestemming van menseregerings nodig om te preek nie. Tog besef ons dat godsdiensvryheid die verspreiding van die Koninkryksboodskap bevorder. In lande waar ons die vryheid het om ons aanbidding te beoefen, sal ons die regstelsel gebruik om dit te beskerm. Waar ons sulke vryheid ontsê is, sal ons dit, binne die grense van die wet, probeer verkry. Ons oogmerk is nie maatskaplike hervorming nie, maar “die verdediging en wetlike bevestiging van die goeie nuus”.—Filippense 1:7.c
19. (a) Wat kan die gevolg wees as ons ‘aan God terugbetaal wat aan God behoort’? (b) Wat is ons vasbeslote om te doen?
19 As Jehovah se Getuies erken ons Jehovah as die Universele Soewerein. Sy wet is bo alle ander wette verhewe. Ons is gewetensgetrou gehoorsaam aan menseregerings en “betaal dus aan Caesar terug wat aan Caesar behoort”. Maar ons sal nie toelaat dat enigiets ons keer om ’n baie belangriker verantwoordelikheid na te kom nie—‘om aan God terug te betaal wat aan God behoort’ (Matteus 22:21). Ons begryp goed dat dit ons “voorwerpe van haat” vir die nasies sal maak, maar ons aanvaar dit as deel van die koste van dissipelskap. Die hofsake waarby Jehovah se Getuies in die 20ste eeu betrokke was, getuig van ons vasbeslotenheid om ons geloof te verdedig. Met Jehovah se hulp en ondersteuning sal ons voortgaan ‘om sonder ophou te leer en die goeie nuus bekend te maak’.—Handelinge 5:42.
[Voetnote]
a Matthew Henry’s Commentary on the Whole Bible verduidelik dat die Joodse teenstanders “hulle daarop toegespits het om na enige [nie-Jood] te gaan wat hulle geken het en hom alles te vertel wat hulle in hulle kwaadwilligheid kon versin, sodat hulle nie net ’n lae dunk van die Christelike godsdiens sou hê nie, maar sodat dit veragtelik in hulle oë sou word”.
b Nadat die lasterlike artikel in die Russiese koerant (wat in paragraaf 15 gemeld word) gepubliseer is, het Jehovah se Getuies by die Presidensiële Regterlike Kamer vir Inligtingsgeskille van die Russiese Federasie appèl aangeteken en versoek dat die valse aantygings in die artikel hersien word. Die hof het onlangs ’n uitspraak gelewer wat die koerant berispe het omdat dit die lasterlike artikel gepubliseer het.—Sien die Ontwaak! van 22 November 1998, bladsye 26-7.
c Sien die artikel “Die wetlike beskerming van die goeie nuus” op bladsye 19-22.
Onthou jy?
◻ Waarom is Jehovah se Getuies “voorwerpe van haat”?
◻ Hoe moet ons diegene beskou wat nie ons godsdiensoortuigings deel nie?
◻ Watter gebalanseerde voorbeeld het Jesus gestel toe hy met teenstanders te doen gekry het?
◻ Hoe kan ons, wanneer ons gesmaad word, die beginsel toepas dat daar ‘’n tyd is om te swyg en ’n tyd is om te spreek’?
[Venster op bladsy 16]
’n Wanvoorstelling word reggestel
“In Yacuiba, Bolivia, het ’n plaaslike evangeliese groep gereël dat ’n TV-stasie ’n film uitsaai wat klaarblyklik deur afvalliges gemaak is. Weens die slegte uitwerking wat daardie program gehad het, het die ouer manne besluit om na twee TV-stasies te gaan en aan te bied om hulle te betaal om die video’s Jehovah’s Witnesses—The Organization Behind the Name en The Bible—A Book of Fact and Prophecy uit te saai. Nadat die eienaar van ’n radiostasie die Genootskap se video’s gesien het, was hy verontwaardig oor die wanvoorstellings in die afvalliges se program en het hy aangebied om gratis flitsaankondigings oor Jehovah se Getuies se komende streekbyeenkoms te maak. Die bywoningsyfer was buitengewoon hoog, en talle regskape mense het opregte vrae begin vra toe die Getuies hulle in die bediening besoek het.”—1997 Yearbook of Jehovah’s Witnesses, bladsye 61-2.
[Prent op bladsy 17]
Jesus het soms die valse aantygings van dié wat hom gekritiseer het openlik weerlê