Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w98 11/1 bl. 4-7
  • Hoe om probleme vreedsaam op te los

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe om probleme vreedsaam op te los
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Van geweld tot verdraagsaamheid
  • Hoe om gewelddadige neigings te oorkom
  • Is dit moontlik?
  • Hoe beskou God geweld?
    Ontwaak!—2002
  • Ons swaar tye—Waarom so gewelddadig?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Is ’n wêreld sonder geweld moontlik?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Publieke uitgawe)—2016
  • Maak geestelike vooruitgang deur Paulus se voorbeeld te volg
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
w98 11/1 bl. 4-7

Hoe om probleme vreedsaam op te los

MENSEGEWELD is amper so oud soos die mensdom self. Die Bybel voer geweld terug tot Kain, die broer van Abel en die oudste seun van die eerste mensepaar. Toe God meer behae in Abel se offer as in syne geskep het, het Kain “baie kwaad” geword. Hoe het hy die situasie hanteer? “Kain [het] teen sy broer Abel opgestaan en hom doodgeslaan.” Daarna was hy in onguns by God (Genesis 4:5, 8-12). Geweld het nie die probleem van Kain se slegte posisie voor sy Skepper opgelos nie.

Hoe kan ons dit vermy om soos Kain te wees wat hom tot fisiese geweld gewend het om sy probleme op te los?

Van geweld tot verdraagsaamheid

Beskou die voorbeeld van ’n man wat goedkeurend gekyk het hoe Stefanus, die eerste Christenmartelaar, vermoor word (Handelinge 7:58; 8:1). Die man, Saulus van Tarsus, het nie met Stefanus se godsdiensoortuiging saamgestem nie en het die gewelddadige moord goedgekeur as ’n geregverdigde manier om Stefanus se bedrywighede stop te sit. Saulus was dalk weliswaar nie gewelddadig in elke aspek van sy lewe nie. Tog was hy bereid om geweld te aanvaar as ’n manier om probleme op te los. Onmiddellik ná Stefanus se dood het Saulus “gewelddadig teen die [Christen]gemeente begin optree. Hy het die een huis na die ander binnegedring en manne sowel as vroue uitgesleep en hulle aan die gevangenis oorgelewer.”—Handelinge 8:3.

Volgens die Bybelgeleerde Albert Barnes verwys die Griekse woord wat hier as ‘gewelddadig optree teen’ vertaal is na die verwoesting wat wilde diere, soos leeus en wolwe, kan aanrig. “Saulus”, verduidelik Barnes, “het soos ’n wilde dier teen die kerk uitgevaar—’n sterk uitdrukking wat ’n aanduiding is van die ywer en woede waarmee hy hulle vervolg het.” Toe Saulus op pad was na Damaskus om meer volgelinge van Christus gevange te neem, het hy “nog steeds dreiging en moord teen die dissipels van die Here [Christus] geblaas”. Onderweg het die verrese Jesus met hom gepraat, wat daartoe gelei het dat Saulus hom tot die Christelike godsdiens bekeer het.—Handelinge 9:1-19.

Ná daardie bekering het die manier waarop Saulus ander mense behandel het, verander. ’n Voorval sowat 16 jaar later het die verandering toegelig. ’n Groep mense het na sy tuisgemeente in Antiogië gekom en die Christene daar aangespoor om volgens die Mosaïese Wet te lewe. “Geen geringe onenigheid” het ontstaan nie. Saulus, wat teen daardie tyd beter bekend gestaan het as Paulus, het ’n standpunt ingeneem in die geskil. Die vonke het blykbaar gespat. Maar Paulus het hom nie tot geweld gewend nie. Hy het eerder ingestem met die gemeente se besluit om die saak na die apostels en ouer manne in die gemeente in Jerusalem te verwys.— Handelinge 15:1, 2.

In Jerusalem was daar weer “’n groot geredetwis” by die vergadering van die ouer manne. Paulus het gewag tot “die hele menigte stil geword” het en toe vertel van die wonderlike werk wat God se gees onder die onbesnede gelowiges gedoen het. Ná ’n skriftuurlike bespreking het die apostels en ouer manne van Jerusalem “tot ’n eenparige besluit gekom” om nie ’n onnodige las op onbesnede gelowiges te plaas nie, maar om hulle te vermaan “om [hulle] voortdurend te onthou van afgodsofferandes en van bloed en van wat verwurg is en van hoerery” (Handelinge 15:3-29). Paulus het inderdaad verander. Hy het geleer om geskille sonder geweld op te los.

Hoe om gewelddadige neigings te oorkom

“’n Slaaf van die Here hoef nie te baklei nie”, het Paulus later vermaan, “maar moet teer wees teenoor almal, bekwaam om te onderrig, iemand wat hom onder die kwaad in bedwang hou, wat dié wat nie gunstiggesind is nie met sagmoedigheid onderrig” (2 Timoteus 2:24, 25). Paulus het Timoteus, ’n jonger opsiener, aangespoor om moeilike situasies kalm te hanteer. Paulus was realisties. Hy het geweet dat emosies selfs onder Christene kan opvlam (Handelinge 15:37-41). Hy het met reg die raad gegee: “Wees toornig, en moet nogtans nie sondig nie; laat die son nie ondergaan terwyl julle in ’n ergerlike gemoedstemming is nie” (Efesiërs 4:26). Om woede te beheers sonder om in onbeheerste toorn uit te bars, is die regte manier om sulke emosies te hanteer. Maar hoe kan ’n mens dit doen?

Vandag is dit nie maklik om woede te beheers nie. “Om gemeen te wees, is gewild”, het dr. Deborah Prothrow-Stith, assistent-dekaan van die Fakulteit vir Openbare Gesondheid van die Harvard-universiteit, gesê. “Trouens, die vaardighede om met mense oor die weg te kom—om te onderhandel, toegewings te maak, empatie te betoon, vergifnis te vra—word gewoonlik aan lafaards toegeskryf.” Maar dit is manlike eienskappe en is noodsaaklik om gewelddadige neigings te beheers wat dalk in ons opwel.

Nadat Paulus ’n Christen geword het, het hy ’n beter manier geleer om meningsverskille te hanteer. Dit was gegrond op die leringe van die Bybel. As ’n geleerde kenner van Judaïsme was Paulus vertroud met die Hebreeuse Geskrifte. Hy moes geweet het van tekste soos: “Wees nie afgunstig op ’n man van geweld en verkies geeneen van sy weë nie.” “Die lankmoedige is beter as ’n held; en hy wat sy gees beheers, as een wat ’n stad inneem.” “’n Afgebreekte stad sonder muur, so is ’n man wat sy gees nie kan inhou nie” (Spreuke 3:31; 16:32; 25:28). Tog het daardie kennis Paulus nie voor sy bekering verhoed om geweld teen die Christene te gebruik nie (Galasiërs 1:13, 14). Maar wat het Paulus, as ’n Christen, gehelp om emosiebelaaide geskille te besleg deur eerder rede en oorreding as geweld te gebruik?

Paulus het ons ’n leidraad gegee toe hy gesê het: “Word navolgers van my, net soos ek dit van Christus is” (1 Korintiërs 11:1). Hy het groot waardering gehad vir wat Jesus Christus vir hom gedoen het (1 Timoteus 1:13, 14). Christus het die model geword wat hy moes navolg. Hy het geweet hoe Jesus ten behoewe van die sondige mensdom gely het (Hebreërs 2:18; 5:8-10). Paulus kon bevestig dat Jesaja se profesie oor die Messias in Jesus vervul is: “Hy is mishandel, hoewel Hy onderworpe was, en Hy het sy mond nie oopgemaak nie; soos ’n lam wat na die slagplek gelei word en soos ’n skaap wat stom is voor sy skeerders—ja, Hy het sy mond nie oopgemaak nie” (Jesaja 53:7). Die apostel Petrus het geskryf: “Toe hy [Jesus] uitgeskel is, het hy nie terug uitgeskel nie. Toe hy gely het, het hy nie gedreig nie, maar homself bly toevertrou aan die een wat regverdig oordeel.”—1 Petrus 2:23, 24.

Paulus se waardering vir die manier waarop Jesus Christus gespanne situasies hanteer het, het hom beweeg om te verander. Hy kon sy medegelowiges vermaan: “Hou aan om mekaar te verdra en mekaar vryelik te vergewe as iemand rede tot klagte teen ’n ander het. Net soos Jehovah julle vryelik vergewe het, so moet julle ook doen” (Kolossense 3:13). Dit is nie genoeg om net te erken dat ’n mens nie gewelddadig moet wees nie. Waardering vir wat Jehovah en Jesus Christus vir ons gedoen het, help om die beweegrede te verskaf wat nodig is om gewelddadige neigings te oorkom.

Is dit moontlik?

Een man in Japan het so ’n sterk beweegrede nodig gehad. Sy pa, wat ’n soldaat met ’n vinnige humeur was, het sy gesin met geweld oorheers. Omdat hy ’n slagoffer van geweld was en ook gesien het hoe sy moeder as gevolg daarvan ly, het die man ’n gewelddadige geaardheid ontwikkel. Hy het twee samoerai-swaarde van verskillende lengtes gedra wat hy gebruik het om probleme op te los asook om mense te dreig.

Toe sy vrou die Bybel begin bestudeer het, het hy die studie bygewoon sonder om dit ernstig op te neem. Maar toe hy die boekie met die titel “Hierdie goeie nuus van die koninkryk”a gelees het, het hy verander. Waarom? “Toe ek die materiaal onder die onderhofies ‘Christus Jesus’ en ‘Die losprys’ gelees het, het ek skaam gevoel”, verduidelik hy. “Hoewel ek ’n verkeerde lewe gelei het, het ek nog steeds daarvan gehou om vriendelik te wees teenoor diegene met wie ek oor die weg gekom het. Ek het daarvan gehou om my vriende gelukkig te maak, maar net solank dit nie op my lewe inbreuk gemaak het nie. Wel, God se Seun, Jesus, was bereid om sy lewe vir die mensdom te gee, met inbegrip van mense soos ek. Ek was verstom, asof ek met ’n hamer oor die kop geslaan is.”

Hy het opgehou om met sy voormalige vriende te assosieer, en dit was nie lank nie of hy het hom vir die Teokratiese Bedieningskool in ’n gemeente van Jehovah se Getuies ingeskryf. Hierdie skool help die studente om die kuns aan te leer om ander uit die Bybel te onderrig. Die kursus het ’n byvoordeel vir hierdie man gehad. Hy sê: “Toe ek jonk was, het ek my tot dreigemente en geweld gewend omdat ek nie aan my gevoelens uiting kon gee nie. Namate ek geleer het om my gedagtes aan ander oor te dra, het ek met hulle begin redeneer pleks van geweld te gebruik.”

Het hy, soos Paulus, Christus se lewenswyse sy eie gemaak? Sy geloof is op die proef gestel toe ’n voormalige vriend aan wie hy deur ’n wedersydse eed van broederskap verbind was hom probeer keer het om ’n Christen te word. Sy “vriend” het hom geslaan en sy God, Jehovah, gelaster. Die man wat voorheen gewelddadig was, het homself beheers en verskoning gevra dat hy nie die eed kan hou nie. Hoewel sy “broer” teleurgesteld was, het hy hom uitgelos.

Deur sy gewelddadige neigings te oorwin, het hierdie man wat voorheen boosaardig was baie geestelike broers en susters gekry, wat in hulle liefde vir God en naaste verenig is (Kolossense 3:14). Trouens, meer as 20 jaar nadat hy ’n toegewyde Christen geword het, dien hy nou as ’n reisende opsiener van Jehovah se Getuies. Wat ’n vreugde is dit tog vir hom om vir ander uit die Bybel te wys dat mense wat die geaardheid van wilde diere het, kan leer om geskille sonder geweld op te los net soos hy dit geleer het! En wat ’n voorreg is dit vir hom om ander te vertel van die wonderlike vervulling van die profetiese woorde: “Hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie; want die aarde sal vol wees van die kennis van die HERE soos die waters die seebodem oordek.”—Jesaja 11:9.

Soos die apostel Paulus en hierdie man wat voorheen gewelddadig was, kan jy ook leer om ontplofbare situasies te hanteer en probleme vreedsaam op te los. Jehovah se Getuies in jou omgewing sal jou met graagte help.

[Voetnoot]

a Uitgegee deur die Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania.

[Lokteks op bladsy 5]

Paulus was realisties. Hy het geweet dat emosies selfs onder Christene kan opvlam

[Prent op bladsy 7]

Waardering vir wat God vir ons gedoen het, lei tot vreedsame betrekkinge

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel