Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w98 9/15 bl. 4-7
  • Dit is hoog tyd om wakker te word!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Dit is hoog tyd om wakker te word!
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Is alles nog dieselfde?
  • Dit is noodsaaklik om wakker te bly
  • Is die einde van die wêreld naby?
    Wat kan die Bybel ons leer?
  • Lewe ons in “die laaste dae”?
    Wat leer die Bybel werklik?
  • “Hou aan waak”!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Die apostels vra vir ’n teken
    Jesus – Die weg, die waarheid, die lewe
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
w98 9/15 bl. 4-7

Dit is hoog tyd om wakker te word!

“MOET jou nie vergis in die tyd waarin ons lewe nie; dit is reeds hoog tyd vir ons om uit ons slaap wakker te word” (Romeine 13:11, Knox). Die apostel Paulus het daardie woorde sowat 14 jaar voor die rampspoedige einde van die Joodse stelsel van dinge in 70 G.J. aan die Christene in Rome geskryf. Omdat die Joodse Christene geestelik wakker was, was hulle nie gedurende daardie kritieke tyd in Jerusalem nie en gevolglik het hulle aan die dood of slawerny ontkom. Maar hoe het hulle geweet dat hulle van die stad moes wegbly?

Jesus Christus het gewaarsku dat vyande Jerusalem sou omsingel en dat sy inwoners teen die grond verpletter sou word (Lukas 19:43, 44). Daarna het Jesus sy getroue volgelinge ’n saamgestelde teken gegee wat nie moeilik was om raak te sien nie (Lukas 21:7-24). Vir die Christene wat in Jerusalem gewoon het, het die feit dat hulle die stad moes verlaat, beteken dat hulle hulle huis en werk moes agterlaat. Nietemin het hulle waaksaamheid en die feit dat hulle gevlug het hulle lewe gered.

Toe Jesus die vernietiging van Jerusalem voorspel het, het sy dissipels gevra: “Wanneer sal hierdie dinge wees, en wat sal die teken van u teenwoordigheid en van die voleinding van die stelsel van dinge wees?” (Matteus 24:3). In sy antwoord het Jesus sy toekomstige teenwoordigheid vergelyk met die tydperk voor die aardwye Vloed van Noag se dag. Jesus het daarop gewys dat die Vloed al die goddeloses weggesleur het (Matteus 24:21, 37-39). Hy het sodoende getoon dat God weer in menseaangeleenthede sal ingryp. Tot watter mate? Tot die mate dat hy ’n hele bose wêreld, of stelsel van dinge, sal verwyder! (Vergelyk 2 Petrus 3:5, 6). Kan dit in ons tyd gebeur?

Is alles nog dieselfde?

Min eerste-eeuse Jode het ooit gedink dat hulle heilige stad, Jerusalem, vernietig sou word. Soortgelyke ongeloof is dikwels algemeen onder mense wat naby ’n vulkaan woon, maar wat nog nie self ’n vulkaanuitbarsting beleef het nie. “Nie in my leeftyd nie” is ’n algemene reaksie wanneer waarskuwings gegee word. “Vulkane bars gewoonlik elke twee of drie eeue uit”, verduidelik vulkanoloog Lionel Wilson. “Jy is bekommerd as jou ouers weens ’n uitbarsting moes verhuis. Maar as dit met jou grootouers gebeur het, is dit oumenspraatjies.”

Akkurate inligting kan ons egter in staat stel om gevaartekens te herken en dit ernstig op te neem. Een van dié mense wat van Mont Pelée weggevlug het, was bekend met vulkane en het die gevaartekens verstaan. Sulke tekens is ook kort voor die uitbarsting van die berg Pinatubo reg geïnterpreteer. Die vulkanoloë wat die onsigbare kragte gemonitor het wat binne-in die berg opgebou het, het die plaaslike mense oortuig om die gebied te verlaat.

Party mense sal natuurlik altyd gevaartekens ignoreer en daarop aandring dat niks gaan gebeur nie. Hulle bespot dalk selfs diegene wat daadwerklik optree. Die apostel Petrus het voorspel dat so ’n beskouing in ons dag algemeen sou wees. “Dít weet julle allereers”, het hy gesê, “dat daar in die laaste dae spotters sal kom met hulle spotterny, wat ooreenkomstig hulle eie begeertes handel en sê: ‘Waar is sy beloofde teenwoordigheid dan? Van die dag af dat ons voorvaders ontslaap het, bly alles dan presies soos van die begin van die skepping af.’”—2 Petrus 3:3, 4.

Glo jy dat ons in “die laaste dae” lewe? In The Columbia History of the World vra John A. Garraty en Peter Gay: “Sien ons die ineenstorting van ons beskawing?” Dan ontleed hierdie geskiedkundiges probleme met regering, die wêreldwye toename in misdaad en burgerlike ongehoorsaamheid, die verbrokkeling van die gesinslewe, die mislukking van die wetenskap en tegnologie om die gemeenskap se probleme op te los, die gesagskrisis en die wêreldwye sedelike en godsdienstige verval. Hulle kom tot die slotsom: “As hierdie tekens nie op ’n besliste einde dui nie, lyk dit buitengewoon baie daarna.”

Ons het goeie rede om te glo dat ’n “einde” voor die deur is. Nee, ons het nie nodig om ’n einde van die planeet Aarde self te vrees nie, want die Bybel sê dat God “die aarde gegrond [het] op sy grondveste, sodat dit vir ewig en altyd nie wankel nie” (Psalm 104:5). Maar ons moet ’n spoedige einde van die goddelose stelsel van dinge verwag wat die mensdom soveel ellende besorg het. Waarom? Omdat ons talle duidelike kenmerke kan sien wat die laaste dae van hierdie stelsel identifiseer, soos Jesus Christus aangetoon het. (Sien die venster “Party kenmerke van die laaste dae”.) Vergelyk gerus Jesus se woorde met wêreldgebeure. Dit kan jou help om verstandige besluite vir jouself en jou gesin te neem. Maar waarom moet jy nou optree?

Dit is noodsaaklik om wakker te bly

Hoewel wetenskaplikes dalk weet wanneer ’n vulkaanuitbarsting dreig, kan hulle nie presies sê wanneer dit sal gebeur nie. Jesus het eweneens aangaande die einde van hierdie stelsel van dinge gesê: “Aangaande daardie dag en uur weet niemand nie, nie die engele van die hemele nie en ook nie die Seun nie, maar net die Vader” (Matteus 24:36). Aangesien ons nie presies weet wanneer die huidige stelsel van dinge tot ’n einde gaan kom nie, het Jesus vir ons hierdie waarskuwing gegee: “Een ding moet julle weet: as die huisheer geweet het in watter waak die dief kom, sou hy wakker gebly het en nie toegelaat het dat daar by sy huis ingebreek word nie. Om dié rede moet julle julle ook gereed betoon, want die Seun van die mens [Jesus] kom op ’n uur waarvan julle dit nie dink nie.”—Matteus 24:43, 44.

Jesus se woorde toon dat die rampspoedige einde van hierdie stelsel hierdie wêreld sal verras. Al is ons sy volgelinge, moet ‘ons ons gereed betoon’. Ons situasie is soos dié van ’n huisbewoner wat dalk oorval kan word omdat hy nie weet wanneer ’n dief by sy huis sal inbreek nie.

Die apostel Paulus het eweneens vir die Christene in Tessalonika gesê: “Julle weet self heel goed dat Jehovah se dag presies soos ’n dief in die nag kom. . . . Broers, julle is nie in die duisternis sodat daardie dag julle sal oorval soos ’n dief nie.” Paulus het hulle ook aangespoor: “Laat ons dan nie voortslaap soos die res nie, maar laat ons wakker en nugter van verstand bly” (1 Tessalonisense 5:2, 4, 6, voetnoot in naslaanuitgawe). Wat beteken dit om “wakker en nugter van verstand [te] bly”?

Anders as die eerste-eeuse Christene se vlug uit Jerusalem behels ons vlug na vryheid nie dat ons ’n sekere stad moet verlaat nie. Nadat Paulus sy medeaanbidders in Rome aangespoor het om uit die slaap wakker te word, het hy hulle aangespoor om ‘die werke wat tot die duisternis behoort, af te lê’ en ‘hulle met die Here Jesus Christus te beklee’ (Romeine 13:12, 14). Deur Jesus se voetstappe noukeurig te volg, sal ons toon dat ons bewus is van die tye waarin ons lewe, en hierdie geestelike waaksaamheid sal ons in aanmerking bring om Goddelike beskerming te geniet wanneer hierdie goddelose stelsel van dinge tot ’n einde kom.—1 Petrus 2:21.

Diegene wat Jesus Christus volg, geniet sinvolle en bevredigende lewens. Miljoene Getuies van Jehovah het tot die besef gekom dat die juk van Christendissipelskap sag en verkwikkend is (Matteus 11:29, 30, voetnoot in naslaanuitgawe). Die eerste stap wat daarby betrokke is om ’n dissipel te word, is ‘om kennis in te neem van God en van die een wat hy uitgestuur het, Jesus Christus’ (Johannes 17:3). Die Getuies besoek elke week miljoene huise om mense te help om “juiste kennis van die waarheid” te verkry (1 Timoteus 2:4). Hulle sal met die grootste plesier ’n gratis tuisbybelstudie met jou hou. En namate jou kennis van God se Woord toeneem, sal jy ongetwyfeld ook daarvan oortuig word dat ons dae anders is. Ja, dit is hoog tyd om uit die slaap wakker te word!

[Venster/Prente op bladsy 7]

PARTY KENMERKE VAN DIE LAASTE DAE

“Nasie sal teen nasie opstaan”; ‘vrede sal van die aarde weggeneem word’ (Matteus 24:7; Openbaring 6:4).

Die twee wêreldoorloë van hierdie eeu, asook die tientalle ander konflikte, het vrede van die aarde weggeneem. “Die Eerste—en so ook die Tweede—Wêreldoorlog het anders geword as alle oorloë wat tevore gevoer is”, skryf die geskiedkundige John Keegan, “anders wat grootte, intensiteit, omvang, materiële verlies en menselyding betref. . . . Die Wêreldoorloë het die dood van meer mense veroorsaak, meer rykdom vernietig en meer lyding oor ’n groter gebied van die aardbol gebring as enige oorlog voor daardie tyd.” Oorloë veroorsaak nou groter lyding onder vrouens en kinders as onder soldate. Die Verenigde Nasies-kinderfonds bereken dat tweemiljoen kinders in die laaste tien jaar in oorloë hulle lewe verloor het.

“Voedseltekorte” (Matteus 24:7; Openbaring 6:5, 6, 8)

In 1996 het die prys van koring en mielies drasties gestyg. Die rede? Die wêreldvoorraad van hierdie graansoorte het tot ’n skrale 50 dae se voorraad geval, die laagste bekende syfer. Stygende pryse vir basiese voedselsoorte beteken dat honderdmiljoene van die wêreld se arm mense—waarvan baie kinders is—honger bed toe gaan.

“Aardbewings op die een plek na die ander” (Matteus 24:7)

Gedurende die laaste 2500 jaar het daar in slegs nege aardbewings meer as 100 000 mense gesterf. Vier van hierdie aardbewings het sedert 1914 plaasgevind.

“Toename in wetteloosheid” (Matteus 24:12)

Terwyl die 20ste eeu sy einde nader, het wetteloosheid iets alledaags geword. Terroristeaanvalle op burgerlikes, koelbloedige moordenaars en massamoordenaars is van die verskriklike aspekte van hierdie gewelddadige laaste dae.

“Op die een plek na die ander peste” (Lukas 21:11)

Gedurende die negentigerjare sal 30 miljoen mense waarskynlik aan tering sterf. Siektedraende bakterieë word steeds meer bestand teen geneesmiddels. Malaria, nog ’n dodelike siekte, teister elke jaar tussen 300 en 500 miljoen mense en lei elke jaar tot die dood van ongeveer 2 miljoen mense. Teen die einde van hierdie dekade sal vigs na verwagting jaarliks 1,8 miljoen sterftes veroorsaak. “Vandag ondervind die mensdom ’n epidemie van epidemies”, sê State of the World 1996.

“Hierdie goeie nuus van die koninkryk sal in die hele bewoonde aarde verkondig word” (Matteus 24:14).

In 1997 het Jehovah se Getuies ver oor ’n miljard uur aan die verkondiging van die goeie nuus van die Koninkryk bestee. Meer as vyfmiljoen Getuies neem hierdie boodskap op ’n gereelde grondslag na mense in 232 lande.

[Erkennings]

FAO photo/B. Imevbore

U.S. Coast Guard photo

[Prent op bladsy 4, 5]

Christene het uit Jerusalem gevlug omdat hulle geestelik wakker was

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel