“Hou vas aan wat julle het”
Op een van die sowat 30 eilande wat die Ciklade-eilande van Griekeland uitmaak, het ’n groep Getuies predikingswerk gedoen. Terwyl twee van hulle met die straat af geloop het, het hulle ’n polisieman ontmoet wat vir hulle gesê het om hom na die polisiestasie te volg. Kort nadat hulle by die polisiestasie aangekom het, het die telefoon gelui. Dit was die dorpspriester. “Ek het gehoor dat daar Jehovah se Getuies in die dorp is”, het hy gesê. “Ja, ek het twee hier”, het die polisieman geantwoord. “Ek sal nou daar wees.” Weens die toon van die gesprek het die broers nogal bang geword.
Maar toe die priester daar aankom, het hy geglimlag, hulle met die hand gegroet en op die stoel langs die polisieman gaan sit. Namate die gesprek gevorder het, het die polisieman aggressief geraak, terwyl die priester redelik en beleef gebly het. Hy het vir die polisieman gesê om nie die Getuies te verkleineer nie, en hy het bygevoeg: “Hulle kan enige vraag beantwoord omdat hulle in die Teokratiese Bedieningskool opgelei word. Dit sal makliker wees om die wêreld van sy fondament af te skud as om een van Jehovah se Getuies van geloof te laat verander.”
Toe hulle die volgende oggend predikingswerk gedoen het, het hulle weer die priester teëgekom en hom gevra: “Waarom was u so vriendelik teenoor ons tydens die bespreking by die polisiestasie?” Die priester het vir hulle gesê dat hy baie Getuies in Siros ken en dat hy al baie jare lank Die Wagtoring en Ontwaak! lees. Trouens, by ’n hele paar geleenthede het hy ’n Wagtoring geneem, dit in ’n lêer versteek en dit gebruik om sy preek in die kerk te hou. Hy het gesê: “Ek dink nie die lewe sou die moeite werd gewees het as ek nie julle lektuur gehad het nie. Dit is wat my aan die gang hou.”
Later het die priester vir die Getuies gesê: “Ek moet vir julle een ding sê. Hou vas aan wat julle het. Moenie die fout maak om dit te verlaat nie. Wat ek nou vir julle sê, is die beste preek wat ek nog gehou het, en ek sê dit nie net met my mond nie; ek bedoel dit met my hele hart.”