Kan jy jou gewete vertrou?
ONDER normale omstandighede is die kompas ’n betroubare instrument. Die naald, wat deur die aarde se magneetveld georiënteer word, wys altyd noord. Reisigers kan gevolglik op die kompas vertrou om rigting aan te wys wanneer daar geen bakens is om hulle te lei nie. Maar wat gebeur wanneer ’n magnetiese voorwerp naby die kompas geplaas word? Die naald sal in die rigting van die magneet swaai pleks van noord te wys. Dit is nie meer ’n betroubare gids nie.
Iets soortgelyks kan met die menslike gewete gebeur. Die Skepper het hierdie vermoë in ons geplaas om as ’n betroubare gids te dien. Aangesien ons na God se beeld geskep is, behoort ons gewete ons altyd in die regte rigting te lei wanneer ons besluite moet neem. Dit moet ons beweeg om God se sedelike standaarde te weerspieël (Genesis 1:27). Dikwels gebeur dit wel. Die Christenapostel Paulus het byvoorbeeld geskryf dat selfs sommige wat nie God se geopenbaarde wet het nie “van nature die dinge van die wet doen”. Waarom? Omdat “hulle gewete saam met hulle getuig”.—Romeine 2:14, 15.
Maar die gewete werk nie altyd wanneer dit moet nie. As gevolg van menslike onvolmaaktheid is ons geneig om dinge te doen wat ons weet verkeerd is. “Ek skep werklik behae in die wet van God na die mens wat ek innerlik is”, het Paulus erken, “maar ek sien in my lede ’n ander wet, wat stryd voer teen die wet van my verstand en my wegvoer as gevangene van die wet van die sonde wat in my lede is” (Romeine 7:22, 23). As ons dikwels genoeg voor verkeerde neigings swig, kan ons gewete geleidelik afgestomp raak en uiteindelik ophou om vir ons te sê dat sulke gedrag verkeerd is.
Maar al is ons onvolmaak kan ons ons gewete in ooreenstemming met God se standaarde bring. Trouens, dit is noodsaaklik dat ons dit doen. ’n Skoon, behoorlik opgeleide gewete lei nie alleen tot ’n hartlike, persoonlike verhouding met God nie, maar is ook noodsaaklik vir ons redding (Hebreërs 10:22; 1 Petrus 1:15, 16). Daarbenewens sal ’n goeie gewete ons help om verstandige besluite in ons lewe te neem, wat tot ons vrede en geluk sal lei. Die psalmis het van iemand met so ’n gewete gesê: “Die wet van sy God is in sy hart; sy gange sal nie wankel nie.”—Psalm 37:31.
Hoe om die gewete op te lei
Om die gewete op te lei, behels meer as om bloot ’n lys wette te memoriseer en dan streng daarby te bly. Dit is wat die Fariseërs van Jesus se dag gedoen het. Hierdie godsdiensleiers het die Wet geken en het ’n komplekse tradisie ontwikkel wat veronderstel was om die volk te help om nie die Wet te skend nie. Hulle het gevolglik nie op hulle laat wag om beswaar te maak toe Jesus se dissipels op die Sabbat graan gepluk en die korrels geëet het nie. En hulle het teen Jesus te velde getrek toe hy ’n man se verdorde hand op die Sabbat genees het (Matteus 12:1, 2, 9, 10). Albei hierdie dade was volgens die Fariseërs se tradisie ’n oortreding van die vierde gebod.—Exodus 20:8-11.
Dit is dus duidelik dat die Fariseërs die Wet bestudeer het. Maar was hulle gewete in ooreenstemming met God se standaarde ingestel? Hoegenaamd nie! Die Fariseërs het immers onmiddellik nadat hulle gekla het oor wat volgens hulle ’n ernstige skending van die Sabbatvoorskrifte was, teen Jesus beraadslaag “sodat hulle hom kon vernietig” (Matteus 12:14). Stel jou voor—hierdie eiegeregtige godsdiensleiers was verontwaardig oor die feit dat die dissipels pas geplukte graan geëet en Jesus ’n genesing verrig het op die Sabbat; maar hulle het geen beswaar daarteen gehad om saam te sweer om Jesus dood te maak nie!
Die hoofpriesters het soortgelyke verwronge denke geopenbaar. Hierdie verdorwe manne het glad nie daaroor skuldig gevoel toe hulle Judas 30 silwerstukke uit die tempelskatkis aangebied het om Jesus te verraai nie. Maar toe Judas die geld onvoorsiens teruggegee het deur dit in die tempel te gooi, het die hoofpriesters se gewetens voor ’n wetlike dilemma te staan gekom. “Dit is nie geoorloof om dit [die muntstukke] in die heilige skatkamer te gooi nie”, het hulle gesê, “omdat dit ’n bloedprys is” (Matteus 27:3-6). Die hoofpriesters was blykbaar bekommerd dat Judas se geld nou onrein was. (Vergelyk Deuteronomium 23:18.) Tog het hierdie selfde groep mans niks daarmee verkeerd gesien om daarvoor te betaal dat God se Seun verraai word nie!
Volgens God se denke ingestel
Die voormelde voorbeelde toon dat die opleiding van die gewete meer behels as om bloot die verstand met ’n lys van moets en moenies te vul. Kennis van God se wette is weliswaar noodsaaklik, en gehoorsaamheid daaraan is nodig vir redding (Psalm 19:8-12). Maar buiten dat ons God se wette moet leer, moet ons ’n hart verkry wat volgens God se denke ingestel is. Dan kan ons die vervulling ondervind van Jehovah se profesie deur Jesaja, wat sê: “Jou oë sal jou [Grootse Onderrigter, NW] sien; en jou ore sal ’n woord agter jou hoor wat sê: Dit is die weg, wandel daarop! wanneer julle regs of wanneer julle links wil gaan.”—Jesaja 30:20, 21; 48:17.
Dit beteken natuurlik nie dat ’n letterlike stem vir ons sal sê wat om te doen wanneer ons ’n belangrike besluit moet neem nie. Wanneer ons denke volgens God se denke oor sake ingestel is, sal ons gewete beter toegerus wees om ons besluite te help maak wat hom sal behaag.—Spreuke 27:11.
Dink aan Josef, wat in die 18de eeu v.G.J. gelewe het. Toe Potifar se vrou by hom aangedring het om egbreuk met haar te pleeg, het Josef geweier en gesê: “Hoe kan ek dan hierdie groot kwaad doen en sondig teen God?” (Genesis 39:9). In Josef se dag was daar geen geskrewe wet van God wat egbreuk veroordeel het nie. Daarbenewens het Josef in Egipte gewoon, ver van familiedissipline of patriargale reëls. Wat het Josef dan in staat gestel om die versoeking te weerstaan? Eenvoudig gestel, dit was sy opgeleide gewete. Josef het God se beskouing aangeneem dat ’n man en sy vrou “een vlees” moet wees (Genesis 2:24). Hy het ingesien dat dit dus verkeerd sou wees om ’n ander man se vrou te neem. Josef se denke was volgens God se denke oor die saak ingestel. Egbreuk was teen sy sedelike gevoel.
Vandag is daar min mense wat soos Josef is. Geslagsonsedelikheid is algemeen, en baie voel geen verantwoordelikheid teenoor hulle Skepper, hulleself of selfs teenoor hulle huweliksmaats om sedelik rein te bly nie. Die situasie is baie soos dié wat in die boek Jeremia beskryf word: “Daar is niemand wat berou het oor sy boosheid, dat hy sou sê: Wat het ek gedoen nie? Elkeen spring weg in sy loop soos ’n perd wat storm in die geveg” (Jeremia 8:6). Dit is dus belangriker as ooit om volgens God se denke ingestel te wees. Ons het ’n wonderlike voorsiening om ons te help om dit te doen.
’n Hulpmiddel om die gewete op te lei
Die geïnspireerde Skrif is “nuttig om te onderrig, om tereg te wys, om dinge reg te stel, om in regverdigheid te dissiplineer, sodat die mens van God volkome bevoeg kan wees, ten volle toegerus vir elke goeie werk” (2 Timoteus 3:16, 17). ’n Studie van die Bybel sal ons help om wat die Bybel ons “waarnemingsvermoëns” noem, op te lei, sodat ons tussen reg en verkeerd kan onderskei (Hebreërs 5:14). Dit sal ons in staat stel om ’n liefde aan te kweek vir die dinge wat God liefhet en ’n afkeer van die dinge wat hy haat.—Psalm 97:10; 139:21.
Die doel van Bybelstudie is dus om die gees en kern van die waarheid te kry eerder as net die tegniese raamwerk. Die Wagtoring van 15 November 1976 het gesê: “In ons studie van die Skrif moet ons daarna strewe om ’n voeling vir God se geregtigheid, [liefde] en regverdigheid te verkry en om dit diep in ons harte in te plant sodat dit net soseer ’n deel van ons word as wat om te eet en om asem te haal is. Ons moet probeer om bewuster te wees vir ’n sin van morele verantwoordelikheid deur ’n skerpe bewustheid van wat reg en wat verkeerd is aan te kweek. Maar meer as dit, ons moet ons gewetens sterk bewus maak van sy verantwoordelikheid teenoor die volmaakte Wetgewer en Regter (Jes. 33:22, NW). Terwyl ons hierdie dinge aangaande God leer, moet ons hom dus in elke aspek van die lewe probeer navolg.”
Verkry “die denke van Christus”
’n Studie van die Bybel sal ons ook help om “die denke van Christus”, die geesteshouding van gehoorsaamheid en nederigheid wat deur Jesus geopenbaar is, te verkry (1 Korintiërs 2:16). Om sy Vader se wil te doen, was ’n vreugde, nie bloot ’n roetine wat outomaties, sonder om te dink, gevolg moes word nie. Sy gesindheid is profeties beskryf deur die psalmis Dawid, wat geskryf het: “Ek het lus, o my God, om u welbehae te doen, en u wet is binne-in my ingewande.”a—Psalm 40:9.
Dit is noodsaaklik om “die denke van Christus” te verkry as ’n mens jou gewete wil oplei. Toe Jesus as ’n volmaakte man op die aarde was, het hy sy Vader se eienskappe en persoonlikheid in die volste mate binne menslike beperkinge weerspieël. Hy kon gevolglik sê: “Hy wat my gesien het, het ook die Vader gesien” (Johannes 14:9). In elke situasie waarvoor hy op die aarde te staan gekom het, het Jesus presies gedoen wat sy Vader wou hê hy moes doen. Wanneer ons derhalwe die lewe van Jesus bestudeer, kry ons ’n duidelike beeld van die soort persoon wat Jehovah God is.
Ons lees dat Jehovah ’n “barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid” is (Exodus 34:6). Jesus het hierdie eienskappe keer op keer geopenbaar in die wyse waarop hy met sy apostels gehandel het. Toe hulle herhaaldelik gestry het oor wie van hulle die grootste is, het Jesus hulle geduldig deur woord en daad geleer dat ‘wie ook al onder julle groot wil word, julle dienaar moet wees, en wie ook al onder julle die eerste wil wees, julle slaaf moet wees’ (Matteus 20:26, 27). Dit is net een voorbeeld wat toon dat ons volgens God se denke ingestel kan word deur die lewe van Jesus te ondersoek.
Hoe meer ons van Jesus leer, hoe beter sal ons toegerus wees om ons hemelse Vader, Jehovah, na te volg (Efesiërs 5:1, 2). ’n Gewete wat volgens God se denke ingestel is, sal ons in die regte rigting lei. Jehovah belowe diegene wat op hom vertrou: “Ek wil jou onderrig en jou leer aangaande die weg wat jy moet gaan; Ek wil raad gee; my oog sal op jou wees.”—Psalm 32:8.
Vind baat by ’n opgeleide gewete
Omdat Moses geweet het hoe eiesinnig onvolmaakte mense is, het hy die Israeliete gewaarsku: “Gee ag op al die woorde waarmee ek julle vandag waarsku, dat julle dit jul kinders beveel om al die woorde van hierdie wet sorgvuldig te hou” (Deuteronomium 32:46). Ons moet ook God se wet op ons hart skryf. As ons dit doen, sal daar ’n groter moontlikheid bestaan dat ons gewete ons voetstappe sal rig en ons sal help om die regte besluite te maak.
Ons moet natuurlik versigtig wees. Die Bybelspreuk sê: “Daar is ’n weg wat vir ’n mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood” (Spreuke 14:12). Waarom is dit dikwels die geval? Die Bybel sê: “Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken?” (Jeremia 17:9). Dit is dus vir ons almal nodig om ag te slaan op die vermaning van Spreuke 3:5, 6: “Vertrou op die HERE met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie. Ken Hom in al jou weë, dan sal Hý jou paaie gelykmaak.”
[Voetnoot]
a In die apostel Paulus se brief aan die Hebreërs het hy die woorde van die 40ste Psalm op Jesus Christus toegepas.—Hebreërs 10:5-10.
[Prent op bladsy 7]
Kompas: Met vergunning van Peabody Essex Museum, Salem, Mass.
[Erkenning]
Soos ’n kompas kan ’n Bybelopgeleide gewete ons in die regte rigting stuur