Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w98 8/15 bl. 21-24
  • Die lewe en die predikingswerk in die skadu van ’n vulkaan

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die lewe en die predikingswerk in die skadu van ’n vulkaan
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Onderhofies
  • Die gevaar wat die vulkaan inhou
  • Jehovah se Getuies bly bedrywig
  • Hoe kan jy jou voorberei?
  • ’n Belangriker waarskuwing
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
w98 8/15 bl. 21-24

Die lewe en die predikingswerk in die skadu van ’n vulkaan

“DIT is ’n angswekkende ondervinding. Dit kan heel moontlik soos die einde van die wêreld wees waarvan die Bybel praat. Ons moet wakker bly en sorg dat ons elke oomblik Jehovah God se goedkeuring wegdra.” Dit is die woorde van Víctor, een van Jehovah se Getuies, toe hy vertel het hoe hy daaroor voel om so na aan die vulkaan Popocatépetl, in Mexiko, te woon, wat Popo in die volksmond genoem word.

Hierdie dreunende vulkaan is sedert 1994 in die internasionale nuus.a Die owerheid het besluit dat alles binne ’n omtrek van 30 kilometer van die krater in ’n hoërisikogebied is. Die suidelike kant van die vulkaan is veral gevaarlik omdat die krater in daardie rigting oorhel, en daar is ’n aantal diep klowe waardeur lawa en modder van die krater kan uitvloei.

Baie wonder natuurlik wat met Mexikostad sal gebeur as die vulkaan ’n groot uitbarsting sou hê. Is daardie stad in gevaar? Dan is daar ook al daardie mense in die staat Morelos suid van die vulkaan. Is almal in daardie gebied ook in gevaar? En hoe vind mense dit om in die skadu van die vulkaan te woon en nie te weet wat van dag tot dag sal gebeur nie?

Die gevaar wat die vulkaan inhou

Mexikostad se middestad is ongeveer 70 kilometer noordwes van Popocatépetl, hoewel party voorstede net 40 kilometer daarvandaan is. Streng gesproke lê die hele metropolitaanse gebied, met sy bevolking van 20 miljoen mense, buite die gevaargebied. Hierdie gebied kan egter na gelang van die windrigting bedreig word indien baie as deur die vulkaan uitgestoot word.

Die uitwerking van vulkaniese as is gewoonlik erger aan die oostekant van die vulkaan. Hierdie gebied sluit die stad Puebla en ’n aantal kleiner stede en dorpe in, met ongeveer 200-000 mense wat in die hoërisikogebied woon. Op Sondag, 11 Mei 1997, het die vulkaan tonne as in die lug uitgespu en dit oral op hierdie gebied laat neerreën, sodat dit selfs die staat Veracruz, meer as 300 kilometer na die ooste, bereik het. In die gebied suid van die vulkaan, in die staat Morelos, is daar verskeie stede en dorpe met ’n gesamentlike bevolking van ongeveer 40-000 wat ook in ernstige gevaar kan verkeer.

Te midde van dit alles is daar Getuies van Jehovah wat met hulle lewe en werk voortgaan. In Mexikostad is daar meer as 90-000 van hulle in sowat 1700 gemeentes. Die Wagtoringgenootskap se takkantoor is buite Mexikostad na die noordooste geleë, ongeveer 100 kilometer van die vulkaan. Daar is meer as 800 vrywilligers wat by die takkantoor dien, buiten sowat 500 vrywilligers wat aan ’n groot bouprojek werk. Hulle is almal buite die risikogebied.

In die staat Morelos is daar ongeveer 50 gemeentes van Jehovah se Getuies met meer as 2000 Koninkryksverkondigers. Party van hierdie gemeentes, in Tetela del Volcán en Hueyapan, is slegs 20 kilometer van die krater af. Daarbenewens is daar gemeentes in die ooste in die staat Puebla, met ongeveer 600 verkondigers wat 20 tot 30 kilometer van die vulkaan af woon. Hulle kan natuurlik in ernstige gevaar verkeer.

Jehovah se Getuies bly bedrywig

Ten spyte van die voortdurende gevaar het Jehovah se Getuies nie met hulle predikingswerk in hierdie gebied opgehou nie. Hulle gaan ook voort met hulle program vir Christelike vergaderinge, wat hulle ’n gevoel van eenheid en sekerheid gee onder hierdie ongunstige omstandighede (Hebreërs 10:24, 25). ’n Verslag van een van die gemeentes sê: “Daar is ’n merkwaardige verandering in mense se gesindheid teenoor die goeie nuus van die Koninkryk. In ’n klein dorpie het 18 mense byvoorbeeld onlangs tuisbybelstudies aanvaar.”

’n Ander gemeente, wat 20 kilometer van die vulkaan geleë is, berig: “Die groei is uitstekend. Hierdie gemeente is in November 1996 gestig. Gedurende die daaropvolgende ses maande het tien persone gekwalifiseer om aan die veldbediening deel te neem. Party verkondigers woon slegs 20 kilometer van die krater. Christelike vergaderinge word daar gehou, en daar is omtrent 40 wat dit bywoon.”

Magdalena, wat in San Agustín Ixtahuixtla, Puebla, net 25 kilometer van die vulkaan, woon, bly baie besig deur Bybelstudies te hou. Sy vertel wat ná een ernstige uitbarsting gebeur het.

“Ons is aangesê om ons huise te ontruim, wat ons ook gedoen het terwyl as op ons neergereën het. Ondanks die dringende situasie het ek aan die Dorado-gesin gedink met wie ek besig was om die Bybel te studeer. Ek en ’n paar broers het na die Dorado’s se huis gegaan om hulle te help om na ’n veiliger plek te gaan. Die noodlenigingskomitee van Jehovah se Getuies het reeds in die nabygeleë stad Puebla aan die werk gespring. Die Dorado-gesin was baie beïndruk deur die manier waarop ons almal daar behandel is. Ons het huisvesting in verskillende plekke gehad, wat ons Christenbroers vir ons voorberei het. Ons het niks kortgekom nie, al was ons ver van die huis af. Hierdie gesin het al ’n paar vergaderinge by die Koninkryksaal bygewoon, maar die liefde wat aan hulle bewys is deur broers wat hulle nog nooit tevore ontmoet het nie, het hulle verbaas. ’n Paar weke nadat ons na ons huise teruggekeer het, het hierdie gesin al die vergaderinge gereeld begin bywoon. Hulle het kort voor lank gekwalifiseer om verkondigers van die goeie nuus te wees. Twee van hulle is nou gedoop. Hulle dien al ’n paar maande as hulppioniers en maak nou planne om die gewone pionierdiens te betree.”

Martha, ’n 20-jarige vrou wat 21 kilometer van die krater af woon, het nie toegelaat dat ’n liggaamsgebrek haar keer om van elke geleentheid gebruik te maak om te getuig nie. Sy het die waarheid drie jaar gelede geleer toe die vulkaan weer aktief geraak het. Sy gebruik nie ’n rolstoel nie, wat moeilik sal wees om te hanteer in die steil terrein waar sy woon, maar sy ry eerder op ’n donkie om aan die predikingswerk deel te neem. Sy ry ook op hierdie donkie vergaderinge toe. Martha is innig dankbaar teenoor Jehovah om deel te wees van die liefdevolle broederskap, aangesien sy op die hulp van die susters in die gemeente staat maak om op die donkie en van hom af te klim. Sy bestee elke maand meer as 15 uur aan die bediening.

In hierdie afgesonderde gebiede kom Jehovah se Getuies dikwels voor druk van hulle bure te staan om godsdienstige vakansiedae saam met hulle te vier. In Tulcingo, ’n dorp ongeveer 20 kilometer van die vulkaan, is ’n man die taak gegee om die Getuies te besoek en bydraes vir die vieringe in te samel. Die broers het geduldig verduidelik waarom hulle nie aan daardie godsdienstige vakansiedae kan deelneem nie. Die man het so volgehou om bydraes van die broers te probeer kry dat hy met hulle begin omgaan het en van hulle opvattings leer ken het. Hy het dit geniet om die antwoorde op sy vrae in sy eie Katolieke Bybel te vind. Hy woon die vergaderinge al ’n jaar gereeld saam met sy vrou en dogter by en het sy begeerte uitgespreek om ’n verkondiger van die goeie nuus te word.

Hoe kan jy jou voorberei?

Vulkanoloë doen hulle studies en reik amptelike verslae uit oor die dreigende Popocatépetl, maar niemand weet werklik wat gaan gebeur of wanneer dit gaan gebeur nie. Volgens die nuusmedia en die mense in die omgewing kan die vulkaan te eniger tyd uitbars. Die gevaar bestaan werklik. Die owerheid is natuurlik baie besorg en wil alles in hulle vermoë doen om gereed te wees indien daar ’n noodgeval is. Maar dit is te verstane dat hulle versigtig moet wees om ’n waarskuwing te gee, aangesien hulle nie ’n grootskaalse uittog wil begin as daar geen onmiddellike gevaar is nie. Wat moet ’n mens dan doen?

“’n Skrander mens sien die onheil en verberg hom, maar die eenvoudiges gaan verder en word gestraf”, sê ’n Bybelspreuk (Spreuke 22:3). Die verstandige weg is dus om die nodige stappe te doen om ’n mens se veiligheid te verseker terwyl jy nog die kans het en nie ‘verder te gaan’ asof niks ooit sal gebeur nie deur ’n kyk-wat-gebeur-houding ten opsigte van sulke ontsagwekkende natuurkragte aan te neem nie. Dit is hoe Jehovah se Getuies in die gebied die saak beskou.

Verteenwoordigers van die Wagtoringgenootskap se takkantoor het onlangs byeengekom met reisende opsieners in die staat Puebla, wat in noue kontak met die gemeentes in die gevaargebied is. Reëlings is getref sodat die reisende opsieners en lede van ’n noodlenigingskomitee elke gesin kon besoek wat binne 25 kilometer van die krater woon. Hierdie gesinne is gehelp om te sien waarom hulle dit moet oorweeg om uit die gevaargebied te trek voordat daar ’n uitbarsting is. Vervoer en behuising is gereël sodat 1500 mense in die stad Puebla hervestig kon word. Sommige gesinne het verhuis om by familielede in ander stede te gaan woon.

’n Belangriker waarskuwing

Die rook, vuur en gerommel van Popocatépetl is duidelike aanduidings dat ’n uitbarsting op hande is. Almal wat dit wil ontkom, moet ag slaan op die waarskuwings wat deur die owerheid gegee word en gepaste stappe doen. Jehovah se Getuies in die onmiddellike omgewing van die vulkaan is altyd waaksaam sodat hulle hulle eie veiligheid kan verseker sowel as ander kan help om die gevaar te besef en iets daaromtrent te doen voordat dit te laat is.

Op ’n groter skaal let Jehovah se Getuies op wêreldgebeure in die lig van Bybelprofesieë. Oorloë, aardbewings, hongersnode, siektes en misdaad is net so betekenisvol soos die aktiwiteit van ’n vulkaan. Dit is deel van ’n saamgestelde teken wat Jesus Christus voorspel het “die voleinding van die stelsel van dinge” sou kenmerk. Hoewel niemand presies weet wanneer daardie einde gaan kom nie, is daar geen twyfel dat dit wel gaan kom en dat dit baie, baie naby is nie.—Matteus 24:3, 7-14, 32-39.

Dit is dringend dat alle mense Jesus se waarskuwing baie ernstig moet opneem: “Let op julleself dat julle harte nooit beswaar word met oormatige etery en strawwe drinkery en sorge van die lewe, en dié dag skielik, in ’n oomblik, oor julle kom” nie (Lukas 21:34). Dit is ongetwyfeld die verstandige weg om te volg. Net soos die waarskuwingstekens van die vulkaan nie ligtelik opgeneem moet word nie, moet ons nie die nabyheid verontagsaam van die Seun van die mens, Jesus Christus, wat gemaan het: “Om dié rede moet julle julle ook gereed betoon, want die Seun van die mens kom op ’n uur waarvan julle dit nie dink nie.”—Matteus 24:44.

[Voetnoot]

a Die Ontwaak! van 8 Maart 1997 het verslag gelewer oor hierdie dreigende vulkaan.

[Prente op bladsy 23]

Martha (op donkie) en ander Getuies in die skadu van Popocatépetl

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel