Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w98 8/15 bl. 10-15
  • Jehovah moet ons vertroue wees

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jehovah moet ons vertroue wees
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Vertroue gegrond op kennis en vriendskap
  • Stel vertroue in Jehovah se keuses
  • Moenie Jehovah se keuses kritiseer nie
  • Stel vertroue in Jehovah se regverdigheid
  • Hoe ons ons vertroue in God se regverdigheid kan versterk
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Vertroue kan herstel word!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Die grootste bewys van God se liefde
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • “Wandel deur geloof, nie deur aanskouing nie”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
w98 8/15 bl. 10-15

Jehovah moet ons vertroue wees

“Jehovah self sal in werklikheid jou vertroue wees.” —SPREUKE 3:26, NW.

1. Hoewel baie sê dat hulle op God vertrou, wat toon dat hulle dit nie altyd doen nie?

DIE leuse “Op God vertrou ons” verskyn op geld van die Verenigde State van Amerika. Maar vertrou almal wat hierdie geld gebruik, hetsy in daardie land of elders, werklik op God? Of vertrou hulle meer op die geld self? Sulke vertroue in die geld van daardie land of enige ander land kan nie versoen word met vertroue in ’n almagtige God van liefde nie, wat nooit sy mag misbruik en geensins hebsugtig is nie. Trouens, hy veroordeel hebsug uitdruklik.—Efesiërs 5:5.

2. Watter gesindheid het ware Christene ten opsigte van die krag van rykdom?

2 Ware Christene vertrou op God, nie op rykdom, met sy “bedrieglike krag”, nie (Matteus 13:22). Hulle besef dat die krag, of vermoë, wat geld het om geluk te bevorder en lewe te bewaar baie beperk is. Dit is nie die geval met die krag van die almagtige God nie (Sefanja 1:18). Hoe verstandig is die vermaning dus tog: “Laat julle lewenswyse vry wees van die liefde vir geld, terwyl julle tevrede is met die teenwoordige dinge. Want hy het gesê: ‘Ek sal jou hoegenaamd nie in die steek laat of jou ooit verlaat nie’”!—Hebreërs 13:5.

3. Hoe werp die konteks van Deuteronomium 31:6 lig op Paulus se aanhaling van die vers?

3 Toe die apostel Paulus die woorde hierbo aan die Hebreeuse Christene geskryf het, het hy instruksies aangehaal wat Moses kort voor sy dood aan die Israeliete gegee het: “Wees sterk en vol moed; wees nie bevrees en word nie verskrik vir hulle nie; want dit is die HERE jou God wat saam met jou trek; Hy sal jou nie begewe of verlaat nie” (Deuteronomium 31:6). Die konteks toon dat Moses hulle tot vertroue op Jehovah aangespoor het wat meer behels het as om bloot op hom te vertrou om in hulle materiële behoeftes te voorsien. Hoe so?

4. Hoe het God aan die Israeliete bewys dat hy vertrou kan word?

4 Gedurende die 40 jaar wat Israel in die woestyn moes rondtrek, het God hulle getrou van lewensbenodigdhede voorsien (Deuteronomium 2:7; 29:5). Hy het ook leierskap voorsien. ’n Blyk hiervan was ’n wolk bedags en ’n vuur snags, wat die Israeliete gelei het na “’n land wat oorloop van melk en heuning” (Exodus 3:8; 40:36-38). Toe die tyd aanbreek vir hulle om die Beloofde Land binne te gaan, het Jehovah Josua gekies om Moses se opvolger te wees. Hulle kon verwag dat die bewoners van die land weerstand sou bied. Maar Jehovah het dekades lank met sy volk gewandel, en daarom het hulle geen rede gehad om iets te vrees nie. Die Israeliete het alle rede gehad om te weet dat Jehovah ’n God is wat vertrou kan word!

5. Hoe is die situasie van Christene wat vandag leef soortgelyk aan dié van die Israeliete voordat hulle die Beloofde Land binnegegaan het?

5 Christene wat vandag leef, trek deur die woestyn van die huidige goddelose wêreld op pad na God se nuwe wêreld. Sommige van hulle bewandel hierdie weg al meer as 40 jaar. Nou staan hulle op die drumpel van God se nuwe wêreld. Maar vyande staan nog steeds in die pad en is vasbeslote om enigeen te keer om in daardie nuwe wêreld in te gaan wat soos ’n Beloofde Land sal word, glorieryker as die eertydse een wat oorgeloop het van melk en heuning. Hoe gepas is Moses se woorde wat deur Paulus herhaal is dus tog nie vir Christene van vandag nie: “Ek sal jou hoegenaamd nie in die steek laat of jou ooit verlaat nie”! Almal wat sterk en moedig asook vol geloof bly en hulle vertroue in Jehovah stel, is seker van ’n beloning.

Vertroue gegrond op kennis en vriendskap

6, 7. (a) Wat het Abraham se vertroue in Jehovah op die proef gestel? (b) Hoe het Abraham moontlik gevoel terwyl hy na die plek gereis het waar hy Isak moes offer?

6 By een geleentheid is die Israeliete se voorvader Abraham beveel om sy seun Isak as ’n brandoffer te bring (Genesis 22:2). Wat het hierdie liefdevolle vader in staat gestel om sulke onwrikbare vertroue in Jehovah te stel dat hy onmiddellik bereid was om gehoorsaam te wees? Hebreërs 11:17-19 antwoord: “Deur geloof het Abraham, toe hy op die proef gestel is, Isak so goed as geoffer, en die man wat die beloftes met blydskap ontvang het, het sy enigverwekte seun probeer offer, hoewel daar vir hom gesê is: ‘Wat “jou saad” genoem sal word, sal deur Isak wees.’ Maar hy het gereken dat God hom selfs uit die dode kon opwek; en daaruit het hy hom dan ook, by wyse van illustrasie, ontvang.”

7 Hou in gedagte dat dit Abraham en Isak drie dae geneem het om by die plek te kom waar die offerande geoffer moes word (Genesis 22:4). Abraham het baie tyd gehad om die bevel te heroorweeg. Kan ons ons sy gevoelens, sy emosies, voorstel? Isak se geboorte was so ’n onverwagse bron van vreugde. Daardie bewys van Goddelike ingryping het Abraham en sy vrou, Sara, wat voorheen onvrugbaar was, se gehegtheid aan God versterk. Hulle het beslis daarna in afwagting gelewe van wat die toekoms vir Isak en sy nakomelinge ingehou het. Het hulle drome onverwags geëindig, soos dit moontlik gelyk het as gevolg van wat God nou gevra het?

8. Hoe het Abraham se vertroue in God meer behels as om te glo dat Hy Isak kon opwek?

8 Abraham het nietemin vertroue gehad wat gegrond was op die persoonlike kennis wat intieme vriende van mekaar het. As “Jehovah se vriend” het Abraham “geloof in Jehovah gestel, en dit is hom as regverdigheid toegereken” (Jakobus 2:23). Abraham se vertroue in Jehovah het meer behels as om net te glo dat God Isak kon opwek. Abraham was net so oortuig daarvan dat wat Jehovah hom gevra het om te doen reg was, al het Abraham nie al die feite gehad nie. Hy het geen rede gehad om weens hierdie versoek aan Jehovah se regverdigheid te twyfel nie. Daarna is Abraham se vertroue versterk toe Jehovah se engel tussenbeide getree het om te voorkom dat Isak werklik as ’n offerande doodgemaak word.—Genesis 22:9-14.

9, 10. (a) By watter vroeëre geleentheid het Abraham vertroue in Jehovah geopenbaar? (b) Watter belangrike les kan ons by Abraham leer?

9 Abraham het sowat 25 jaar vroeër dieselfde soort vertroue in Jehovah se regverdigheid geopenbaar. Toe hy gewaarsku is dat Sodom en Gomorra vernietig gaan word, was hy natuurlik besorg oor die welsyn van enige regverdiges wat daar woon, onder andere sy neef Lot. Abraham het ’n beroep op God gedoen met die woorde: “Laat dit ver van U wees om so iets te doen: om die regverdige saam met die goddelose om te bring, sodat die regverdige gelyk is met die goddelose. Laat dit ver van U wees! Sal die Regter van die ganse aarde geen reg doen nie?”—Genesis 18:25.

10 Die aartsvader Abraham was oortuig daarvan dat Jehovah nooit enigiets onregverdigs doen nie. Die psalmis het later gesing: “Die HERE is regverdig in al sy weë en goedgunstig in al sy werke” (Psalm 145:17). Dit sal goed wees om ons af te vra: ‘Aanvaar ek wat Jehovah toelaat om oor my te kom sonder om sy regverdigheid in twyfel te trek? Is ek oortuig daarvan dat wat hy ook al toelaat goed vir my sowel as vir ander sal afloop?’ As ons ja kan antwoord, het ons ’n belangrike les by Abraham geleer.

Stel vertroue in Jehovah se keuses

11, 12. (a) In wie moet God se knegte vertroue hê? (b) Wat kan soms vir ons ’n probleem wees?

11 Diegene wat Jehovah as hulle vertroue beskou, openbaar ook vertroue in die manne wat Jehovah kies om in die uitvoering van sy voornemens te gebruik. Vir die Israeliete het dit beteken dat hulle vertroue in Moses en later in sy opvolger, Josua, moes openbaar. Vir vroeë Christene het dit beteken dat hulle vertroue in die apostels en ouer manne van die gemeente in Jerusalem moes openbaar. Vir ons wat vandag lewe, beteken dit om vertroue te stel in “die getroue en verstandige slaaf” wat aangestel is om ons ons geestelike “voedsel op die regte tyd” te gee, sowel as in diegene van hulle wat die Bestuursliggaam uitmaak.—Matteus 24:45.

12 As ons vertroue stel in diegene wat die leiding in die Christengemeente neem, is dit eintlik tot ons eie voordeel. Daar word vir ons gesê: “Wees gehoorsaam aan dié wat die leiding onder julle neem en wees onderdanig, want hulle waak oor julle siele as dié wat rekenskap sal gee; sodat hulle dit met vreugde kan doen en nie met ’n gesug nie, want dit sal vir julle skadelik wees.”—Hebreërs 13:17.

Moenie Jehovah se keuses kritiseer nie

13. Watter rede het ons vir vertroue in diegene wat aangestel is om die leiding te neem?

13 Die Bybel help ons om gebalanseerd te wees in die vertroue wat ons stel in diegene wat die leiding onder Jehovah se volk neem. Ons kan ons afvra: ‘Het Moses ooit foute gemaak? Het die apostels altyd die Christelike gesindheid geopenbaar wat Jesus wou hê hulle aan die dag moes lê?’ Die antwoorde is duidelik. Jehovah het gekies om lojale en toegewyde manne te gebruik om sy volk te lei, al is hulle onvolmaak. Hoewel ouer manne van vandag onvolmaak is, behoort ons hulle gevolglik nog steeds te beskou as ‘opsieners wat deur die heilige gees aangestel is, om as herders toesig te hou oor die gemeente van God’. Hulle verdien ons ondersteuning en respek.—Handelinge 20:28.

14. Wat is opmerkenswaardig omtrent Jehovah se keuse van Moses as leier eerder as Aäron of Mirjam?

14 Aäron was drie jaar ouer as Moses, maar albei was jonger as hulle suster, Mirjam (Exodus 2:3, 4; 7:7). En omdat Aäron ’n vlotter spreker as Moses was, is hy aangestel om as sy broer se woordvoerder te dien (Exodus 6:28–7:2). Maar Jehovah het nie die oudste een, Mirjam, of die een wat die vlotste gepraat het, Aäron, gekies om die Israeliete te lei nie. Hy het Moses gekies met volle inagneming van al die feite en die behoeftes van die tyd. Toe Aäron en Mirjam ’n tyd lank nie hierdie duidelike insig gehad het nie, het hulle gekla: “Het die HERE dan maar alleen met Moses gespreek? Het Hy nie ook met ons gespreek nie?” Mirjam, wat moontlik die hoofaanstigter was, is gestraf vir hierdie oneerbiedige gesindheid teenoor Jehovah se keuse, wat sy en Aäron moes erken het as “die sagmoedigste van al die mense wat op die oppervlak van die aardbodem was”.—Numeri 12:1-3, 9-15, vgl. NW.

15, 16. Hoe het Kaleb bewys dat hy vertroue in Jehovah gehad het?

15 Toe 12 spioene uitgestuur is om die Beloofde Land te verken, het 10 ’n negatiewe verslag teruggebring. Hulle het die Israeliete se harte met vrees vervul deur van die “groot manne” van Kanaän te praat. Dit het weer veroorsaak dat die Israeliete “gemurmureer [het] teen Moses en teen Aäron”. Maar nie al die spioene het ’n gebrek aan vertroue in Moses en in Jehovah geopenbaar nie. Ons lees: “Toe het Kaleb die volk stil gemaak teenoor Moses en gesê: Laat ons gerus optrek en dit in besit neem; want ons kan dit sekerlik oorweldig” (Numeri 13:2, 25-33; 14:2). Kaleb se medespioen Josua het dieselfde ferm standpunt ingeneem. Hulle het albei getoon dat hulle Jehovah hulle vertroue gemaak het toe hulle gesê het: “As die HERE ’n welbehae in ons het, sal Hy ons in hierdie land inbring en dit aan ons gee, ’n land wat oorloop van melk en heuning. Wees net nie . . . bevrees vir die volk van die land nie . . . Die HERE is met ons. Wees nie bevrees vir hulle nie!” (Numeri 14:6-9). Hierdie vertroue in Jehovah is beloon. Van die volwassenes wat in daardie tyd gelewe het, het slegs Kaleb, Josua en sommige Leviete die voorreg gehad om die Beloofde Land binne te gaan.

16 ’n Paar jaar later het Kaleb gesê: “Ek [het] volgehou . . . om die HERE my God te volg. . . . En nou, kyk, die HERE het my laat lewe, soos Hy gespreek het, nou al vyf-en-veertig jaar sedert die HERE hierdie woord met Moses gespreek het toe Israel in die woestyn getrek het; en kyk nou, ek is vandag vyf-en-tagtig jaar oud; ek is vandag nog so sterk soos die dag toe Moses my uitgestuur het; soos my krag toe was, so is my krag nou nog” (Josua 14:6-11). Let op Kaleb se positiewe gesindheid, sy getrouheid en sy fisiese vermoëns. En tog het Jehovah nie vir Kaleb gekies om Moses se opvolger te wees nie. Hierdie voorreg is aan Josua gegee. Ons kan daarvan seker wees dat Jehovah redes gehad het vir sy keuse, en dit was die beste keuse.

17. Wat laat dit dalk lyk asof Petrus ongeskik was vir verantwoordelikheid?

17 Die apostel Petrus het sy Heer drie keer verloën. Hy het ook impulsief opgetree deur sake in eie hande te neem en die slaaf van die hoëpriester se oor af te kap (Matteus 26:47-55, 69-75; Johannes 18:10, 11). Party sê dalk dat Petrus ’n bang, ongebalanseerde persoon was wat nie verdien het om spesiale voorregte te geniet nie. Maar aan wie is die sleutels van die Koninkryk gegee, met die voorreg om die weg tot die hemelse roeping vir drie groepe te baan? Dit was Petrus.—Handelinge 2:1-41; 8:14-17; 10:1-48.

18. Watter fout, wat deur Judas gemeld word, wil ons vermy?

18 Hierdie voorbeelde toon dat ons versigtig moet wees om nie na die uiterlike te oordeel nie. As ons op Jehovah vertrou, sal ons nie sy keuses bevraagteken nie. Hoewel sy aardse gemeente uit onvolmaakte mense bestaan, wat geen aanspraak op onfeilbaarheid het nie, gebruik hy hulle op ’n kragtige wyse. Judas, Jesus se halfbroer, het eerste-eeuse Christene teen persone gewaarsku wat ‘heerskappy verontagsaam en smadend van heerlikes praat’ (Judas 8-10). Ons moet nooit soos hulle wees nie.

19. Waarom het ons geen rede om Jehovah se keuses te kritiseer nie?

19 Jehovah kies klaarblyklik vir sekere verantwoordelikhede individue wat die nodige eienskappe het om sy volk op die weg te lei wat hy wil hê hulle op daardie spesifieke tyd moet bewandel. Ons moet hierdie feit probeer erken en nie God se keuses kritiseer nie, maar tevrede wees om nederig te dien waar Jehovah ons individueel geplaas het. Sodoende toon ons dat ons Jehovah ons vertroue gemaak het.—Efesiërs 4:11-16; Filippense 2:3.

Stel vertroue in Jehovah se regverdigheid

20, 21. Wat kan ons leer uit die manier waarop God met Moses gehandel het?

20 As ons soms geneig is om te veel op onsself en te min op Jehovah te vertrou, moet ons by Moses leer. Toe hy 40 jaar oud was, het hy die Israeliete self van Egiptiese gevangenskap probeer bevry. Hy het ongetwyfeld goeie bedoelings gehad, maar dit het nie gelei tot Israel se onmiddellike bevryding of tot die verbetering van sy eie situasie nie. Trouens, hy moes noodgedwonge vlug. Eers nadat hy 40 jaar van moeisame opleiding in ’n vreemde land ontvang het, het hy gekwalifiseer om gekies te word om te doen wat hy vroeër wou doen. Hierdie keer kon hy seker wees van Jehovah se ondersteuning omdat dinge nou op Jehovah se manier en volgens Sy tydrooster gedoen is.—Exodus 2:11–3:10.

21 Elkeen van ons kan ons afvra: ‘Is ek soms nie gewillig om op Jehovah en die aangestelde ouer manne in die gemeente te wag nie omdat ek dinge vooruit probeer loop of op my eie manier probeer doen? Aanvaar ek my voortgesette opleidingstydperk gewillig of meen ek dat ek nie vir sekere voorregte in aanmerking geneem word nie?’ Met ander woorde, het ons ’n belangrike les by Moses geleer?

22. Hoe het Moses oor Jehovah gevoel ondanks die feit dat hy ’n groot voorreg verloor het?

22 Daarbenewens kan ons nog ’n les by Moses leer. Numeri 20:7-13 vertel ons van ’n fout wat hy gemaak het, wat hom duur te staan gekom het. Hy het die voorreg verloor om die Israeliete in die Beloofde Land in te lei. Was sy reaksie dat Jehovah se besluit in hierdie saak onregverdig was? Het hy as ’t ware in ’n hoek gekruip en gekla omdat God hom so sleg behandel? Het Moses vertroue in Jehovah se regverdigheid verloor? Ons kan die antwoorde vind in woorde wat Moses self kort voor sy dood vir Israel gesê het. Moses het oor Jehovah gesê: “Volkome is sy werk; want al sy weë is strafgerigte; ’n God van trou en sonder onreg; regverdig en reg is Hy” (Deuteronomium 32:4). Moses het beslis sy vertroue in Jehovah tot die einde toe behou. Wat van ons? Doen ons individueel wat nodig is om ons vertroue in Jehovah en sy regverdigheid te versterk? Hoe kan ons dit doen? Kom ons kyk.

Hoe sou jy antwoord?

◻ Watter redes het die Israeliete gehad om Jehovah te vertrou?

◻ Wat kan ons by Abraham leer wat vertroue betref?

◻ Waarom moet ons nie Jehovah se keuses kritiseer nie?

[Prent op bladsy 13]

Vertroue in Jehovah behels onder andere dat ons diegene respekteer wat die leiding in die gemeente neem

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel