Die Christelike beskouing van begrafnisgebruike
DIE skielike, onverwagse dood van ’n geliefde is veral tragies. Dit veroorsaak skok, wat gevolg word deur intense emosionele pyn. Dit is anders wanneer ’n mens sien hoe ’n geliefde ná ’n lang en pynlike siekte sterf, maar die smart en gevoel van diepe verlies is nog steeds daar.
Ongeag die omstandighede waarin ’n geliefde sterf, die bedroefdes het ondersteuning en vertroosting nodig. ’n Bedroefde Christen sal dalk ook vervolging moet verduur van diegene wat daarop aandring dat onskriftuurlike begrafnisgebruike gevolg word. Dit is iets algemeens in baie Afrikalande, asook in party ander wêrelddele.
Wat sal ’n bedroefde Christen help om onskriftuurlike begrafnisgebruike te vermy? Hoe kan medegelowiges in sulke tye van beproewing ondersteuning bied? Die antwoorde op hierdie vrae is van belang vir almal wat Jehovah wil behaag, want “die vorm van aanbidding wat uit die standpunt van ons God en Vader rein en onbesmet is, is dit: om na wese en weduwees in hulle verdrukking om te sien en om jou sonder vlek van die wêreld te bewaar”.—Jakobus 1:27.
Verbind deur ’n oortuiging
’n Gemeenskaplike faktor wat baie begrafnisgebruike verbind, is die oortuiging dat die dooies in ’n onsigbare ryk van die voorouers voortleef. Baie treurendes voel verplig om sekere rituele te volg om hulle te paai. Of hulle is bang dat hulle hulle bure sal mishaag wat glo dat onheil die gemeenskap sal tref as die rituele nie gevolg word nie.
’n Ware Christen moenie voor vrees vir die mens swig en aan gebruike deelneem wat God mishaag nie (Spreuke 29:25; Matteus 10:28). Die Bybel toon dat die dooies in ’n toestand van onbewustheid is, want dit sê: “Die lewendes weet dat hulle moet sterwe, maar die dooies weet glad niks nie . . . Daar is geen werk of oorleg of kennis of wysheid in die doderyk waar jy heengaan nie” (Prediker 9:5, 10). Dit is waarom Jehovah God sy eertydse volk gewaarsku het om nie te probeer om die dooies te paai of met hulle te kommunikeer nie (Deuteronomium 14:1; 18:10-12; Jesaja 8:19, 20). Hierdie Bybelwaarhede bots met talle algemene begrafnisgebruike.
Wat van “seksuele reiniging”?
In sommige lande in die sentrale deel van Afrika word daar van die bedroefde huweliksmaat verwag om geslagsomgang met ’n naverwant van die afgestorwene te hê. As dit nie gedoen word nie, sal die dooie die agterblywende familie glo skade aandoen. Hierdie ritueel staan bekend as “seksuele reiniging”. Maar die Bybel noem enige geslagsomgang buite die huwelik “hoerery”. Aangesien Christene ‘vir die hoerery moet vlug’, weerstaan hulle hierdie onskriftuurlike gebruik moedig.—1 Korintiërs 6:18.
Neem die geval van ’n weduwee met die naam Mercy.a Toe haar man in 1989 gesterf het, wou familielede hê dat sy seksuele reiniging met ’n manlike familielid moes ondergaan. Sy het geweier en verduidelik dat die ritueel in stryd is met God se wet. Die familielede was ontstoke en het haar uitgeskel voordat hulle daar weg is. ’n Maand later het hulle haar huis geplunder en die sinkplate van haar dak verwyder. “Jou kerk kan vir jou sorg”, het hulle gesê.
Die gemeente het Mercy vertroos en selfs vir haar ’n nuwe huis gebou. Dit het haar bure so beïndruk dat sommige besluit het om aan die projek deel te neem, en die hoofman se Katolieke vrou was die eerste om gras vir die dak te bring. Mercy se getroue gedrag het haar kinders bemoedig. Sedertdien het vier van hulle hulle aan Jehovah God toegewy, en een het onlangs die Bedieningsopleidingskool bygewoon.
Weens die gebruik van seksuele reiniging het party Christene aan die druk toegegee en met ’n ongelowige getrou. ’n Wewenaar wat in sy sewentigerjare is, het byvoorbeeld halsoorkop met ’n jong meisie getrou wat verwant was aan sy afgestorwe vrou. Sodoende kon hy sê dat hy die seksuele reiniging ondergaan het. Maar so ’n weg is strydig met die Bybel se raad dat Christene “net in die Here” moet trou.—1 Korintiërs 7:39.
Lykwaakseremonies
In baie lande kom treurendes by die huis van die afgestorwene byeen, en hulle bly dan heelnag wakker. Hierdie lykwake sluit dikwels feesviering en harde musiek in. Dit paai glo die dooies en beskerm die agterblywende familie teen toordery. Vleiende toesprake word dalk gehou om die dooie se goedkeuring te verkry. Ná ’n toespraak sal die treurendes moontlik ’n gesang sing voordat iemand anders opstaan om te praat. Dit kan tot dagbreek aanhou.b
’n Ware Christen neem nie deel aan sulke lykwaakseremonies wat heelnag duur nie, omdat die Bybel toon dat die dooies nie die lewendes kan help of kwaad aandoen nie (Genesis 3:19; Psalm 146:3, 4; Johannes 11:11-14). Die Skrif veroordeel die beoefening van spiritisme (Openbaring 9:21; 22:15). Maar ’n Christenweduwee vind dit dalk moeilik om te keer dat ander mense met hulle spiritistiese gebruike begin. Hulle dring moontlik daarop aan om ’n lykwaak in haar huis te hou. Wat kan medegelowiges doen om bedroefde Christene te help wat voor hierdie bykomende beproewing te staan kom?
Gemeentelike ouer manne kon al dikwels ’n bedroefde Christengesin ondersteun deur met familielede en bure te redeneer. Nadat daar met hierdie persone geredeneer is, stem hulle dalk in om die huis vreedsaam te verlaat en weer op ’n ander dag vir die begrafnisdiens bymekaar te kom. Maar sê nou sommige raak stryerig? Om dan nog verder met hulle te probeer redeneer, kan tot geweld lei. ‘’n Slaaf van die Here hoef nie te baklei nie, maar moet hom onder die kwaad in bedwang hou’ (2 Timoteus 2:24). As familielede dus nie hulle samewerking wil gee nie en op aggressiewe wyse die verrigtinge oorneem, sal ’n Christenweduwee en haar kinders dit dalk nie kan keer nie. Maar hulle neem nie deel aan enige valse godsdiensseremonies wat in hulle huis plaasvind nie, want hulle gehoorsaam die Bybel se bevel: “Moenie saam met ongelowiges onder ’n ongelyke juk kom nie.”—2 Korintiërs 6:14.
Hierdie beginsel geld ook vir die begrafnis. Jehovah se Getuies neem nie deel aan gesange, gebede of rituele wat deur ’n geestelike van valse godsdiens gelei word nie. As Christene wat naasbestaandes is dit nodig ag om so ’n diens by te woon, neem hulle nie daaraan deel nie.—2 Korintiërs 6:17; Openbaring 18:4.
Waardige begrafnisdienste
Begrafnisdienste wat deur Jehovah se Getuies gehou word, sluit nie rituele in wat bedoel is om die dooies te paai nie. ’n Bybeltoespraak word óf by die Koninkryksaal, die roulokaal, die huis van die afgestorwene óf by die graf gehou. Die doel van die toespraak is om die bedroefdes te vertroos deur te verduidelik wat die Bybel oor die dood en die opstandingshoop sê (Johannes 11:25; Romeine 5:12; 2 Petrus 3:13). ’n Lied wat op die Skrif gegrond is, kan gesing word, en die diens word met ’n vertroostende gebed afgesluit.
So ’n begrafnisdiens is onlangs vir een van Jehovah se Getuies gehou wat toevallig ook die jongste suster was van president Nelson Mandela. Ná die diens het die president die spreker opreg bedank. Baie hoogwaardigheidsbekleërs en hooggeplaaste amptenare was teenwoordig. “Dit is die waardigste begrafnis wat ek nog bygewoon het”, het ’n kabinetminister gesê.
Is rouklere aanvaarbaar?
Jehovah se Getuies is bedroef oor die dood van geliefdes. Soos Jesus huil hulle dalk (Johannes 11:35, 36). Maar hulle dink nie dit is nodig om hulle droefheid deur die een of ander sigbare teken in die openbaar bekend te maak nie. (Vergelyk Matteus 6:16-18.) In baie lande word daar van weduwees verwag om spesiale rouklere aan te trek om die dooies te paai. Hierdie klere moet etlike maande of selfs tot ’n jaar ná die begrafnis gedra word, en wanneer dit uitgetrek word, word nog ’n fees gehou.
As iemand nie sigbare bewys lewer van sy droefheid nie, word dit beskou as ’n belediging vir die oorledene. In dele van Swaziland het stamhoofde Jehovah se Getuies derhalwe van hulle eie huise en lande verdryf. Maar sulke getroue Christene se geestelike broers wat in ander plekke woon, het nog altyd vir hulle gesorg.
Die Hooggeregshof in Swaziland het ten gunste van Jehovah se Getuies beslis en gesê dat hulle toegelaat moet word om na hulle huise en lande terug te keer. In ’n ander geval is ’n Christenweduwee toegelaat om op haar eiendom te bly nadat sy vir mense ’n brief en ’n bandopname kon wys waarin haar oorlede man duidelik gesê het dat sy vrou nie rouklere moet dra nie. Sodoende kon sy bewys dat sy inderdaad haar man eerbiedig.
Dit is baie nuttig om voor jou dood begrafnisinstruksies duidelik uiteen te sit, veral in plekke waar onskriftuurlike gebruike algemeen is. Neem byvoorbeeld die geval van Victor, ’n inwoner van Kameroen. Hy het die program wat by sy begrafnis gevolg moes word op skrif gestel. Daar was talle invloedryke mense in sy familie wat aan ’n kultuur behoort het met sterk tradisies in verband met die dooies, onder andere die aanbidding van menslike skedels. Aangesien Victor ’n gerespekteerde lid van die familie was, het hy geweet dat sy skedel waarskynlik so behandel sou word. Hy het gevolglik duidelike instruksies gegee oor hoe Jehovah se Getuies sy begrafnis moes hou. Dit het die situasie vir sy weduwee en sy kinders makliker gemaak, en ’n goeie getuienis is in die gemeenskap gegee.
Vermy die navolging van onskriftuurlike gebruike
Sommige wat Bybelkennis het, was bang om ooglopend anders te wees. Om vervolging te vermy, het hulle hulle bure tevrede probeer stel deur die indruk te skep dat hulle ’n tradisionele lykwaak vir die dooie hou. Hoewel dit prysenswaardig is om die bedroefdes te besoek om persoonlike vertroosting te bied, is dit nie nodig dat daar voor die eintlike begrafnis elke aand ’n klein begrafnisdiens by die huis van die oorledene gehou moet word nie. As dit gedoen word, kan dit waarnemers laat struikel, aangesien dit hulle die indruk kan gee dat die deelnemers nie werklik glo wat die Bybel oor die toestand van die dooies sê nie.—1 Korintiërs 10:32.
Die Bybel spoor Christene aan om die aanbidding van God eerste in hulle lewe te stel en hulle tyd verstandig te gebruik (Matteus 6:33; Efesiërs 5:15, 16). Maar in sommige plekke het gemeentelike bedrywighede ’n week of langer as gevolg van ’n begrafnis tot stilstand gekom. Hierdie probleem kom nie net in Afrika voor nie. ’n Berig uit Suid-Amerika sê aangaande een begrafnis: “Drie Christelike vergaderinge het ’n uiters lae bywoning gehad. Die velddiens is ongeveer tien dae lank nie ondersteun nie. Selfs mense buite die gemeente en Bybelstudente was verbaas en teleurgesteld om te sien dat sommige van ons broers en susters daaraan deelgeneem het.”
In party gemeenskappe kan ’n gesin wat ’n familielid verloor het ’n paar intieme vriende ná die begrafnis vir ligte verversings na hulle huis nooi. Maar in baie dele van Afrika stroom honderde wat die begrafnis bywoon na die huis van die oorledene, en hulle verwag dan ’n fees, waar diere dikwels geoffer word. Party wat met die Christengemeente omgaan, het hierdie gebruik nagevolg en die indruk geskep dat hulle die gebruiklike feeste hou om die dooie te paai.
Begrafnisdienste wat deur Jehovah se Getuies gehou word, plaas nie ’n duur las op die bedroefdes nie. Dit behoort dus nie nodig te wees om ’n spesiale reëling te hê sodat diegene wat teenwoordig is geld moet gee om oordadige begrafnisuitgawes te dek nie. As arm weduwees nie die nodige uitgawes kan dek nie, sal ander in die gemeente ongetwyfeld graag hulp verleen. As sulke hulp onvoldoende is, kan die ouer manne reël om materiële bystand aan waardiges te verleen.—1 Timoteus 5:3, 4.
Begrafnisgebruike bots nie altyd met Bybelbeginsels nie. Wanneer dit wel daarmee bots, is Christene vasbeslote om in ooreenstemming met die Skrif op te treec (Handelinge 5:29). Hoewel dit verdere verdrukking kan veroorsaak, kan baie knegte van God getuig dat hulle sulke toetse suksesvol die hoof gebied het. Hulle het dit gedoen met krag van Jehovah, “die God van alle vertroosting”, en met die liefdevolle hulp van medegelowiges wat hulle in hulle verdrukking vertroos het.—2 Korintiërs 1:3, 4.
[Voetnote]
a Die name in hierdie artikel is verander.
b In party taalgroepe en kulture verwys die woord “lykwaak” na ’n kort besoek om die bedroefdes te vertroos. Moontlik is niks onskriftuurliks daarby betrokke nie. Sien die Ontwaak! van 8 September 1979, bladsye 27-8.
c Waar begrafnisgebruike waarskynlik kwaai toetse vir ’n Christen gaan meebring, kan ouer manne doopkandidate voorberei op wat moontlik voorlê. Wanneer daar met hierdie nuwelinge vergader word om vrae te bespreek uit die boek Georganiseer om ons bediening te vervul moet spesiale aandag gegee word aan die dele “Die siel, sonde en die dood” en “Godsdiensvermenging”. Albei dele het opsionele vrae vir bespreking. Ouer manne kan by dié dele inligting oor onskriftuurlike begrafnisgebruike bespreek, sodat die doopkandidaat weet wat God se Woord van hom vereis indien hy voor sulke situasies te staan sou kom.
[Venster op bladsy 23]
Geseënd weens hulle ferm standpunt
Sibongile is ’n moedige Christenweduwee wat in Swaziland woon. Ná die onlangse dood van haar man het sy geweier om gebruike te volg wat volgens baie die dooies paai. Sy het byvoorbeeld nie haar hare afgeskeer nie (Deuteronomium 14:1, NW). Agt familielede was kwaad hieroor en het haar hare met geweld afgeskeer. Hulle het Jehovah se Getuies ook verhinder om die huis te besoek om Sibongile te vertroos. Maar ander wat in die Koninkryksboodskap belangstel, het haar met graagte besoek en vir haar bemoedigende briewe gegee wat deur die ouer manne geskryf is. Op die dag toe daar van Sibongile verwag is om spesiale rouklere aan te trek, het iets onverwags gebeur. ’n Invloedryke lid van die familie het ’n vergadering byeengeroep om die feit te bespreek dat sy nie tradisionele rougebruike wou nakom nie.
Sibongile vertel: “Hulle het gevra of my godsdiensoortuiging my toelaat om my droefheid te toon deur swart rouklere te dra. Nadat ek my standpunt verduidelik het, het hulle vir my gesê dat hulle my nie gaan dwing nie. Tot my verbasing het hulle almal om verskoning gevra omdat hulle my hardhandig behandel en my hare teen my sin afgeskeer het. Hulle almal het my gevra om hulle te vergewe.” Later het Sibongile se suster haar oortuiging uitgespreek dat Jehovah se Getuies die ware godsdiens het, en sy het ’n Bybelstudie gevra.
Neem nog ’n voorbeeld: ’n Suid-Afrikaanse man met die naam Benjamin was 29 jaar oud toe hy van die skielike dood van sy vader gehoor het. Benjamin was destyds die enigste Getuie in sy familie. Tydens die begrafnisdiens is daar van almal verwag om verby die graf te loop en ’n hand vol grond op die kis te gooi.d Ná die begrafnis het al die naaste familielede hulle hare laat afskeer. Omdat Benjamin nie aan hierdie rituele deelgeneem het nie, het bure en familielede voorspel dat hy deur die gees van sy afgestorwe vader gestraf sou word.
“Omdat ek op Jehovah vertrou het, het niks met my gebeur nie”, sê Benjamin. My familie het gesien hoe sake verloop het. Mettertyd het ’n hele paar van hulle die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer en hulle laat doop as ’n simbool van hulle toewyding aan God. En Benjamin? Hy het die voltydse evangelisasiewerk betree. Oor die afgelope paar jaar het hy die uitsonderlike voorreg gehad om gemeentes van Jehovah se Getuies as ’n reisende opsiener te dien.
[Voetnoot]
d Party dink dalk nie dat dit verkeerd is om blomme of ’n hand vol grond in ’n graf te gooi nie. ’n Christen sal hierdie gebruik egter vermy as die gemeenskap dit as ’n manier beskou om die dooies te paai of as dit deel van ’n seremonie is wat deur ’n geestelike van valse godsdiens gelei word.—Sien die Ontwaak! van 22 Junie 1977, bladsy 13.