Ware geregtigheid. Wanneer en hoe?
DIE onskuldige behoort nie ware geregtigheid te vrees nie. Trouens, burgers in byna alle wêrelddele het rede om dankbaar te wees as hulle land ’n regstelsel het wat geregtigheid probeer handhaaf. So ’n stelsel behels ’n raamwerk van wette, ’n polisiemag om dit toe te pas en howe om regspraak te lewer. Ware Christene respekteer die regstelsel waaronder hulle lewe uit gehoorsaamheid aan die Bybelse vermaning om “onderdanig [te] wees aan die hoër owerhede”.—Romeine 13:1-7.
Regstelsels in verskeie lande het egter al foute begaan wat onregte en pyn tot gevolg gehad het.a Pleks van die skuldiges te straf en die onskuldiges te beskerm, is onskuldige mense al by tye gestraf vir misdade wat hulle nie gepleeg het nie. Ander individue het jare in die gevangenis deurgebring, maar is op die ou end vrygelaat voor hulle vonnis uitgedien was en dít te midde van groot onsekerheid oor of hulle skuldig was en hulle vonnis geregverdig was. Gevolglik vra baie: Sal daar ooit ware geregtigheid vir almal wees? Indien wel, wanneer en hoe? Wie kan ons vertrou om die onskuldiges te beskerm? En watter hoop is daar vir slagoffers van ongeregtigheid?
Regsdwaling
In die tagtigerjare het Duitsland “een van die opspraakwekkendste hofsake van die naoorlogse tydperk” gehad, toe ’n moeder lewenslange gevangenisstraf opgelê is vir die moord op haar twee dogters. Jare later is die getuienis teen haar egter heroorweeg, en sy is vrygelaat, hangende ’n nuwe verhoor. Die Zeit het in 1995 berig dat die oorspronklike uitspraak “’n regsdwaling kan wees”. Toe hierdie artikel geskryf is, het hierdie vrou al nege jaar in die gevangenis deurgebring te midde van onsekerheid oor haar skuld of onskuld.
Een Novemberaand in 1974 is die middestad van Birmingham, Engeland, deur twee bomontploffings geruk wat 21 mense gedood het. Dit was ’n gebeurtenis wat “niemand in Birmingham ooit sal vergeet nie”, het Chris Mullen, ’n parlementslid, geskryf. Later “is ses onskuldige mans skuldig bevind aan die grootste moord in die geskiedenis van Brittanje”. Hulle skuldigbevindings is later nietig verklaar—maar eers nadat die mans 16 jaar agter die tralies deurgebring het!
Advokaat Ken Crispen het vertel van ’n saak wat “die verbeelding van die publiek aangegryp het op ’n manier wat uniek was in die annale van Australië se regsgeskiedenis”. ’n Gesin het naby Ayers Rock gekampeer toe hulle baba verdwyn het en nooit weer gevind is nie. Die moeder is van moord aangekla, skuldig bevind en tot lewenslange gevangenisstraf gevonnis. In 1987, nadat sy al langer as drie jaar opgesluit was, het ’n amptelike ondersoek bevind dat die getuienis teen haar nie ’n skuldigbevinding kon regverdig nie. Sy is vrygelaat en kwytgeskeld.
’n Agttienjarige vrou wat in die suide van die Verenigde State gewoon het, is in 1986 vermoor. ’n Middeljarige man is aangekla, skuldig bevind en ter dood veroordeel. Hy het ses jaar in die dodesel deurgebring voordat daar vasgestel is dat hy niks met die misdaad te doen gehad het nie.
Is hierdie seldsame voorbeelde van regsdwalinge? David Rudovsky van die regsfakulteit van die Universiteit van Pennsilvanië sê: “Ek is al ongeveer 25 jaar deel van die regstelsel en het al baie sake gesien. Ek sou sê dat diegene wat skuldig bevind word, maar in werklikheid onskuldig is . . . , na my skatting tussen vyf en 10% is.” Crispin vra die verontrustende vraag: “Is daar ander onskuldige mense wat verslae in tronkselle sit?” Hoe is sulke tragiese foute moontlik?
Menslike regstelsels—met menslike swakhede
“Geen menslike stelsel kan verwag om volmaak te wees nie”, het die Britse Appèlhof in 1991 beklemtoon. ’n Regstelsel kan net so regverdig en betroubaar wees as die mense wat dit ontwerp en toepas. Mense is geneig tot foute, oneerlikheid en vooroordeel. Dit moet ons gevolglik nie verbaas dat die mens se regstelsels presies dieselfde swakhede openbaar nie. Beskou die volgende.
Volgens regter Rolf Bender van Duitsland word verklarings van getuies in 95 persent van alle strafsake beslissend as getuienis beskou. Maar is sulke getuies in die hof altyd betroubaar? Regter Bender dink nie so nie. Hy skat dat die helfte van die getuies wat in die hof verskyn onwaarhede vertel. Bernd Schünemann, professor ordinarius van strafreg aan die Universiteit van München, Duitsland, het ’n soortgelyke opmerking gemaak. In ’n onderhoud met Die Zeit het Schünemann bevestig dat verklarings van getuies die vernaamste—hoewel onbetroubare—vorm van getuienis is. “Ek sou sê dat die algemene rede vir regsdwalinge is dat die regter op onbetroubare verklarings van getuies staatmaak.”
Getuies is feilbaar; die polisie is ook. Veral ná ’n misdaad wat openbare reaksie uitlok, word druk op die polisie uitgeoefen om iemand in hegtenis te neem. Onder sulke omstandighede het individuele polisiemanne al toegegee aan die versoeking om getuienis te versin of om ’n verdagte te dwing om skuld te beken. Toe die ses mans wat skuldig bevind is aan die Birmingham-bomaanvalle vrygelaat is, het die Britse koerant The Independent die opskrif gehad: “Korrupsie in polisie rede vir skuldigbevinding van ses.” The Times het gesê: “Die polisie het gelieg, geknoei en mislei.”
In party gevalle kan vooroordeel daartoe lei dat die polisie en die publiek individue van ’n sekere ras, godsdiens of nasionaliteit verdink. Soos die U.S.News & World Report sê, kan die oplossing van ’n misdaad dan ontaard in “’n kwessie van rassisme en nie van rede nie”.
Sodra ’n saak na die hof gaan, kan die uitspraak nie net beïnvloed word deur wat getuies sê nie, maar ook deur wetenskaplike bewysstukke. In die forensiese veld wat al hoe ingewikkelder word, kan daar van die regter of jurie verwag word om te besluit of iemand skuldig of onskuldig is op grond van ballistiek of die identifisering van vingerafdrukke, handskrif, bloedgroepe, haarkleur, tekstielvesels of DNA-monsters. Een regsgeleerde het gesê dat howe te doen kry met “tallose imponerende wetenskaplikes wat uiters ingewikkelde prosedures beskryf”.
Daarbenewens sê die tydskrif Nature dat nie alle wetenskaplikes saamstem oor die interpretasie van forensiese bewysstukke nie. “Forensiese wetenskaplikes kan grootliks verskil.” Ongelukkig “was foutiewe forensiese bewysstukke al verantwoordelik vir talle verkeerde skuldigbevindings”.
Ongeag waar ons woon, alle regstelsels wat tans in gebruik is, weerspieël menslike tekortkominge. Wie kan ons dus vertrou om die onskuldiges te beskerm? Kan ons hoop om ooit ware geregtigheid te hê? En watter hoop is daar vir slagoffers van regsdwaling?
“Ek, die HERE, het die reg lief”
Indien jy of ’n lid van jou gesin die slagoffer van ’n regsdwaling is, weet Jehovah God en sy Seun, Jesus, wat julle deurmaak. Die verskriklikste onreg van alle tye is gepleeg toe Christus aan ’n folterpaal tereggestel is. Die apostel Petrus sê vir ons dat Jesus “geen sonde gepleeg [het] nie”. Tog is hy deur valse getuies aangekla, skuldig bevind en tereggestel.—1 Petrus 2:22; Matteus 26:3, 4, 59-62.
Stel jou voor hoe Jehovah oor hierdie mishandeling van sy Seun moes gevoel het! Geregtigheid is een van Jehovah se hoofeienskappe. Die Bybel sê vir ons: “Al sy weë is geregtigheid.”—Deuteronomium 32:4, NW; Psalm 33:5.
Jehovah het Israel ’n uitstekende regstelsel gegee. Wanneer daar ’n onopgeloste moord was, is daar versoening gedoen vir die dood deur ’n offerande. Daar was geen druk om elke misdaad op te los en die gevaar te loop om ’n onskuldige persoon skuldig te verklaar nie. Niemand kon skuldig bevind word aan moord bloot op grond van omstandigheidsgetuienis of wetenskaplike bewysstukke nie; ten minste twee ooggetuies was nodig (Deuteronomium 17:6; 21:1-9). Hierdie voorbeelde toon dat Jehovah hoë standaarde het en daaroor besorg is dat die reg behoorlik toegepas word. Trouens, hy sê: “Ek, die HERE, het die reg lief.”—Jesaja 61:8.
Israel se regstelsel was natuurlik in die hande van mense wat soortgelyke tekortkominge as ons gehad het. Daar was gevalle wanneer die wet verkeerd toegepas is. Koning Salomo het geskryf: “As jy verdrukking van die arme en berowing van reg en geregtigheid sien in die land—verwonder jou nie oor die saak nie.”—Prediker 5:7.
Jehovah was in staat om die onreg wat sy Seun aangedoen is, reg te stel. Die sekerheid hiervan het Jesus versterk, wat “vir die vreugde wat hom voorgehou is . . . ’n folterpaal verduur [het]”. Net so ook kan die vreugdevolle vooruitsig om onder die heerskappy van die Messias op ’n paradysaarde te woon, waar ware geregtigheid sal heers, ons versterk om te volhard wanneer ons van ongeregtigheid hoor of dit selfs ondervind in hierdie ou stelsel. Daar is geen kwaad of onreg wat Jehovah nie op sy bestemde tyd kan regstel nie. Selfs mense wat hulle lewe verloor weens ’n regsdwaling kan ’n opstanding kry.—Hebreërs 12:2; Handelinge 24:15.
As ons die slagoffers van ’n onreg is, kan ons dankbaar wees dat baie regstelsels regsmiddele het wat ons in staat kan stel om die situasie reg te stel. Christene kan van sulke middele gebruik maak. Hulle hou egter hierdie feit in gedagte: Onvolmaakte regstelsels is ’n weerspieëling van ’n mensegemeenskap wat grootskaalse herstrukturering nodig het. Dit gaan spoedig plaasvind—deur God se toedoen.
Jehovah gaan binnekort ’n einde maak aan hierdie onregverdige stelsel van dinge en dit vervang met ’n nuwe stelsel waarin ‘regverdigheid sal woon’. Ons kan vol vertroue wees dat ons Skepper dan reg sal toepas deur sy Messiaanse Koning, Jesus Christus. Ware geregtigheid vir almal is op hande! Hoe dankbaar kan ons tog wees vir hierdie vooruitsig.—2 Petrus 3:13.
[Voetnoot]
a In die gevalle wat hier gemeld word, probeer Die Wagtoring nie te kenne gee dat enige individu skuldig of onskuldig is nie, en ook nie dat een land se regstelsel beter as dié van ’n ander is nie. Daarbenewens staan hierdie tydskrif nie een vorm van straf bo ’n ander voor nie. Hierdie artikel verstrek eenvoudig die feite soos dit bekend was toe die artikel geskryf is.
[Lokteks op bladsy 27]
Onvolmaakte regstelsels—saam met korrupte regerings, verdorwe godsdiensorganisasies en die beginsellose handelswêreld—is ’n weerspieëling van ’n mensegemeenskap wat ’n grootskaalse herstrukturering nodig het
[Venster op bladsy 28]
Vertroosting uit die heilige geskrifte
In November 1952 het Derek Bentley en Christopher Craig by ’n pakhuis in Croydon, naby Londen, Engeland, ingebreek. Bentley was 19 jaar oud en Craig was 16. Die polisie is ontbied en Craig het een van die polisiemanne doodgeskiet. Craig het nege jaar in die gevangenis deurgebring terwyl Bentley in Januarie 1953 opgehang is weens moord.
Bentley se suster, Iris, het haar 40 jaar lank daarvoor beywer om sy naam te suiwer van blaam vir ’n moord wat hy nie gepleeg het nie. In 1993 het die staat ’n kwytskelding uitgereik in verband met die vonnis en erken dat Derek Bentley nooit gehang moes gewees het nie. Iris Bentley het oor die saak geskryf in die boek Let Him Have Justice:
“Omtrent ’n jaar voor die skietvoorval het hy een van Jehovah se Getuies in die straat ontmoet . . . Suster Lane het nie ver van ons af nie in Fairview-weg gewoon, en sy het Derek oorgenooi om na Bybelverhale te luister. . . . Wat goed was, was dat suster Lane die Bybelverhale op plate gehad het, wat sy vir hom geleen het [aangesien Derek nie goed kon lees nie]. . . . Hy het gewoonlik teruggekom en vir my gesê wat sy vir hom vertel het, dinge soos dat ons almal weer sal lewe nadat ons dood was.”
Iris Bentley het haar broer in die dodesel besoek voor sy teregstelling. Hoe het hy gevoel? “Daardie dinge wat suster Lane vir hom vertel het, het hom gehelp gedurende daardie laaste paar dae.”—Ons kursiveer.
As jy ontberinge ly as gevolg van ’n regsdwaling sal dit vir jou goed wees om Bybelwaarhede te lees en te bepeins. Dit kan groot vertroosting bied, aangesien Jehovah God “die Vader van tere barmhartighede en die God van alle vertroosting [is], wat ons in al ons verdrukking vertroos”.—2 Korintiërs 1:3, 4.
[Prent op bladsy 29]
’n Verskriklike onreg is gepleeg toe Christus tereggestel is