’n Baie spesiale troue
IN DIE noorde van Mosambiek lê ’n mooi groen vallei wat omring word deur pragtige berge—party is rotsagtig en ander word deur geil plantegroei bedek. Dit is waar die dorpie Fíngoè geleë is. Op helder winteraande vonkel die sterre aan die hemel, en die maan is so helder dat dit die strooidakhuise van die dorpenaars verlig. Dit was in hierdie pragtige omgewing wat ’n unieke troue plaasgevind het.
Honderde mense het ure, selfs dae, geloop om hierdie spesiale geleentheid by te woon. Party het deur onherbergsame en gevaarlike gebiede geloop waarin hiënas, leeus en olifante voorkom. Buiten persoonlike bagasie het baie besoekers hoenders, bokke en groente saamgebring. Nadat hulle by die dorpie aangekom het, het hulle na ’n oop area gegaan wat gewoonlik vir Christelike byeenkomste gebruik word. Hoewel hulle moeg was van die reis, was hulle gelukkig, en hulle stralende gesigte was ’n weerspieëling van hoe gretig hulle uitgesien het na wat sou volg.
Wie het getrou? Daar was baie! Ja, daar was tientalle paartjies. Hulle was nie deel van die een of ander massatroue om opslae in die nuus te maak nie. Inteendeel, hulle was opregte manne en vroue met goeie beweegredes wat voorheen nie hulle huwelike kon registreer nie omdat hulle in afgeleë gebiede ver van registrasiekantore gewoon het. Al hierdie manne en vroue het bewus geword van God se standaarde in verband met die huwelik terwyl hulle die Bybel saam met Jehovah se Getuies bestudeer het. Hulle het geleer dat hulle volgens die wette van die land moes trou om hulle Skepper, die Insteller van die huwelik, te behaag, net soos Josef en Maria aan die registrasievereistes voldoen het ten tye van Jesus se geboorte.—Lukas 2:1-5.
Die voorbereidings vir die gebeurtenis
Die takkantoor van Jehovah se Getuies in Mosambiek het besluit om te help. Eerstens is daar met die Ministeries van Justisie en Binnelandse Sake in die land se hoofstad, Maputo, in verbinding getree om vas te stel watter prosedures deur die wet vereis word. Daarna het die sendelinge in die hoofstad van die provinsie Tete met die plaaslike owerheid in aanraking gekom om die reëlings verder te koördineer. ’n Datum is bepaal vir die sendelinge en amptenare van die Notariskantoor en die Departement Burgerlike Identifisering om na die dorpie Fíngoè te reis. Intussen het die takkantoor ’n brief ter verduideliking gestuur om riglyne te voorsien aan al die betrokke gemeentes. Die Getuies sowel as die plaaslike amptenare het gretig na die unieke gebeurtenis uitgesien.
Op Sondag, 18 Mei 1997, het drie sendelinge tesame met regeringsamptenare in Fíngoè aangekom. Die plaaslike owerheid het gerieflike verblyf vir die amptenare langs die administrasiegebou in gereedheid gebring. Maar die besoekende amptenare was so beïndruk deur die gasvryheid van Jehovah se Getuies dat hulle verkies het om saam met die sendelinge in tydelike hutte te bly. Hulle was verbaas om uit te vind dat een van die kokke ’n ouer man in die plaaslike gemeente is en dat ’n reisende opsiener onder die vrywilligers was wat die nederiger werkies ter voorbereiding van die troue gedoen het. Hulle het ook die goeie gesindheid van die sendelinge opgemerk, wat, sonder om te kla, in ’n eenvoudige hut gebly het en ’n klein kannetjie gebruik het om hulle mee te was. Nog nooit het hulle so ’n sterk band tussen mense van sulke uiteenlopende agtergronde gesien nie. Wat hulle egter die meeste beïndruk het, was die geloof wat persone aan die dag gelê het om groot opofferings te maak sodat hulle hulle lewe in ooreenstemming met die landswet en die reëling van God kon bring.
’n Vreugdevolle geleentheid
Namate die paartjies opgedaag het, het hulle onmiddellik begin om hulle vir die eerste deel van die troue voor te berei: die verkryging van ’n geboortesertifikaat. Almal het geduldig tou gestaan voor die span van die Burgerlike Registrasie om hulle persoonlike inligting te gee. Toe het hulle verder gegaan na ’n ander tou om foto’s van hulle te laat neem, waarna hulle na die span van die Departement Burgerlike Identifisering gegaan het om hulle identiteitskaartjies te kry. Daarna het hulle teruggekeer na die span van die Burgerlike Registrasie om die huweliksertifikaat op te stel wat hulle so graag wou hê. Hierna het hulle geduldig gestaan en wag vir hulle name om oor die spreektrompet uitgeroep te word. Die oorhandiging van die huweliksertifikate was ’n emosionele toneel. Daar was groot vreugde terwyl al die egpare hulle huweliksertifikaat soos ’n kosbare trofee in die lug gehou het.
Dit alles het onder die skroeiende son plaasgevind. Maar die vreugde van die geleentheid is nie deur die hitte of stof gedemp nie.
Die mans was netjies uitgevat, talle het baadjies en dasse gedra. Die vroue was op die tradisionele manier geklee, onder andere met ’n lang, kleurryke kledingstuk wat ’n capulana genoem word om hulle middel. Party het babas gedra wat in soortgelyke materiaal toegedraai was.
Dinge het goed verloop, maar daar was te veel paartjies om almal in een dag te help. Toe dit donker word, het die regeringsamptenare goedgunstig besluit om voort te gaan om die paartjies te bedien. Hulle het gesê dat hulle nie “ons broers” kon laat wag nadat hulle alreeds sulke groot opofferings gemaak het om daar te wees nie. Hierdie gees van samewerking en selfopoffering sal altyd onthou word.
Saam met die nag het snerpende koue gekom. Hoewel ’n paar slaapplek in hutte gehad het, was die meeste van die egpare buite, waar hulle in groepies om vure gesit het. Dit het geensins afbreuk gedoen aan die vreugde van die geleentheid nie. Bo die geknetter van die vure kon ’n mens die gelag en die sang hoor van liedere, wat in vierstemmige harmonie gesing is. Baie het verhale van hulle reis vertel, terwyl hulle hulle pasverkrygde dokumente styf vasgehou het.
Teen dagbreek het party na die middedorp gegaan om hulle hoenders, bokke en groente te gaan verkoop om tot die koste van die registrasie van hulle huwelike by te dra. Baie het werklik “offerandes” van daardie diere gemaak deur hulle ver onder die werklike waarde te verkoop. Vir arm mense is ’n bok ’n kosbare en duur item; tog was hulle gewillig om hierdie opoffering te maak om te trou en hulle Skepper te behaag.
Beproewinge van die reis
Party van die egpare het ver geloop om daar te wees. Dit was die geval met Chamboko en sy vrou, Nhakulira. Hulle het hulle verhaal op die tweede aand vertel terwyl hulle hulle voete by ’n vuur warm gemaak het. Hoewel Chamboko 77 jaar oud is, in een oog blind is en slegte sig in die ander het, het hy drie dae lank kaalvoet geloop saam met die res van sy gemeente, want hy was vasbeslote om sy verbintenis van 52 jaar te wettig.
Anselmo Kembo, wat 72 jaar oud is, het reeds sowat 50 jaar saam met Neri gewoon. ’n Paar dae voor die reis het ’n groot doring diep in sy been gesteek terwyl hy sy land bewerk het. Hy is inderhaas na die naaste hospitaal geneem vir behandeling. Hy het nietemin besluit om die reis te voet af te lê en het vol pyn al hinkende-pinkende na Fíngoè geloop. Dit het drie dae geneem. Anselmo kon nie sy vreugde beteuel terwyl hy sy huweliksertifikaat in die hand gehou het nie.
’n Ander noemenswaardige pasgetroude was Evans Sinóia, wat voorheen ’n veelwywer was. Toe hy die waarheid van God se Woord geleer het, het hy besluit om sy huwelik met sy eerste vrou te wettig, maar sy het geweier en het by ’n ander man gaan woon. Sy tweede vrou, wat ook die Bybel bestudeer het, het ingestem om met hom te trou. Albei van hulle het deur ’n gevaarlike gebied met leeus en ander wilde diere geloop. Ná ’n reis van drie dae het hulle ook daarin geslaag om hulle huwelik te wettig.
Vrydag, vyf dae ná die sendelinge en amptenare se aankoms, was die werk voltooi. Die resultaat was dat 468 identiteitskaartjies en 374 geboortesertifikate uitgereik is. Die aantal huweliksertifikate wat uitgereik is, was 233! Die atmosfeer wat geheers het, was een van ongekende vreugde. Hoewel hulle moeg was, het almal saamgestem dat dit beslis die moeite werd was. Daardie geleentheid sal ongetwyfeld onuitwisbaar geprent bly in die verstande en harte van almal wat daarby betrokke was. Dit was waarlik ’n baie spesiale troue!