“God se weg”-byeenkoms vir 1998-1999 is op hande!
IN Suidelike Afrika is byeenkomste vir Desember en Januarie op 21 verskillende plekke gereël. Een van hierdie driedaagse samekomste sal waarskynlik in ’n stad in jou omgewing gehou word. Op die meeste plekke sal die program elke dag—Vrydag tot Sondag—om 9:30 vm. met musiek begin.
Vrydagoggend se program sal die aandag vestig op verslae oor die vordering van die Koninkrykspredikingswerk in verskeie dele van die wêreld. En die tema van die byeenkoms sal sterk na vore kom in die programrede “Christus se losprys—God se middel tot redding.”
In die middag sal die simposium, “Ouers—Skerp God se weg by julle kinders in”, wenke gee oor hoe jongmense gemotiveer kan word om Jehovah lief te hê en te dien. Die middagprogram sal afsluit met die toespraak “Is daar lewe ná die dood?”
Saterdagoggend se program laat die klem val op die dissipelmaakwerk van Jehovah se Getuies in drie opeenvolgende dele met die titel “Help mense om op die weg na die lewe te kom”, “Die uitdaging om mense te bereik” en “Leer dissipels alles wat Christus beveel het”. Aan die einde van die oggendprogram sal daar ’n geleentheid wees vir nuwe dissipels om gedoop te word.
Die openingstoespraak Saterdagmiddag, “Dien met eindelose lewe in die vooruitsig”, gaan ons aanmoedig om biddend na te dink oor ons eie redes waarom ons God dien. Die toesprake “Waardeer ‘gawes in die vorm van mense’ wat ons God se weg leer” en “Persoonlikheid–Lê die oue af en beklee julle met die nuwe” voorsien ’n insiggewende vers-vir-vers-bespreking van Efesiërs hoofstuk 4. Daarna sal uitstekende skriftuurlike raad gegee word in die toespraak “Bewaar jou vlekkeloos van die wêreld” en in die driedelige simposium “Jongmense—Volg God se weg”. Die middagprogram word afgesluit met die toespraak “Die Skepper—sy persoonlikheid en sy weë”.
Sondagoggend se program sal ’n driedelige simposium insluit wat die slothoofstukke van die Bybelboek Esegiël sal bespreek, asook hulle profetiese toepassing. Die oggendprogram sal afsluit met die gekostumeerde drama wat gebaseer is op die getrouheid van die drie Hebreeuse jongmanne. Die byeenkomshoogtepunt in die middag is die openbare toespraak “Die enigste weg tot die ewige lewe.”
Jy sal beslis geestelik verryk word as jy al drie dae teenwoordig is. Jy word hartlik uitgenooi om elke sessie by te woon, waarvan die bywoning natuurlik gratis is. Tree gerus met die plaaslike Koninkryksaal van Jehovah se Getuies in verbinding of skryf aan die uitgewers van hierdie tydskrif vir inligting oor waar die byeenkoms naaste aan jou gehou sal word.