Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w98 5/15 bl. 24-27
  • Jy kán geestelik vooruitgang maak

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jy kán geestelik vooruitgang maak
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Jehovah versterk sy knegte
  • ‘Lê die ou persoonlikheid af’
  • Soos ’n “vuur” binne-in ons
  • Geslyp soos deur yster
  • Goeie rede om geestelik vooruitgang te maak
  • Waarom is diamante so duur?
    Ontwaak!—1997
  • Van klip tot edelsteen
    Ontwaak!—1999
  • Waardeer jy Jehovah se aardse organisasie?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Die ontstaan van die moderne diamantbedryf
    Ontwaak!—2005
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
w98 5/15 bl. 24-27

Jy kán geestelik vooruitgang maak

DIT kan moeilik wees om die werklike waarde van iets te bepaal. Dit is die geval met diamante. Hoewel ’n geslypte diamant skitter, het ’n ongeslypte diamant net ’n dowwe glans. Maar diep in die ongeslypte diamant lê die onmiskenbare belofte van ’n pragtige juweel opgesluit.

Christene is in baie opsigte soos ongeslypte diamante. Hoewel ons nog ver van volmaaktheid af is, het ons wel innerlike waarde wat vir Jehovah kosbaar is. Soos diamante het ons almal ons eie unieke eienskappe. En elkeen van ons kan verdere geestelike vooruitgang maak as dit ons opregte begeerte is. Ons persoonlikhede kan geslyp word, sodat dit meer kan skitter tot Jehovah se heerlikheid.—1 Korintiërs 10:31.

Nadat ’n diamant gesny en geslyp is, word dit in ’n montuur geplaas wat die terugkaatsende eienskappe daarvan verhoog. Jehovah kan ons eweneens in verskillende “monture”, oftewel toewysings, gebruik as ons ons “met die nuwe persoonlikheid . . . beklee, wat na God se wil in ware regverdigheid en lojaliteit geskep is”.—Efesiërs 4:20-24.

Dit is miskien nie maklik om sulke geestelike vooruitgang te maak nie, net soos ’n diamant in sy natuurlike toestand selde soos ’n juweel skitter. Dalk moet ons ons vrymaak van die een of ander swakheid wat ons nog het, ons gesindheid teenoor die aanvaarding van verantwoordelikheid verander of ons selfs inspan om uit ’n geestelike groef te kom. Maar ons kan wel vooruitgang maak as ons werklik wil, want Jehovah God kan ons “die krag wat bo die normale is”, gee.—2 Korintiërs 4:7; Filippense 4:13.

Jehovah versterk sy knegte

Selfvertroue wat uit deeglike kennis spruit, is nodig om diamante te sny, want as ’n deel van die ongeslypte diamant eers weggesny is, is dit gewoonlik nutteloos. Duur materiaal—soms tot 50 persent van die ongeslypte steen—moet weggesny word om die verlangde vorm te kry. Ons het ook vertroue nodig wat uit juiste kennis spruit om ons persoonlikheid te vorm en om geestelik vooruitgang te maak. Ons moet veral die vertroue hê dat Jehovah ons die krag sal gee.

Maar dalk voel ons onbevoeg of dink ons dat ons nie in staat is om meer te doen nie. In die verlede het getroue knegte van God soms so gevoel (Exodus 3:11, 12; 1 Konings 19:1-4). Toe Jeremia die toewysing van God ontvang het om ’n “profeet vir die nasies” te wees, het hy uitgeroep: “Ek kan nie praat nie, want ek is jonk” (Jeremia 1:5, 6). Hoewel Jeremia huiwerig was, het hy ’n moedige profeet geword wat reguit boodskappe aan ’n vyandige volk gebring het. Hoe was dit moontlik? Hy het geleer om op Jehovah te vertrou. Jeremia het later geskryf: “Geseënd is die man wat op die HERE vertrou, en wie se vertroue die HERE is.”—Jeremia 17:7; 20:11.

Vandag versterk Jehovah eweneens diegene wat hulle vertroue in hom stel. Edwarda, ’n vader van vier wat gesukkel het om geestelik vooruitgang te maak, het die waarheid hiervan ondervind. Hy verduidelik: “Ek was al nege jaar een van Jehovah se Getuies, maar dit het vir my gevoel of ek geestelik stilstaan. Die probleem was dat ek min motivering en geen selfvertroue gehad het nie. Nadat ek Spanje toe verhuis het, was ek in ’n klein gemeente wat net een ouer man en een bedieningskneg gehad het. Omdat daar baie hulp nodig was, het die ouer man my gevra om talle toewysings te behartig. Ek het gebewe toe ek my eerste toesprake en vergaderingdele gehou het. Maar ek het geleer om op Jehovah te steun. Die ouer man het my altyd geprys en het my op taktvolle wyse wenke gegee om te verbeter.

“Ek het terselfdertyd my deelname aan die veldbediening vermeerder en beter geestelike leiding in my gesin gegee. Die gevolg was dat die waarheid groter betekenis vir almal in die gesin gehad het, en ek het soveel gelukkiger gevoel. Ek is nou ’n bedieningskneg, en ek werk hard daaraan om die eienskappe van ’n Christenopsiener aan te kweek.”

‘Lê die ou persoonlikheid af’

Soos Edward besef het, vereis geestelike vooruitgang vertroue op Jehovah. Dit is ook noodsaaklik om die Christelike “nuwe persoonlikheid” aan te kweek. Hoe kan dit gedoen word? ’n Eerste stap is om die eienskappe ‘af te lê’ wat deel van die ou persoonlikheid is (Kolossense 3:9, 10). Net soos gebreke, soos vreemde minerale, van ’n ongeslypte diamant verwyder moet word om dit ’n skitterende juweel te maak, net so moet ons ontslae raak van gesindhede “wat tot die wêreld behoort” sodat ons nuwe persoonlikheid kan deurskyn.—Galasiërs 4:3.

Een van hierdie gesindhede is ’n onwilligheid om verantwoordelikheid te aanvaar uit vrees dat te veel van ons vereis sal word. Verantwoordelikheid beteken weliswaar werk, maar dit is ’n bevredigende werk. (Vergelyk Handelinge 20:35.) Paulus het erken dat godvrugtige toegewydheid vereis dat ons ‘hard werk en ons inspan’. Ons doen dit blymoedig, het hy gesê, “omdat ons ons hoop gevestig het op ’n lewende God”, wat nooit die werk vergeet wat ons ten behoewe van ons mede-Christene en ander doen nie.—1 Timoteus 4:9, 10; Hebreërs 6:10.

Party diamante het ’n swak plek wat gedurende die vorming daarvan ontstaan het en moet versigtig hanteer word. Met behulp van ’n instrument wat ’n polariskoop genoem word, kan die slyper egter die swak plek vind en met sukses aan die steen werk. Miskien het ons ’n swakheid, of persoonlikheidsgebrek, weens ons agtergrond of ’n traumatiese ondervinding. Wat kan ons doen? Ons moet eerstens aan onsself erken dat ons ’n probleem het en besluit om dit na die beste van ons vermoë te probeer oorkom. Ons moet beslis ons hart voor Jehovah in gebed uitstort en moontlik ook die geestelike hulp van ’n Christen- ouer man probeer verkry.—Psalm 55:23; Jakobus 5:14, 15.

Nicholas het ’n probleem met so ’n innerlike swakheid gehad. “My pa was ’n alkoholis, en hy het my en my suster baie laat ly”, verduidelik hy. “Toe ek die skool verlaat, het ek by die weermag aangesluit, maar my opstandige geaardheid het my gou in die moeilikheid laat beland. Die weermagowerheid het my in die tronk opgesluit weens dwelmhandel, en by ’n ander geleentheid het ek gedros. Uiteindelik het ek die weermag verlaat, maar ek het nog steeds probleme gehad. Hoewel my lewe ’n gemors was omdat ek dwelms misbruik en swaar gedrink het, het ek in die Bybel belanggestel, en ek wou baie graag ’n doel in die lewe hê. Uiteindelik het ek met Jehovah se Getuies in aanraking gekom, my lewenswyse verander en die waarheid aangeneem.

“Dit het egter jare geneem voordat ek aanvaar het dat ek ’n persoonlikheidsgebrek het. Ek het ’n diepe afkeer van gesag gehad en het my vererg elke keer wanneer ek raad ontvang het. Hoewel ek graag ten volle deur Jehovah gebruik wou word, het hierdie swakheid my teruggehou. Uiteindelik het ek danksy die hulp van twee simpatieke ouer manne my probleem erken en hulle liefdevolle skriftuurlike raad begin toepas. Hoewel ek van tyd tot tyd nog ’n bietjie aanstoot neem, beheers ek nou my opstandige geaardheid. Ek is baie dankbaar teenoor Jehovah vir die geduldige manier waarop hy met my gehandel het en vir die liefdevolle hulp van die ouer manne. Weens my geestelike vooruitgang is ek onlangs as ’n bedieningskneg aangestel.”

Soos Nicholas uitgevind het, is dit nie maklik om diepgewortelde gesindhede te verander nie. Ons het dalk met ’n soortgelyke uitdaging te kampe. Miskien is ons te fyngevoelig. Miskien koester ons ’n grief of dalk lê ons te veel klem op onafhanklikheid. Gevolglik word ons Christelike vooruitgang dalk belemmer. Diamantslypers ondervind iets soortgelyks met stene wat hulle naats noem. Dit is in werklikheid twee stene wat in een versmelt het gedurende die vorming van die diamant. Daarom het naats twee teenstrydige groeipatrone wat dit baie moeilik maak om dit saam met die draad te sny. In ons geval vind ons dat ons gewillige gees ’n stryd voer teen die onvolmaakte vlees (Matteus 26:41; Galasiërs 5:17). Soms voel ons dalk geneig om die stryd heeltemal gewonne te gee, aangesien ons rasionaliseer dat onvolmaakthede in ons persoonlikheid in elk geval nie belangrik is nie. ‘Per slot van rekening’, sê ons dalk, ‘my familie en vriende is nog steeds lief vir my.’

Maar as ons ons broers wil dien en ons hemelse Vader wil verheerlik, moet ons ‘vernuwe word in die krag wat ons verstand aandryf’ deur ons met die nuwe persoonlikheid te beklee. Dit is die moeite werd, soos Nicholas en talle ander kan getuig. ’n Diamantslyper weet dat een smet die hele diamant kan ontsier. Net so kan ons deur ’n swakheid van ons persoonlikheid te verwaarloos ons geestelike voorkoms bederf. Nog erger, ’n ernstige swakheid kan tot ons geestelike ondergang lei.—Spreuke 8:33.

Soos ’n “vuur” binne-in ons

Die diamantslyper probeer die vuur binne-in die diamant vasvang. Dit word gedoen deur die fasette so te rangskik dat dit die sogenaamde reënboogeffek skep. Binne-in die diamant weerkaats die veelkleurige lig heen en weer, wat die vuur voortbring wat die diamant laat glinster. God se gees kan eweneens soos ’n “vuur” binne-in ons wees.—1 Tessalonisense 5:19; Handelinge 18:25; Romeine 12:11.

Maar gestel ons besef dat ons geestelik gemotiveerd moet raak. Hoe kan dit gedoen word? Ons moet ons “weë oordink” (Psalm 119:59, 60). Dit sal behels dat ons daardie dinge identifiseer wat ons geestelike groei belemmer en dan vasstel watter teokratiese bedrywighede ons met groter ywer moet nastreef. Ons kan ons waardering vir geestelike dinge vergroot deur gereelde persoonlike studie en innige gebed (Psalm 119:18, 32; 143:1, 5, 8, 10). Bowendien kan ons ons voorneme om Jehovah ywerig te dien verder versterk deur te assosieer met diegene wat hard in die geloof werk.—Titus 2:14.

Louise, ’n jong Christenvrou, het erken: “Ek het gewone pionierdiens twee jaar lank oorweeg voordat ek eintlik as ’n pionier, of voltydse Koninkryksverkondiger, begin dien het. Niks het my teruggehou nie, maar ek het ’n gemaklike lewe gelei en het geen poging aangewend om dit op te gee nie. Toe is my pa skielik oorlede. Ek het besef hoe broos die lewe is en dat ek my lewe nie ten beste benut nie. Ek het dus my geestelike uitkyk verander, my diens uitgebrei en ’n gewone pionier geword. Wat my in hierdie verband veral gehelp het, was my geestelike broers en susters wat altyd die velddiensreëlings ondersteun het en wat gereeld saam met my in die veldbediening uitgegaan het. Ek het geleer dat ons waardes en doelwitte, hetsy goed of sleg, dieselfde is as dié van persone met wie ons omgaan.”

Geslyp soos deur yster

Diamante is die hardste natuurlike stof op die aarde. Daarom is een diamant nodig om ’n ander een te sny. Dit herinner Bybelstudente moontlik aan die spreuk wat sê: “Yster slyp yster, so slyp die een mens die persoon [“gesig”, NW] van die ander” (Spreuke 27:17). Hoe word iemand se gesig ‘geslyp’? Een persoon slaag moontlik daarin om die verstandelike en geestelike toestand van iemand anders te slyp net soos ’n stuk yster gebruik kan word om ’n lem te slyp wat van dieselfde metaal gemaak is. As ons byvoorbeeld terneergedruk raak weens die een of ander teleurstelling kan iemand anders se aanmoediging baie opbouend wees. Ons hartseer gelaat kan dus verander na ’n vrolike gelaat, en ons kan weer met lewe besiel word vir hernieude ywerige bedrywigheid (Spreuke 13:12). Veral gemeentelike ouer manne kan help om ons te slyp deur ons skriftuurlike aanmoediging en raad te gee om te verbeter. Hulle volg die beginsel wat Salomo opgeteken het: “Deel mee aan die wyse, en hy sal nog wyser word, leer die regverdige, en hy sal insig vermeerder.”—Spreuke 9:9.

Geestelike opleiding neem natuurlik tyd. Timoteus het meer as tien jaar baat gevind by die apostel Paulus se ondervinding en onderrigmetodes (1 Korintiërs 4:17; 1 Timoteus 4:6, 16). Die uitvoerige opleiding wat Moses Josua oor ’n tydperk van 40 jaar gegee het, het die nasie Israel lank tot voordeel gestrek (Josua 1:1, 2; 24:29, 31). Elisa het Elia moontlik 6 jaar lank vergesel, waartydens hy ’n goeie grondslag vir sy eie bediening ontvang het wat ongeveer 60 jaar sou duur (1 Konings 19:21; 2 Konings 3:11). Deur geduldig voortgesette opleiding te verskaf, volg ouer manne die voorbeeld van Paulus, Moses en Elia.

Lof is ’n noodsaaklike deel van opleiding. Opregte betuigings van waardering vir toewysings wat goed behartig is of vir lofwaardige dade kan ander aanspoor om God in voller mate te dien. Lofbetuigings bou selfvertroue op wat weer die aansporing voorsien om swakhede te probeer oorkom. (Vergelyk 1 Korintiërs 11:2.) Aanmoediging om vooruitgang in die waarheid te maak, word ook daaruit verkry as ’n mens jou intensief besig hou met die Koninkrykspredikingswerk en ander gemeentelike bedrywighede (Handelinge 18:5). Wanneer ouer manne toewysings aan broers gee in ooreenstemming met hulle geestelike vooruitgang gee dit hierdie manne waardevolle ondervinding en sal dit waarskynlik hulle begeerte versterk om geestelik vooruitgang te bly maak.—Filippense 1:8, 9.

Goeie rede om geestelik vooruitgang te maak

Diamante word as kosbaar beskou. Dieselfde is waar van diegene wat nou met die wêreldwye familie van Jehovah se aanbidders begin omgaan. Trouens, God self noem hulle die “begeerlike”, of “kosbare”, dinge van al die nasies (Haggai 2:7, voetnoot in NW). Verlede jaar het 375 923 mense gedoopte Getuies van Jehovah geword. Om in die behoefte te voorsien wat hierdie vermeerdering meebring, moet ‘die tent wyd gemaak’ word. Deur geestelik vooruitgang te maak—en Christelike diensvoorregte na te streef—kan ons help met die werk wat met hierdie uitbreiding gepaardgaan.—Jesaja 54:2; 60:22.

Anders as talle kosbare diamante wat in bankkluise gehou word en selde gesien word, kan ons geestelike waarde skitter. En namate ons gereeld ons Christelike eienskappe slyp en aan die dag lê, verheerlik ons Jehovah God. Jesus het sy volgelinge aangespoor: “Laat julle lig . . . voor die mense skyn, sodat hulle julle voortreflike werke kan sien en heerlikheid kan gee aan julle Vader wat in die hemele is” (Matteus 5:16). Dit gee ons beslis goeie rede om geestelik vooruitgang te maak.

[Voetnoot]

a Die name in hierdie artikel is verander.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel