Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w98 4/1 bl. 3-5
  • Die gesin—In gevaar!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die gesin—In gevaar!
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wat is die bedreiging?
  • Enkelouergesinne aan die toeneem
  • Die egskeidingsontploffing
    Ontwaak!—1992
  • Kan die huwelik die storm deurstaan?
    Ontwaak!—2006
  • Egskeiding het wel slagoffers
    Ontwaak!—1991
  • Egskeiding—Waar die Ooste die Weste ontmoet
    Ontwaak!—1993
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
w98 4/1 bl. 3-5

Die gesin—In gevaar!

DIE meeste sprokiesverhale het ’n gelukkige einde waar almal lank en gelukkig saamlewe. Maar dié soort slot is vandag op al hoe minder huwelike van toepassing. Die huweliksbelofte om mekaar ‘in voorspoed en teëspoed lief te hê solank as wat albei lewe’, is alte dikwels net leë woorde. Die moontlikheid om ’n gelukkige gesin te hê, lyk na ’n dobbelspel waarby jy nie veel van ’n kans op sukses het nie.

Tussen 1960 en 1990 het egskeidingsyfers in die meeste Westerse nywerheidslande meer as verdubbel. In party lande het dit verviervoudig. Elke jaar word daar in Swede byvoorbeeld ongeveer 35 000 huwelike voltrek, en omtrent die helfte daarvan sal op die ou end verbrokkel, wat meer as 45 000 kinders sal raak. Paartjies wat saamwoon sonder om te trou, verlaat mekaar teen ’n selfs groter tempo, wat nog tienduisende kinders raak. ’n Soortgelyke neiging begin in lande regoor die wêreld kop uitsteek, soos die venster op bladsy 5 toon.

Dit is waar dat gebroke gesinne en die ontbinding van huwelike niks nuuts in die geskiedenis is nie. Die kodeks van Hammoerabi van die 18de eeu v.G.J. het wette ingesluit wat egskeiding in Babilonië toegelaat het. Selfs die Mosaïese Wet, wat in die 16de eeu v.G.J. van krag geword het, het egskeiding in Israel toegelaat (Deuteronomium 24:1). Maar gesinsbande was nog nooit so swak soos in hierdie 20ste eeu nie. Meer as ’n dekade gelede het ’n koerantrubriekskrywer geskryf: “Vyftig jaar van nou af sal ons dalk nie eens enige gesinne in die tradisionele sin hê nie. Hulle sal dan miskien deur verskillende soort groepe vervang wees.” En dit lyk asof die neiging sedertdien sy mening bevestig. Die gesinsinstelling het so vinnig agteruitgegaan dat die volgende vraag al hoe toepasliker word: “Sal dit behoue bly?”

Waarom is dit vir soveel paartjies so moeilik om bymekaar te bly en hulle gesin verenig te hou? Wat is die geheim van diegene wat ’n lang lewe saam geniet het en hulle silwer- en goue bruilof met vreugde vier? Terloops, in 1983 is daar berig dat ’n man en ’n vrou in die voormalige Sowjetrepubliek Aserbaidjan hulle 100ste huweliksherdenking gevier het—op die ouderdom van 126 en 116 onderskeidelik.

Wat is die bedreiging?

In baie lande is egbreuk, verstandelike of fisiese mishandeling, verlating, alkoholisme, impotensie, kranksinnigheid, bigamie en dwelmverslawing ’n paar van die gronde vir ’n wettige egskeiding. Maar ’n algemener oorsaak is dat die onderliggende gesindheid teenoor die huwelik en tradisionele gesinslewe ingrypend verander het, veral gedurende die laaste dekades. Respek vir ’n instelling wat lank as heilig beskou is, het afgeneem. Hebsugtige vervaardigers van musiek, rolprente, TV-strooisages en gewilde lektuur verheerlik sogenaamde seksuele vryheid, onsedelikheid, losbandige gedrag en ’n egosentriese lewenswyse. Hulle bevorder ’n kultuur wat die verstande en harte van oud sowel as jonk besoedel.

’n Meningsopname in 1996 het getoon dat 22 persent van die Amerikaners sê dat ’n buite-egtelike verhouding soms goed vir ’n huwelik kan wees. ’n Spesiale uitgawe van een van Swede se vernaamste koerante, Aftonbladet, het vroue aangespoor om te skei aangesien “dit sake net kan verbeter”. Party populêre sielkundiges en antropoloë het selfs gissings gemaak dat die mens deur evolusie “geprogrammeer” is om elke paar jaar van maats te verwissel. Met ander woorde, hulle gee te kenne dat buite-egtelike verhoudings en egskeidings natuurlik is. Party voer selfs aan dat die ouers se egskeiding goed vir die kinders kan wees, aangesien dit hulle daarop voorberei om eendag hulle eie egskeiding te verwerk!

Talle jongmense wil nie meer ’n tradisionele gesinslewe, met ’n vader, moeder en kinders, hê nie. “Ek kan my nie my hele lewe met dieselfde maat voorstel nie”, is ’n gewilde beskouing. “Die huwelik is soos Kersfees, net ’n sprokie. Ek glo eenvoudig nie daaraan nie”, het ’n 18-jarige Deense jong man gesê. “Die gevoel is: Waarom die moeite doen om saam met [mans] te lewe en hulle sokkies te was”, het Noreen Byrne van die Nasionale Vroueraad in Ierland gesê. “Flankeer net met hulle, maar moenie jou verbind nie . . . Baie vroue besluit dat hulle sonder mans kan klaarkom.”

Enkelouergesinne aan die toeneem

Hierdie gesindheid het dwarsoor Europa tot ’n vinnige toename in enkelmoeders gelei. Van hierdie enkelouers is tieners wat meen dat ’n onbeplande swangerskap nie verkeerd is nie. Ander is vroue wat verkies om hulle kind alleen groot te maak. Die meeste is moeders wat ’n tyd lank saam met die vader woon sonder dat hulle enigsins van plan is om met hom te trou. Die tydskrif Newsweek het verlede jaar ’n voorbladreeks gehad oor die vraag: “Die einde van die huwelik?” Dit het getoon dat die persentasie van kinders wat buite-egtelik gebore word in Europa vinnig toeneem en dit lyk of niemand hulle daaroor bekommer nie. Swede staan dalk boaan die lys, want die helfte van alle babas daar word buite die huwelik gebore. In Denemarke en Noorweë is dit byna die helfte, en in Frankryk en Engeland is dit sowat 1 uit 3.

In die Verenigde State het twee-ouergesinne in die laaste paar dekades geweldig afgeneem. ’n Verslag lui: “In 1960 . . . het 9 persent van alle kinders in enkelouerhuise gewoon. Teen 1990 het daardie syfer tot 25 persent gestyg. Vandag word 27,1 persent van alle Amerikaanse kinders vir enkelouers gebore, ’n syfer wat aan die styg is. . . . Sedert 1970 het die aantal enkelouergesinne meer as verdubbel. Die tradisionele gesin word vandag so bedreig dat dit op die randjie van uitsterwing kan wees, sê party navorsers.”

In lande waar die Rooms-Katolieke Kerk grotendeels sy sedelike gesag verloor het, is enkelouergesinne aan die toeneem. Minder as die helfte van Italiaanse gesinne bestaan uit ’n moeder, vader en kinders, en die tradisionele gesin word vervang deur kinderlose egpare en enkelouergesinne.

Die welsynstelsel in party lande moedig mense in werklikheid aan om nie te trou nie. Enkelmoeders wat welsynsbystand ontvang, sal dit verloor as hulle trou. Enkelmoeders in Denemarke ontvang bykomende kindersorgtoelaes, en in party gemeenskappe kry minderjarige moeders ekstra geld en word hulle huur betaal. Geld is dus daarby betrokke. Volgens Alf B. Svensson kos ’n egskeiding in Swede belastingbetalers tussen 1,2 miljoen en 1,8 miljoen rand in subsidies, behuisingstoelaes en welsynsbystand.

Dit lyk of die kerke van die Christendom weinig of niks doen om hierdie verwoestende tendens onder gesinne te verander. Baie pastore en geestelikes worstel met hulle eie gesinskrisisse en voel dus onbevoeg om ander te help. Party staan blykbaar selfs egskeiding voor. Die Aftonbladet van 15 April 1996 het berig dat pastoor Steven Allen van Bradford, Engeland, ’n spesiale egskeidingseremonie voorberei het, wat volgens hom as ’n amptelike diens in alle Britse kerke ingestel moet word. “Dit is ’n helende diens om mense te help aanvaar wat met hulle gebeur het. Dit help hulle besef dat God hulle nog liefhet en bevry hulle van hulle pyn.”

Wat is dus die toekoms van die gesinsinstelling? Bestaan daar hoop dat dit behoue sal bly? Kan individuele gesinne hulle eenheid handhaaf terwyl die gesin so erg bedreig word? Lees gerus die volgende artikel.

[Tabel op bladsy 5]

JAARLIKSE TROUES IN VERGELYKING MET EGSKEIDINGS IN PARTY LANDE

LAND JAAR TROUES EGSKEIDINGS

Australië 1993 113 255 48 324

Kanada 1992 164 573 77 031

Kuba 1992 191 837 63 432

Tsjeggiese Republiek 1993 66 033 30 227

Denemarke 1993 31 507 12 991

Estland 1993 7 745 5 757

Frankryk 1991 280 175 108 086

Duitsland 1993 442 605 156 425

Japan 1993 792 658 188 297

Malediwe-eilande 1991 4 065 2 659

Noorweë 1993 19 464 10 943

Puerto Rico 1992 34 222 14 227

Russiese Federasie 1993 1 106 723 663 282

Swede 1993 34 005 21 673

Verenigde Koninkryk 1992 356 013 174 717

Verenigde State 1993 2 334 000 1 187 000

(Gebaseer op die 1994 Demographic Yearbook, Verenigde Nasies, New York 1996)

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel