Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w98 3/1 bl. 26-29
  • Mense “met gevoelens soos ons s’n”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Mense “met gevoelens soos ons s’n”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Moses was eers te vol selfvertroue, toe sagmoedig
  • Elia het gevoelens soos ons s’n gehad toe dissipline toegedien is
  • Jeremia het moed getoon ondanks ontmoediging
  • Jesus het gevoelens soos ons s’n gehad
  • Jehovah se vertroue
  • Sal jy getrou wees soos Elia?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Hy het vertroosting in sy God gevind
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
  • Hy was waaksaam en het gewag
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Hy het vertroosting in sy God gevind
    Volg hulle geloof na
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
w98 3/1 bl. 26-29

Mense “met gevoelens soos ons s’n”

HY WAS ’n koning en ’n profeet, maar ook ’n liefdevolle vader. Een van sy seuns het as volwassene verwaand en trots geword. In ’n verbete poging om die troon onregmatig in besit te neem, het hierdie seun ’n burgeroorlog begin, met die bedoeling om sy vader se dood te veroorsaak. Maar in die geveg wat gevolg het, is die seun doodgemaak. Toe die vader van sy seun se dood verneem, het hy alleen na ’n bovertrek gegaan en geween: “My seun Absalom, my seun, my seun Absalom! Ag, as ek self maar in jou plek gesterf het! Absalom, my seun, my seun!” (2 Samuel 18:33). Die vader was koning Dawid. Soos ander profete van Jehovah was hy “’n mens met gevoelens soos ons s’n”.—Jakobus 5:17.

In Bybeltye was die manne en vroue wat namens Jehovah gespreek het uit verskillende lewenskringe afkomstig, en hulle is in alledaagse situasies gesien. Soos ons het hulle probleme gehad en met onvolmaakthede geworstel. Wie was van hierdie profete, en hoe was hulle gevoelens soos ons s’n?

Moses was eers te vol selfvertroue, toe sagmoedig

Moses was ’n vername profeet van voor-Christelike tye. Maar selfs op 40-jarige ouderdom was hy nie gereed om as Jehovah se woordvoerder te dien nie. Waarom nie? Terwyl sy broers deur Farao van Egipte verdruk is, is Moses in Farao se huis grootgemaak en was hy “kragtig in sy woorde en dade”. Die verslag sê vir ons: “Hy het veronderstel dat sy broers sou begryp dat God hulle deur sy hand redding gee.” Omdat hy te veel selfvertroue gehad het, het hy aggressief opgetree om ’n Hebreeuse slaaf te verdedig en ’n Egiptenaar doodgemaak.—Handelinge 7:22-25; Exodus 2:11-14.

Moses moes toe noodgedwonge vlug, en hy het die volgende vier dekades as ’n skaapwagter in die verafgeleë Midian deurgebring (Exodus 2:15). Teen die einde van daardie tydperk is Moses, wat toe 80 jaar oud was, deur Jehovah as profeet aangestel. Maar Moses het nie meer te veel selfvertroue gehad nie. Hy het so onbevoeg gevoel dat hy sy aanstelling as profeet deur Jehovah bevraagteken het met uitdrukkings soos: “Wie is ek, dat ek na Farao sou gaan?” en: “Wat moet ek . . . antwoord?” (Exodus 3:11, 13). Met Jehovah se liefdevolle gerusstelling en bystand het Moses sy opdrag met groot welslae uitgevoer.

Het jy, soos Moses, al ooit toegelaat dat te veel selfvertroue jou dinge laat doen of sê wat onwys is? Indien wel, moet jy nederig verdere opleiding aanvaar. Of het jy al onbevoeg gevoel om sekere Christelike verantwoordelikhede te behartig? Voordat jy dit van die hand wys, moet jy eerder die hulp aanvaar wat deur Jehovah en sy organisasie voorsien word. Die Een wat Moses gehelp het, kan jou ook bystaan.

Elia het gevoelens soos ons s’n gehad toe dissipline toegedien is

“Elia was ’n mens met gevoelens soos ons s’n, en tog het hy in gebed gebid dat dit nie moet reën nie; en dit het drie jaar en ses maande lank nie in die land gereën nie” (Jakobus 5:17). Elia se gebed was in ooreenstemming met Jehovah se wil om ’n nasie te dissiplineer wat van Hom afvallig geword het. Tog het Elia geweet dat die droogte waarvoor hy bid menselyding sou veroorsaak. Israel was hoofsaaklik ’n landbougemeenskap; mense was afhanklik van dou en reën. Voortdurende droogte sou uiterste ellende meebring. Gewasse sou verwelk; oeste sou misluk. Vee wat aangehou is vir werkdoeleindes en om as voedsel te dien, sou doodgaan, en party gesinne sou verhongering in die oë staar. Wie sou die meeste ly? Die gewone mense. ’n Weduwee het later vir Elia vertel dat sy net ’n hand vol meel en ’n bietjie olie oorgehad het. Sy was vas oortuig dat sy en haar seun weldra van honger sou omkom (1 Konings 17:12). Om daardie gebed te kon doen, moes Elia vaste geloof hê dat Jehovah sou sorg vir Sy knegte—ryk of arm—wat ware aanbidding nie versaak het nie. Soos die verslag toon, is Elia nie teleurgestel nie.—1 Konings 17:13-16; 18:3-5.

Drie jaar later, toe Jehovah aangedui het dat hy binnekort reën sou bring, word Elia se opregte begeerte dat die droogte tot ’n einde kom, gesien in sy herhaalde, innige gebede terwyl hy “op die grond neergebuig en sy aangesig tussen sy knieë gesteek” het (1 Konings 18:42 ). Hy het herhaaldelik by sy dienaar aangedring: “Klim tog op, kyk uit na die see”, vir ’n aanduiding dat Jehovah sy gebede verhoor (1 Konings 18:43). Watter vreugde moes hy tog ervaar het toe “die hemel” uiteindelik, in antwoord op sy gebede, “reën gegee en die land . . . sy vrug voortgebring” het!—Jakobus 5:18.

As jy ’n ouer of ’n ouer man in die Christengemeente is, moet jy moontlik ook met diep gevoelens worstel wanneer jy teregwysing gee. Hierdie menslike emosies moet egter getemper word met die oortuiging dat dissipline soms nodig is en dat dit, wanneer dit met liefde toegedien word, “vreedsame vrug op[lewer], naamlik regverdigheid” (Hebreërs 12:11). Dit bring altyd voordele mee wanneer Jehovah se wette gehoorsaam word. Soos Elia bid ons opreg dat hulle onderhou word.

Jeremia het moed getoon ondanks ontmoediging

Van al die Bybelskrywers was Jeremia moontlik die een wat die meeste oor sy persoonlike gevoelens geskryf het. As ’n jong man was hy huiwerig om sy opdrag te aanvaar (Jeremia 1:6). Hy het God se woord nietemin met groot moed begin verkondig en te staan gekom voor hewige teenkanting van mede-Israeliete—van die koning tot die gewone mens. Daardie teenkanting het hom soms tot woede en trane gedryf (Jeremia 9:3; 18:20-23; 20:7-18). Hy is by verskillende geleenthede aangeval, geslaan, in die nekyster gesit, in die gevangenis gegooi, met die dood gedreig en in die modder onder in ’n leë put gelos om te sterf. Soms het selfs Jehovah se boodskap vir hom pyn veroorsaak, soos deur sy woorde getoon word: “O die krampe in my ingewande, o die benoudheid in my hart!”—Jeremia 4:19, NAV.

Nogtans het hy Jehovah se woord liefgehad en gesê: “U woord was vir my vreugde en vrolikheid vir my hart” (Jeremia 15:16). Terselfdertyd het frustrasie hom tot Jehovah laat uitroep: “Sou U vir my waarlik wees soos ’n bedrieglike stroom, waters wat nie standhoudend is nie”, soos dié van ’n stroom wat maklik opdroog? (Jeremia 15:18). Jehovah het nietemin sy teenstrydige gevoelens verstaan en hom bly ondersteun sodat hy sy opdrag kon uitvoer.—Jeremia 15:20; sien ook 20:7-9.

Kom jy, soos Jeremia, voor frustrasie of teenkanting te staan wanneer jy jou bediening uitvoer? Vertrou op Jehovah. Hou aan om sy leiding te volg, en Jehovah sal ook jou pogings seën.

Jesus het gevoelens soos ons s’n gehad

Die grootste profeet van alle tye was God se eie Seun, Jesus Christus. Hoewel hy ’n volmaakte man was, het hy nie sy emosies onderdruk nie. Ons lees dikwels van sy innerlike gevoelens, wat ongetwyfeld duidelik was op sy gesig en in sy reaksie op ander. Jesus is dikwels “deur medelye ontroer”, en hy het dieselfde uitdrukking gebruik wanneer hy karakters in sy illustrasies beskryf het.—Markus 1:41; 6:34; Lukas 10:33.

Hy het ongetwyfeld sy stem verhef toe hy die verkopers en diere uit die tempel gedryf het met die woorde: “Neem hierdie goed hier weg!” (Johannes 2:14-16). Petrus se voorstel: “Wees goed vir uself, Here”, het die ferm reaksie uitgelok: “Gaan agter my, Satan!”—Matteus 16:22, 23.

Jesus het spesiale toegeneentheid gehad vir sekeres wat besonder na aan hom was. Die apostel Johannes is beskryf as die “dissipel vir wie Jesus lief was” (Johannes 21:7, 20). En ons lees: “Jesus het Marta en haar suster en Lasarus liefgehad.”—Johannes 11:5.

Jesus kon ook hartseer voel. Omdat die tragedie van Lasarus se dood hom diep getref het, het Jesus “trane begin stort” (Johannes 11:32-36). Jesus het getoon watter hartseer dit hom veroorsaak het om deur Judas Iskariot verraai te word deur ’n aangrypende uitdrukking uit die Psalms aan te haal: “Hy wat hom met my brood gevoed het, het sy hakskeen teen my opgelig.”—Johannes 13:18; Psalm 41:10.

Selfs toe hy ondraaglike pyn aan die folterpaal verduur het, het Jesus sy innige gevoelens getoon. Hy het sy moeder op tere wyse toevertrou aan “die dissipel wat hy liefgehad het” (Johannes 19:26, 27). Toe hy tekens van berou sien by een van die boosdoeners wat langs hom aan ’n paal gehang het, het Jesus medelydend gesê: “Jy sal saam met my in die Paradys wees” (Lukas 23:43). Ons kan die diepe emosie aanvoel toe hy uitgeroep het: “My God, my God, waarom het u my verlaat?” (Matteus 27:46). En sy laaste woorde getuig van opregte liefde en vertroue: “Vader, in u hande vertrou ek my gees toe.”—Lukas 23:46.

Hoe stel dit alles ons tog nie gerus nie! “Want ons het as ’n hoëpriester nie iemand wat nie met ons swakhede kan simpatiseer nie, maar iemand [Jesus] wat in alle opsigte soos ons op die proef gestel is, maar sonder sonde.”—Hebreërs 4:15.

Jehovah se vertroue

Jehovah was nog nooit spyt oor sy keuse van woordvoerders nie. Hy het geweet dat hulle lojaal teenoor hom is, en hy het die swakhede van die onvolmaaktes medelydend oorgesien. Tog het hy van hulle verwag om hulle opdrag uit te voer. Met sy hulp kon hulle dit doen.

Laat ons geduldig wees en vertroue in ons lojale broers en susters stel. Hulle sal in hierdie stelsel van dinge onvolmaak bly, net soos ons. Ons moet nogtans nooit van mening wees dat ons broers nie ons liefde en aandag waardig is nie. Paulus het geskryf: “Maar ons wat sterk is, behoort die swakhede te dra van dié wat nie sterk is nie en nie onsself te behaag nie.”—Romeine 15:1; Kolossense 3:13, 14.

Die profete van Jehovah het al die emosies ervaar wat ons ervaar. Hulle het nogtans op Jehovah vertrou, en Jehovah het hulle onderskraag. Wat meer is, Jehovah het hulle redes tot vreugde gegee—’n goeie gewete, die besef dat hulle sy goedkeuring het, lojale metgeselle wat hulle onderskraag het en die versekering van ’n gelukkige toekoms (Hebreërs 12:1-3). Laat ons ook met volle vertroue in Jehovah aan hom getrou bly terwyl ons die geloof van die eertydse profete navolg, mense “met gevoelens soos ons s’n”.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel