Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w98 2/15 bl. 30-31
  • Waar kan ons ware vriende vind?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Waar kan ons ware vriende vind?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Onderhofies
  • Ware vriendskap
  • Vriendskap met God
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
w98 2/15 bl. 30-31

Waar kan ons ware vriende vind?

DIE mens is met ’n behoefte aan kameraadskap geskep (Genesis 2:18). Die Bybel sê dat ’n ware vriend, of metgesel, “gebore word vir die tyd wanneer daar benoudheid is” (Spreuke 17:17, NW). Ware vriende behoort mekaar dus om hulp te kan vra wanneer dit nodig is. Maar vriendskap behels meer as om net iemand te hê tot wie jy jou kan wend of om mee saam te werk of te ontspan.

Goeie vriende bring die beste in mekaar na vore. Spreuke 27:17 sê: “Yster slyp yster, so slyp die een mens die persoon van die ander.” Net soos ’n stuk yster gebruik kan word om ’n lem te slyp wat van dieselfde metaal gemaak is, kan een vriend die verstandelike en geestelike toestand van ’n ander slyp. As teleurstellings ons ontmoedig, kan ’n vriend se simpatieke blik en skriftuurlike aanmoediging baie bemoedigend wees.

In die Bybel word vriendskap met liefde, gemeensaamheid, vertroulikheid en kameraadskap geassosieer. ’n Mens kan vriende met jou bure, werksmaats, en dies meer wees. Party reken ook sekere familielede onder hulle intiemste vriende. Maar dit is vandag vir baie mense moeilik om ware vriende te vind en te behou.

Ware vriendskap

Die Bybel beskryf ’n ware vriend as iemand wat sterker aanhang as ’n broer, onveranderlik is in sy lojaliteit en welwillendheid, sy metgesel te hulp snel wanneer hy in benoudheid verkeer en hom raad in getrouheid gee (Spreuke 18:24; 17:17, NW; 27:6, 9). Aan die ander kant het die rykes en diegene wat geskenke gee baie vriende wat slegs belangstel in die selfsugtige voordele wat hulle uit die vriendskap trek.—Spreuke 14:20; 19:4, 6, 7.

Jesus Christus het gepas gemaan dat iemand nie vriende na ’n aandmaal moet nooi wat daarvoor kan vergoed nie, maar dat mense genooi moet word wat nie daarvoor kan vergoed nie (Lukas 14:12-14). Jesus het self die voorbeeld in hierdie verband gestel deur dié op wie neergesien is geestelik te help. As gevolg hiervan is hy “’n vriend van belastinggaarders en sondaars” genoem (Matteus 11:19). Maar Jesus het getoon dat slegs diegene wat sy gebooie gehoorsaam sy ware vriende is. Hy het sy liefde vir hulle bewys deur ten behoewe van hulle van sy siel afstand te doen en het hulle aangespoor om mekaar ook so lief te hê.—Johannes 15:12-14.

Eerste-eeuse Christene het oor die algemeen na medegelowiges as “vriende” verwys (3 Johannes 14). Maar dit beteken nie dat ’n mens nie gehegter aan sommige in die Christengemeente as aan ander gaan wees nie, hetsy as gevolg van familiebetrekkinge, nouer omgang weens omstandighede, soortgelyke agtergronde of ’n belangstelling in dieselfde dinge, eenvoudige verenigbaarheid van persoonlikhede of weens voortreflike Christelike eienskappe wat ’n mens deur omgang met hulle onderskei het. Petrus, Jakobus en Johannes het sekere eienskappe gehad wat gemaak het dat Jesus hierdie dissipels by baie voorregte betrek het, soos om getuies van die gedaanteverandering te wees. Moontlik het Jesus hierdie drie manne hierdeur voorberei vir die dinge wat hy vir hulle in gedagte gehad het, die dinge waarvoor hy geweet het hy hulle in sy diens sou gebruik.—Markus 9:1-10; 14:32, 33.

Soos Jesus, openbaar die Christen liefde teenoor die mensdom oor die algemeen, maar hy betoon die soort liefde wat met vriendskap gepaardgaan tereg slegs teenoor diegene wat vriende van God is. Die gepastheid hiervan word beklemtoon deur die vraag wat aan koning Josafat gevra is: “Moet ’n mens die goddelose help, en het u lief die wat die HERE haat?” (2 Kronieke 19:2). Mense wat graag vriende van die wêreld wil wees, maak hulleself vyande van God.—Jakobus 4:4.

Die uitsonderlikste vriendskap tussen mense wat in die Hebreeuse Geskrifte opgeteken is, was dié tussen Dawid en Jonatan. Hoewel Jonatan die natuurlike erfgenaam tot die troon van sy vader Saul was, het hy Dawid nie gehaat en hom as ’n mededinger beskou nie, maar hy het besef dat Dawid Jehovah se guns geniet. Daarom “het die siel van Jonatan verkleef geraak aan die siel van Dawid, en Jonatan het hom liefgekry soos sy eie siel”.—1 Samuel 18:1.

Ná Jonatan se dood op die slagveld het Dawid bitterlik oor die dood van sy vriend getreur en gesê: “Ek is benoud om jou ontwil, my broer Jonatan! Jy was vir my baie lieflik; jou liefde was vir my wonderliker as die liefde van vroue” (2 Samuel 1:26). Hierdie vriendskap was moontlik omdat Dawid sowel as Jonatan lojaliteit aan Jehovah God bo alle ander dinge gestel het.

In skerp teenstelling hiermee moes die profeet Miga, weens die sedelike verdorwenheid in sy dag, die waarskuwing gee: “Maak op geen vriend staat nie” (Miga 7:5). Jesus het ook daarop gewys dat selfs voormalige vriende van sy volgelinge teen hulle sou draai en hulle sou laat oorlewer om doodgemaak te word.—Lukas 21:16.

Vriendskap met God

Een van die Goddelike seëninge wat Abraham ontvang het, was die voorreg en eer om “Jehovah se vriend [of geliefde]” genoem te word. Dit was vanweë Abraham se uitsonderlike geloof, waarvan hy tot die uiterste toe bewys gelewer het deur sy gewilligheid om sy seun Isak op te offer.—2 Kronieke 20:7, NW; Jakobus 2:21-23.

As ons behoorlik gebruik maak van “onregverdige rykdom”, kan ons vriende maak met Jehovah God en sy Seun, wat ons in “die ewige woonplekke” kan ontvang, soos Jesus Christus in sy illustrasie oor die onregverdige bestuurder aangedui het (Lukas 16:1-13). Jesus het dan ook sy dissipels sy vriende genoem, en gevolglik was hulle ook sy Vader se vriende (Johannes 15:13-15; 14:21). Die vereistes om as een van Jehovah se vriende ’n gas in sy tent te wees, word in Psalm 15:1-5 uiteengesit.

In teenstelling hiermee beteken vriendskap met die wêreld vyandskap met God (Jakobus 4:4; 1 Johannes 2:15-17). Die mensdom in sy geheel is vervreemd van God en in vyandskap met hom. Tog is versoening moontlik, maar slegs deur Jesus Christus en die bediening van versoening wat God aan sy Seun se ambassadeurs toevertrou het. Uiteindelik sal slegs God se vriende die ewige lewe geniet.—2 Korintiërs 5:18-20; Openbaring 21:3, 4.

As ons ons inspan, kan ons ware vriende maak. Met party sal ons ’n spesiale band vorm. Maar niemand kan die plek van God, die grootste Vriend, inneem nie. Net Jehovah kan ons ten volle ken, verstaan en ondersteun.—Psalm 139:1-4, 23, 24.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel