Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w98 2/15 bl. 17-22
  • Glorieryke vryheid vir die kinders van God is op hande

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Glorieryke vryheid vir die kinders van God is op hande
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hulle sê “Kom!”
  • Veranderinge oor die jare
  • Baie redes vir dankbaarheid
  • Sal jy teenwoordig wees?
  • Wie het werklik ’n hemelse roeping?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Jehovah bring baie seuns tot heerlikheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Wat beteken die Here se Aandmaal vir jou?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Ons verbly ons in ons hoop
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2012
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
w98 2/15 bl. 17-22

Glorieryke vryheid vir die kinders van God is op hande

“Die skepping is aan nietigheid onderwerp . . . op grond van hoop dat die skepping self ook van die slawerny van die verderflikheid vrygemaak sal word en die glorieryke vryheid van die kinders van God sal hê.”—ROMEINE 8:20, 21.

1. Hoe is Jesus se offerande op die Versoendag afgebeeld?

JEHOVAH het sy enigverwekte Seun as ’n losprysofferande gegee wat die weg geopen het tot hemelse lewe vir 144 000 mense en ewige aardse vooruitsigte vir die res van die mensdom (1 Johannes 2:1, 2). Soos in die voorgaande artikel gemeld is, het dit Jesus se offerande vir geesverwekte Christene afgebeeld toe Israel se hoëpriester op die jaarlikse Versoendag ’n bul as ’n sondoffer vir homself, sy huisgesin en die stam van Levi gebring het. Op dieselfde dag het hy ’n bok as ’n sondoffer vir al die ander Israeliete gebring, net soos Christus se offerande die mensdom oor die algemeen tot voordeel sal strek. ’n Lewende bok het die volk se gesamentlike sondes van die vorige jaar simbolies weggedra en in die woestyn verdwyn.a—Levitikus 16:7-15, 20-22, 26.

2, 3. Wat beteken Paulus se verklaring in Romeine 8:20, 21?

2 Nadat die apostel Paulus die hoop van mense uiteengesit het wat hemelse “seuns van God” sou word, het hy gesê: “Die reikhalsende verwagting van die skepping wag op die openbaring van die seuns van God. Want die skepping is aan nietigheid onderwerp, nie uit eie wil nie, maar deur hom wat dit onderwerp het, op grond van hoop dat die skepping self ook van die slawerny van die verderflikheid vrygemaak sal word en die glorieryke vryheid van die kinders van God sal hê” (Romeine 8:14, 17, 19-21). Wat beteken hierdie verklaring?

3 Toe ons voorvader Adam as ’n volmaakte mens geskep is, was hy ’n “seun [oftewel kind] van God” (Lukas 3:38). Omdat hy gesondig het, het hy onder “slawerny van die verderflikheid” gekom en hierdie toestand aan die mensdom oorgedra (Romeine 5:12). God het toegelaat dat mense met “nietigheid” in die vooruitsig gebore word weens oorgeërfde onvolmaaktheid, maar hy het hoop gegee deur die “saad”, Jesus Christus (Genesis 3:15; 22:18, NW; Galasiërs 3:16). Openbaring 21:1-4 dui op die tyd wanneer ‘die dood, verdriet, geskreeu en pyn nie meer daar sal wees nie’. Aangesien dit ’n belofte aan “die mense” is, verseker dit ons dat ’n nuwe aardse gemeenskap van mense wat onder Koninkryksheerskappy lewe verstandelik en liggaamlik tot algehele gesondheid herstel sal word asook die ewige lewe as aardse “kinders van God” sal geniet. Gedurende Christus se Duisendjarige Heerskappy sal gehoorsame mense “van die slawerny van die verderflikheid vrygemaak” word. Nadat hulle tydens ’n finale toets lojaal aan Jehovah gebly het, sal hulle vir ewig van oorgeërfde sonde en dood bevry wees (Openbaring 20:7-10). Dié op die aarde sal dan “die glorieryke vryheid van die kinders van God” hê.

Hulle sê “Kom!”

4. Wat beteken dit om ‘die water van die lewe verniet te neem’?

4 Wat ’n wonderlike hoop word tog vir die mensdom in die vooruitsig gestel! Dit is geen wonder dat geesverwekte Christene wat nog op die aarde is ywerig die voortou neem om ander daarvan te vertel nie! As diegene wat deel van die “bruid” van die verheerlikte Lam, Jesus Christus, sal word, is die gesalfde oorblyfsel betrokke by die vervulling van hierdie profetiese woorde: “Die gees en die bruid hou aan om te sê: ‘Kom!’ En laat enigeen wat hoor, sê: ‘Kom!’ En laat enigeen wat dors is, kom; laat enigeen wat wil die water van die lewe neem, verniet” (Openbaring 21:2, 9; 22:1, 2, 17). Nee, die voordele van Jesus se losprysofferande is nie tot die 144 000 gesalfdes beperk nie. God se gees werk steeds deur die oorblywende lede van die bruidsklas op aarde om te sê “Kom”. Enigeen wat hoor en wat na regverdigheid dors, word genooi om te sê “Kom” en om van Jehovah se milddadige voorsiening vir redding gebruik te maak.

5. Wie is Jehovah se Getuies verheug om in hulle midde te hê?

5 Jehovah se Getuies het geloof in God se voorsiening vir lewe deur Jesus Christus (Handelinge 4:12). Hulle is verheug om opregtes van hart in hulle midde te hê wat graag van God se voornemens wil leer en sy wil wil doen. Almal wat in hierdie “tyd van die einde” wil ‘kom en die water van die lewe verniet wil neem’, is welkom by hulle Koninkryksale.—Daniël 12:4.

Veranderinge oor die jare

6. Hoe was God se gees gedurende verskeie tydperke werksaam op Jehovah se knegte?

6 God het ’n tyd om sy voornemens uit te voer, en dit raak sy handelinge met mense (Prediker 3:1; Handelinge 1:7). Hoewel God se gees oor sy knegte van voor-Christelike tye gekom het, is hulle nie as sy geestelike seuns verwek nie. Maar van Jesus af het Jehovah se tyd aangebreek om die heilige gees te gebruik om toegewyde manne en vroue tot ’n hemelse erfenis te verwek. En wat van ons dag? Dieselfde gees is op Jesus se “ander skape” werksaam, maar dit wek nie in hulle die hoop op en begeerte na hemelse lewe nie (Johannes 10:16). Met die ewige lewe op ’n paradysaarde as hulle godgegewe hoop, gee hulle hulle vreugdevolle steun aan die gesalfde oorblyfsel om ’n getuienis te gee gedurende hierdie oorgangstydperk van die ou wêreld tot God se regverdige nuwe wêreld.—2 Petrus 3:5-13.

7. Met watter oeswerk was die Bybelstudente besig, maar wat het hulle omtrent die Paradys geweet?

7 Met die uitstorting van die heilige gees op Pinkster 33 G.J. het God begin om “baie seuns tot heerlikheid [te] bring”, en hy het blykbaar ’n tyd bepaal vir die voltooiing van die geestelike “Israel van God” wat altesaam 144 000 lede tel (Hebreërs 2:10; Galasiërs 6:16; Openbaring 7:1-8). Van 1879 af het hierdie tydskrif dikwels gepraat van ’n oeswerk in verband met gesalfde Christene. Maar die Bybelstudente (wat nou Jehovah se Getuies genoem word) het ook geweet dat die Skrif die hoop op die ewige lewe op ’n paradysaarde in die vooruitsig stel. Die Watch Tower vir Julie 1883 het byvoorbeeld gesê: “Wanneer Jesus sy koninkryk opgerig het, boosheid vernietig het, ens., sal hierdie aarde ’n paradys word, . . . en almal wat in hulle graf is, sal daarin opgewek word. En deur aan die wette daarvan gehoorsaam te wees, sal hulle vir ewig daarin kan lewe.” Met verloop van tyd het die oes van gesalfdes afgeneem, en mense wat nie ’n hemelse hoop gehad het nie, is gaandeweg in Jehovah se organisasie ingebring. Intussen het God sy gesalfde knegte, weergebore Christene, merkwaardige insig gegee.—Daniël 12:3, NW; Filippense 2:15; Openbaring 14:15, 16.

8. Hoe het ’n begrip van die aardse hoop in die vroeë dertigerjare ontwikkel?

8 Dié met ’n aardse hoop gaan veral sedert 1931 met die Christengemeente om. In daardie jaar het Jehovah die oorblyfsel van geesverwekte Christene die insig gegee om te sien dat Esegiël hoofstuk 9 na hierdie aardse klas verwys, wat gemerk word vir oorlewing tot in God se nuwe wêreld. In 1932 is die slotsom bereik dat hierdie hedendaagse skaapgeaardes deur Jehu se metgesel Jonadab voorafgeskadu is (2 Konings 10:15-17). In 1934 is dit duidelik gemaak dat “Jonadabs” hulle aan God moet toewy. In 1935 is die “groot menigte”, of “groot skare”—wat vroeër as ’n sekondêre geestelike klas beskou is wat “metgeselle” van die bruid van Christus in die hemel sou wees—as ander skape met ’n aardse hoop geïdentifiseer (Openbaring 7:4-15; 21:2, 9; Psalm 45:14, 15, NW). En die gesalfdes het veral sedert 1935 die voortou geneem met ’n soektog na opregte mense wat daarna smag om vir ewig op ’n paradysaarde te lewe.

9. Waarom het party Christene ná 1935 opgehou om die embleme by die Here se Aandmaal te gebruik?

9 Ná 1935 het party Christene wat voorheen die brood en wyn by die Here se Aandmaal gebruik het, opgehou om dit te gebruik. Waarom? Omdat hulle besef het dat hulle ’n aardse hoop het, nie ’n hemelse hoop nie. ’n Vrou wat in 1930 gedoop is, het gesê: “Hoewel dit destyds as korrek beskou is [om die embleme te gebruik], veral vir ywerige voltydse bedienaars, was ek nooit daarvan oortuig dat ek ’n hemelse hoop het nie. Toe is daar in 1935 aan ons verduidelik dat ’n groot skare ingesamel word wat die vooruitsig het om vir ewig op die aarde te lewe. Baie van ons was verheug om tot die besef te kom dat ons deel van daardie groot skare is, en ons het opgehou om die embleme te gebruik.” Selfs die inhoud van Christelike publikasies het verander. Terwyl dié van vroeëre jare hoofsaaklik vir Jesus se geesverwekte volgelinge bedoel was, het Die Wagtoring en ander lektuur van die ‘getroue slaaf’ van 1935 af geestelike voedsel verskaf wat in die behoeftes van die gesalfdes sowel as hulle metgeselle met ’n aardse hoop voorsien het.—Matteus 24:45-47.

10. Hoe sal ’n afvallige gesalfde moontlik vervang word?

10 Sê nou ’n gesalfde word afvallig? Sal so iemand vervang word? Dit is wat Paulus in sy bespreking van die simboliese olyfboom aangetoon het (Romeine 11:11-32). As ’n geesverwekte vervang moet word, sal God waarskynlik die hemelse roeping aan iemand gee wat ’n voorbeeld in geloof gestel het deur al baie jare lank heilige diens aan hom te verrig.—Vergelyk Lukas 22:28, 29; 1 Petrus 1:6, 7.

Baie redes vir dankbaarheid

11. Waarvan verseker Jakobus 1:17 ons, ongeag wat ons hoop is?

11 Waar ons Jehovah ook al getrou dien, hy sal ons behoeftes en gepaste begeertes bevredig (Psalm 145:16; Lukas 1:67-74). Hetsy ons ’n ware hemelse hoop of die vooruitsig op aardse lewe het, ons het talle grondige redes vir dankbaarheid teenoor God. Hy doen altyd dinge wat in die belang is van diegene wat hom liefhet. Die dissipel Jakobus het gesê dat ‘elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk van bo kom, want dit daal neer van die Vader van die hemelse ligte’, Jehovah God (Jakobus 1:17). Kom ons kyk na ’n paar van hierdie gawes en seëninge.

12. Waarom kan ons sê dat Jehovah aan elkeen van sy getroue knegte ’n wonderlike hoop gegee het?

12 Jehovah het aan elkeen van sy getroue knegte ’n wonderlike hoop gegee. Hy het sommige tot hemelse lewe geroep. Aan sy voor-Christelike getuies het Jehovah die voortreflike hoop van ’n opstanding tot die ewige lewe op die aarde gegee. Abraham het byvoorbeeld geloof in die opstanding gehad en gewag op “die stad wat ware fondamente het”—die hemelse Koninkryk waaronder hy tot aardse lewe opgewek sal word (Hebreërs 11:10, 17-19). In hierdie tyd van die einde gee God weer eens aan miljoene die hoop om vir ewig op ’n paradysaarde te lewe (Lukas 23:43; Johannes 17:3). Enigeen aan wie Jehovah so ’n wonderlike hoop gegee het, moet beslis innig dankbaar wees daarvoor.

13. Hoe is God se heilige gees werksaam op sy volk?

13 Jehovah gee sy heilige gees as ’n gawe aan sy volk. Christene wat ’n hemelse hoop gegee word, word met heilige gees gesalf (1 Johannes 2:20; 5:1-4, 18). Maar God se knegte wat aardse vooruitsigte het, het die gees se hulp en leiding. Een van hulle was Moses, wat Jehovah se gees gehad het, en so ook die 70 manne wat aangestel is om hom te help (Numeri 11:24, 25). Onder die invloed van die heilige gees het Besaleël as ’n bedrewe vakman gedien in verband met Israel se tabernakel (Exodus 31:1-11). God se gees het oor Gideon, Jefta, Simson, Dawid, Elia, Elisa en ander gekom. Hoewel hierdie mense van die ou tyd nooit tot hemelse heerlikheid gebring sal word nie, is hulle deur die heilige gees gelei en gehelp, net soos dit vandag met Jesus se ander skape die geval is. Die feit dat ons God se gees het, beteken dus nie dat ons noodwendig die hemelse roeping het nie. Maar Jehovah se gees voorsien leiding, help ons om te preek en ander godgegewe toewysings na te kom, gee ons krag wat bo die normale is en bring in ons die vrugte daarvan voort, naamlik liefde, vreugde, vrede, lankmoedigheid, goedhartigheid, goedheid, geloof, sagmoedigheid en selfbeheersing (Johannes 16:13; Handelinge 1:8; 2 Korintiërs 4:7-10; Galasiërs 5:22, 23). Behoort ons nie dankbaar te wees vir hierdie goedgunstige gawe van God nie?

14. Hoe vind ons baat by God se gawes van kennis en wysheid?

14 Kennis en wysheid is gawes van God waarvoor ons dankbaar behoort te wees, hetsy ons ’n hemelse of ’n aardse hoop het. Juiste kennis van Jehovah help ons om “seker [te] maak van wat die belangriker dinge is” en te “wandel op ’n wyse wat Jehovah waardig is om hom ten volle te behaag” (Filippense 1:9-11; Kolossense 1:9, 10). Goddelike wysheid dien as ’n beskerming en ’n rigsnoer in die lewe (Spreuke 4:5-7; Prediker 7:12). Ware kennis en wysheid is op God se Woord gegrond, en die paar oorblywende gesalfdes word veral aangetrek tot wat dit oor hulle hemelse hoop sê. Maar liefde vir God se Woord en ’n goeie begrip daarvan is nie God se manier om aan te toon dat ons tot hemelse lewe geroep is nie. Manne soos Moses en Daniël het selfs dele van die Bybel geskryf, maar hulle sal tot lewe op die aarde opgewek word. Hetsy ons ’n hemelse of ’n aardse hoop het, ons almal ontvang geestelike voedsel deur Jehovah se goedgekeurde “getroue en verstandige slaaf” (Matteus 24:45-47). Hoe dankbaar is ons almal tog vir die kennis wat ons op hierdie wyse opdoen!

15. Wat is een van God se grootste gawes, en hoe beskou jy dit?

15 Een van God se grootste gawes is die liefdevolle voorsiening van Jesus se losprysofferande, waarby ons baat vind hetsy ons ’n hemelse of ’n aardse hoop het. God het die mensewêreld “so liefgehad dat hy sy enigverwekte Seun gegee het, sodat elkeen wat geloof in hom beoefen, nie vernietig sal word nie maar die ewige lewe kan hê” (Johannes 3:16). En Jesus se liefde het hom beweeg “om sy siel te gee as ’n losprys in ruil vir baie” (Matteus 20:28). Soos die apostel Johannes verduidelik het, is Jesus Christus “’n soenofferande vir ons sondes [dié van die gesalfdes], en tog nie net vir ons s’n nie, maar ook vir dié van die hele wêreld” (1 Johannes 2:1, 2). Ons almal behoort derhalwe innig dankbaar te wees vir hierdie liefdevolle voorsiening vir redding tot ewige lewe.b

Sal jy teenwoordig wees?

16. Watter belangrike gebeurtenis sal ná sononder op 11 April 1998 gevier word, en wie behoort teenwoordig te wees?

16 Dankbaarheid vir die losprys wat God deur middel van sy Seun voorsien het, moet ons beweeg om teenwoordig te wees by Koninkryksale of ander plekke waar Jehovah se Getuies ná sononder op 11 April 1998 sal vergader om Christus se dood te herdenk. Toe Jesus hierdie viering op die laaste aand van sy aardse lewe met sy getroue apostels ingestel het, het hy gesê: “Hou aan om dit tot my gedagtenis te doen” (Lukas 22:19, 20; Matteus 26:26-30). Die paar oorblywende gesalfdes sal die ongesuurde brood wat Jesus se sondelose menseliggaam voorstel en die ongefortifiseerde rooi wyn wat op sy bloed dui wat as ’n offer uitgestort is, gebruik. Slegs geesverwekte Christene moet die embleme gebruik omdat slegs hulle in die nuwe verbond en die Koninkryksverbond is en die onbetwisbare getuienis van God se heilige gees het dat hulle ’n hemelse hoop het. Miljoene ander sal teenwoordig wees as eerbiedige waarnemers wat dankbaar is vir die liefde wat God en Christus getoon het in verband met Jesus se offerande wat die ewige lewe moontlik maak.—Romeine 6:23.

17. Wat moet ons onthou wat die salwing met die gees betref?

17 Vorige godsdiensopvattings, sterk emosies wat ontstaan weens die dood van ’n geliefde, ontberinge wat nou gepaardgaan met die lewe op die aarde of die gevoel dat ’n mens die een of ander spesiale seëning van Jehovah ontvang het, kan party verkeerdelik laat dink dat hulle ’n hemelse roeping het. Maar ons almal moet onthou dat die Skrif ons nie beveel om die Gedenkmaalembleme te gebruik om ons dankbaarheid vir Christus se losprysofferande te toon nie. Wat meer is, die salwing met die gees “hang . . . nie af van die een wat wil of van die een wat hardloop nie, maar van God”, die Een wat Jesus as ’n geestelike Seun verwek het en wat slegs 144 000 ander seuns tot heerlikheid bring.—Romeine 9:16; Jesaja 64:8.

18. Watter seëninge lê voor vir die meeste van diegene wat Jehovah vandag dien?

18 Die ewige lewe op ’n paradysaarde is die godgegewe hoop van die oorgrote meerderheid mense wat Jehovah in hierdie laaste dae dien (2 Timoteus 3:1-5). Hulle sal binnekort hierdie wonderlike paradys geniet. Vorste sal dan die aardse aangeleenthede onder die hemelse heerskappy bestuur (Psalm 45:17). Vreedsame toestande sal heers onderwyl die aarde se bewoners hulle aan God se wette onderwerp en meer omtrent Jehovah se weë leer (Jesaja 9:5, 6; Openbaring 20:12). Daar sal baie werk wees met die bou van huise en die onderwerping van die aarde (Jesaja 65:17-25). En dink net aan die gelukkige familiereünies namate die dooies opgewek word! (Johannes 5:28, 29). Ná ’n finale toets sal alle goddeloosheid uit die weg geruim wees (Openbaring 20:7-10). Daarna sal die aarde tot in alle ewigheid met volmaakte mense gevul wees wat ‘vrygemaak is van die slawerny van die verderflikheid en die glorieryke vryheid van die kinders van God het’.

[Voetnote]

a Sien Insight on the Scriptures, Deel 1, bladsye 225-6.

b Sien Die Wagtoring van 15 Maart 1991, bladsye 19-22.

Hoe sal jy antwoord?

◻ Wat beteken dit om ‘die water van die lewe verniet te neem’?

◻ Watter redes het ons vir dankbaarheid teenoor God, hetsy ons ’n hemelse of ’n aardse hoop het?

◻ Watter jaarlikse viering behoort ons almal by te woon?

◻ Wat hou die toekoms vir die meeste van Jehovah se volk in?

[Prent op bladsy 18]

Miljoene neem ‘die water van die lewe, verniet’. Is jy een van hulle?

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel