Beplan vooruit vir ons geliefdes
DIE treurige verhaal van Annie het onlangs in ’n koerant in Afrika verskyn. Annie was met ’n sakeman getroud. Hy het in 1995 gesterf en 15 voertuie, verskeie bankrekeninge, sowat R18000 in kontant, ’n winkel, ’n kroeg en ’n drieslaapkamerhuis agtergelaat. Wat hy wel nie agtergelaat het nie, was ’n testament.
Annie se swaer het na bewering beslag gelê op die eiendom en geld en haar en haar ses kinders uit hulle huis gesit. Sy en haar kinders is sonder heenkome en bly nou by haar broer. Vier van die kinders moes die skool verlaat, aangesien daar nie geld is vir skoolgeld of skooldrag nie.
Annie het haar tot ’n hoër hof gewend, wat beslis het dat van die eiendom, onder andere ’n voertuig, aan haar teruggegee moet word. Maar niks is terugbesorg nie. Sy moet weer hof toe gaan om ’n hofbevel te verkry om haar swaer te dwing om hom aan die beslissing van die hoër hof te onderwerp.
Waarom aan die dood dink?
Annie se verhaal lig toe wat kan gebeur wanneer ’n gesinshoof versuim om vir die moontlikheid van sy dood te beplan. Alle mense “laat hulle vermoë aan ander na” wanneer hulle sterf (Psalm 49:11). Daarbenewens het die dooies geen beheer oor wat met hulle besittings gedoen word nie (Prediker 9:5, 10). As iemand seggenskap wil hê oor wat met sy besittings gebeur, moet hy sake reël voordat hy sterf.
Al weet ons almal dat ons onverwags kan sterf, versuim baie mense om vooraf voorsiening te maak vir hulle geliefdes wat agterbly. Hoewel ons bespreking die aandag sal vestig op sekere kultuurgroepe in Afrika, is daar soortgelyke probleme in ander wêrelddele.
Dit is ’n persoonlike saak of jy maatreëls tref om te bepaal wat met jou besittings moet gebeur ingeval jy sterf (Galasiërs 6:5). Tog wonder ’n mens: ‘Waarom sou ’n man sy vrou en kinders koester en vir hulle sorg terwyl hy lewe, maar geen voorsiening vir hulle welsyn maak ingeval hy sou sterf nie?’ ’n Vername rede is dat die meeste van ons nie daarvan hou om aan die moontlikheid te dink dat ons kan sterf nie, wat nog te sê daarvoor te beplan. Trouens, ons kan die dag van ons dood nie vooruitsien nie, soos die Bybel sê: “Julle [weet] nie . . . wat julle lewe môre sal wees nie. Want julle is ’n mis wat vir ’n klein rukkie verskyn en dan verdwyn.”—Jakobus 4:14.
Dit is prakties om vir die moontlikheid van ons dood te beplan. Dit toon ook liefdevolle besorgdheid vir dié wat agterbly. As óns nie ons sake reël nie, sal ander dit doen. Dalk sal mense wat ons nooit ontmoet het nie, besluite oor ons besittings en begrafnisreëlings neem. In party lande besluit die Staat onder sulke omstandighede wie ons geld en besittings sal kry. Op ander plekke besluit familielede, en daardie besluite gaan dikwels gepaard met ’n getwis wat kwade gevoelens in die familie tot gevolg het. Bowendien verskil dít waarop besluit word miskien hemelsbreed van wat ons sou verlang het.
Eiendomsontneming
Die weduwee ly die meeste wanneer haar man sterf. Buiten die smart wat sy ervaar omdat sy haar maat verloor het, is sy dikwels ’n slagoffer van eiendomsontneming. Dit is vroeër in die geval van Annie beskryf. Eiendomsontneming word deels toegeskryf aan hoe vrouens moontlik beskou word. In sommige kulture word ’n man se vrou nie as deel van sy familie beskou nie. Sy is in sekere sin ’n vreemdeling wat te eniger tyd na haar familie kan terugkeer of weer in ’n ander familie kan introu. Daarenteen word daar geredeneer dat ’n man se broers, susters en ouers hom nooit sal verlaat nie. As hy sterf, meen sy familie dat sy besittings aan hulle behoort, nie aan sy vrou en kinders nie.
Mans wat hulle vrouens nie in hulle vertroue neem nie, bevorder hierdie sienswyse. Mike het sy sakebelange net met sy broers bespreek. Hulle het geweet watter bates hy het, maar sy vrou het bitter min geweet. Toe hy sterf, het sy broers na haar toe gekom en ’n betaling geëis wat haar man te wagte was. Sy het nie eers daarvan geweet nie. Daarna het hulle die fotokopieermasjiene en tikmasjiene geneem wat haar man vir haar gekoop het. Uiteindelik het sy broers die huis en alles daarin oorgeneem. Hierdie weduwee en haar dogtertjie moes noodgedwonge weggaan en kon net hulle klere saamneem.
“Die twee sal een vlees word”
Christenmans het hulle vrouens lief en beskou hulle as vertrouenswaardig. Sulke mans neem die skriftuurlike raad ter harte: “Mans [behoort] hulle vrouens lief te hê soos hulle eie liggame.” Hierdie mans stem ook met die Goddelik geïnspireerde verklaring saam: “’n Man [sal] sy vader en sy moeder verlaat en . . . hy [sal] sy vrou aankleef, en die twee sal een vlees word.”—Efesiërs 5:28, 31.
Godvrugtige mans stem ook met die Christenapostel Paulus saam, wat geskryf het: “Ja, as iemand vir dié wat syne is, en veral vir dié wat lede van sy huisgesin is, nie sorg nie, het hy die geloof verloën en is hy erger as ’n ongelowige” (1 Timoteus 5:8). In ooreenstemming met hierdie beginsel sou ’n Christenman, indien hy ’n lang reis beplan het, seker maak dat sy gesin versorg is terwyl hy weg is. Is dit insgelyks dan nie net redelik dat hy voorsiening vir sy vrou en kinders maak ingeval hy sou sterf nie? Dit is nie net prakties nie, maar ook liefdevol om vir ’n onverwagte tragedie voor te berei.
Begrafnisgebruike
Christenmans moet met nog ’n aspek van hierdie saak rekening hou. In sommige gemeenskappe word ’n weduwee se smart oor die verlies van haar maat, besittings en miskien selfs haar kinders vererger omdat daar van haar verwag word om tradisionele rouritusse uit te voer. The Guardian, ’n koerant in Nigerië, betreur dit dat daar in sommige gebiede volgens tradisie van ’n weduwee verwag word om in dieselfde donker kamer as die lyk van haar man te slaap. In ander plekke word weduwees nie toegelaat om hulle huis vir ’n routydperk van bykans ses maande te verlaat nie. Gedurende daardie tyd mag hulle nie bad nie en word hulle selfs verbied om hulle hande voor of ná maaltye te was.
Sulke gebruike veroorsaak probleme, veral vir Christenweduwees. Hulle begeerte om God te behaag, beweeg hulle om gebruike te vermy wat nie met die Bybel se leringe ooreenkom nie (2 Korintiërs 6:14, 17). As ’n weduwee haar egter nie aan hierdie gebruike onderwerp nie, sal sy dalk vervolg word. Sy sal miskien selfs vir haar lewe moet vlug.
Tref wetlike maatreëls
Die Bybel sê wyslik: “Die planne van die vlytige is net tot voordeel” (Spreuke 21:5). Watter planne kan ’n gesinshoof maak? In die meeste gemeenskappe is dit moontlik om ’n testament of ’n dokument op te stel wat sê hoe iemand se besittings verdeel moet word as hy sou sterf. Dit kan besonderhede oor begrafnisreëlings insluit. Die dokument kan ook spesifiek aandui wat ’n huweliksmaat moet doen (of nie moet doen nie) wat begrafnis- en rougebruike betref.
’n Vrou met die naam Leah het haar man in 1992 aan die dood afgegee. Sy sê: “Ek het vyf kinders—vier dogters en ’n seun. My man was ’n tyd lank siek voordat hy gesterf het. Maar selfs voordat hy siek geword het, het hy ’n dokument opgestel waarin hy gesê het dat al sy besittings na my en ons kinders moet gaan. Dit het versekeringsgeld, landbougrond, vee en ’n huis ingesluit. Hy het die testament onderteken en dit vir my gegee. . . . Ná my man se dood wou die familie deel in die erfenis. Ek het hulle daarop gewys dat my man die landbougrond met sy eie geld gekoop het en dat hulle geen reg het om enigiets te eis nie. Toe hulle die geskrewe testament sien, het hulle dit aanvaar.”
Bespreek sake met die familie
Probleme kan ontstaan as ’n mens nie met jou familie oor jou opvattings en wense praat nie. Beskou die geval van ’n man wie se familielede daarop aangedring het dat sy begrafnis volgens die plaaslike gebruik in die dorpie gehou moet word. Toe sy weduwee en haar kinders se lewe bedreig is, het hulle geen ander keuse gehad as om sy liggaam by die uitgebreide familie te laat nie. Sy sê: “As my man selfs net een van sy ooms of neefs vertel het hoe hy begrawe wou word, sou die familie nie op hulle tradisionele begrafnisgebruike aangedring het nie.”
In sommige gemeenskappe is ’n mondelinge ooreenkoms net so bindend as ’n geskrewe ooreenkoms. Dit is die geval in dele van Swaziland, waar baie mense opvattings het wat tradisionele begrafnis- en rouprosedures bevorder. ’n Christenman met die naam Isak was hiervan bewus en het sy familielede, wat nie Getuies van Jehovah is nie, byeengeroep en met hulle bespreek wat hy ná sy dood verlang het. Hy het hulle vertel wie sekere materiële besittings moet kry en duidelik uiteengesit hoe sy begrafnis gehou moet word. Nadat hy gesterf het, het sake volgens sy wense verloop. Isak het ’n Christelike begrafnis gehad, en daar is goed na sy vrou omgesien.
Beskerm jou gesin
Wat jy gaan doen om jou gesin te beskerm ingeval jy sterf, is ’n persoonlike saak, maar ’n Christen met die naam Edward sê: “Ek het ’n lewensversekeringspolis tot die voordeel van die agt lede van my gesin. My vrou is ’n ondertekenaar van my bankrekening. As ek dus te sterwe sou kom, kan sy geld uit die rekening trek. . . . Ek het ’n testament om my gesin te bevoordeel. As ek sou sterf, gaan wat ek ook al agterlaat na my vrou en kinders. Ek het my testament vyf jaar gelede uitgeskryf. Dit is deur ’n prokureur opgestel, en my vrou en seun het ’n afskrif. In my testament het ek spesifiek gesê dat my uitgebreide familie geen aandeel in my begrafnis moet hê nie. Ek is ’n deel van Jehovah se organisasie. Selfs al is net een of twee Getuies dus teenwoordig om my begrafnis te hou, sal dit voldoende wees. Ek het dit met my uitgebreide familielede bespreek.”
In sekere sin is dit ’n geskenk aan jou gesin om sulke reëlings te tref. Om vir die moontlikheid van jou dood te beplan, is weliswaar nie soos om sjokolade of ’n bos blomme as geskenk te gee nie. Maar dit toon jou liefde. Dit bewys dat jy wil ‘sorg vir dié wat lede van jou huisgesin is’ selfs wanneer jy nie meer saam met hulle is nie.
[Venster/Prent op bladsy 21]
Jesus het voorsorg getref vir sy moeder
“Maar by die folterpaal van Jesus het sy moeder en die suster van sy moeder gestaan; Maria, die vrou van Klopas, en Maria Magdalena. Daarom het Jesus, toe hy sy moeder en die dissipel wat hy liefgehad het daar sien staan, vir sy moeder gesê: ‘Vrou, kyk! U seun!’ Vervolgens het hy vir die dissipel gesê: ‘Kyk! Jou moeder!’ En van daardie uur af het die dissipel [Johannes] haar na sy eie huis geneem.”—Johannes 19:25-27.
[Prent op bladsy 22]
Baie Christene toon bedagsaamheid deur wetlike maatreëls te tref om hulle gesin te beskerm