Versier met ’n goue oorring
VAN die vroegste tye af word groot waarde aan goue juweliersware geheg omdat dit kosbaar en pragtig is. Toe Josef die eerste minister in Egipte geword het, het hy ’n goue ketting van Farao gekry (Genesis 41:42). Rebekka het ’n goue neusring en twee goue armbande, met ’n hedendaagse waarde van R6200, ontvang (Genesis 24:22). Hierdie kosbare geskenke is ongetwyfeld met waardering ontvang en met vreugde gedra.
Die Bybel praat van figuurlike juweliersware wat veel meer werd is as dié wat Josef en Rebekka gedra het. Spreuke 25:12 sê: “’n Wyse bestraffer by ’n oor wat luister, is ’n goue ring en ’n goue sieraad.” Wanneer ’n raadgewer raad gee wat op God se Woord die Bybel gebaseer is, en nie op sy eie opinie nie, gee hy waarlik ’n kosbare geskenk. Waarom? Omdat sulke raad per slot van rekening van Jehovah self kom. Die Bybel sê vir ons: “My seun, verag die tug van die HERE nie, en laat sy kastyding nie jou weersin wek nie, want die HERE tugtig hom wat Hy liefhet, ja, soos ’n vader die seun in wie hy behae het” (Spreuke 3:11, 12). Wanneer die hoorder die raad nederig aanvaar en toepas, versier hy homself as ’t ware met ’n goue oorring. Dit is net soos die geïnspireerde Bybelspreuk sê: “Gelukkig die mens wat wysheid gevind het, en die mens wat verstand verkry; want die verkryging daarvan is beter as dié van silwer, en die verwerwing daarvan beter as van goud.”—Spreuke 3:13, 14.