Ryk beloninge vir heilige diens
Soos vertel deur Harry Bloor
Ongeveer honderd jaar gelede was my oupa ’n getroue lid van die Metodistekerk. Hy was ook ’n geëerde lekeprediker, wat mildelik gegee het om baie kerke in Stoke-on-Trent, Engeland se pottebakkersdorp, te ondersteun. Toe het hy finansieel begin sukkel. Om my oupa te help, het my pa gereël dat hy ’n winkeltjie in die dorp bestuur. Die winkel het ’n lisensie gehad om bier te verkoop, en toe die Metodiste daarvan te hore kom, het hulle my oupa dadelik geëkskommunikeer.
MY PA was woedend, en hy het hom voorgeneem dat hy nooit weer iets met godsdiens te doen sou hê nie—en hy het sy woord gehou. Hy was ’n polisieman, maar later het hy die eienaar van ’n herberg geword. Ek het dus te midde van die reuke en rook van daardie plek grootgeword. Godsdiens het geen rol in my lewe gespeel nie, maar ek het wel geleer om die meeste bordspele goed te speel! Vanweë my oupa se vroeëre invloed het ek egter ’n gesonde respek vir die Bybel behou, al het ek min kennis daarvan gehad.
Ek leer Bybelwaarheid
In 1923, toe ek 24 was, het ek ooswaarts na Nottingham getrek en Mary die hof begin maak, wat ongeveer 40 kilometer daarvandaan in die dorpie Whetstone, suidwes van Leicester, gewoon het. Haar pa, Arthur Rest, was die orrelis in ’n plaaslike kerkie, maar op daardie stadium was hy ’n ywerige Bybelstudent, soos Jehovah se Getuies destyds bekend gestaan het. Arthur het altyd met my oor sy nuwe geloof gepraat—met weinig sukses. My belangstelling is egter gewek toe ek Sondagmiddag, 13 Julie 1924, saam met hom na die plaaslike Baptistekerk gegaan het om te luister na ’n toespraak van ’n parlementslid wat ’n vooraanstaande Baptis was. Sy onderwerp, “Die leringe van pastor Russell in die lig van die Skrif ondersoek”, het my nuuskierigheid geprikkel. Ek het nog steeds die aantekeninge wat ek destyds gemaak het.
Die Baptiste het die versoek geweier van die Bybelstudente om die aanval op hulle leringe te verdedig. Ek was ontstoke hieroor en het my voorgeneem om ’n ander plek te kry om so ’n vergadering te hou. ’n Nabygeleë skuur was ideaal hiervoor. Ons het dit skoongevee, die spinnerakke verwyder, die dorsmasjiene eenkant toe gestoot, en toe was ons gereed. Ons het 70 stoele bymekaargemaak en strooibiljette gedruk.
Toe Frank Freer van Leicester af daar aangekom het om die toespraak te hou, was al die sitplekke vol, en nog 70 mense het gestaan! Ek, sowel as baie ander wat teenwoordig was, het van Frank se duidelike redenering uit die Skrif gehou. Van toe af het die gemeentetjie van Bybelstudente in Blaby, naby Leicester, vinnig gegroei. Dit was ook die keerpunt in my lewe sowel as in Mary s’n. In 1925 het ons ons albei aan Jehovah toegewy, is ons gedoop en getroud.
Geestelike seëninge
Die volgende jaar is ek as diensleier vir die Blaby-gemeente aangestel. Ek en my vrou wou in die voetstappe van die kolporteurs volg en voltydse evangeliedienaars word, maar dit het gou duidelik geword dat Mary se gesondheid haar nie sou toelaat om by so ’n druk rooster te bly nie. Alhoewel sy tot haar dood in 1987 swak gesondheid gehad het, was sy ’n goeie metgesel en ’n uitstekende bedienaar wat op bedrewe wyse informeel getuig het en Bybelstudies begin het. Aand na aand het ons óf vergaderinge bygewoon óf Bybelwaarhede aan ons bure verkondig.
Ek was ’n ingenieur en het by ’n firma gewerk wat saagmeulmasjinerie vervaardig het. My werk het behels dat ek heelwat in Brittanje, sowel as in Frankryk, rondgereis het, en Mary het my gewoonlik vergesel. Hierdie reise het ons die geleentheid gegee om heelwat getuieniswerk te doen.
Grondslag vir uitbreiding
In 1925 het ons ’n pragtige gebou vir ons vergaderinge in Blaby opgerig, en daarvandaan het ons ’n doeltreffende getuienisprogram georganiseer. Elke Sondagoggend het ons ’n bus gehuur wat ons na verspreide dorpies geneem het. Langs die pad is verkondigers afgelaai om te getuig, en later is hulle weer op pad terug deur die bus opgelaai. Gedurende die warm somermaande het ons laatmiddag op Sondae ’n Bybelstudie gehou deur ’n onlangse eksemplaar van Die Wagtoring te gebruik. Daarna, om agtuur, het ons in die Leicester-markplein bymekaargekom vir ’n openbare toespraak in die ope lug. Een aand het 200 mense kom luister. Hierdie reëling het die grondslag gelê vir die baie gemeentes wat nou in en om Leicester bestaan.
In 1926 is ’n epogmakende streekbyeenkoms tegelykertyd in Londen se Alexandra Palace en Royal Albert-saal gehou. By daardie geleentheid het Joseph F. Rutherford, destydse president van die Wagtoringgenootskap, die boek Verlossing vrygestel. Die resolusie “’n Getuienis aan die heersers van die wêreld” en broer Rutherford se kragtige openbare toespraak “Waarom wêreldmoondhede wankel—die oplossing” is die dag daarna in die geheel in ’n vername koerant gepubliseer. Meer as 10 000 het die openbare toespraak gehoor, en 50 000 000 eksemplare van die resolusie is later oor die hele wêreld versprei. Daardie byeenkoms het gehelp om die predikingswerk in Brittanje te bespoedig.
Groot streekbyeenkoms in oorlogstyd
Die Tweede Wêreldoorlog het in September 1939 uitgebreek, en teen 1941 het die oorlog sy hoogtepunt bereik. Duitse bomwerpers het dag en nag aanvalle gedoen, en ’n landswye verduistering was van krag. Daar was min voedsel, en wat beskikbaar was, is streng gerantsoeneer. Vervoer was beperk, selfs per trein. Ten spyte van hierdie oënskynlik onoorkomelike struikelblokke het ons ’n vyfdaagse nasionale byeenkoms van 3-7 September 1941 gehou.
Leicester se De Montfort-saal is as byeenkomsfasiliteit gekies, aangesien Leicester in die middel van Engeland is. Aangesien ek in die houtbedryf was, kon ek help met die vervaardiging van advertensietekens. Ek het ook plaaslik vir die byeenkomsgangers vervoer gereël. Ons het Leicester se trems selfs op Sondae laat loop deur kaartjies vooruit te koop en meer as die gewone prys daarvoor te betaal.
Omdat daar beperkings op reis was, het ons verwag dat ongeveer 3000 Getuies dalk sou kom. Stel jou die opgewondenheid voor toe meer as 10 000 gesê het dat hulle na die byeenkoms toe sou kom! Maar waar sou hulle bly? Inwoners van Leicester was vriendelik en het talle genooi om in hulle huise te kom bly. Daarbenewens is ongeveer duisend gehuisves in tente wat in ’n veld drie kilometer van die byeenkomsterrein opgeslaan is. Kamp Gideon, soos ons dit genoem het, het nogal opspraak verwek in die gemeenskap.
Groot wit tente is gehuur vir gebruik deur byeenkomsafdelings om ekstra sitplek te verskaf vir die groot skares wat nie in die saal sou pas nie. Toe ons besef dat die tente in die helder maanlig vir Nazi-bomwerpers as teikens kon dien, is dit gou gekamoefleer. Die oorlog, en veral die feit dat die Getuies nie daaraan deelgeneem het nie, was ’n saak van openbare besorgdheid. Honderde Getuies was op daardie stadium in die gevangenis weens hulle Bybelse standpunt oor neutraliteit.—Jesaja 2:4; Johannes 17:16.
Die Sunday Pictorial van 7 September 1941 het berig: “Dit is iets verbasends om 10-000 mense, meestal jonges, te vind wat ’n week lank oor godsdiens praat sonder om van die oorlog melding te maak, behalwe as ’n bysaak.
“Ek het gevra of die Getuies enige lede in Duitsland het. Ja, is daar vir my gesê, en byna almal van hulle, ongeveer 6000, was in konsentrasiekampe.”
Die verslaggewer het bygevoeg: “O ja, die Nazi’s is wel die vyand, maar die Getuies doen bitter min daaromtrent, behalwe om traktate te verkoop en na toesprake te luister.”
Koerantberigte oor ons was gewoonlik negatief, en teenstanders het selfs van geweld gebruik gemaak in mislukte pogings om ons byeenkoms te ontwrig. Tog het Londen se Daily Mail ietwat teësinnig erken: “Dit was goed georganiseer, onopvallend en doeltreffend.”
Ons is daarvan beskuldig dat ons verantwoordelik was vir die stad se tekort aan sigarette. Maar The Daily Mail het verduidelik: “Nie Leicester of die Tabakkontroleur kan kla dat die Getuies Leicester se sigarette oprook nie. Hulle rook nie.” Ook is die klagtes dat die Getuies die plaaslike inwoners hulle voedsel ontneem het uit die weg geruim toe daar verduidelik is dat hulle die meeste van hulle eie rantsoene saam met hulle gebring het. Trouens, aan die einde van die byeenkoms is 150 brode van 1,8 kilogram elk aan die Leicester Royal Infirmary geskenk—’n aansienlike skenking in daardie tye van voedseltekorte.
Die byeenkoms was ’n groot geestelike versterking vir die ongeveer 11 000 Getuies in Brittanje. Hulle was verheug dat ongeveer 12 000 dit bygewoon het! Vreugdevolle byeenkomsgangers het op ongekende skaal in Leicester aan straatgetuieniswerk deelgeneem, en hulle het afgeleë dorpies besoek en aanbiedings met behulp van grammofone gedoen.
Die vernaamste toesprake van die byeenkoms was opnames wat die vorige maand gemaak is van toesprake wat gehou is by die vyfdaagse streekbyeenkoms van Jehovah se Getuies in St. Louis, Missouri, VSA. Die opname van broer Rutherford se toespraak “Kinders van die Koning” was ’n byeenkomshoogtepunt. Aangesien dit nie moontlik was om eksemplare in te voer van die boek Kinders wat in St. Louis vrygestel is nie, is ’n spesiale sagtebanduitgawe later in Brittanje gedruk. ’n Eksemplaar is aan al die kinders gestuur wat die byeenkoms bygewoon het.
Leicester se unieke jaarvergadering
Ná die oorlog was daar ’n wonderlike toename van Koninkryksverkondigers in Brittanje! In die vroeë tagtigerjare het die getal gemeentes in Leicester tot tien toegeneem. Toe is ons in kennis gestel dat die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies besluit het om die jaarvergadering van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap in 1983 in Leicester te hou. As stadsopsiener van Leicester was ek spoedig besig met die voorbereidings, onder andere om weer die De Montfort-saal te huur.
Dertien lede van die Bestuursliggaam het vir die geleentheid van die Genootskap se hoofkwartier in Brooklyn af gekom. Altesaam 3671 afgevaardigdes—hierdie keer van oor die hele wêreld, en veral diegene wat al baie jare gedien het—het die saal gevul. ’n Bykomende 1500 het in ’n nabygeleë Byeenkomssaal na die program geluister.
Albert D. Schroeder, wat opsiener van die Wagtoringgenootskap se takkantoor in Londen was toe ons in die oorlogstyd die byeenkoms in Leicester gehad het, was die voorsitter by hierdie jaarvergadering. Broer Schroeder het na die byeenkoms van 1941 terugverwys en gevra: “Hoeveel van julle wat vandag hier saam met ons is, was destyds teenwoordig?” Meer as die helfte van die gehoor het hulle hande opgesteek. “Wil jy nou meer! Wat ’n reünie van al die getroue lojales!” het hy uitgeroep. Dit was inderdaad ’n onvergeetlike ondervinding.
Op 98-jarige ouderdom dien ek nog steeds as sekretaris in ons gemeente en hou ek nog openbare toesprake, hoewel ek nou sit as ek dit doen. Ná Mary se dood in 1987 het ek met Bettina getrou, ’n weduwee wat ek en Mary baie jare lank geken het. Ek is dankbaar dat daar, liggaamlik sowel as geestelik, so goed na my omgesien word. Ondanks die beperkings wat Mary se swak gesondheid en nou my ouderdom op ons geplaas het, het ek gevind dat ’n mens altyd ryklik beloon word as jy volop het om in heilige diens te doen.—1 Korintiërs 15:58.
[Prent op bladsy 26]
Voorbereid om in die twintigerjare aan die bediening deel te neem
[Prent op bladsy 26]
Foto’s van die Leicester-byeenkoms