Pas op vir “Epikureërs”
“Hy is so gaaf! Hy het hoë sedelike standaarde. Hy rook nie, gebruik nie dwelms nie en vloek nie. Om die waarheid te sê, hy is gawer as party wat sê dat hulle Christene is!”
HET jy al gehoor hoe party hierdie redenasie gebruik om ongepaste vriendskappe wat hulle aankweek te regverdig? Is dit geldig wanneer dit in die lig van die Skrif ondersoek word? ’n Voorbeeld uit ’n gemeente van vroeë Christene werp lig op hierdie saak.
In die eerste eeu het die apostel Paulus die Korintiese gemeente gewaarsku: “Moenie mislei word nie. Slegte omgang bederf nuttige gewoontes.” Miskien het party Christene noue omgang gehad met persone wat deur Griekse filosofie beïnvloed is, waaronder dié van die Epikureërs. Wie was die Epikureërs? Waarom was hulle ’n geestelike gevaar vir die Christene in Korinte? Is daar vandag mense soos hulle, vir wie ons versigtig moet wees?—1 Korintiërs 15:33.
Wie was die Epikureërs?
Die Epikureërs was volgelinge van die Griekse filosoof Epikurus, wat van 341 tot 270 v.G.J. geleef het. Hy het geleer dat genot die enigste of hoogste doel in die lewe is. Beteken dit dat die Epikureërs skandelike lewens gelei het, beginselloos was en verderflike gebruike beoefen het in ’n voortdurende soektog na genot? Verbasend genoeg het Epikurus sy volgelinge nie geleer om so te lewe nie! Hy het eerder geleer dat dit die beste is om genot te vind deur in ooreenstemming met verstandigheid, moed, selfbeheersing en geregtigheid te lewe. Hy het nie die nastrewing van onmiddellike en kortstondige genot voorgestaan nie, maar eerder genot wat lewenslank voortduur. Gevolglik het die Epikureërs moontlik deugsaam gelyk wanneer hulle met diegene vergelyk is wat growwe sonde beoefen het.—Vergelyk Titus 1:12.
Soortgelyk aan die Christelike godsdiens?
Sou die Epikureërs jou beïndruk het as jy ’n lid van die vroeë Korintiese gemeente was? Party het dalk geredeneer dat die Epikureërs se skynbaar hoë sedes hulle veilige vriende vir Christene gemaak het. Die Korintiërs kon verder rasionaliseer en oënskynlike ooreenkomste tussen Epikuriese standaarde en dié van God se Woord gesien het.
Die Epikureërs het byvoorbeeld matigheid voor oë gehou in hulle najaging van genot. Hulle het geestelike genot hoër geag as vleeslike genot. Wat iemand geëet het, was minder belangrik as sy verhouding met die persoon saam met wie hy dit geëet het. Die Epikureërs het hulle selfs van politieke betrokkenheid en geheime sondes onthou. Hoe maklik kon dit tog gewees het om aan te neem: “Hulle is baie soos ons!”
Maar was die Epikureërs werklik soos die vroeë Christene? Beslis nie. Diegene met behoorlik opgeleide onderskeidingsvermoëns kon groot verskille sien (Hebreërs 5:14). Kan jy? Kom ons beskou die leringe van Epikurus van naderby.
Die donker kant van Epikurisme
Om mense te help om vrees vir die gode en die dood te bowe te kom, het Epikurus geleer dat die gode geen belangstelling in die mensdom het nie en dat hulle nie in menseaangeleenthede ingryp nie. Volgens Epikurus het die gode nie die heelal geskep nie en het lewe per toeval ontstaan. Was dit nie duidelik in stryd met die Bybel se lering dat daar “een God”, die Skepper, is en dat hy oor sy menseskepsele besorg is nie?—1 Korintiërs 8:6; Efesiërs 4:6; 1 Petrus 5:6, 7.
Epikurus het ook geleer dat daar geen lewe ná die dood kan wees nie. Dit was natuurlik in stryd met die Bybel se lering van die opstanding. Trouens, toe die apostel Paulus by die Areopagus gepraat het, was die Epikureërs waarskynlik onder diegene wat met Paulus verskil het oor die opstandingsleer.—Handelinge 17:18, 31, 32; 1 Korintiërs 15:12-14.
Die gevaarlikste element van Epikurus se filosofie was moontlik ook die subtielste. Sy ontkenning van lewe ná die dood het hom tot die gevolgtrekking laat kom dat die mens gedurende sy kort tydjie op die aarde so gelukkig moet lewe as wat vir hom moontlik is. Soos ons gesien het, was sy idee nie noodwendig om in sonde te lewe nie, maar eerder om die hede te geniet, aangesien dit al is wat ons het.
Epikurus het dus geheime oortreding ontmoedig sodat ’n mens nie bang sou wees dat jy betrap word nie, ’n besliste bedreiging vir jou teenswoordige geluk. Hy het matigheid voorgestaan om die gevolge van onmatigheid te vermy, nog ’n struikelblok tot teenswoordige geluk. Hy het ook goeie verhoudings met ander voorgestaan omdat dit tot jou voordeel is wanneer ander jou op soortgelyke wyse behandel. As sodanig is dit natuurlik goed om geheime oortredings te vermy, matigheid voor oë te hou en vriendskappe aan te kweek. Waarom was Epikurus se filosofie dan gevaarlik vir ’n Christen? Omdat sy raad gegrond was op sy ongelowige beskouing: “Laat ons eet en drink, want môre gaan ons sterf.”—1 Korintiërs 15:32.
Die Bybel wys weliswaar vir mense hoe hulle nou gelukkig kan lewe. Maar dit maan: “[Hou julle] in God se liefde . . . , terwyl julle wag op die barmhartigheid van ons Here Jesus Christus met die ewige lewe in die vooruitsig” (Judas 21). Ja, die Bybel lê groter nadruk op die ewige toekoms, nie op die vlietende hede nie. Vir ’n Christen is dit van die allergrootste belang om God te dien, en hy vind dat hy gelukkig en tevrede is wanneer hy God eerste stel. Op soortgelyke wyse het Jesus eerder sy krag gebruik om Jehovah onselfsugtig te dien en mense te help as om behep te raak met sy eie persoonlike belange. Hy het sy dissipels geleer om goed te doen aan ander, nie omdat hulle iets terugverwag nie, maar uit opregte liefde vir hulle. Dit is duidelik dat die grondliggende beweegredes agter Epikurisme en die Christelike godsdiens heeltemal verskillend is.—Markus 12:28-31; Lukas 6:32-36; Galasiërs 5:14; Filippense 2:2-4.
’n Subtiele gevaar
Dit is ironies dat die Epikureërs, hoewel hulle soveel klem daarop gelê het om gelukkig te wees, hoogstens maar beperkte geluk geniet het. Epikurus het die lewe ’n “bittere gawe” genoem omdat hy nie “die vreugde van Jehovah” gehad het nie (Nehemia 8:10, NW). Hoe gelukkig was die vroeë Christene tog in vergelyking met hulle! Jesus het nie ’n ongelukkige lewe van onthouding voorgestaan nie. Trouens, as ’n mens sý weg volg, lei dit tot die grootste geluk.—Matteus 5:3-12.
As party lede van die gemeente in Korinte gedink het dat hulle met mense wat deur Epikuriese denke beïnvloed is, kon omgaan sonder om hulle geloof in gevaar te stel, was hulle verkeerd. Toe Paulus sy eerste brief aan die Korintiërs geskryf het, het party van hulle reeds hulle geloof in die opstanding verloor.—1 Korintiërs 15:12-19.
Hedendaagse Epikurisme?
Hoewel Epikurisme in die vierde eeu G.J. verdwyn het, is daar vandag mense wat ’n soortgelyke nou-is-al-wat-daar-is-beskouing het. Hierdie mense stel min of geen geloof in God se belofte van die ewige lewe. En tog handhaaf party van hulle redelik hoë gedragstandaarde.
’n Christen kom dalk in die versoeking om ’n hegte verhouding met sulke persone aan te kweek, moontlik omdat hy redeneer dat hulle goeie eienskappe vriendskap regverdig. Hoewel ons ons nie as meerderwaardig beskou nie, moet ons egter in gedagte hou dat alle “slegte omgang”—selfs dié wie se invloed subtieler is—‘nuttige gewoontes bederf’.
Die nou-is-al-wat-daar-is-filosofie word ook in party sakeseminare, selfhelpboeke, romans, rolprente, televisieprogramme en musiek aangetref. Kan hierdie ongelowige beskouing, hoewel dit sondige gedrag nie direk aanmoedig nie, ons dalk subtiel beïnvloed? Kan ons byvoorbeeld so behep raak met selfverwesenliking dat ons die geskil oor Jehovah se soewereiniteit uit die oog verloor? Kan ons aandag afgelei word sodat ons ons nie te veel inspan nie, pleks van “volop [te hê] om in die werk van die Here te doen”? Of kan ons mislei word om te twyfel aan die regverdigheid en voordele van Jehovah se standaarde? Ons moet daarteen waak dat ons nie direk blootgestel word aan onsedelikheid, geweld en spiritisme sowel as aan diegene wat deur wêreldse beskouings beïnvloed is nie!—1 Korintiërs 15:58; Kolossense 2:8.
Laat ons dus hoofsaaklik omgaan met diegene wat Jehovah se leiding heelhartig volg (Jesaja 48:17). Dit sal daartoe lei dat ons nuttige gewoontes sterker word. Ons geloof sal versterk word. Ons sal ’n gelukkige lewe geniet, nie net nou nie, maar in die toekoms, met die ewige lewe in die vooruitsig.—Psalm 26:4, 5; Spreuke 13:20.
[Prent op bladsy 24]
Epikurus het geleer dat die gode nie in die mensdom belangstel nie
[Erkenning]
Met vergunning van The British Museum