Kan jy in ’n persoonlike God glo?
“JY HET nie nodig om in God te glo om ’n Christen te wees nie . . . Ons is nou deel van ’n revolusie, maar in die 21ste eeu sal die kerk sonder ’n God in die tradisionele sin wees”, het ’n senior Britse universiteitskapelaan verduidelik. Hy het namens die See van Geloof-beweging gepraat wat deur ten minste honderd Britse priesters onderskryf word. Hierdie “Christenateïste” voer aan dat godsdiens iets is wat deur mense geskep is en dat, soos een lid dit gestel het, God net “’n idee” is. ’n Bonatuurlike God pas nie meer by hulle denkwyse in nie.
“God is dood” was ’n gewilde slagspreuk in die sestigerjare. Dit het die opvattings van die 19de-eeuse Duitse filosoof Friedrich Nietzsche weerspieël en het baie jongmense die verskoning gegee wat hulle wou hê om hulle eie gang te gaan, om hulle in onbeteuelde losbandigheid aan vrye liefde en dwelmmisbruik oor te gee. Maar het sulke vryheid die blommekinders, soos hulle bekend geword het, na ’n meer bevredigende lewe van geluk gelei?
In dieselfde dekade het die Anglikaanse biskop John A. T. Robinson se omstrede boek Honest to God verskyn. Baie van sy medegeestelikes het hom voor stok gekry omdat hy God “as niks meer as ’n element van diepte in die mens se ondervinding” beskou het nie. Teologieprofessor Keith Ward het gevra: “Is geloof in God die een of ander soort uitgediende bygeloof wat nou deur die wyses verwerp word?” Hy het sy eie vraag beantwoord en gesê: “Niks is vandag belangriker in godsdiens as om ’n kennis van die tradisionele idee van God te herstel nie.”
Lyding en ’n persoonlike God
Baie mense wat in ’n persoonlike God glo, vind dit moeilik om hulle oortuiging in verband te bring met die tragedies en lyding wat hulle sien. Byvoorbeeld, in Maart 1996 is 16 jong kinders, saam met hulle onderwyseres, in Dunblane, Skotland, doodgeskiet. “Ek verstaan eenvoudig nie die wil van God nie”, het een verwese vrou gesê. Die pyn wat hierdie tragedie gebring het, is weergegee op ’n kaartjie wat saam met blomme buite die kinders se skool gelaat is. Daar was net een woord daarop: “WAAROM?” In antwoord het die predikant van die Dunblane-katedraal gesê: “Daar is nie ’n verduideliking nie. Ons kan nie sê waarom dit moes gebeur nie.”
Later dieselfde jaar is ’n gewilde jong geestelike van die Anglikaanse Kerk wreed vermoor. Die Church Times het berig dat ’n geskokte gemeente gehoor het hoe die aartsdeken van Liverpool daarvan praat dat hy “aan God se deur klop en vra: Waarom? Waarom?” Hierdie geestelike het ook geen vertroostende woorde gehad wat van ’n persoonlike God kom nie.
Wat moet ons dan glo? Dit is redelik om in ’n persoonlike God te glo. Dit is die sleutel wat nodig is om die dwingende vrae te beantwoord wat hierbo geopper is. Oorweeg gerus die bewyse wat in die volgende artikel gegee word.
[Prent op bladsy 3]
Die kaartjie het gevra “Waarom?”
[Erkenning]
NEWSTEAM No. 278468/Sipa Press