Swaar tye vir die bejaardes
MAMA ONIYAN, wat 68 jaar oud is, woon in ’n groot stad in Wes-Afrika. Toe sy jonger was, het sy gedroom van ’n stil en rustige oudag, omring deur haar kinders en kleinkinders. Pleks daarvan slyt sy haar dae deur koue drinkwater onder die tropiese son te verkoop. Die bietjie wat sy verdien, help haar om aan die lewe te bly. Haar twee seuns woon in ’n ander land ver daarvandaan. Hulle het lank laas vir haar enige geld gestuur.
In die verlede is die bejaardes in Afrika hooggeag. Hulle is met agting behandel weens hulle ondervinding en kennis, asook die wysheid en onderskeidingsvermoë wat dikwels daarmee gepaardgaan. Hulle het die kleinkinders help grootmaak. Die jonger geslag het hulle om raad genader en wou hulle goedkeuring hê. Mense het volgens die Bybelraad gelewe: “Vir die grys hare moet jy opstaan, en die persoon van ’n grysaard eer.”—Levitikus 19:32.
Tye het verander. Armoede, inflasie, werkloosheid en grootskaalse verstedeliking het veroorsaak dat baie bejaardes vir hulleself moet sorg. Die direkteur van HelpAge Kenya, Camillus Were, sê: “Die tradisie om die bejaardes te ondersteun en te versorg, is besig om te verdwyn.”
Die verswakking van familiebande is natuurlik nie iets wat net in Afrikalande voorkom nie. Die Guardian Weekly berig omtrent Japan: “Ouerliefde was eens die hoeksteen van ’n Japannese waardestelsel wat deur Confucianisme nagelaat is, maar dit het nie verstedeliking en die verswakking van familiebande oorleef nie: vandag sterf 85 persent van Japannese in hospitale of ouetehuise.”
Wat die situasie ook al is, diegene wat God waarlik wil behaag, streef daarna om hulle ouers te eer. Hulle slaan ag op die Bybel se raad: “Eer jou vader en jou moeder . . . sodat dit met jou goed mag gaan en jy lank op die aarde mag bly” (Efesiërs 6:2, 3). Hoewel dit nie altyd maklik is om bejaarde ouers te eer en te versorg nie, kan dit ryk belonings meebring.