Weiding vir skaapgeaardes in Navaholand
HÓZHÓNÍ beteken “pragtig” in die taal van die Navaho-Indiane, en dit is hoe die Navaho-volk hulle land beskryf. Sedert 1868 het die Amerikaanse regering sowat 62 000 vierkante kilometer reservaatgrond in noordoostelike Arizona aan die Navaho toegedeel, in die omgewing van ’n plek wat Four Corners genoem word, waar die vier state Arizona, Colorado, Nieu-Mexiko en Utah bymekaarkom. Monument Valley, wat bekend geword het in rolprente oor die Wilde Weste, word nou bewaar as ’n Navaho-stamreservaat en lok toeriste van regoor die wêreld. Die vallei word gekenmerk deur skouspelagtige rooi sandsteenmonoliete wat in hulle indrukwekkende eensaamheid driehonderd meter hoog bo die hoë woestynvlaktes uitstyg. Die Navaho-woord vir die vallei beteken gepas “die plek tussen die rotse”.
Die Navaho-volk in sy geheel is bekend vir hulle nederigheid, hartlike gasvryheid en hegte uitgebreide families. Die 170 000 inwoners van die reservaat woon hoofsaaklik in afgesonderde nedersettings en volg nog die tradisionele lewenswyse. Party boer nog met skape en bly in grondbedekte blokhutte wat hogans genoem word. Navaho-kuns en -handwerk het baie gewild geword. Hulle matte en komberse met kleurvolle geometriese of tradisionele ontwerpe, wat van skaapwol geweef word, is veral gesog. Die Navaho-silwerjuweliersware met turkoois en ander natuurlike materiale is ewe bekend.
Die goeie nuus word na Navaholand gebring
Jehovah se Getuies kom al meer as 30 jaar lank na Navaholand toe, nie net om die besienswaardighede te bekyk nie, maar ook om die goeie nuus van God se Koninkryk na die mense in hierdie afgesonderde gebied te bring (Matteus 24:14). Gewone en spesiale pionierbedienaars van Jehovah se Getuies het die voortou in die predikingswerk geneem. Baie van hulle het gekom in reaksie op uitnodigings van reisende opsieners en plaaslike Getuies om te kom dien waar hulp nodig is. Party het van nabygeleë gemeentes gekom, terwyl ander, onder andere lede van verskillende Indianestamme, uit verskillende dele van die Verenigde State gekom het.
Hierdie selfopofferende manne en vroue het hulle bediening hier met ’n sendingtoewysing vergelyk. Waarom? In die eerste plek is die Indianetale uiters moeilik om aan te leer weens die ingewikkelde klanke, sinsbou en uitdrukkings. Die Indiane het ook grotendeels vasgeklou aan hulle tradisionele gewoontes ten opsigte van godsdiens, familiestruktuur en ’n eenvoudige lewenswyse na aan die aarde. Daarbenewens is behuising en werk skaars vir nie-Indiane, wat dit moeilik maak vir diegene wat daarheen verhuis het om aan te bly. En ten slotte het die lang geskiedenis van die wit man se mishandeling van hierdie mense hulle begryplik met ’n mate van wantroue teenoor buitestanders vervul.a
In die begin, toe die Getuies van huis tot huis gegaan het in formele klere met dasse, is hulle vir Mormone aangesien, en baie wou nie die deur oopmaak nie. Toe hulle informeler klere begin dra het, is hulle ingenooi en kon hulle dikwels ’n uur of langer bly. Nou herken die mense Jehovah se Getuies selfs al dra hulle weer formele klere in die bediening.
Net om by die mense wat in die Navaho-reservaat woon uit te kom, is ’n ware uitdaging. Dit is iets algemeens om baie kilometers op ongemerkte paaie te ry wat dalk rotsagtig, sanderig en modderig is. Dit stel die voertuie natuurlik aan ekstra slytasie bloot en stel ook spesiale eise aan die passasiers. Voertuie kan ook vasval, maar verbygangers is gewoonlik gewillig om hand by te sit. Dit verg dikwels ’n heen-en-terugreis van etlike ure om belangstellendes te besoek, na ’n tuisbybelstudie te gaan of om iemand na ’n Christelike vergadering te neem. Maar die Getuies is gewillig om hulle in te span, en hulle lewer so bewys van hulle liefde vir die Indiane.—Vergelyk 1 Tessalonisense 2:8.
Die Navaho geniet dit om Bybelbesprekings te hê. Gewoonlik laat hulle die hele gesin bymekaarkom—die kinders, ouers en grootouers—om te luister na die hoop van ’n toekomstige paradystuiste vir die mensdom. Toe ’n Navaho-man gevra is hoe hy hom die Paradys voorstel, het hy geantwoord: “Groen, met baie skape”, ’n weerspieëling van hulle liefde vir die land en hulle kuddes. Hulle waardeer ook Bybellektuur en bewys dit deur by tye krale, ’n koekie seep, blikkiesmelk en dergelike dinge te skenk om die Koninkrykswerk te ondersteun. Een spesiale pionier het in ’n jaar ongeveer 200 intekeninge op Die Wagtoring en Ontwaak! verkry, onder andere twee by ’n man op ’n perd.
In ’n “skaapkraal” bymekaargebring
Wanneer die somer nader kom, is dit tyd vir ’n Navaho-herder om sy of haar kudde na ’n skaapkraal te skuif. Hierdie somertuiste vir die skape, wat gekies word omdat dit naby groen weivelde en ’n goeie waterbron is, help die kudde om te gedy. In figuurlike sin kan ’n Koninkryksaal met so ’n kraal vergelyk word—’n geestelike weiveld en ’n bron van waters van waarheid. Mense wat daarheen kom, kan geestelike voeding vind wat hulle geestelik gesond en sterk maak.
Vergaderinge is ’n tyd lank in ’n skoolklaskamer in Kayenta, Arizona, gehou. Toe is daar in Augustus 1992 ’n nuwe Koninkryksaal in Kayenta gebou met die hulp van honderde Getuievrywilligers van verskeie state. Hierdie Koninkryksaal en verskeie ander in die streek verleen ’n gevoel van permanensie aan die predikingswerk in die verstande van die plaaslike mense. Ander Koninkryksale in hierdie uitgestrekte gebied sluit dié in wat in Tuba City en Chinle is, wat altwee in die reservaat is, een in Keams Canyon op Hopi-stamgrond in die Navaho-reservaat en verskeie ander in dorpe rondom die reservaat. Wat was die gevolg?
Oorweldigende belangstelling in die Koninkryksboodskap
In Kayenta is meer as 12 van die plaaslike mense al gedoop sedert die Koninkryksaal gebou is, wat toon dat Jehovah se seën op hierdie plek van ware aanbidding rus. Die saal dien as bewys van die feit dat Jehovah se Getuies ’n vaste plek hier gekry het en wek vertroue in die goeie nuus van die Koninkryk wat hulle verkondig. Onlangs is die eerste openbare Bybeltoespraak in die Navaho-taal hier gehou. Die 40 gemeentelede was verheug om 245 by die toespraak oor die verantwoordelikhede van ouerskap te verwelkom. Met harte vol waardering het ’n gesin van agt ’n heen-en-terugreis van ses uur afgelê om hierdie toespraak te hoor—hulle eerste besoek aan ’n Koninkryksaal.
Nog ’n nuttige instrument wat Jehovah voorsien het, is die brosjure Jy kan vir ewig op die aarde lewe! in Navaho. Dit was ’n ontsaglike uitdaging om hierdie brosjure in Navaho, ’n baie ingewikkelde taal, te vertaal. Die vertalers het gesamentlik meer as 1000 uur daaraan bestee om te verseker dat die brosjure die Koninkryksboodskap behoorlik oordra. Vandat dit laat in 1995 vrygestel is, het die plaaslike Getuies etlike duisende eksemplare daarvan versprei, wat tot tientalle Bybelstudies met waarheidsoekers gelei het.
Namate Koninkryksverkondigers Navaho leer, word dit al hoe meer in die bediening gebruik. Gemeentes in die gebied het begin om Navaho in die Teokratiese Bedieningskool te gebruik, en Navaho-klasse word gehou om die verkondigers op te lei. Daarbenewens word die program by plaaslike kringbyeenkomste ook in Navaho vertaal. Al hierdie pogings sal sekerlik tot ’n selfs gunstiger reaksie in die reservaat lei.
Iets wat nie oor die hoof gesien moet word onder die Koninkryksvrugte in hierdie Indianereservaat nie, is die voortreflike geestelike eienskappe wat deur ons Navaho-broers geopenbaar word. Jimmy en Sandra het sewe jaar lank met hulle vyf kinders ’n heen-en-terugreis van 240 kilometer afgelê om die weeklikse vergaderinge by te woon. Die gesin het aangename herinneringe van hoe hulle gedurende hulle lang reise Koninkryksliedere gesing en die Bybel saam bestudeer het. Die ouers se liefde en ywer vir die waarheid het die kinders aangespoor om hulle voorbeeld te volg deur toegewyde lowers van Jehovah te word. Vier van hulle dien nou as gewone pioniers, en Jimmy is ’n ouer man. Hierdie gesin se vreugde is vergroot toe Jimmy se suster Elsie onlangs die eerste persoon geword het wat gedoop is en wat net Navaho praat.
Plaaslike herders en hulle kuddes gee ’n gevoel van landelike kalmte aan die statige rotsformasies in die Navaho-reservaat. Die profeet Jesaja het lank gelede van Jehovah voorspel: “Hy sal sy kudde laat wei soos ’n herder; Hy sal die lammers in sy arm vergader en aan sy bors dra; die lammerooie sal Hy saggies lei” (Jesaja 40:11). Deur sy Voortreflike Herder, Jesus Christus, versamel Jehovah almal in die Navaho-reservaat wat ’n begeerte het om die goeie nuus van die Koninkryk te hoor en wat sy ewige seëninge wil geniet na sy geestelike weiveld.
[Voetnoot]
a Sien die Ontwaak! se nommers van 8 Mei 1948 (in Engels); 22 Februarie 1952 (in Engels); 22 Junie 1954 (in Engels) en 8 September 1996.
[Prent op bladsy 24]
’n Navaho-herderin hoor die goeie nuus