Gered in ’n tyd van rampe
DIE afdelingswinkel van vyf verdiepings in Seoel, Korea, het skielik ingestort en honderde mense binne-in vasgekeer! Reddingswerkers het dag en nag gewerk om soveel lewens moontlik te red. Namate die dae verbygegaan het, het die kanse al minder geword om nog oorlewendes te vind wat in die berg beton en staal begrawe is.
Net toe alle hoop laat vaar is, het iets verbasends gebeur. ’n Flou gekerm is onder die puin gehoor. Reddingswerkers het verwoed met hulle kaal hande gegrawe en ’n 19-jarige vrou bevry wat 16 dae lank lewendig begrawe was. ’n Hyserskag wat ingestort het, het ’n beskermende holte oor haar gevorm en het haar teen tonne vallende beton beskerm. Hoewel sy erg ontwater het en vol snye was, het sy aan die dood ontkom!
Daar gaan deesdae skaars ’n maand verby sonder berigte van die een of ander ramp, hetsy ’n aardbewing, ’n hewige storm, ’n vulkaanuitbarsting, ’n ongeluk of ’n hongersnood. En ongelooflike verhale van reddingspogings en hoe mense rampe oorleef het, fassineer miljoene mense wat op hoogte bly van die nuus. Maar die waarskuwing van ’n naderende ramp—die grootste in die hele mensegeskiedenis—word oor die algemeen geïgnoreer (Matteus 24:21). Die Bybel beskryf hierdie naderende gebeurtenis met die volgende woorde: “Kyk, onheil gaan uit van volk tot volk, en ’n groot storm word opgewek uit die agterhoeke van die aarde. En die wat deur die HERE verslaan is, sal dié dag lê van die een einde van die aarde tot die ander einde van die aarde; hulle sal nie beklaag of versamel of begrawe word nie; hulle sal mis op die aarde wees.”—Jeremia 25:32, 33.
Skokkende woorde! Maar anders as natuurrampe en ongelukke sal hierdie ramp nie ’n slagting wees wat mense sonder onderskeid tref nie. Trouens, oorlewing—jou oorlewing—is moontlik!
’n Tyd van dringendheid
Om hierdie feit ten volle te begryp, moet ’n mens verstaan waarom hierdie aardwye ramp in die eerste plek gaan plaasvind. In werklikheid is dit die enigste ware oplossing vir die mensdom se probleme. Min mense voel vandag veilig en gerus. Ondanks die wetenskap se beste pogings teister besmetlike siektes steeds die aarde se bevolking. Oorloë wat die gevolg is van godsdiens-, stam- en politieke verskille eis duisende menselewens. Hongersnood vererger die ellende en lyding van onskuldige mans, vrouens en kinders. Sedelike verval tas die fondament van die samelewing aan; selfs kinders is verderf.
’n Bybelprofesie wat meer as 1 900 jaar gelede geskryf is, gee ’n ongelooflik juiste beskrywing van ons situasie. Dit sê: “Jy moet besef dat tye in die laaste dae vol gevaar sal wees.”—2 Timoteus 3:1, The New Testament in Modern English, deur J. B. Phillips; vergelyk Matteus 24:3-22.
Dink jy dit is redelik dat ’n liefdevolle God onverskillig sou staan teenoor ons benarde toestand? Die Bybel sê: “Hy is God!—wat die aarde geformeer en dit gemaak het . . . Hy het dit nie geskape om woes te wees nie, maar dit geformeer om bewoon te word” (Jesaja 45:18). Ja, God sal nie toelaat dat hierdie pragtige planeet verwoes en al sy inwoners uitgewis word nie, maar sal ingryp. Die vraag is: Hoe sal hy dit doen?
Kies die lewe!
Die Bybel antwoord in Psalm 92:8: “As die goddelose mense groei soos die plante en al die werkers van ongeregtigheid bloei, is dit om hulle vir ewig te verdelg.” God se oplossing vir die aarde se probleme is die verwydering van goddeloosheid. Dit beteken gelukkig nie dat alle mense vernietig moet word nie. Psalm 37:34 verseker ons: “Wag op die HERE en hou sy weg, en Hy sal jou verhoog, om die aarde te besit; jy sal met welgevalle neersien op die uitroeiing van die goddelose mense.”
Hierdie woorde toon dat daar ’n kans is om deur die grootste ramp wat die mensdom ooit sal tref heen gered te word. God het ons ’n keuse gegee. Die woorde waarmee Moses die Israeliete vermaan het toe hulle gereedgemaak het om die Beloofde Land in te gaan, geld ewe veel vir ons vandag: “Die lewe en die dood, die seën en die vloek het ek jou voorgehou. Kies dan die lewe, dat jy kan lewe, jy en jou nageslag” (Deuteronomium 30:19). Maar presies hoe kan ’n mens ‘die lewe kies’ en gered word? Wat beteken ware redding werklik?
[Foto-erkenning op bladsy 2]
BUITEBLAD: Ontploffing: Copyright © Gene Blevins/Los Angeles Daily News
[Prent op bladsy 3]
Yunhap News Agency/Sipa Press