Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w97 7/15 bl. 25-29
  • Die “ondersoekende oordeel”—’n Bybelse lering?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die “ondersoekende oordeel”—’n Bybelse lering?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wat is dit?
  • ’n Ontbrekende taalskakel
  • Wat toon die konteks?
  • ’n Paar opmerkenswaardige antwoorde
  • Enige hulp uit Hebreërs?
  • Probleme en ’n dooie punt
  • Jehovah verseker Daniël van ’n wonderlike beloning
    Gee ag op Daniël se profesie!
  • Die boek Daniël en jy
    Gee ag op Daniël se profesie!
  • Identifiseer die ware aanbidders in die tyd van die einde
    Gee ag op Daniël se profesie!
  • Versterk deur ’n boodskapper van God
    Gee ag op Daniël se profesie!
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
w97 7/15 bl. 25-29

Die “ondersoekende oordeel”—’n Bybelse lering?

DIE 22ste Oktober 1844 was ’n dag van groot afwagting vir ongeveer 50 000 mense aan die Ooskus van die Verenigde State. Hulle geestelike leier, William Miller, het gesê dat Jesus Christus op daardie dag sou terugkeer. Die Milleriete, soos hulle genoem is, het in hulle vergaderplekke gewag tot dit donker geword het. Daarna het die volgende dag aangebreek, maar die Here het nie gekom nie. Hulle het teleurgesteld teruggegaan huis toe, en daarna is daardie dag as die “Groot teleurstelling” onthou.

Maar teleurstelling is spoedig deur hoop vervang. ’n Jong vrou met die naam Ellen Harmon het ’n groepie Milleriete daarvan oortuig dat God deur middel van visioene geopenbaar het dat hulle tydsberekening reg was. Sy het geglo dat ’n betekenisvolle gebeurtenis op daardie dag plaasgevind het—Christus het toe in “die allerheiligste van die hemelse heiligdom” ingegaan.

Meer as ’n dekade later het die Adventisteprediker James White (wat met Ellen Harmon getrou het) ’n nuwe uitdrukking geskep om die aard van Christus se werk sedert Oktober 1844 te beskryf. In die Review and Herald van 29 Januarie 1857 het White gesê dat Jesus met ’n “ondersoekende oordeel” begin het. En dit het ’n grondleer gebly van die ongeveer sewemiljoen wat hulleself Sewendedagadventiste noem.

Maar party gesiene geleerdes in die Sewendedagadventistekerk (SDA) het al gewonder of die “ondersoekende oordeel” ’n Bybelse lering is. Waarom het hulle bedenkinge hieroor? As jy ’n Sewendedagadventis is, sal hierdie vraag jou raak. Maar wat is die “ondersoekende oordeel” in die eerste plek?

Wat is dit?

Die hoofteks wat aangehaal word om hierdie leerstelling te steun, is Daniël 8:14. Dit sê: “Hy het vir my gesê: Tot tweeduisend-driehonderd dae; dan sal die heiligdom gereinig word” (King James Version). Weens die frase “dan sal die heiligdom gereinig word”, verbind talle Adventiste hierdie vers met Levitikus hoofstuk 16. Dit beskryf die reiniging van die heiligdom deur die Joodse hoëpriester op die Versoendag. Hulle verbind ook Daniël se woorde met Hebreërs hoofstuk 9, wat Jesus as die Groot Hoëpriester in die hemel beskryf. Een SDA-geleerde sê dat hierdie redenasie op die “bewysplaas”-metode gebaseer is. Iemand vind “’n sekere woord soos heiligdom in Dan. 8:14, dieselfde woord in Lev. 16, dieselfde woord in Heb. 7, 8, 9” en gaan dan van die standpunt uit “dat hulle almal van dieselfde ding praat”.

Die Adventiste redeneer só: Priesters in eertydse Israel het ’n daaglikse diens verrig in die tempelafdeling wat die Heilige genoem is, en dit het tot vergifnis van sondes gelei. Op die Versoendag het die hoëpriester ’n jaarlikse diens verrig in die Allerheiligste (die binneste vertrek van die tempel) wat tot die uitwissing van sondes gelei het. Hulle kom tot die gevolgtrekking dat Christus se priesterlike diens in die hemel uit twee fases bestaan. Die eerste fase het met sy hemelvaart in die eerste eeu begin, in 1844 geëindig en tot die vergifnis van sondes gelei. Die tweede, of “oordeelsfase”, het op 22 Oktober 1844 begin, duur steeds voort en sal tot die uitwissing van sondes lei. Hoe word dit gedoen?

Na bewering ondersoek Jesus sedert 1844 die lewensgeskiedenis van alle verklaarde gelowiges (eers die dooies, dan die lewendes) om te bepaal of hulle ewige lewe verdien. Dít word die “ondersoekende oordeel” genoem. Nadat mense op hierdie manier geoordeel is, word die sondes van diegene wat hierdie toets geslaag het uit die verslagboeke uitgewis. Maar diegene wat dit nie slaag nie ‘se name sal uit die boek van die lewe uitgewis word’, het Ellen White verduidelik. Só “sal die lot van almal dan vir die lewe of die dood bepaal wees”. Op daardie stadium word die hemelse heiligdom gereinig en word Daniël 8:14 vervul. Dit is wat die Sewendedagadventiste leer. Maar die SDA-publikasie Adventist Review erken: “Die uitdrukking ondersoekende oordeel word nie in die Bybel aangetref nie.”

’n Ontbrekende taalskakel

Hierdie lering pla sommige Adventiste. “Die geskiedenis toon”, sê een waarnemer, “dat lojale leiers in ons midde sielsangs ondergaan het terwyl hulle ons tradisionele lering van die ondersoekende oordeel in oënskou geneem het.” In die laaste jare, voeg hy by, het angs in twyfel verander namate geleerdes “baie van die stutte van ons gewone heiligdomverduidelikings [begin] bevraagteken” het. Kom ons ondersoek nou twee hiervan.

Stut een: Daniël hoofstuk 8 word met Levitikus hoofstuk 16 verbind. Hierdie veronderstelling word deur twee vername probleme verswak—taal en konteks. Beskou eerstens taal. Adventiste glo dat die ‘gereinigde heiligdom’ in Daniël hoofstuk 8 die teenbeeld van die ‘gereinigde heiligdom’ van Levitikus hoofstuk 16 is. Hierdie ooreenkoms het aanvaarbaar gelyk totdat vertalers uitgevind het dat “gereinig” in die King James Version ’n verkeerde vertaling is van ’n vorm van die Hebreeuse werkwoord tsa·dhaqʹ (wat beteken “om regverdig te wees”) wat in Daniël 8:14 gebruik word. ’n Professor van teologie, Anthony A. Hoekema, sê: “Dit is jammer dat die woord as gereinig vertaal is, aangesien die Hebreeuse werkwoord wat gewoonlik met gereinig vertaal word [ta·herʹ] glad nie hier gebruik word nie.”a Dit word in Levitikus hoofstuk 16 gebruik, waar die King James Version vorme van ta·herʹ as “reinig” en “rein wees” vertaal (Levitikus 16:19, 30). Dr. Hoekema kom dus tereg tot dié slotsom: “As Daniël na die soort reiniging wou verwys wat op die Versoendag gedoen is, sou hy taheer [ta·herʹ] in plaas van tsadaq [tsa·dhaqʹ] gebruik het.” Maar tsa·dhaqʹ word nie in Levitikus aangetref nie, en ta·herʹ word nie in Daniël aangetref nie. Die taalskakel ontbreek.

Wat toon die konteks?

Beskou nou die konteks. Adventiste meen dat Daniël 8:14 “’n kontekstuele eiland” is wat geen verband met die voorgaande verse het nie. Maar kry jy daardie indruk wanneer jy Daniël 8:9-14 in die bygaande venster met die titel “Daniel 8:14 in konteks” lees? Vers 9 identifiseer ’n aanvaller, ’n klein horing. Verse 10-12 toon dat hierdie aanvaller die heiligdom sal aanval. Vers 13 vra: ‘Hoe lank sal hierdie aanval duur?’ En vers 14 antwoord: “Tweeduisend-driehonderd aande en môres, dan sal die heiligdom in sy regte staat herstel word.” Dit is duidelik dat vers 13 ’n vraag stel wat in vers 14 beantwoord word. Teoloog Desmond Ford sê: “Om Dan. 8:14 van hierdie uitroep [“Hoe lank?” in vers 13] te skei, is wat Bybeluitleg betref dieselfde as om sonder ’n anker op see te wees.”b

Waarom skei Adventiste vers 14 van die konteks? Om ’n problematiese gevolgtrekking te vermy. Die konteks skryf die verontreiniging van die heiligdom, wat in vers 14 gemeld word, aan die bedrywighede van die klein horing toe. Die leerstelling van die “ondersoekende oordeel” skryf egter die verontreiniging van die heiligdom aan die bedrywighede van Christus toe. Hy plaas glo die sondes van gelowiges na die hemelse heiligdom oor. Wat gebeur dus as Adventiste die leerstelling sowel as die konteks aanvaar? Dr. Raymond F. Cottrell, ’n Sewendedagadventis en gewese mederedakteur van die SDA Bible Commentary, skryf: “Om onsself wys te maak dat die SDA-uitlegging Daniël 8:14 in konteks beskou, sou dan beteken dat ons die klein horing as Christus identifiseer.” Dr. Cottrell erken ronduit: “Ons kan nie die konteks sowel as die Adventiste-uitlegging hê nie.” Die Adventistekerk moes dus ’n keuse met betrekking tot die “ondersoekende oordeel” maak—aanvaar óf die leerstelling óf die konteks van Daniël 8:14. Ongelukkig het dit eersgenoemde aanvaar en laasgenoemde verwerp. Dit is geen wonder nie, sê dr. Cottrell, dat ingeligte Bybelstudente die Adventiste daarvan beskuldig dat hulle “in die Skrif inlees” wat nie “uit die Skrif afgelei kan word nie”!

In 1967 het dr. Cottrell ’n sabbatskoolles oor Daniël voorberei, wat na SDA-kerke regoor die wêreld gestuur is. Dit het getoon dat Daniël 8:14 wel met die konteks in verband staan en dat die ‘reiniging’ nie na gelowiges verwys nie. Dit is betekenisvol dat die les geen melding van ’n “ondersoekende oordeel” maak nie.

’n Paar opmerkenswaardige antwoorde

In watter mate is Adventiste daarvan bewus dat hierdie stut te swak is om die leerstelling van die “ondersoekende oordeel” te steun? Dr. Cottrell het 27 vooraanstaande Adventisteteoloë gevra: ‘Watter taal- of kontekstuele redes kan julle gee vir die verband tussen Daniël hoofstuk 8 en Levitikus hoofstuk 16?’ Hulle antwoord?

“Al sewe-en-twintig het bevestig dat daar geen taal- of kontekstuele redes bestaan om Dan. 8:14 op die antitipiese versoendag en die ondersoekende oordeel toe te pas nie.” Hy het hulle gevra: ‘Het julle enige ander redes waarom julle meen dat daar ’n verband is?’ Die meeste van die Adventistegeleerdes het gesê dat hulle geen ander redes gehad het nie, vyf het geantwoord dat hulle hierdie verband gesien het omdat Ellen White dit gesien het en twee het gesê dat hulle die leerstelling op ’n “gelukkige toeval” in vertaling gegrond het. Teoloog Ford sê: “Sulke gevolgtrekkings wat deur die room van ons geleerdes gemaak word, dui in werklikheid daarop dat ons tradisionele leer omtrent Dan. 8:14 onverdedigbaar is.”

Enige hulp uit Hebreërs?

Stut twee: Daniël 8:14 word met Hebreërs hoofstuk 9 verbind. “Al ons vroeë werke maak grootliks gebruik van Heb. 9 wanneer dit Dan. 8:14 verduidelik”, sê teoloog Ford. Hierdie skakel het ná die “Groot teleurstelling” in 1844 ontstaan. Milleriet Hiram Edson, wat op soek was na leiding, het sy Bybel op ’n tafel laat val om te sien waar dit sou oopgaan. Die resultaat? Hebreërs hoofstukke 8 en 9 het voor hom oopgelê. Ford sê: “Wat kon meer gepas en simbolies wees van die Adventiste se bewering dat hierdie hoofstukke die betekenis van 1844 en Dan. 8:14 ontsluit!”

“Daardie bewering is uiters belangrik vir Sewendedagadventiste”, sê dr. Ford voorts in sy boek Daniel 8:14, the Day of Atonement, and the Investigative Judgment. “Slegs in Heb. 9 . . . kan ’n uitvoerige verduideliking gevind word van die betekenis van . . . die heiligdomleerstelling wat só belangrik vir ons is.” Ja, Hebreërs hoofstuk 9 is die hoofstuk in die “Nuwe Testament” wat die profetiese betekenis van Levitikus hoofstuk 16 verduidelik. Maar Adventiste sê ook dat Daniël 8:14 die vers in die “Ou Testament” is wat dit doen. As albei stellings waar is, moet daar ook ’n verband tussen Hebreërs hoofstuk 9 en Daniël hoofstuk 8 wees.

Desmond Ford sê: “Sekere dinge val ’n mens onmiddellik op wanneer jy Heb. 9 lees. Daar is geen duidelike sinspeling op die boek Daniël nie, en beslis nie op Dan. 8:14 nie. . . . Die hoofstuk in sy geheel is ’n toepassing van Lev. 16.” Hy sê: “Ons heiligdomleer kan nie gevind word in die enigste boek van die Nuwe Testament wat die betekenis van die heiligdomdienste bespreek nie. Dit is deur welbekende Adventisteskrywers regoor die wêreld erken.” Dus is pilaar twee ook te swak om die problematiese leerstelling te steun.

Hierdie slotsom is egter nie nuut nie. Baie jare al, sê dr. Cottrell, “is Bybelgeleerdes van die kerk deeglik bewus van die probleme ten opsigte van Bybeluitleg wat ons met ons gewone vertolking van Daniël 8:14 en Hebreërs 9 ondervind”. Ongeveer 80 jaar gelede het die invloedryke Sewendedagadventis E. J. Waggoner geskryf: “Die Adventisteleer aangaande die heiligdom, met sy ‘ondersoekende oordeel’ . . . , is so goed as ’n miskenning van die versoening” (Confession of Faith). Meer as 30 jaar gelede is hierdie soort probleme aan die Algemene Konferensie, die SDA-kerk se leierskap, voorgelê.

Probleme en ’n dooie punt

Die Algemene Konferensie het ’n “Komitee oor probleme in die boek Daniël” aangestel. Dit moes ’n verslag voorberei oor hoe om die probleme in verband met Daniël 8:14 op te los. Die 14 komiteelede het die vraag vyf jaar lank bestudeer, maar kon nie met ’n eenstemmige oplossing vorendag kom nie. In 1980 het Cottrell, ’n komiteelid, gesê dat die meeste komiteelede van mening was dat die Adventiste-uitlegging van Daniël 8:14 “bevredigend bevestig” kon word deur ’n reeks “veronderstellings” en dat probleme “vergeet moes word”. Hy het bygevoeg: “Onthou dat die naam van die komitee die ‘Komitee oor probleme in die boek Daniël’ was, en die meeste het voorgestel dat ons van die probleme vergeet en niks daaroor sê nie.” Dit sou daarop neerkom dat “ons erken dat ons nie antwoorde het nie”. Die minderheid het dus geweier om die meerderheid se beskouing te steun, en daar was geen amptelike verslag nie. Die leerstellige probleme het onopgelos gebly.

In sy kommentaar oor hierdie dooie punt sê dr. Cottrell: “Die kwessie oor Daniël 8:14 bestaan nog steeds omdat ons, tot dusver, nie bereid was om die feit onder die oë te sien dat daar ’n wesenlike uitleggingsprobleem bestaan nie. Daardie kwessie sal nie weggaan solank ons bly voorgee dat daar geen probleem is nie, solank ons ons koppe, individueel en gesamentlik, in die sand van ons vooropgesette menings bly wegsteek nie.”—Spectrum, ’n tydskrif wat uitgegee word deur die Vereniging van Adventisteforums.

Dr. Cottrell spoor Adventiste aan om “weer sorgvuldig ondersoek in te stel na die basiese veronderstellings en die beginsels van Bybeluitleg waarop ons ons vertolking gegrond het van hierdie—vir Adventisme—noodsaaklike Skrifgedeelte”. Ons moedig Adventiste aan om die leerstelling van “ondersoekende oordeel” te ondersoek om te sien of die stutte daarvan stewig op die Bybel gegrond is en of dit op die onvaste sand van oorlewering gevestig is.c Die apostel Paulus het wyslik gemaan: “Maak seker van alle dinge; hou vas aan wat voortreflik is.”—1 Tessalonisense 5:21.

[Voetnote]

a Wilson’s Old Testament Word Studies definieer tsadaq (of tsa·dhaqʹ) as “om regverdig te wees, om geregverdig te wees”, en taheer (of ta·herʹ) as “om helder en skitterend te wees; om suiwer, skoon, gereinig te wees; om rein van alle besoedeling of verontreiniging te wees”.

b Dr. Ford was ’n godsdiensprofessor aan die kerkbeheerde Pacific Union-kollege in die VSA. In 1980 het die SDA-leierskap hom ses maande verlof gegee om die heiligdomleerstelling te bestudeer, maar hulle het sy bevindings verwerp. Hy het dit in die boek Daniel 8:14, the Day of Atonement, and the Investigative Judgment gepubliseer.

c Sien bladsye 188-219 van die boek “Laat u wil geskied op aarde”, uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc., vir ’n beredeneerde verduideliking van Daniël hoofstuk 8.

[Venster op bladsy 27]

Daniël 8:14 in konteks

DANIËL 8:9 “En uit een van dié het [’n ander horing, ’n kleintjie, NW] uitgekom, maar dit het baie groot geword na die suide en na die ooste en na die Pragtige Land toe. 10 En dit het groot geword tot by die leër van die hemel en het sommige van die leër, naamlik van die sterre, op die aarde laat val en hulle vertrap. 11 Selfs tot by die Vors van die leër het dit groot geword, sodat die voortdurende offer Hom ontneem en sy [heiligdom, NW] neergewerp is. 12 En ’n leër is aan die horing oorgelewer in goddeloosheid saam met die voortdurende offer; en dit het die waarheid op die grond neergewerp en in sy optrede voorspoed gehad.

“13 Toe hoor ek ’n heilige spreek; en ’n ander heilige het aan die een wat spreek, gesê: Hoe lank sal die gesig duur—van die voortdurende offer en die ontsettende goddeloosheid—sal die heiligdom sowel as die leër aan vertrapping oorgegee word? 14 En hy het vir my gesê: Tweeduisend-driehonderd aande en môres, dan sal die heiligdom in sy regte staat herstel word.” (Ons kursiveer.)

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel