God is my toevlug en sterkte
SOOS VERTEL DEUR CHARLOTTE MÜLLER
“Jou nege jaar onder Hitler is prysenswaardig”, het die Kommunistiese regter gesê. “Jy was werklik gekant teen oorlog, maar nou is jy teen ons vrede!”
HY HET na my vroeër gevangeneming deur die Nazi’s en na sosialisme in die Duitse Demokratiese Republiek verwys. Ek was eers sprakeloos, maar het toe geantwoord: “’n Christen stry nie vir ware vrede op dieselfde manier as ander mense nie. Ek probeer eenvoudig die Bybelbevel nakom om God en my naaste lief te hê. God se Woord help my om vrede in woord en daad te handhaaf.”
Daardie dag, 4 September 1951, het die Kommuniste my tot agt jaar gevangenisstraf gevonnis—een jaar minder as wat die Nazi-regime my opgelê het.
Toe ons as Jehovah se Getuies deur die Nasionaal-sosialiste en deur die Kommuniste vervolg is, het ek vertroosting geput uit Psalm 46:1 (NW): “God is vir ons ’n toevlug en sterkte, ’n hulp wat maklik gevind kan word tydens benoudhede.” Jehovah alleen het my die krag gegee om te volhard, en hoe meer ek sy Woord my eie gemaak het, hoe sterker het ek geword.
Versterk vir die toekoms
Ek is in 1912 in Gotha-Siebleben in Turinge, Duitsland, gebore. Hoewel my ouers Protestante was, was my pa op soek na Bybelwaarheid en na ’n regverdige regering. Toe my ouers die “Fotodrama van die Skepping” sien, was hulle verheug.a My pa het gevind waarna hy gesoek het—die Koninkryk van God.
My pa en ma, tesame met ons ses kinders, het op 2 Maart 1923 as lidmate van die kerk bedank. Ons het in Chemnitz in Saxony gewoon, en daar het ons met die Bybelstudente geassosieer. (Drie van my broers en susters het Getuies van Jehovah geword.)
By die vergaderinge van die Bybelstudente is Bybeltekste en kosbare waarhede by my ingeprent, en dit het my jong hart baie gelukkig gemaak. In die eerste plek was daar die onderrigting wat ons as jong Christene, meer as 50 van ons, op Sondae ontvang het, en wat ek en my suster Käthe ’n ruk lank gekry het. In ons groep was jong Konrad Franke, wat staptoere gereël en saam met ons liedere geoefen het. Later, van 1955 tot 1969, het broer Franke as opsiener van die Wagtoringtakkantoor in Duitsland gedien.
Die twintigerjare was jare vol beroering, soms selfs onder God se volk. Party, wat nie meer Die Wagtoring as “voedsel op die regte tyd” beskou het nie, was teen die huis-tot-huis-predikingswerk gekant (Matteus 24:45). Dit het tot afvalligheid gelei. Maar dit was juis hierdie “voedsel” wat ons die krag gegee het wat ons op daardie tydstip so dringend nodig gehad het. Daar was byvoorbeeld die artikels in die Watchtower met die titels “Geseënd is die onverskrokkenes” (1919) en “Wie sal Jehovah eer?” (1926). Aangesien ek Jehovah deur moedige werk wou eer, het ek baie van broer Rutherford se boeke en boekies versprei.
Ek is in Maart 1933 as een van Jehovah se Getuies gedoop. In daardie selfde jaar is ons evangelisasiewerk in Duitsland verbied. Tydens die doopplegtigheid is Openbaring 2:10 as raad vir die toekoms gegee: “Moenie bang wees vir die dinge wat jy weldra gaan ly nie. Kyk! Die Duiwel sal aanhou om party van julle in die gevangenis te gooi sodat julle ten volle op die proef gestel kan word, en sodat julle tien dae lank verdrukking kan hê. Betoon jou selfs tot in die dood getrou, en ek sal jou die kroon van die lewe gee.” Ek het hierdie vers ter harte geneem, sonder enige twyfel dat moeilike beproewinge op my gewag het. Dit wás toe ook die geval.
Aangesien ons op politieke gebied neutraal gebly het, het heelparty van ons bure ons met agterdog bejeën. Ná ’n politieke verkiesing het ’n afvaardiging van Nazi-soldate in uniform voor ons huis kom staan en uitgeroep: “Verraaiers woon hier!” Die artikel “Vrees hulle nie” wat in Desember 1933 in die Duitse uitgawe van Die Wagtoring verskyn het, was vir my besonder bemoedigend. Ek wou graag ’n getroue Getuie van Jehovah bly, selfs onder die ongunstigste omstandighede.
Die vyand se antwoord—gevangenis
Tot en met die herfs van 1935 kon Die Wagtoring in die geheim gedruk word in Chemnitz. Daarna moes die masjien wat vir duplisering gebruik is na Beierfeld in die Ertsgebergte geneem word, waar dit tot Augustus 1936 gebruik is om lektuur te kopieer. Ek en Käthe het eksemplare versprei onder die broers wie se adresse ons by my pa gekry het. Alles het ’n ruk lank vlot verloop. Maar toe het die Gestapo my begin dophou, en in Augustus 1936 het hulle my by my huis in hegtenis geneem en my as verhoorafwagtende aangehou.
In Februarie 1937 het 25 broers en 2 susters—ek inkluis—voor ’n spesiale hof in Saxony verskyn. Daar is beweer dat die organisasie van Jehovah se Getuies ondermynend was. Die broers wat Die Wagtoring gekopieer het, het vyf jaar gevangenisstraf gekry. Ek het twee jaar gekry.
In plaas van vrygelaat te word nadat ek my vonnis uitgedien het, het die Gestapo my gevange gehou. Ek was veronderstel om ’n verklaring te onderteken wat sê dat ek nie meer as ’n Getuie van Jehovah bedrywig sou wees nie. Ek het ferm geweier, waarna die amptenaar woedend geword het, opgespring het en ’n lasbrief vir my inhegtenisneming uitgereik het. Die lasbrief verskyn op die prent. Sonder vergunning om my ouers te sien, is ek onmiddellik na ’n klein konsentrasiekamp vir vroue in Lichtenburg langs die Elberivier geneem. Kort daarna het ek Käthe gesien. Sy was sedert Desember 1936 in die konsentrasiekamp in Moringen, maar toe daardie konsentrasiekamp gesluit is, het sy en baie ander susters na Lichtenburg gekom. My pa was ook in detensie, en ek het hom eers in 1945 weer gesien.
In Lichtenburg
Ek is nie toegelaat om onmiddellik by die ander Getuie-vroue aan te sluit nie, want hulle is om die een of ander rede gestraf. In een van die sale het ek twee groepe gevangenes gesien—vroue wat gewoonlik by die tafel gesit het en die Getuies wat die hele dag op stoeltjies moes sit en niks gegee is om te eet nie.b
Ek het enige werkstoewysing gretig aanvaar, in die hoop dat ek op die een of ander manier vir Käthe sou raakloop. En dit is presies wat gebeur het. Sy was op pad werk toe saam met twee ander gevangenes toe ons mekaar ontmoet het. Ek was so verheug dat ek haar omhels het. Maar die vrouewag het ons onmiddellik gerapporteer. Ons is ondervra, en van toe af is ons doelbewus weg van mekaar gehou. Dit was baie swaar.
Twee ander voorvalle in Lichtenburg het my bygebly. By een geleentheid moes al die gevangenes in die binnehof bymekaarkom om na een van Hitler se politieke toesprake oor die radio te luister. Ons Getuies van Jehovah het geweier, aangesien dit patriotiese seremonies ingesluit het. Daarom het die wagte die brandslange oopgedraai en ons met die kragtige waterspuit van ’n brandkraan gespuit en ons weerlose vroue van die derde verdieping tot onder in die binnehof laat hardloop. Daar moes ons staan, papnat.
By ’n ander geleentheid is ek, asook Gertrud Oehme en Gertel Bürlen, beveel om die kommandant se hoofkwartier met liggies te versier, aangesien Hitler se verjaarsdag naby was. Ons het geweier, want ons het Satan se taktiek herken om dit so te bewerk dat ons ons onkreukbaarheid prysgee deur ons geloof in klein dingetjies in te boet. As straf moes ons drie jong susters die volgende drie weke elkeen alleen in ’n klein, donker sel deurbring. Maar Jehovah het na aan ons gebly en het bewys dat hy, selfs in so ’n vreeslike plek, ’n toevlug is.
In Ravensbrück
In Mei 1939 is die gevangenes in Lichtenburg na die Ravensbrück-konsentrasiekamp oorgeplaas. Daar moes ek in die wassery werk, tesame met heelparty ander Getuie-susters. Kort nadat die oorlog uitgebreek het, moes ons die swastikavlag gaan haal, wat ons geweier het om te doen. Gevolglik is twee van ons, ek en Mielchen Ernst, in die strafbarak gesit. Dit was een van die swaarste vorme van straf en het beteken dat ons elke dag harde werk moes doen, selfs op Sondae, ongeag die weer. Die maksimum straf was gewoonlik drie maande, maar ons het ’n jaar daar gebly. Sonder Jehovah se hulp sou ek dit nooit oorleef het nie.
In 1942 het toestande vir ons as gevangenes ietwat verbeter, en ek moes as huishoudster gaan werk vir ’n SS-gesin nie ver van die kamp nie. Die gesin het my ’n mate van vryheid gegee. Terwyl ek byvoorbeeld eenkeer saam die kinders gaan stap het, het ek Josef Rehwald en Gottfried Mehlhorn ontmoet, twee gevangenes met pers driehoekies, met wie ek ’n paar woorde van aanmoediging kon wissel.c
Moeilike naoorlogse jare
Toe die geallieerde troepe in 1945 nader beweeg het, het die gesin vir wie ek gewerk het, gevlug en moes ek saam met hulle gaan. Tesame met ander SS-gesinne het hulle ’n groot konvooi gevorm wat weswaarts gereis het.
Die laaste paar dae van die oorlog was chaoties en vol gevare. Eindelik het ons ’n paar Amerikaanse soldate ontmoet wat my toegelaat het om my by die volgende dorp as ’n vry persoon te registreer. Vir wie ontmoet ek toe daar? Josef Rehwald en Gottfried Mehlhorn. Hulle het gehoor dat al die Getuies van die Sachsenhausen-konsentrasiekamp in Schwerin aangekom het ná ’n gevaarlike ‘tog na die dood’. Ons drie het dus na daardie dorp vertrek, wat omtrent 75 kilometer ver was. Wat ’n vreugde was dit tog in Schwerin om al daardie getroue broers, onder andere Konrad Franke, wat oorlewendes van die konsentrasiekampe was te ontmoet.
Teen Desember 1945 het die situasie in die land dermate verbeter dat ek per trein kon reis. Ek was dus op pad huis toe! Maar gedurende die reis moes ek soms op die treinwa se dak lê of op die treeplank staan. In Chemnitz het ek van die spoorwegstasie gegaan na die plek waar ons voorheen as ’n gesin gewoon het. Maar in die straat waar Nazi-troepe vroeër gestaan en skreeu het: “Verraaiers woon hier!” het daar nie ’n enkele huis gestaan nie. Die hele woongebied is deur ’n bomaanval vernietig. Maar tot my verligting het ek gevind dat my ma, pa, Käthe en my broers en susters nog lewe.
Die ekonomiese situasie in naoorlogse Duitsland was verskriklik. Nietemin het gemeentes van God se volk oor die hele Duitsland begin floreer. Die Wagtoringgenootskap het alles in hulle vermoë gedoen om ons vir die predikingswerk toe te rus. Die werk by die Bethel in Maagdenburg, wat die Nazi’s gesluit het, is hervat. In die lente van 1946 is ek genooi om daar te gaan werk, en my toewysing was om in die kombuis te werk.
Weer eens verbooie en inhegtenisneming
Maagdenburg is in daardie deel van Duitsland wat onder Kommunistiese beheer gekom het. Hulle het op 31 Augustus 1950 ’n verbod op ons werk geplaas en die Bethel in Maagdenburg gesluit. Só het my Betheldiens tot ’n einde gekom, wat ’n tyd van waardevolle opleiding was. Ek het na Chemnitz teruggekeer, vasbeslote om selfs onder die Kommuniste stewig aan die waarheid vas te hou en die Koninkryk van God te verkondig as die enigste hoop vir besorgde mense.
In April 1951 het ek saam met ’n broer na Berlyn gereis om eksemplare van Die Wagtoring te gaan haal. Toe ons terugkeer, was ons geskok om die spoorwegstasie in Chemnitz deur polisiemanne omsingel te sien. Hulle het ons klaarblyklik verwag en het ons net daar in hegtenis geneem.
Toe ons by die aanhoudingsplek vir verhoorafwagtendes aankom, het ek dokumente gehad wat bewys het dat ek etlike jare lank deur die Nazi’s gevange gehou is. Die wagte het my gevolglik met respek behandel. Een van die vroulike hoofwagte het gesê: “Julle Jehovah se Getuies is nie misdadigers nie; julle hoort nie in die gevangenis nie.”
Eenkeer het sy in my sel ingekom, waar ek saam met twee ander susters was en stilletjies iets onder een van die beddens gesit. Wat was dit? Haar eie Bybel, wat sy vir ons gegee het. By ’n ander geleentheid het sy my ouers by hulle huis besoek, aangesien hulle nie ver van die gevangenis gewoon het nie. Sy het eksemplare van Die Wagtoring en voedsel gekry, dit aan haar lyf weggesteek en dit alles in my sel ingesmokkel.
Daar is iets anders waaraan ek graag dink. Soms het ons op ’n Sondagoggend ons teokratiese liedere so hard gesing dat die ander gevangenes ná elke lied hartlik hande geklap het.
Sterkte en hulp van Jehovah
Gedurende die hofsaak op 4 September 1951 het die regter die opmerking gemaak wat aan die begin van hierdie artikel gemeld is. Ek het my gevangenisstraf in Waldheim, toe in Halle en laastens in Hoheneck uitgedien. Een of twee kort voorvalle sal toon hoe God ’n toevlug en sterkte vir ons as Jehovah se Getuies was en hoe sy Woord ons versterk het.
By die gevangenis in Waldheim het al die Getuie-susters gereeld in een saal saamgekom, wat ons in staat gestel het om Christelike vergaderinge te hou. Potlood en papier was nie toegelaat nie, maar ’n paar susters het stukkies lap gekry en daarin geslaag om ’n kleinerige doek te maak met die jaarteks vir 1953, naamlik: “Aanbid Jehovah in heilige gewaad.”—Psalm 29:2, American Standard Version.
Een van die vrouewagte het skielik op ons afgekom en ons dadelik gerapporteer. Die hoof van die gevangenis het gekom en vir twee van ons susters aangesê om die doek omhoog te hou. “Wie het dit gemaak?” het hy gevra. “Wat beteken dit?”
Een van die susters wou die skuld daarvoor op haar neem, maar ons het vinnig onder mekaar gefluister en ooreengekom dat ons almal die verantwoordelikheid daarvoor moet dra. Ons het dus geantwoord: “Ons het dit gemaak om ons geloof te versterk.” Hulle het beslag gelê op die doek, en ons het vir straf geen etes gekry nie. Maar gedurende die hele bespreking het die susters dit omhoog gehou sodat ons die bemoedigende teks op ons verstande kon inprent.
Toe die vrouegevangenis in Waldheim gesluit is, is ons groep susters na Halle oorgeplaas. Hier is ons toegelaat om pakkies te ontvang; en wat was toegewerk in ’n paar pantoffels wat my pa vir my gestuur het? Wagtoring-artikels! Ek onthou nog dié met die titel “Ware liefde is prakties” en “Leuens lei tot verlies van lewe”. Hierdie en ander artikels was ware kleinode, en wanneer ons dit in die geheim van die een na die ander aangestuur het, het elkeen haar eie aantekeninge gemaak.
Gedurende ’n klopjag het een van die wagte my persoonlike aantekeninge gevind wat in my strooimatras versteek was. Sy het my later vir ondervraging ingeroep en gesê dat sy beslis wou weet wat die betekenis is van die artikel “Vooruitsigte van vresers van Jehovah vir 1955”. As ’n Kommunis was sy diep besorgd oor die dood van haar leier, Stalin, in 1953, en die toekoms het duister gelyk. Wat ons betref, het die toekoms sekere verbeterings in ons toestande in die gevangenis ingehou, maar ek was nog nie daarvan bewus nie. Ek het vol vertroue verduidelik dat die vooruitsigte vir Jehovah se Getuies die heel beste was. Waarom? Ek het die temateks van die artikel, Psalm 112:7, aangehaal: “Hy sal nie vir slegte tyding vrees nie: sy hart is vas en vertrou op Jehovah.”—AS.
Jehovah bly my toevlug en sterkte
Nadat ek ernstig siek was, is ek twee jaar vroeër uit die gevangenis ontslaan, in Maart 1957. Die Oos-Duitse amptenare het weer druk op my uitgeoefen weens my werk in Jehovah se diens. Daarom het ek op 6 Mei 1957 die geleentheid aangegryp om na Wes-Berlyn te ontsnap, en van daar af het ek na Wes-Duitsland verhuis.
Dit het jare geneem voordat ek fisies herstel het. Maar tot vandag toe het ek nog steeds ’n gesonde geestelike aptyt en sien ek uit na elke nuwe eksemplaar van Die Wagtoring. Van tyd tot tyd doen ek ’n selfondersoek. Is ek nog geestelikgesind? Het ek goeie eienskappe aangekweek? Is die beproefde hoedanigheid van my geloof grond vir lof en eer aan Jehovah? Dit is my doelwit om God in alle dinge te behaag, sodat hy vir ewig my toevlug en sterkte kan bly.
[Voetnote]
a Die “Fotodrama” het uit skyfies en rolprente bestaan en is van 1914 af op baie plekke deur verteenwoordigers van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap vertoon.
b Die tydskrif Trost (Vertroosting), uitgegee deur die Wagtoringgenootskap in Bern, Switserland, het in die nommer van 1 Mei 1940, bladsy 10, gesê dat die vroulike Getuies van Jehovah in Lichtenburg by een geleentheid 14 dae lank geen middagete gekry het nie omdat hulle geweier het om ’n gebaar van verering te maak wanneer Nazi-liedere gespeel is. Daar was 300 Getuies van Jehovah daar.
c ’n Verslag oor Josef Rehwald het in die Ontwaak! van 8 Februarie 1993, bladsye 20-3, verskyn.
[Prent op bladsy 26]
Die SS-kantoor in Ravensbrück
[Erkenning]
Bo: Stiftung Brandenburgische Gedenkstätten
[Prent op bladsy 26]
My permit om buite die kamp te werk