Geestelike vryheid vir diegene in die gevangenis
“ONS het vir julle gewag.” “Ek het die afgelope paar nagte gedroom dat julle ons kom besoek.” “Dankie dat julle iemand gestuur het om ons gereeld te besoek.” “Ons wil ons dankbaarheid uitspreek vir al die seëninge wat ons onverdiend van Jehovah en sy organisasie ontvang en vir die geestelike voedsel wat op die regte tyd gegee word.”
Wat was die rede vir hierdie betuigings van dankbaarheid? Dit is ’n paar betuigings van gevangenes in verskillende tronke in Mexiko. Hulle waardeer die aandag wat hulle van Jehovah se Getuies geniet, wat aan hulle geestelike vryheid gegee het selfs terwyl hulle in die gevangenis is. Daar is 42 tronke in Mexiko waar Jehovah se Getuies gereeld in die geestelike behoeftes van die gevangenes voorsien. Hierdie plekke word Centro Readaptación Social (Maatskaplike Rehabilitasiesentrum) genoem. Gereelde Christelike vergaderinge word selfs in sommige van hierdie gevangenisse gehou en dit lewer baie goeie resultate. Toe daar byvoorbeeld onlangs getel is, het ongeveer 380 mense die vergaderinge in hierdie plekke bygewoon. Op daardie stadium is daar gemiddeld 350 Bybelstudies gehou. Sewe-en-dertig het gekwalifiseer om aan die predikingswerk te begin deelneem, en 32 het hulle lewe aan Jehovah toegewy en dit deur waterdoop gesimboliseer.
Hoe die werk gedoen word
Hoe doen Jehovah se Getuies hulle predikingswerk in hierdie plekke? Hulle gaan eerstens na die verantwoordelike amptenare om geskrewe magtiging te vra om in die gevangenis in te gaan deur die doel van die besoeke te verduidelik—om die gevangenes te leer hoe om die gehalte van hulle lewe te verbeter en God te dien op ’n manier wat hom behaag.
Die owerheid het in elke geval hulle toestemming gegee. Hierdie amptenare waardeer die Bybelonderrig wat aan die gevangenes gegee word. Die gevangenisowerheid het opgemerk dat Jehovah se Getuies die veiligheidsregulasies nakom wat vir hierdie plekke neergelê is. Hulle het hierdie besoekende bedienaars al toegelaat om kantore, eetsale en werkswinkels te gebruik om hulle vergaderinge te hou. In een plek is die Getuies selfs toegelaat om ’n klein Koninkryksaal te bou, soos die volgende ondervinding toon wat deur ’n reisende opsiener in die suidooste van Mexiko vertel is.
“Vroeg in 1991 het ons die gevangenis in Tehuantepec, Oaxaca, begin besoek, waar ons ’n groot geestelike honger gevind het. Ons het kort voor lank 27 Bybelstudies begin. Aangesien daar soveel belangstelling onder die gevangenes was, is vyf gemeentelike vergaderinge gereël. Een van die gevangenes, wat groot liefde vir Jehovah getoon het, het besluit om ’n klein Koninkryksaal in die tronk te bou sodat hulle ’n plek kon hê om vergaderinge te hou. Hy het na die gevangenisdirekteur gegaan en toestemming gevra, en die owerheid was baie tegemoetkomend. Aan die begin van Desember 1992 het ses gevangenes voldoen aan die vereistes om verkondigers van die goeie nuus te wees. As gevolg van die vooruitgang wat getoon is, is reëlings getref om die Gedenkmaal in die gevangenis te hou. Ons het die gevangenisdirekteur toestemming gevra om die embleme—die brood en die wyn—in te bring, en ná ’n bespreking van vier uur is toestemming verleen.
“Dit was toevallig so dat party gevangenes op 3 April 1993 (drie dae voor die Gedenkmaalviering) vrygelaat is. Toe een van hulle wat ’n verkondiger was sy ontslagvorms ontvang, het hy gevra om die gevangenisdirekteur te spreek sodat hy toestemming kon verkry om tot ná die Gedenkmaalviering aan te bly. Dit het die direkteur werklik verbaas, aangesien dit nie ’n baie algemene versoek is nie, maar omdat die gevangene so graag die Gedenkmaal daar in die gevangenis wou bywoon, het hy die versoek toegestaan. Die Gedenkmaal is bygewoon deur 53 mense, wat aan die einde van die program trane van vreugde gestort het. Ons het ingestem om hierdie groep ‘Vryheid-Cereso’ te noem omdat hulle in geestelike sin vry is.”
Die werk van Jehovah se Getuies word hoog op prys gestel in hierdie plekke. Die hoof van een van hierdie strafgevangenisse beveel openlik aan dat gevangenes die vergaderinge van Jehovah se Getuies bywoon as “terapie” vir spoedige rehabilitasie.
’n Suksesvolle rehabilitasieprogram
Die werk van Jehovah se Getuies het daartoe gelei dat baie gevangenes heeltemal gerehabiliteer is. Terwyl dit dikwels gebeur dat diegene wat in die gevangenis was na ’n lewe van misdaad terugkeer nadat hulle vrygelaat is, het diegene wat werklik die boodskap van God se Woord aangeneem het heeltemal verander. Hulle transformasie herinner ons aan die woorde van die apostel Paulus: “Geen hoereerders . . . of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of afpersers sal God se koninkryk beërf nie. En tog is dit wat party van julle was. Maar julle is skoon gewas, maar julle is geheilig, maar julle is regverdig verklaar in die naam van ons Here Jesus Christus en met die gees van ons God.”—1 Korintiërs 6:9-11.
Die uitsonderlike verandering in hulle persoonlikheid kan gesien word wanneer hulle hulle gevoelens uitdruk. Miguel, wat in die Campeche-gevangenis in die stad Campeche is, het dit soos volg gestel: “Vandag kan ek met vreugde sê dat ek myself as een van die ander skape beskou wat die hoop het wat in 2 Petrus 3:13 en Matteus 5:5 opgeteken staan.” José, wat in die Koben-gevangenis in Campeche is, het gesê: “Hoewel ek ’n gevangene is en my misdaad dalk baie ernstig is, begryp ek dat Jehovah baie barmhartig is en na my gebede en versoeke luister. Hy kan my oortredinge vergewe en my die geleentheid gee om vir die res van my lewe die goeie nuus oor die Koninkryk van God aan ander te verkondig. Ons is dank aan ons ouer manne verskuldig vir die tyd wat hulle neem om ons in die tronk te besoek sodat ons by God se Koninkryksbeloftes baat kan vind. Watter wonderlike seëninge tog! Kan ek sê dat ek ’n gevangene is? Nee, Jehovah het my die geestelike vryheid gegee wat ek nodig gehad het.”
Wat gee daartoe aanleiding dat moordenaars, verkragters, brandstigters, diewe en ander verander om ordentlike Christene te word? Volgens hierdie selfde mans is dit die krag van God se Woord wat mense verander en die goeie omgang met waarlik toegewyde mense. Die geval van Tiburcio, wat opgesluit is in die strafgevangenis in Mazatlán, Sinaloa, lig die sukses van hierdie rehabilitasieprogram toe. Hy was in die tronk in Concordia, Sinaloa, waar hy probleme gehad het weens sy verskriklike humeur. Sy vrou was een van Jehovah se Getuies, en hy het haar baie sleg behandel, selfs wanneer sy hom in die tronk kom besoek het. Sy was geduldig en het aangehou om hom te besoek, daarom het hy haar gevra om vir hom die boek Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe te bring, wat hy op sy eie begin bestudeer het.a Toe het hy gevra vir iemand om na die tronk te kom om met hom te studeer. Hy het geestelike vooruitgang begin maak, en sy verhouding met ander het begin verbeter. Hy is na die gevangenis in Mazatlán verskuif waar daar ’n groep is wat die Bybel bestudeer, en nou is hy ’n verkondiger. Hy sê: “Nou is ek, saam met my vrou en kinders en my vriende in die gevangenis, baie dankbaar dat ek na Bybelwaarhede in hierdie plek kan luister, met die hoop dat ek in die nabye toekoms vrygelaat sal word en al die byeenkomste en gemeentelike vergaderinge sal kan bywoon.”
Daar is ook Conrado, wat baie dankbaar is vir die veranderinge wat hy in sy lewe kon maak. Hy het sulke ernstige huweliksprobleme gehad dat sy vrou hom verlaat het. Hy het hom dus tot dwelms gewend. Mettertyd het hy ’n dwelmsmous geword. Hy is in hegtenis geneem en tot tronkstraf gevonnis omdat hy ’n besending dagga en kokaïen vervoer het. In die gevangenis was daar ’n groep wat die Bybel saam met Jehovah se Getuies studeer het, en hy is genooi om dit saam met hulle te studeer. Hy druk sy gevoelens soos volg uit: “Ek was beïndruk deur die ordelike manier waarop die vergaderinge gehou is, die navorsingsprogram deur middel van die publikasies en die feit dat alles op die Bybel gegrond was. Ek het onmiddellik ’n Bybelstudie gevra en vergaderinge begin bywoon.” Dit was in Januarie 1993. Nou is Conrado uit die gevangenis en maak hy steeds vooruitgang in die Christengemeente.
Die Islas Marías
In Mexiko is daar ’n gevreesde gevangenis wat uit vier eilande bestaan en die Islas Marías genoem word. Die gevangenes kan rondbeweeg tussen die strafeilande waarop hulle gevange gehou word. Party woon daar met hulle vrouens en kinders.
’n Klein gemeente is daar gestig. Drie broers van Mazatlán gaan een keer per maand soontoe om die vergaderinge te help hou, lektuur te voorsien en bemoediging te gee. Soms gaan die kringopsiener oor om hulle te besoek. Die gemiddelde bywoning is tussen 20 en 25. Daar is vier gedoopte en twee ongedoopte verkondigers. Die reisende opsiener rapporteer dat “sommige 17 kilometer ver loop om vergaderinge op Sondag by te woon en die vergadering inderhaas moet verlaat om betyds terug te wees vir wanneer die name afgeroep word. As hulle vinnig loop, neem dit hulle meer as twee uur om terug te keer.” Een van die broers, wat die waarheid in daardie gevangenis geleer het, het onlangs gesê: “Ek het voorheen daarin belanggestel om gou hier uit te kom, maar nou kan dit wees net wanneer Jehovah dit wil hê, aangesien ek in elk geval baie werk het om hier binne te doen.”
Ons is bly om te sien dat die waarheid sy krag uitoefen om opregte mense te bevry wat na ’n manier soek om Jehovah te behaag. Meer as twaalf van dié wat die waarheid in die gevangenis geleer het, is vrygelaat, gedoop en lei nou eerbare lewens as God se knegte, en party het selfs gemeentelike ouer manne geword. Die krag wat die Bybel het om harte te genees en mense te hervorm, is dramaties toegelig. Wanneer hierdie mans wat opgesluit is omdat hulle misdade gepleeg het eers die weg van die lig van God se Woord betree, ervaar hulle die ware vryheid wat Jesus belowe het toe hy gesê het: “Julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.”—Johannes 8:32; Psalm 119:105.
[Voetnoot]
a Uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.
[Prent op bladsy 23]
Baie het baat gevind by die Christelike waarhede wat hulle in die gevangenis geleer het