Vrae van lesers
Volgens nuusberigte hou sommige hospitale die plasenta en naelstring nadat ’n baba gebore is om dinge uit die bloed daarvan te haal. Moet ’n Christen hieroor besorg wees?
In baie plekke vind so iets glad nie plaas nie, en daarom hoef Christene nie besorg te wees nie. As daar grondige rede is om te glo dat so ’n gebruik gevolg word in die hospitaal waar ’n Christen geboorte gaan gee, sal dit gepas wees om eenvoudig vir die geneesheer te sê dat hulle van die plasenta en die naelstring ontslae moet raak en dat dit op geen manier gebruik moet word nie.
Verskeie mediese produkte is al uit biologiese bronne, hetsy dierlik of menslik, verkry. Sekere hormone is byvoorbeeld uit die urine van dragtige perde gehaal. Perdebloed was ’n bron van tetanusserum, en gammaglobulien om siekte te bestry, is lank uit die bloed in menslike plasentas (die nageboorte) verkry. Die plasentas is deur party hospitale gehou en gevries en is later deur ’n farmaseutiese laboratorium kom haal sodat die bloed wat ryk is aan teenliggaampies verwerk kon word om gammaglobulien daaruit te haal.
Meer onlangs het navorsers beweer dat hulle sukses behaal het met die gebruik van bloed uit die nageboorte om een soort leukemie te behandel, en daar is teorieë dat sulke bloed nuttig kan wees in die behandeling van party versteurings van die immuunstelsel of in die plek van beenmurgoorplantings. Daar was derhalwe ’n mate van publisiteit oor ouers wat bloed uit die nageboorte laat haal, vries en stoor in geval dit in die toekoms gebruik kan word om hulle kind te behandel.
Sulke kommersialisasie van plasentale bloed vind glad nie byval by ware Christene wat hulle denke volgens God se volmaakte wet rig nie. Ons Skepper beskou bloed as iets heiligs omdat dit godgegewe lewe voorstel. Die enigste gebruik van bloed wat hy gemagtig het, was op die altaar in verband met offerandes. (Levitikus 17:10-12; vergelyk Romeine 3:25; 5:8; Efesiërs 1:7.) Andersins moes bloed wat uit ’n dier verwyder is op die grond uitgegooi word, hulle moes daarvan ontslae raak.—Levitikus 17:13; Deuteronomium 12:15, 16.
Wanneer Christene ’n dier jag of ’n mak hoender of vark slag, laat hulle die bloed uitloop en raak hulle daarvan ontslae. Hulle hoef dit nie letterlik op die grond uit te gooi nie, want die punt is dat hulle eerder van die bloed ontslae raak as om dit enigsins te gebruik.
Christene wat in ’n hospitaal opgeneem word, neem aan dat daar van biologiese produkte ontslae geraak word wat uit hulle uitgehaal word, hetsy dit liggaamlike afvalprodukte, weefsel of bloed is. ’n Dokter sal weliswaar dalk eers sekere toetse wil laat doen, soos ’n urinalise, ’n patologiese ondersoek van ’n gewas of bloedtoetse. Maar daarna word daar van die produkte ontslae geraak ooreenkomstig die plaaslike wet. Die hospitaalpasiënt hoef selde spesiaal hiervoor te vra omdat dit redelik sowel as in mediese opsig verstandig is om sulke biologiese produkte weg te gooi. As ’n pasiënt ’n geldige rede het om te twyfel dat so ’n normale gebruik gevolg word, kan hy of sy dit aan die betrokke geneesheer meld en sê dat hy of sy om godsdiensredes wil hê dat daar van al hierdie produkte ontslae geraak moet word.
Maar, soos daar reeds gemeld is, is dit selde iets waaroor die gemiddelde pasiënt besorg moet wees, want in baie plekke word so ’n herwinning en hergebruik van die nageboorte of ander biologiese produkte nie eers oorweeg nie, wat nog te sê oor die algemeen beoefen.
Die artikel “Laat ons verafsku wat goddeloos is”, wat in “Die Wagtoring” van 1 Januarie 1997 verskyn het, het blykbaar pedofilie bespreek. Hoe kan hierdie gebruik omskryf word?
Die Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal omskryf “pedofilie” as “[seksuele] afwyking waarby kinders voorkeur as seksobjek kry”. Aspekte van hierdie gebruik word in Deuteronomium 23:17, 18 (NW) veroordeel. Daar het God hom uitgespreek teen iemand wat ’n tempelprostituut word (“of, ‘’n skandjonge’, ’n seun wat vir seksuele perversiteite gebruik word”, voetnoot in NW). Hierdie verse verbied ook enigiemand om “’n hondeprys” (“waarskynlik die prys van ’n pederas; iemand wat anale gemeenskap het, veral met ’n seun”, voetnoot in NW) in “die huis van Jehovah” te bring. Hierdie Skriftuurlike en sekulêre verwysings toon dat die bespreking in Die Wagtoring gehandel het oor die seksuele misbruik van ’n kind deur ’n volwassene, wat betasting insluit.