Noodleniging te midde van die puin
DIE mens se pogings om ná ’n ramp hulp te verleen, is beslis prysenswaardig. Baie noodlenigingsprogramme het al gehelp om huise te herbou, gesinne te herenig en, bowenal, lewens te red.
Wanneer ’n ramp tref, maak Jehovah se Getuies gebruik van—en is hulle dankbaar vir—enige hulp wat deur wêreldlike noodlenigingsprogramme voorsien word. Hulle het terselfdertyd ’n skriftuurlike verpligting om “goed [te] doen, . . . veral aan dié wat in die geloof aan [hulle] verwant is” (Galasiërs 6:10). Ja, die Getuies voel asof hulle aan mekaar verwant is; hulle beskou mekaar as “familie”. Dit is waarom hulle na mekaar verwys as “broer” en “suster”.—Vergelyk Markus 3:31-35; Filemon 1, 2.
Wanneer ’n ramp dus ’n gebied tref, doen die ouer manne onder Jehovah se Getuies alles in hulle vermoë om vas te stel waar elke gemeentelid is en wat hy nodig het en tref hulle reëlings sodat die nodige hulp verleen word. Kyk net hoe dit die geval was in Accra, Ghana; San Angelo, VSA, en Kobe, Japan.
Accra—“Noag se dag op klein skaal”
Die reën het omstreeks 11-uur die aand begin val, en dit het ure aaneen gereën. “Dit het so hard gereën dat my hele gesin wakker gelê het”, sê John Twumasi, een van Jehovah se Getuies in Accra. Die Daily Graphic het dit “Noag se dag op klein skaal” genoem. “Ons het ’n paar kosbaarhede na die boonste verdieping probeer neem”, sê John voorts, “maar toe ons die deur na die trap oopmaak, het die vloedwater ingestroom.”
Die owerheid het die mense gewaarsku om hulle huise te ontruim, maar baie het gehuiwer omdat hulle gevrees het dat ’n leë huis—al is dit vol water—plunderaars sal lok. Party kon nie uitgaan nie selfs al wou hulle. “Ek en my ma kon nie die deur oopmaak nie”, sê ’n meisie met die naam Paulina. “Die water het bly styg, daarom het ons op houtvate gestaan en aan ’n dakbalk vasgehou. Teen ongeveer vyfuur die oggend het ons bure ons uiteindelik gered.”
Jehovah se Getuies het so gou moontlik aan die werk gespring. ’n Christensuster met die naam Beatrice vertel: “Die ouer manne in die gemeente het ons gesoek, en hulle het ons by die huis van ’n mede-Getuie gevind waar ons gaan skuil het. Net drie dae ná die vloed het die ouer manne en die jonger lede van die gemeente ons kom help en die modder binne en buite die huis kom afskraap. Die Wagtoringgenootskap het reinigingsmiddels, ontsmettingsmiddels, verf, matrasse, komberse, materiaal en klere vir die kinders voorsien. Die broers het vir ons genoeg kos vir ’n hele paar dae gestuur. Dit het my diep getref!”
John Twumasi, wat vroeër aangehaal is, sê: “Ek het vir die ander huurders gesê dat ons Genootskap reinigings- en ontsmettingsmiddels aan ons gestuur het—genoeg om die hele woonstelgebou skoon te maak. Ongeveer 40 huurders het help skoonmaak. Ek het van die reinigingsmiddels vir my bure gegee, onder andere vir ’n man wat die priester van ’n plaaslike kerk is. My werkmaats het verkeerdelik gedink dat Jehovah se Getuies net liefde aan hulle eie mense betoon.”
Die Christenbroers en -susters het die liefdevolle hulp wat hulle ontvang het baie waardeer. Broer Twumasi sê ten slotte: “Hoewel die dinge wat ons in die vloed verloor het groter geldelike waarde het as die noodlenigingsvoorraad, meen ek en my gesin dat ons as gevolg van hierdie wonderlike voorsiening van die Genootskap baie meer gekry het as wat ons verloor het.”
San Angelo—“Dit het geklink asof die wêreld eindig”
Die tornado’s wat San Angelo op 28 Mei 1995 getref het, het bome ontwortel, kragpale gebreek en lewendige kragdrade oor paaie gegooi. Winde het tot 160 kilometer per uur gewaai en nutsdienste ontwrig. Meer as 20 000 huise het kragonderbrekings gehad. Toe het dit begin hael. Die Nasionale Weerdiens het berig dat “hael so groot soos golfballe”, toe “hael so groot soos sagteballe” en uiteindelik “hael so groot soos pomelo’s” geval het. Die storm was oorverdowend. Een inwoner het gesê: “Dit het geklink asof die wêreld eindig.”
Ná die storm was daar ’n onheilspellende stilte. Mense het stadig uit hulle beskadigde huise gekom om die skade vas te stel. Bome wat nog gestaan het, het ál hulle blare verloor. Huise wat nog gestaan het, het gelyk asof hulle verf afgeskilfer het. In party plekke het hael tot ’n meter diep op die grond gelê. Duisende ruite van huise en motors is in die storm gebreek sodat glasskerwe nou geglinster het langs die hael wat die grond bedek het. “Toe ek by die huis kom”, sê een vrou, “het ek net in my motor in die oprit gesit en huil. Die skade was so erg dat dit my eenvoudig oorweldig het.”
Noodlenigingsprogramme en hospitale het gou finansiële hulp, boumateriaal, mediese behandeling en raadgewing voorsien. Dit is prysenswaardig dat baie persone wat self slagoffers van die storm was hulle bes gedoen het om ander te help.
Die gemeentes van Jehovah se Getuies het ook tot aksie oorgegaan. Aubrey Conner, ’n ouer man in San Angelo, sê: “Onmiddellik ná die storm het ons gebel om uit te vind hoe dit met die ander gaan. Ons het mekaar en ons bure wat nie Getuies is nie, gehelp om vensters met planke toe te spyker, plastiek op die dakke te sit en die huise so goed moontlik teen die weer bestand te maak. Daarna het ons ’n lêer geopen vir elke persoon in die gemeente wie se huis beskadig was. Ongeveer honderd huise moes herstel word, en die materiaal wat deur noodlenigingsagentskappe voorsien is, was nie genoeg nie. Daarom het ons ekstra materiaal gekoop en die werk georganiseer. Ongeveer 1 000 Getuies het aangebied om te help, omtrent 250 elke naweek. Hulle het selfs van plekke 460 myl [740 km] daarvandaan gekom. Almal het onvermoeid gewerk, dikwels in weer van 100 grade [byna 40°C]. Selfs ’n 70-jarige suster het elke naweek, behalwe die een naweek toe haar eie huis herstel is, saam met ons gewerk. En daardie naweek was sy op haar eie dak om met die herstelwerk te help!
“Ons het dikwels gehoor hoe omstanders hulle uitdruk en dinge sê soos: ‘Sou dit nie goed gewees het as ander godsdienste dit vir hulle lede gedoen het nie?’ Ons bure was beïndruk om te sien hoe ’n span van 10 tot 12 vrywilligers (wat susters ingesluit het) vroeg Vrydagoggend by die huis van ’n mede-Getuie opdaag, gereed om die hele dak gratis te herstel of selfs te vervang. In die meeste gevalle is die werk in een naweek voltooi. Soms was ’n kontrakteur reeds besig om aan ’n dak te werk wanneer ons span by die huis langsaan aankom. Maar ons het ons dak afgehaal en herbou asook die erf skoongemaak nog voordat hulle klaar was. Soms het hulle opgehou werk net om ons dop te hou!”
Broer Conner sê ten slotte: “Ons almal gaan die ondervindinge mis wat ons saam geniet het. Ons het mekaar onder ander omstandighede leer ken deur broederlike liefde te betoon en te ervaar soos nooit tevore nie. Ons meen dat dit net ’n voorsmakie is van hoe dit sal wees in God se nuwe wêreld, met broers en susters wat mekaar help omdat hulle werklik wil.”—2 Petrus 3:13.
Kobe—“’n puinhoop van hout, pleister en menseliggame”
Die inwoners van Kobe was veronderstel om hierop voorbereid te wees. Trouens, elke 1 September hou hulle Rampvoorkomingsdag. Skoolkinders oefen wat hulle tydens ’n aardbewing moet doen, die leër oefen reddingsvlugte per helikopter en die brandweer bring hulle masjiene uit wat aardbewings naboots. In hierdie masjiene oefen vrywilligers hulle oorlewingsvaardighede binne-in ’n houer so groot soos ’n kamer wat net soos ’n regte aardbewing skud en ruk. Maar toe ’n werklike aardbewing op 17 Januarie 1995 plaasvind, het dit gelyk of al die voorbereiding tevergeefs was. Tienduisende dakke het ineengestort—iets wat nooit in die nabootsers gebeur het nie. Treine het op hulle sye beland; dele van hoofweë het verbrokkel; gas- en watertoevoerpype het gebars; huise het soos karton inmekaargevou. Die tydskrif Time het die toneel beskryf as “’n puinhoop van hout, pleister en menseliggame”.
Daarna het die brande uitgebreek. Geboue was in ligtelaaie terwyl gefrustreerde brandweermanne vasgekeer was in kilometer lange verkeersophopings. Diegene wat by die brand uitgekom het, het dikwels gevind dat hulle geen water uit die stad se beskadigde waterstelsel kon kry nie. “Op die eerste dag het daar algehele paniek geheers”, het een beampte gesê. “Ek het in my lewe nog nooit so magteloos gevoel nie, aangesien ek geweet het dat daar so baie mense onder daardie brandende huise begrawe lê. En ek het geweet dat ek niks daaromtrent kon doen nie.”
Ongeveer 5 000 mense het gesterf, en omtrent 50 000 geboue het in puin gelê. Kobe het net ’n derde van die kos gehad wat nodig was. Om water te kry, het party vuil water onder die gebarste pype opgeskep. Baie van die dakloses het na skuilings gevlug, waarvan party voedsel gerantsoeneer en vir elke persoon selfs net een rysbolletjie per dag gegee het. Ontevredenheid het gou versprei. “Die owerheid het niks gedoen nie”, het ’n man gekla. “As ons op hulle bly vertrou, sal ons van honger omkom.”
Die gemeentes van Jehovah se Getuies in Kobe en omstreke het onmiddellik reëlings begin tref. ’n Helikoptervlieënier wat self gesien het hoe hulle werk, het gesê: “Ek het op die dag van die aardbewing na die rampgebied gegaan en ’n week daar deurgebring. Toe ek by die een skuiling aankom, was alles in chaos. Daar was op daardie stadium hoegenaamd geen noodleningswerk gedoen nie. Jehovah se Getuies was die enigstes wat hulle na die terrein gehaas het en een ding na die ander behartig het.”
Daar was werklik baie werk om te doen. Tien Koninkryksale was onbruikbaar, en meer as 430 Getuies was dakloos. ’n Bykomende 1 206 huise waarin hulle gewoon het, het herstelwerk nodig gehad. Daarbenewens het die gesinne van die 15 Getuies wat in die ramp omgekom het werklik vertroosting nodig gehad.
Ongeveer 1 000 Getuies oor die hele land het aangebied om met die herstelwerk te kom help. “Wanneer ons aan die huise van Bybelstudente gewerk het wat nog nie gedoop is nie”, sê een broer, “is ons altyd gevra: ‘Hoeveel moet ons vir alles betaal?’ Wanneer ons vir hulle gesê het dat die werk deur die gemeentes ondersteun word, het hulle ons bedank en gesê: ‘Wat ons gestudeer het, is nou ’n werklikheid!’”
Baie is beïndruk deur die Getuies se vinnige en deeglike optrede ná die ramp. “Ek was diep beïndruk”, sê die vlieënier wat vroeër aangehaal is. “Julle noem mekaar ‘broer’ en ‘suster’. Ek het gesien hoe julle mekaar help; julle is werklik ’n gesin.”
Die Getuies het self waardevolle lesse uit die aardbewing geleer. Een suster het erken: “Ek het altyd gedink hoe groter ’n organisasie word, hoe moeiliker is dit om persoonlike besorgdheid te toon.” Maar die liefdevolle sorg wat sy ontvang het, het haar sienswyse verander. “Ek weet nou dat Jehovah nie net vir ons as ’n organisasie sorg nie, maar ook as individue.” Maar binnekort sal daar blywende verligting van rampe wees.
Binnekort blywende verligting!
Jehovah se Getuies sien uit na die tyd wanneer menselewe en bestaansmiddele nie meer deur rampe vernietig sal word nie. In God se nuwe wêreld sal die mens geleer word om in harmonie met die natuur te werk. Namate mense van hulle selfsugtige gewoontes ontslae raak, sal hulle minder kwesbaar wees vir natuurrampe.
Jehovah God—die Skepper van natuurkragte—sal boonop toesien dat sy mensegesin en aardse skepping nooit weer deur natuurkragte bedreig word nie. Dan sal die aarde werklik ’n paradys wees (Jesaja 65:17, 21, 23; Lukas 23:43). Die profesie in Openbaring 21:4 sal op glorieryke wyse vervul word: “Hy sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en geskreeu en pyn sal daar nie meer wees nie. Die vorige dinge het verbygegaan.”
[Prent op bladsy 5]
Beatrice Jones (links) toon hoe sy en ander ’n ketting gevorm het om deur die vloedwater te gaan
[Prent op bladsy 6]
Noodlenigingswerk ná die tornado’s