’n Klimaat vir groei in Ekwatoriaal-Guinee
WELIGE plantegroei is die eerste indruk wat ’n reisiger kry wanneer sy vliegtuig op Ekwatoriaal-Guinee se internasionale lughawe neerstryk. Die aanloopbaan word omring deur majestueuse bome wat die lughawegeboue verdwerg. Geil plantegroei, wat bevorder word deur oorvloedige reën en temperature wat die hele jaar deur tussen 25 en 30 grade wissel, floreer van die strand tot bo-op die berge.
In Ekwatoriaal-Guinee vind daar ook ’n ander groei op groot skaal plaas, “die groei wat God gee” (Kolossense 2:19). Soos die Etiopiese dienaar wat Filippus se hulp gevra het, is baie mense in hierdie land gretig om die Skrif te verstaan (Handelinge 8:26-39). Dit is nie iets ongewoons dat iemand een van Jehovah se Getuies in die straat nader en ’n Bybelstudie vra nie. Die nagenoeg 325 Getuies in Ekwatoriaal-Guinee hou meer as duisend Bybelstudies.
Hoe saad in die begin gesaai is
Ekwatoriaal-Guinee, die kleinste land in Afrika, is suid van Nigerië en Kameroen geleë. (Sien kaart.) Nigeriese Getuies wat werk in die kakaoplantasies kom soek het, was die eerstes wat die goeie nuus hierheen gebring het. Hoewel verskeie Engelssprekende gemeentes gestig is, is hulle later ontbind toe hierdie broers na Nigerië moes terugkeer. Maar kort nadat die land in 1968 onafhanklik verklaar is, is drie sendelingegpare van die Wagtoringgenootskap hierheen gestuur. Weens politieke probleme kon hulle nie lank bly nie, maar hulle getuieniswerk het goeie vrugte afgewerp.
Santiago, een van die sendelinge, het Buenaventura, ’n lang, gespierde man, ontmoet wat deur die plaaslike inwoners superman genoem is. Hy was ’n godsdienstige man wat die Bybel gerespekteer het, maar ’n verskriklike humeur gehad het. Die geringste belediging was vir hom genoeg rede om iemand te slaan. Wanneer hy in ’n kroeg kwaad geword het, het almal uiteengespat en selfs by vensters uitgeklim om sy vuishoue te ontduik. Trouens, terwyl hy na Santiago geluister het, was hy van plan om hom te slaan as hy nie oortuigende skriftuurlike bewys kon gee vir wat hy gesê het nie. ‘Niemand gaan superman om die bos lei nie’, het hy vir homself gesê. Hy is gefassineer deur wat hy gehoor het, veral die hoop om vir ewig op ’n paradysaarde te lewe, en daarom het hy tot ’n Bybelstudie ingestem.
Namate die studie gevorder het, het Buenaventura se begeerte om vir ewig in die Paradys te lewe sterker geword, en hy het geleer dat hy sy lewe na God se standaarde sou moes skik om hierdie prys te verkry. Omdat hy besef het dat ware Christene nie ‘kwaad vir kwaad moet vergeld’ nie, het hy hard probeer om sy humeur te beteuel.—Romeine 12:17.
Hy het eendag voor ’n werklike toets te staan gekom toe hy in ’n kroeg ’n klant se glas per ongeluk omgestamp het. Die man het kwaad geword en hom geslaan. Onmiddellik het ander in die kroeg uiteengespat, want hulle het verwag dat ’n bakleiery sou uitbreek. Maar Buenaventura het ewe gedwee vir die gebreekte glas betaal, vir die man ’n ander drankie gekoop en verskoning gevra vir sy onhandigheid. Toe die ander sien dat ’n studie van die Bybel hom só verander het, het ’n hele paar ingestem dat hy met hulle studeer. Teen die tyd wat Buenaventura gedoop is, het hy reeds vyf Bybelstudies gehou. Hy dien die laaste vyf jaar as ’n ouer man, en hoewel mense hom nog superman noem, doen hulle dit nou grappenderwys.
‘Bewus van hulle geestelike behoefte’
Gedurende die sewentigerjare het die paar plaaslike Getuies so goed moontlik voortgegaan om die predikingswerk te doen en saam te vergader. Later het verskeie Spaanse sendelingegpare kom help. Andrés Botella, wat al 12 jaar in Ekwatoriaal-Guinee dien, vertel dat hy kort nadat hy daar aangekom het, beïndruk is deur die feit dat die mense waarlik “bewus is van hulle geestelike behoefte” (Matteus 5:3). “Dit was werklik vir my ’n plesier om die Bybel met sulke waarderende mense te studeer”, sê hy.
Mary, ’n Spaanse suster, het die Bybel met ’n jong vrou met die naam María gestudeer wat gemeld het dat haar ouers, Francisco en Fausta, ook daarin belangstel om te studeer. Aangesien Mary 15 studies gehou het en María se ouers ’n hele ent daarvandaan gewoon het, het etlike weke verbygegaan voordat sy hulle kon besoek.
Toe Mary en haar man, Serafín, uiteindelik die ouers ontmoet het, het hulle reeds die boek Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewea en ’n Bybel gehad, en hulle was gretig om die studie te begin. Hulle het dus dadelik begin. Serafín het opgelet dat María se ouers goed vertroud was met die materiaal. Dit was ook die geval op die tweede besoek toe hulle die tweede hoofstuk behandel het. “Dit was amper soos om ’n studie met twee gedoopte Getuies te hou”, sê Serafín. Aangesien dit gelyk het asof hulle die materiaal baie goed ken, het Serafín op die derde besoek voorgestel dat hulle ’n vrae-en-antwoord-sessie hou om te bepaal hoeveel hulle werklik verstaan. Hy het vasgestel dat Francisco en Fausta die hele boek op hulle eie gestudeer het!
Hoe het hulle nuutgevonde kennis hulle geraak? In ooreenstemming met wat hulle geleer het, het hulle reeds opgehou om spiritistiese samekomste by te woon en hulle bande met die Katolieke Kerk verbreek. Daarbenewens het Francisco opgehou rook, en hulle het nie meer vleis geëet wat nie behoorlik gebloei is nie. Aangesien hulle klaarblyklik alles toegepas het wat hulle geleer het, is hulle aangemoedig om ander van hulle nuutgevonde kennis te vertel. Hulle het dadelik met hulle bure begin praat. In net drie maande het hulle aan die vereistes vir doop voldoen. Francisco is nou ’n bedieningskneg, en danksy hulle goeie voorbeeld en ywer in die predikingswerk is drie van hulle dogters nou Getuies, woon twee seuns vergaderinge by en studeer ses ander familielede.
Nie lank ná Francisco gedoop is nie, het hy Pablo ontmoet, ’n vroom Katoliek wat as ’n sakristein in sy kerk gedien het. Pablo het gewoonlik die preek gehou wanneer die priester nie daar was nie. As ’n gemeentelid siek was, het hy gaan kuier; as iemand nie kerk toe gekom het nie, het Pablo hom gaan besoek om hom aan te moedig, en as iemand gesterf het, het hy gedoen wat hy kon om die gesin te vertroos. Dit is dus te verstane dat al die gemeentelede baie lief vir Pablo was.
Aangesien Pablo diep respek vir die Bybel gehad het, het hy met graagte ingestem toe Francisco aangebied het om met hom te studeer. Pablo het gou gesien hoe redelik die Bybel se boodskap is, en ná ’n paar studies het hy besluit om van die tekste wat hy geleer het tydens een van sy “herdersbesoeke” by ’n siek gemeentelid te gebruik. Nie lank daarna nie het Pablo in een van sy Sondagpreke verduidelik waarom die gebruik van God se naam, Jehovah, so belangrik is en waarom ons nie beelde moet gebruik nie.
Omdat hy die waarheid so maklik aangeneem het, het hy verwag dat ander lidmate van sy kerk net soos hy daaroor sou voel. Maar ná drie of vier van hierdie Bybelse preke het Pablo opgemerk dat die mense nie gelukkig was met wat hy vir hulle vertel het nie. Hy het gevolglik besluit om die kerk te verlaat en gereeld met Jehovah se Getuies te assosieer. Binne ’n paar maande het hy aan die vereistes vir doop voldoen, en hy is nou ’n ywerige verkondiger van die goeie nuus. Hoewel hy nie voltyds aan die predikingswerk kan deelneem nie, hou hy tans tien Bybelstudies.
Bevorder groei deur onderling te vergader
Die Getuies in Ekwatoriaal-Guinee neem die Bybel se bevel ernstig op om nie na te laat om onderling te vergader nie (Hebreërs 10:25). Sedert 1994 toe die werk weer amptelik deur die regering erken is, is die broers gretig om geskikte Koninkryksale te bekom. Trouens, die meeste van die gemeentes het hulle eie saal gebou of is tans daarmee besig.
In Mongomo, waar die Sondagvergaderinge dikwels deur twee en ’n half keer soveel mense as die Koninkryksverkondigers daar bygewoon word, het die gemeente hard gewerk om ’n groot vergaderplek te bou. Omdat die ander godsdienste in Mongomo gewoonlik arbeiders huur om hulle kerke te bou, het die bedrywighede van die plaaslike Getuies nie ongemerk gegaan nie. Eendag het die pastoor van die Iglesia Nueva Apostólica (Nuwe Apostoliese Kerk) daar aangekom om een van die ouer manne te vra hoeveel hy hierdie hardwerkende arbeiders betaal. Die pastoor het gesê dat, hoewel hy messelaars in diens geneem het wat lidmate van sy eie kerk is, die werk baie stadig vorder. Hy wou weet of hy die arbeiders kon huur wat die Koninkryksaal bou. Toe daar vir hom gesê is dat al die Getuies sonder betaling werk, het hy verbaas weggeloop.
Vir diegene wat ver van die Koninkryksaal af woon, kan die bywoning van vergaderinge groot opoffering verg. Juan, ’n jong man wat in 1994 gedoop is, het voor hierdie situasie te staan gekom. Hy het van die waarheid gehoor in Gaboen, waar hy die eerste helfte van die Paradys op aarde-boek bestudeer het. Toe is hy terug na Ekwatoriaal-Guinee, na sy geboortedorpie ongeveer 100 kilometer van Mongomo af. Dit sou nou vir hom ’n uitdaging wees om sy studie voort te sit. Maar dit het hom nie gekeer nie. Hy het elke maand agt uur lank met ’n fiets na Mongomo gery, waar Santiago, een van die plaaslike ouer manne, ’n studie met hom gehou het. Hy het ’n paar dae in Mongomo gebly en het drie of vier keer gedurende sy besoek ’n studie gehad. Op hierdie manier kon hy sy studie voltooi en kwalifiseer om gedoop te word.
Hoe bly Juan geestelik sterk met so min assosiasie met ander Christene? Hoofsaaklik deur ’n ywerige verkondiger van die goeie nuus te wees. Hy het reeds vir almal in sy dorpie getuig, en teen die tyd wat hy gedoop is, het hy 13 studies gehou. Ses van sy studente het saam met hom na die spesiale byeenkomsdag in Mongomo gegaan om te sien hoe hy gedoop word. Hy hou nou ’n gereelde Wagtoring-studie met die belangstellendes in sy gebied, en gewoonlik woon sowat 20 mense dit by.
Die saad word geduldig natgegooi
Nie alle geestelike groei vind vinnig plaas nie. Soms moet ’n mens baie geduld aan die dag lê as jy wil sien hoe die saad uiteindelik vrug voortbring. Dit was waar in die geval van Paca, wat in 1984 vir die eerste keer die goeie nuus gehoor het toe Edita, ’n pioniersuster, by die mark vir haar getuig het. Toe Edita Paca die volgende week in haar huis gaan besoek het, het Paca tot ’n Bybelstudie ingestem. Hoewel sy nie baie vordering gemaak het nie, het Edita voortgegaan om haar te besoek omdat sy goeie eienskappe in Paca waargeneem het. “Sy het soos ’n skaapgeaarde mens gelyk”, verduidelik Edita, “en ek het tot Jehovah gebid dat hy haar hart oopmaak.”
Paca het oor ’n tydperk van vier en ’n half jaar van tyd tot tyd gestudeer, maar steeds nie veel vordering gemaak nie. Toe hulle die Paradys op aarde-boek voltooi het, het Edita dus reguit met Paca gepraat en vir haar gesê hoe belangrik dit is om die waarheid ernstig op te neem. In haar poging om Paca se hart te raak, het Edita selfs gehuil.
“Daardie opregte raad het my werklik geraak”, onthou Paca. “Van toe af het ek veranderinge in my lewe begin aanbring. Ek het by die Teokratiese Bedieningskool aangesluit, en dieselfde jaar het ek ’n ongedoopte verkondiger geword. Die dag waarop ek uiteindelik gedoop is, was die gelukkigste dag van my lewe!” Die ywer wat Paca vandag het, vorm ’n skerp kontras met haar vroeëre onverskilligheid. Sy hou tans 13 Bybelstudies, en sy is natuurlik geduldig met diegene wat nie vinnig vorder nie.
Mense word gehelp om hulle lewe te verbeter
Omdat Jehovah se Getuies in Ekwatoriaal-Guinee volgens Bybelstandaarde lewe, het hulle ’n reputasie opgebou as eerlike en ordentlike mense. Een man, wat klaarblyklik beïndruk is deur hulle gedrag, het ’n ouer man van die Bata-gemeente genader en gevra: “Het jy ’n Redenering-boek?b Ek het genoeg gehad daarvan om ’n wêreldse mens te wees. Ek wil graag een van Jehovah se Getuies word!”
Antonio, ’n bedieningskneg in die Malabo-gemeente, is ’n tipiese voorbeeld van ’n wêreldse persoon wat ’n Getuie geword het. Voordat hy die Bybel bestudeer het, het hy ’n losbandige lewe gelei. Hy het die meeste van die geld wat hy as ’n horlosiemaker verdien het aan drank uitgegee, en hy het ook onsedelik gelewe. Wat het hom gehelp om sy lewenswyse te verander? Hy is diep getref deur die kragtige woorde in 1 Korintiërs 6:9, 10: “Moenie mislei word nie. Geen hoereerders . . . of dronkaards . . . sal God se koninkryk beërf nie.” Hy het besef dat hy sy lewe sal moet verander as hy God se guns wil geniet. Met dié doel het hy op sy assosiasie begin let (Spreuke 13:20). Wanneer sy ou vriende by hom kom kuier het en hom genooi het om saam met hulle te gaan drink, het hy hulle uitnodiging van die hand gewys en eerder vir hulle getuig. Kort voor lank het hulle opgehou om hom lastig te val.
Was dit ál die moeite werd? “Ek is baie bly dat ek my lewenswyse verander het”, verduidelik Antonio. “Selfs al is ek nou in my sestigerjare is my gesondheid baie beter, terwyl my voormalige vriende óf dood is óf weens swak gesondheid ly. Nou het ek ware vriende en nie vriende wat net ’n maat soek om vir hulle volgende drankie te betaal nie. Die belangrikste is dat ek ’n goeie verhouding met God het. Ek dien nou as ’n gewone pionier, en ek hou ’n Bybelstudie met ’n man wat ook ’n drankprobleem het, en gevolglik kan ek my ondervinding gebruik om hom te help.”
Hulle word slawe van God
Ongeveer 200 jaar gelede is mense langs die kus van Ekwatoriaal-Guinee gevange geneem en as slawe per skip na die Amerikas geneem. Vandag word baie uit vrye wil slawe—slawe van God. Hierdie vorm van slawerny het hulle ware vryheid gegee, want dit het hulle bevry van Babiloniese leerstellings en spiritistiese gebruike. Dit het hulle ook geleer hoe om ’n bevredigende en produktiewe lewe te lei. Hulle ondervind wat Jesus belowe het: “Julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.”—Johannes 8:32.
Met 1 937 wat die Gedenkmaalviering in 1995 bygewoon het—nagenoeg ses keer die aantal verkondigers in die land—is daar uitstekende vooruitsigte vir verdere geestelike groei. Terwyl die Getuies in Ekwatoriaal-Guinee ywerig voortgaan om die saad van waarheid te plant en nat te gooi, is hulle seker daarvan dat ‘God dit deurentyd sal laat groei’ (1 Korintiërs 3:6). Daar is sonder twyfel ’n gunstige klimaat vir geestelike groei in Ekwatoriaal-Guinee!
[Voetnote]
a Uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.
b Uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.