Is daar lewe ná die dood?
DUISENDE jare lank wonder mense al oor hierdie twee vrae: Waarom moet ons oud word en uiteindelik sterf? Is daar enige vorm van bewuste lewe ná die dood?
Die eerste een is vir baie mense ’n raaisel omdat selfs die moderne geneeskunde, met al sy indrukwekkende ontdekkings, nie in staat was om ’n oortuigende of bevredigende antwoord te verskaf nie.
Die tweede vraag het ’n menigte uiteenlopende antwoorde opgelewer. Maar oor die algemeen word antwoorde op die vraag of daar bewuste lewe ná die dood is in twee kampe gevind: onder diegene wat vas oortuig is dat hierdie lewe nie al is nie en onder diegene wat ewe sterk voel dat bewuste lewe by die dood ophou. Die meeste van hierdie laasgenoemde groep sê vir ons dat hulle geensins daaraan twyfel dat die mens se kort lewensduur al is wat hy kan verwag nie. Enige argumente wat aangevoer word om die teendeel te bewys, word dikwels beantwoord met ’n selfvoldane: “Wel, niemand het nog ooit teruggekom om ons te vertel nie, nie waar nie?”
Soos met ander omstrede vrae is daar baie mense wat nog nie tot ’n besluit gekom het nie—hulle beweer dat hulle altyd nog tot die een of ander kant oorgehaal kan word. Maar ander sal dalk ligsinnig antwoord: “Ons sal maar moet kyk wat gebeur wanneer die tyd aanbreek!”
’n Ou vraag
’n Vroeë vraag oor lewe ná die dood is sowat 3 500 jaar gelede deur die welbekende Oosterling Job geopper, wat bekend is vir sy geduld toe hy lyding verduur het. Dit is hoe Job sy vraag gestel het: “Die mens sterf en kom om; hy blaas sy laaste asem uit en is nie meer nie. Soos water uit die see verdwyn of ’n rivierbedding skroei en uitdroog, so gaan lê die mens en staan nie op nie . . . As ’n mens sterwe, sal hy weer lewe?”—Job 14:10-14, New International Version.
Maar Job was nie die enigste een wat vrae oor lewe ná die dood gevra het nie. Die Encyclopædia of Religion and Ethics het hierdie insiggewende inligting onder die opskrif “Toestand van die Dooies”: “Geen onderwerp wat met die mens se geesteslewe verband hou, het sy denke so geboei soos dié van sy toestand ná die dood nie. [Boorlinge] in alle wêrelddele het oor die algemeen baie duidelike en lewendige voorstellings van die geestewêreld—die lewe, die kenmerke en die landskappe daarvan—en dit dui daarop dat hulle ’n diepe belangstelling in die onderwerp gehad het. Die wydverspreide vrees vir die dooies dui op ’n baie primitiewe gedagte dat hulle nie in ’n toestand is waarin lewe tot ’n einde gekom het nie. Die dood het die kragte afgesny; dit was voor die hand liggend; maar was daar nie ander kragte werksaam of was daardie kragte nie in staat om hulle op subtiele, geheimsinnige maniere te openbaar nie? Hetsy die mens in die begin aan ’n gees, siel of spook geglo het wat afgeskeie van die liggaam is of nie, daar is goeie rede om te glo dat hulle gedink het dat die dooies nog op die een of ander manier lewe.”
Jy val dalk in enige van die drie bogenoemde kategorieë: nie seker wat ná die dood gebeur nie; oortuig dat daar die een of ander soort lewe ná die dood is of oortuig dat hierdie lewe al is. Wat ook al die geval is, ons nooi jou om die volgende artikel noukeurig te ondersoek. Kyk of jy daarin oortuigende Bybelse bewyse vind dat daar ’n wonderlike vooruitsig op ’n gelukkige lewe ná die dood is, hoe dit sal gebeur, waar en wanneer.