Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w96 8/15 bl. 22-26
  • ’n “Hoop getuienis” in die land van die “Berg van God”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n “Hoop getuienis” in die land van die “Berg van God”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Onderhofies
  • Per boomkano, bostaxi of fiets?
  • Diep in die binneland
  • In die verre noorde
  • Die getuieniswerk in die stede
  • Beplan jy ’n besoek?
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
w96 8/15 bl. 22-26

’n “Hoop getuienis” in die land van die “Berg van God”

AS JY die kuslyn van Wes-Afrika op ’n kaart van die vasteland volg en ooswaarts langs die Golf van Guinee beweeg, sal jy Kameroen vind op die punt waar die kus suid draai. As jy verder suid teen die kus afbeweeg, sal jy by ’n uitgestrekte strook swart sandstrande uitkom. Die swart sand is die gevolg van die vulkaniese aktiwiteit van Kameroenberg.

Hierdie keëlvormige, 4 070 meter hoë bergpiek beheers die gebied geheel en al. Wanneer die hange van Kameroenberg hulle in die strale van die ondergaande son baai, skep dit ’n skouspelagtige vertoning van helder kleure—ligpers, oranje, goud en karmosynrooi. Die see en nabygeleë moerasse weerkaats al hierdie kleure soos ’n spieël, wat dit amper onmoontlik maak om die hemel van die aarde te onderskei. Dit is maklik om te verstaan waarom die animistiese stamme van die streek die berg Mongo Ma Loba genoem het, wat vertaal word as “Strydwa van die gode” of meer dikwels as “Berg van God”.

Verder suid is daar wit sandstrande met kokosbome wat kilometers ver strek. Afgesien van die idilliese kuslyn, word groot dele van die land deur digte ekwatoriale woude bedek, wat tot teenaan die Kongo en die Sentraal-Afrikaanse Republiek en noord tot by Nigerië en Tsjaad suid van die Sahara strek. Die westelike deel van die land is bergagtig, en dit laat die reisiger aan dele van Europa dink. Die warm klimaat sal jou egter nie laat vergeet dat jy net ’n hanetreetjie van die ewenaar af is nie. As gevolg van die uiteenlopendheid van Kameroen se landskap beskryf baie toergidse dit as ’n replika van Afrika in die kleine. Hierdie indruk word versterk deur die verskillende etniese groepe en die meer as 220 geregistreerde tale en dialekte.

As jy Kameroen sou besoek, sal jy dalk in een van die groot hotelle in die seehawe Douala of die hoofstad Yaoundé tuisgaan. Maar dan sal jy dalk die geleentheid laat verbygaan om iets omtrent die lewe van die mense te leer, veral van die meer as 24 000 Getuies van Jehovah, wat ’n “hoop getuienis” opgebou het in alle dele van hierdie land van die “Berg van God”.a Onderneem gerus ’n reis deur die land om party van hulle te ontmoet. Jy sal beslis ryklik beloon word as jy hierdie Wes-Afrikaanse land beter leer ken.

Per boomkano, bostaxi of fiets?

Waar die Sanaga, die langste rivier in Kameroen, die oseaan bereik, vorm dit ’n groot delta. Om al die inwoners van hierdie uitgestrekte streek te bereik, moet Jehovah se Getuies dikwels van boomkano’s gebruik maak. Dit is wat die nege Koninkryksverkondigers in die groepie in Mbiako doen. Twee van hulle woon 25 kilometer daarvandaan in die dorpie Yoyo. As hulle Mbiako wil bereik, moet hulle hard roei, maar hulle is altyd by die Christelike vergaderinge. Terwyl ’n reisende opsiener hierdie groep besoek het, het hy voorgestel dat hy die video Jehovah’s Witnesses—The Organization Behind the Name vertoon. Maar dit is makliker gesê as gedaan. Waar sou hy ’n videomasjien, ’n televisiestel en die elektrisiteit daarvoor in so ’n afgeleë dorpie kry?

Gedurende die week van die besoek, het van die verkondigers by die predikant van ’n plaaslike kerk uitgekom. Tot hulle verbasing het die predikant hulle hartlik verwelkom, en hulle het ’n lewendige Bybelbespreking met hom gehad. Toe die broers oplet dat die predikant nie alleen ’n videomasjien nie maar ook ’n kragopwekker besit, het hulle die moed bymekaargeskraap om hom te vra of hulle sy toerusting kan leen. Aangesien die predikant die Bybelbespreking geniet het, het hy ingestem om hulle te help. Saterdagaand het 102 mense na die vertoning gekom, wat die predikant en die meeste lidmate van sy kerk ingesluit het. Die twee Getuies van Yoyo het ’n aantal belangstellendes in twee kano’s gebring. Hulle het nie omgegee om teen die stroom van die opkomende gety te roei nie. Nadat hulle die video gesien het, was hulle diep geroer en bemoedig, en hulle was trots om aan so ’n groot organisasie te behoort wie se doel dit is om Jehovah te eer.

As ’n mens na ’n plek wil gaan waar boomkano’s nie kan nie, kan jy ’n bostaxi gebruik. Die parkeergebiede waar hierdie taxi’s vir passasiers wag, is altyd besig en vol lewe. Tussen die kouewaterverkopers, die piesangsmouse en taxi-joggies is dit maklik om heeltemal deurmekaar te raak. Die taxi-joggie se taak is om passasiers in die wagtende bostaxi’s te kry, wat almal, volgens hulle, “gereed is om te vertrek”. Maar “gereed” moet alleenlik in die vaagste betekenis van die woord verstaan word. Reisigers moet ure, soms selfs dae, wag. Sodra die bostaxi vol passasiers is en die bestuurder die bagasie, sakke vol landbouprodukte en soms selfs lewende hoenders en bokke op die dakrak gepak het, vertrek die taxi op die stamperige, stowwerige pad.

Een reisende bedienaar wat genoeg gehad het van hierdie soort vervoer het besluit om onafhanklik te word. Hy kom nou waar hy moet per fiets. Hy sê: “Vandat ek besluit het om per fiets van gemeente tot gemeente te reis, is ek altyd betyds vir die besoek. O ja, die rit neem soms ’n paar uur, maar ek hoef ten minste nie ’n dag of twee vir die bostaxi’s te wag nie. Gedurende die reënseisoen verdwyn party paaie amper heeltemal as gevolg van oorstromings. Jy moet jou skoene uittrek as jy die modder en water wil oorsteek. Eendag het een van my skoene in ’n stroom geval, en ek het dit eers ’n hele paar weke later teruggekry toe die dogter van ’n Getuie dit heel toevallig uitgetrek het terwyl sy visgevang het! Ek is bly dat ek weer hierdie paar skoene kan dra, nadat een van hulle tyd saam met die visse deurgebring het. Soms gaan ek deur gebiede waar Jehovah se Getuies nog nooit getuig het nie. Die inwoners van die dorpies vra my altyd wat ek saamgebring het. Ek hou dus tydskrifte en brosjures byderhand. Wanneer ek ook al stilhou, bied ek hierdie Bybelpublikasies aan en gee ek ’n kort getuienis. Ek glo dat Jehovah hierdie saadjies van waarheid sal laat groei.”

Diep in die binneland

Jehovah se Getuies streef daarna om ander van die goeie nuus van die Koninkryk te vertel, selfs in die hartjie van Kameroen, in die dorpies wat diep in die woud versteek is. Dit verg groot inspanning, maar die resultate is hartverblydend.

Marie, ’n voltydse bedienaar, het ’n Bybelstudie met ’n jong meisie met die naam Arlette begin. Aan die einde van die eerste studie het Marie Arlette gevra of sy saam met haar tot by die deur sou loop, aangesien dit die gebruik in hierdie deel van Afrika is. Maar die jong meisie het aan haar verduidelik dat sy skaars kon loop weens die pyn in haar voete. Arlette het infeksie in haar voete gehad as gevolg van ’n soort vlooi waarvan die wyfie in die vlees boor en absesse veroorsaak. Marie het dapper die vlooie een vir een verwyder. Later het sy ook uitgevind dat hierdie jong meisie snags deur demone geteister word. Marie het geduldig verduidelik hoe ’n mens jou vertroue in Jehovah stel, veral deur sy naam hardop in gebed aan te roep.—Spreuke 18:10.

Arlette het vinnig gevorder. Aanvanklik het haar gesin glad nie beswaar gemaak teen die studie nie omdat sy sulke merkwaardige fisiese en verstandelike vordering gemaak het. Maar toe hulle besef dat sy een van Jehovah se Getuies wil word, het hulle haar verbied om die studie voort te sit. Drie weke later het Arlette se moeder, wat besef het hoe ontsteld haar dogter was, met Marie in aanraking gekom en haar gevra om die studie te hervat.

Toe dit tyd was om ’n kringbyeenkoms by te woon, het Marie ’n taxibestuurder betaal om Arlette op altwee dae daarheen te neem. Die bestuurder het egter geweier om tot bo by Arlette se huis te gaan omdat hy besluit het dat die paadjie wat na haar huis lei onbegaanbaar is. Marie het die meisie toe tot by die pad geneem. Jehovah het beslis hierdie pogings geseën. Vandag woon Arlette al die gemeentelike vergaderinge by. Om haar te help om dit te doen, kom Marie haar getrou haal. Saam loop hulle 75 minute in albei rigtings. Aangesien die Sondagvergadering om 8:30 vm. begin, moet Marie haar huis om 6:30 verlaat; nogtans kry hulle dit reg om betyds te wees. Arlette hoop om binnekort haar toewyding deur waterdoop te simboliseer. Marie sê: “Enigiemand wat haar nie gesien het toe sy begin studeer het nie, kan hom nie voorstel hoeveel sy verander het nie. Ek is baie dankbaar teenoor Jehovah vir die manier waarop hy haar geseën het.” Marie is voorwaar ’n goeie voorbeeld van selfopofferende liefde.

In die verre noorde

Noord-Kameroen is vol kontraste en verrassings. Gedurende die reënseisoen verander dit in ’n ontsaglike, welige tuin. Maar wanneer die son op die aarde begin neerskroei, verdor die gras. Om twaalfuur, wanneer die son op sy hoogste is en dit moeilik is om koelte te vind, sal skape hulle teen die rooimoddermure van huise druk. Tussen die sand en droë gras is die enigste spoor van groenigheid die paar blare van die kremetartbome. Selfs al is hulle nie so groot soos hulle neefs in die ekwatoriale woud nie, is hulle net so gehard. Hulle vermoë om in hierdie ongunstige omgewing te oorleef, stem goed ooreen met die ywer en moed van die paar Getuies wat in hierdie streek kom woon het om die lig van waarheid te laat skyn.

Party van die gemeentes in hierdie gebied is tussen 500 en 800 kilometer uitmekaar, en ’n mens voel die afsondering hier. Maar daar is baie belangstelling. Getuies van ander gebiede verhuis hierheen om te kom help. Om sukses in die bediening te behaal, moet hulle Foufouldé, ’n plaaslike dialek, leer.

’n Getuie van Garoua het besluit om ’n paar dae lank vir die mense in sy geboortedorpie, sowat 160 kilometer daarvandaan, te gaan getuig. Hy het ’n paar belangstellendes gevind, maar die hoë vervoerkoste het hom verhinder om gereeld terug te gaan. ’n Paar weke later het die Getuie ’n brief van een van die belangstellendes ontvang waarin hy hom soebat om hom weer te kom besoek. Omdat hy steeds nie genoeg geld vir die reis gehad het nie, kon hy nie gaan nie. Stel jou voor hoe verbaas die Getuie was toe die persoon by sy huis in Garoua opdaag om vir hom te kom sê dat tien mense in die dorpie op sy besoek wag!

In nog ’n dorpie, naby die grens van Tsjaad, het ’n groep van 50 belangstellendes hulle eie Bybelstudie georganiseer. Hulle het gereël dat drie van hulle die vergaderinge in die naaste gemeente in Tsjaad bywoon. By hulle terugkeer, hou hulle dan die Bybelstudie met die hele groep. Jesus se woorde is inderdaad hier van toepassing: “Die oes is groot, maar die werkers is min. Smeek dus die Heer van die oes om werkers in sy oes uit te stuur.”—Matteus 9:37, 38.

Die getuieniswerk in die stede

Nadat daar baie jare lank ’n tekort was, het Die Wagtoring en Ontwaak! ongeveer twee jaar gelede vryelik beskikbaar geword in Kameroen. Daar is baie opgewondenheid oor hierdie tydskrifte en belangstelling daarin, aangesien baie mense hulle vir die eerste keer lees. ’n Jong egpaar wat spesiale pioniers is en na een van die stede gestuur is, het 86 tydskrifte tydens hulle eerste oggend in die bediening in hulle nuwe gebied versprei. Party verkondigers het tot 250 tydskrifte per maand versprei! Wat is die sleutel tot hulle sukses? Bied die tydskrifte vir almal aan.

’n Getuie wat in ’n kantoor werk wat oop is vir die publiek, laat altyd tydskrifte waar mense dit kan sien. Een vrou het na die tydskrifte gekyk, maar niks geneem nie. Die Getuie het gesien dat sy daarin belangstel en het vir haar ’n eksemplaar aangebied, wat sy geneem het. Hy was verbaas om haar weer die volgende dag te sien. Nie alleen wou sy ’n bydrae vir die tydskrif gee wat sy geneem het nie, maar sy het ook nog gevra. Waarom? Omdat sy ’n slagoffer van verkragting was, het sy ’n tydskrif gekies wat oor daardie onderwerp handel. Sy het die hele nag lank die raad daarin oor en oor gelees. Omdat sy baie verlig gevoel het, wou sy meer omtrent Jehovah se Getuies weet.

Selfs kindertjies kan ’n deel daaraan hê om die Bybel se boodskap van hoop uit te dra. Toe ’n sesjarige Getuiedogtertjie deur haar onderwyser gevra is om ’n Katolieke gesang te sing, het sy geweier en gesê dat sy een van Jehovah se Getuies is. Die onderwyser het haar toe gevra om een van haar eie godsdiens se liedere te sing sodat hy vir haar punte daarvoor kon gee. Sy het die lied met die titel “God se belofte van ’n paradys” gekies en dit uit die hoof gesing. Die onderwyser het haar daaroor uitgevra en gesê: “Jy het van ’n paradys gesing. Waar is hierdie paradys?” Die dogtertjie het God se voorneme verduidelik om binnekort die Paradys op aarde tot stand te bring. Hy was verbaas oor haar antwoord en het haar ouers gevra of hy die boek kon kry waaruit sy leer. Hy was bereid om haar hiervolgens punte te gee in plaas van volgens die dinge wat sy tydens haar klasse oor godsdiens geleer is. Die ouers het aan die onderwyser voorgestel dat hy eers self moet studeer as hy haar reg wil toets. ’n Bybelstudie is met hom begin.

Beplan jy ’n besoek?

Vandag staan mense in baie dele van die wêreld onverskillig teenoor die goeie nuus van die Koninkryk. Hulle stel nie in God of in die Bybel belang nie. Ander word deur vrees verlam en weier eenvoudig om die deur vir enige vreemdeling oop te maak. Dit alles is ’n groot uitdaging vir Jehovah se Getuies in hulle bediening. Maar hoe anders is dit tog in Kameroen!

Hier is dit ’n plesier om die getuieniswerk van deur tot deur te doen. Pleks van te klop, is dit die gebruik om uit te roep: “Kong, kong, kong.” Dan antwoord ’n stem van binne: “Wie’s daar?” waarna ons ons as Jehovah se Getuies bekend stel. Gewoonlik vra die ouers hulle kinders om bankies te gaan haal en dit in die koelte van ’n boom te sit, miskien ’n mangoboom. ’n Mens kan dan ’n aangename tydjie deurbring terwyl jy verduidelik wat God se Koninkryk is en wat dit gaan doen om ’n einde aan die mensdom se droewige toestand te bring.

Ná juis so ’n bespreking het ’n dame haar hart uitgestort en gesê: “Dit ontstel my om te sien dat die waarheid waarna ek gesoek het nie in die godsdiens aangetref word waarin ek gebore is en waarin ek oud geword het nie. Ek dank God dat hy my die waarheid gewys het. Ek was ’n diakones in my kerk. Die beeld van die Maagd Maria word ’n week lank in die huis van elke diakones gehou sodat elkeen versoeke tot haar kan rig. Ek het Maria altyd gevra om my te help om die waarheid te vind. Nou het God vir my gewys dat die waarheid nie by haar is nie. Ek dank Jehovah.”

Besoek dus gerus hierdie deel van Wes-Afrika as jy eendag die groot vreugde wil ervaar wat ’n mens kan geniet wanneer jy die goeie nuus van God se Koninkryk verkondig! Buiten dat jy “Afrika in die kleine” beter sal leer ken, hetsy per kano, bostaxi of fiets, sal jy ook ’n bydrae lewer tot die “hoop getuienis” wat in die land van die “Berg van God” opgebou word.

[Voetnoot]

a “Hoop Getuienis” is die waarskynlike betekenis van die Hebreeuse woord wat as “Gilead” vertaal word. Sedert 1943 het die Wagtoring-Bybelskool Gilead sendelinge uitgestuur om die predikingswerk wêreldwyd te bevorder, onder andere in Kameroen.

[Foto-erkenning op bladsy 22]

Kaart: Mountain High Maps® Copyright © 1995 Digital Wisdom, Inc.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel