Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w96 8/1 bl. 15-20
  • ‘Word self ook in julle hele gedrag heilig’

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ‘Word self ook in julle hele gedrag heilig’
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Heilige lewe, heilige prys
  • Heilige gedrag in die gesin
  • Heiligheid en ons ongelowige gesinslede
  • Hoe kan ons in die gemeente heilig wees?
  • Kan ons heiligheid in ons buurt waargeneem word?
  • Heiligheid by die werk en by die skool
  • ‘Julle moet heilig wees, want Ek is heilig’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • “Heilig, heilig, heilig is Jehovah”
    Kom nader aan Jehovah
  • “Julle moet heilig wees”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan(Studie-uitgawe) — 2021
  • Streef na “heiligheid in die vrees van God”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
w96 8/1 bl. 15-20

‘Word self ook in julle hele gedrag heilig’

“Word, in ooreenstemming met die Heilige wat julle geroep het, self ook in julle hele gedrag heilig, want daar staan geskrywe: ‘Julle moet heilig wees, want ek is heilig.’”—1 PETRUS 1:15, 16.

1. Waarom het Petrus Christene aangespoor om heilig te wees?

WAAROM het die apostel Petrus die raad hierbo gegee? Omdat hy gesien het hoe noodsaaklik dit vir elke Christen is om op sy gedagtes en dade te let sodat hy hulle in ooreenstemming met Jehovah se heiligheid kan hou. Daarom het hy vóór die woorde hierbo gesê: “Versterk . . . julle verstand vir bedrywigheid, bly volkome nugter van verstand . . . Hou as gehoorsame kinders op om gevorm te word volgens die begeertes wat julle vroeër in julle onkunde gehad het.”—1 Petrus 1:13, 14.

2. Waarom was ons begeertes onheilig voordat ons die waarheid geleer het?

2 Die begeertes wat ons vroeër gehad het, was onheilig. Waarom? Omdat baie van ons ’n wêreldse lewenswandel gevolg het voordat ons die Christelike waarheid aangeneem het. Petrus het dit geweet toe hy ronduit geskryf het: “Die tyd wat verby is, is voldoende vir julle om die wil van die nasies te kon volbring toe julle in losbandige dade, welluste, oordadighede met wyn, swelgerye, drinkpartye en onwettige afgoderye gewandel het.” Petrus het natuurlik nie onheilige dade genoem wat eie aan ons hedendaagse wêreld is nie, aangesien hulle destyds onbekend was.—1 Petrus 4:3, 4.

3, 4. (a) Hoe kan ons verkeerde begeertes teëwerk? (b) Moet Christene emosieloos wees? Verduidelik.

3 Het jy opgelet dat hierdie dinge begeertes is wat die vlees, die sinne en die emosies prikkel? Wanneer ons toelaat dat hierdie dinge ons oorheers, dan word ons gedagtes en dade baie maklik onheilig. Dit toon hoe belangrik dit is dat ons denkvermoë ons dade moet beheers. Paulus het dit so gestel: “Gevolglik versoek ek julle dringend op grond van die medelye van God, broers, om julle liggame aan te bied as ’n offerande wat lewend, heilig en vir God aanneemlik is, ’n heilige diens met julle denkvermoë.”—Romeine 12:1, 2.

4 Om aan God ’n heilige offerande aan te bied, moet ons deur ons denkvermoë gelei word, nie deur ons emosies nie. Hoeveel het nie al by onsedelikheid betrokke geraak omdat hulle toegelaat het dat hulle gevoelens hulle gedrag beheers nie! Dit beteken nie dat ons emosies onderdruk moet word nie; hoe sal ons dan kan uiting gee aan ons vreugde in Jehovah se diens? Maar as ons eerder die vrugte van die gees as die werke van die vlees wil voortbring, moet ons ons verstand na Christus se denkwyse hervorm.—Galasiërs 5:22, 23; Filippense 2:5.

Heilige lewe, heilige prys

5. Waarom was Petrus bewus van die belangrikheid van heiligheid?

5 Waarom was Petrus so bewus van die belangrikheid van Christelike heiligheid? Omdat hy deeglik bewus was van die heilige prys wat betaal is om die gehoorsame mensdom los te koop. Hy het geskryf: “Julle weet dat julle nie met verderflike dinge, met silwer of goud, verlos is van julle vrugtelose gedragswyse wat julle deur oorlewering van julle voorvaders ontvang het nie. Maar dit was met kosbare bloed, soos dié van ’n smetlose en vlekkelose lam, ja, Christus s’n” (1 Petrus 1:18, 19). Ja, die Bron van heiligheid, Jehovah God, het sy enigverwekte Seun, “die Heilige”, aarde toe gestuur om die losprys te betaal wat mense sou toelaat om ’n goeie verhouding met God te hê.—Johannes 3:16; 6:69; Exodus 28:36, NW; Matteus 20:28.

6. (a) Waarom is dit nie vir ons maklik om heilige gedrag na te streef nie? (b) Wat kan ons help om ons gedrag heilig te hou?

6 Maar ons moet besef dat dit nie maklik is om ’n heilige lewe te lei terwyl ons in Satan se verdorwe wêreld is nie. Hy stel strikke vir ware Christene, wat ’n bestaan in hierdie stelsel van dinge probeer voer (Efesiërs 6:12; 1 Timoteus 6:9, 10). Die druk van sekulêre werk, van familieteenstand, van bespotting by die skool en van portuurdwang maak dit noodsaaklik om geestelik sterk te wees as ’n mens heilig wil bly. Dit beklemtoon die onontbeerlike rol van ons persoonlike studie en ons gereelde bywoning van Christelike vergaderinge. Paulus het Timoteus vermaan: “Hou voortdurend vas aan die patroon van gesonde woorde wat jy van my gehoor het, met die geloof en liefde wat in verband met Christus Jesus is” (2 Timoteus 1:13). Ons hoor daardie gesonde woorde by ons Koninkryksaal en in ons persoonlike studie van die Bybel. Dit kan ons help om daagliks onder verskeie omstandighede heilig in ons gedrag te wees.

Heilige gedrag in die gesin

7. Hoe moet heiligheid ons gesinslewe beïnvloed?

7 Toe Petrus Levitikus 11:44 aangehaal het, het hy die Griekse woord haʹgi·os gebruik, wat “afgeskeie van sonde en derhalwe aan God toegewy” beteken (An Expository Dictionary of New Testament Words deur W. E. Vine). Hoe moet dit ons in ons Christelike gesinslewe beïnvloed? Dit moet ongetwyfeld beteken dat ons gesinslewe gegrond moet wees op liefde, want “God is liefde” (1 Johannes 4:8). Selfopofferende liefde is die olie wat die verhoudinge tussen huweliksmaats en tussen ouers en kinders laat vlot.—1 Korintiërs 13:4-8; Efesiërs 5:28, 29, 33; 6:4; Kolossense 3:18, 21.

8, 9. (a) Watter situasie ontstaan soms in ’n Christenhuis? (b) Watter goeie raad gee die Bybel oor hierdie saak?

8 Ons dink dalk dat daar in ’n Christengesin outomaties aan sulke liefde uiting gegee word. Maar daar moet erken word dat liefde nie altyd in die gewenste mate in party Christenhuise heers nie. Dit kom dalk by die Koninkryksaal so voor, maar hoe maklik kan ons heiligheid afneem wanneer ons tuis is. Dan vergeet ons dalk dat die vrou nog steeds ons Christensuster is of dat die man nog steeds dieselfde broer is (en miskien ’n bedieningskneg of ouer man is) wat by die Koninkryksaal skynbaar met respek behandel is. Ons raak geïrriteerd en driftige argumente kan ontstaan. Ons kan selfs volgens ’n dubbele standaard begin lewe. Dit is nie meer ’n Christelike man-en-vrou-verhouding nie, maar bloot ’n man en vrou wat in onenigheid saamwoon. Hulle vergeet dat daar ’n heilige atmosfeer in die huis moet heers. Hulle begin moontlik soos wêreldse mense klink. Hoe maklik kan ’n gemene, snydende aanmerking dan tog nie uit ons mond uitgaan nie!—Spreuke 12:18; vergelyk Handelinge 15:37-39.

9 Paulus het egter gemaan: “Laat ’n slegte woord [Grieks, loʹgos sa·prosʹ, “verontreinigende spraak”, derhalwe onheilig] nie uit julle mond uitgaan nie, maar watter woord ook al goed is vir opbouing na gelang van die behoefte, sodat dit iets gunstigs aan die hoorders kan meedeel.” En dit verwys na al die hoorders in die huis, met inbegrip van die kinders.—Efesiërs 4:29; Jakobus 3:8-10.

10. Hoe is raad oor heiligheid op kinders van toepassing?

10 Hierdie riglyn in verband met heiligheid is net soveel van toepassing op die kinders in ’n Christengesin. Hoe maklik is dit tog vir hulle om van die skool af huis toe te kom en die opstandige en oneerbiedige spraak van hulle wêreldse portuurs te begin naboots! Kinders, moenie die gesindhede volg van die ongemanierde seuns wat Jehovah se profeet beledig het en wat vandag hulle vuilpraterige, lasterlike gelykes het nie (2 Konings 2:23, 24). Jou spraak moenie besmet word deur die growwe straattaal van mense wat te lui of onbedagsaam is om betaamlike woorde te gebruik nie. As Christene moet ons spraak heilig, aangenaam, opbouend, vriendelik wees, asook “smaaklik gemaak met sout”. Dit moet ons laat uitstaan as mense wat anders is.—Kolossense 3:8-10; 4:6.

Heiligheid en ons ongelowige gesinslede

11. Waarom moet ons nie heiligheid met eiegeregtigheid verwar nie?

11 Hoewel ons nougeset probeer om heiligheid te beoefen, moet ons nie meerderwaardig en eiegeregtig voorkom nie, veral wanneer ons met ongelowige gesinslede te doen het. Ons goedhartige Christelike gedrag moet hulle ten minste help om te sien dat ons op ’n positiewe wyse anders is, dat ons wel weet hoe om liefde en barmhartigheid te betoon, net soos die barmhartige Samaritaan in Jesus se illustrasie gedoen het.—Lukas 10:30-37.

12. Hoe kan Christenhuweliksmaats die waarheid vir hulle maat aantrekliker maak?

12 Petrus het die belangrikheid van ’n gepaste gesindheid teenoor ons ongelowige gesinslede beklemtoon toe hy aan Christenvrouens geskryf het: “Vrouens, wees insgelyks onderdanig aan julle eie mans, sodat, as sommige nie aan die woord gehoorsaam is nie, hulle sonder ’n woord deur die gedrag van hulle vrouens gewen kan word, omdat hulle ooggetuies was van julle kuis gedrag tesame met diep respek.” ’n Christenvrou (of selfs ’n Christenman) kan die waarheid vir ’n ongelowige maat aantrekliker maak as haar gedrag kuis, bedagsaam en eerbiedig is. Dit beteken dat sy aanpasbaar moet wees wat haar teokratiese rooster betref sodat die ongelowige huweliksmaat nie verwaarloos of uitgesluit word nie.a—1 Petrus 3:1, 2.

13. Hoe kan ouer manne en bedieningsknegte soms ongelowige mans help om die waarheid te waardeer?

13 Ouer manne en bedieningsknegte kan soms help deur die ongelowige man op ’n sosiale vlak te leer ken. Op hierdie manier sal hy dalk sien dat Getuies normale, ordentlike mense is wat in baie dinge belangstel, met inbegrip van onderwerpe buiten die Bybel. In een geval het ’n ouer man belangstelling in ’n ongelowige man se hengelsport getoon. Dit was genoeg om die ys te breek. Daardie man het op die ou end ’n gedoopte broer geword. In ’n ander geval het ’n ongelowige man baie in kanaries belanggestel. Die ouer manne het nie die stryd gewonne gegee nie. Een van hulle het die onderwerp bestudeer sodat hy ’n gesprek oor daardie man se geliefkoosde onderwerp kon aanknoop toe hulle weer ontmoet het! Om heilig te wees, beteken dus nie om preuts of kleingeestig te wees nie.—1 Korintiërs 9:20-23.

Hoe kan ons in die gemeente heilig wees?

14. (a) Wat is een van Satan se metodes waardeur hy die gemeente ondermyn? (b) Hoe kan ons Satan se strik weerstaan?

14 Satan die Duiwel is ’n lasteraar, want die Griekse naam vir Duiwel, di·aʹbo·los, beteken “beskuldiger” of “lasteraar”. Laster is een van sy spesialiteite, en hy probeer dit in die gemeente gebruik. Sy gunstelingmetode is skinderpraatjies. Laat ons toe dat ons sy slagoffers word wat hierdie onheilige gedrag betref? Hoe kan dit gebeur? Deur skinderpraatjies te begin, deur dit te herhaal of deur daarna te luister. Die wyse spreuk sê: “’n Man van valse streke saai tweedrag, en ’n kwaadstoker skei vriende van mekaar” (Spreuke 16:28). Wat werk skinderpraatjies en laster teë? Ons moet seker maak dat ons spraak altyd opbouend en op liefde gegrond is. As ons na die deugde in plaas van die vermeende gebreke van ons broers soek, sal ons gesprekke altyd aangenaam en op geestelike dinge gerig wees. Onthou dat dit maklik is om te kritiseer. En die persoon wat by jou oor ander skinder, skinder dalk ook by ander oor jou!—1 Timoteus 5:13; Titus 2:3.

15. Watter Christelike eienskappe sal help om almal in die gemeente heilig te hou?

15 Om die gemeente heilig te hou, moet ons almal die denke van Christus hê, en ons weet dat sy oorheersende eienskap liefde is. Paulus het die Kolossense derhalwe vermaan om medelydend soos Christus te wees: “Beklee julle gevolglik, as God se uitverkorenes, heilig en gelief, met die tere geneenthede van medelye, goedhartigheid, ootmoed, sagmoedigheid en lankmoedigheid . . . , en [vergewe] mekaar vryelik . . . Beklee julle, benewens al hierdie dinge, met liefde, want dit is ’n volmaakte band van eenheid.” Toe het hy bygevoeg: “En laat die vrede van die Christus in julle harte heers.” Ons kan beslis met hierdie vergewensgesinde gees die eenheid en die heiligheid van die gemeente bewaar.—Kolossense 3:12-15.

Kan ons heiligheid in ons buurt waargeneem word?

16. Waarom behoort ons heilige aanbidding gelukkige aanbidding te wees?

16 Wat van ons bure? Hoe beskou hulle ons? Straal ons die vreugde van die waarheid uit of laat ons dit na ’n las lyk? As ons heilig is net soos Jehovah heilig is, dan behoort dit duidelik te wees uit ons spraak en uit ons gedrag. Dit behoort duidelik te wees dat ons heilige aanbidding gelukkige aanbidding is. Waarom? Omdat Jehovah ons God ’n gelukkige God is wat wil hê dat sy aanbidders vreugdevol moet wees. Dit is waarom die psalmis aangaande Jehovah se volk in die ou tyd kon sê: “Gelukkig is die volk wie se God Jehovah is!” Weerspieël ons daardie vreugde? Toon ons kinders ook dat hulle tevrede is om saam met Jehovah se volk by die Koninkryksaal en by byeenkomste te wees?—Psalm 89:15, 16, NW; 144:15b, NW.

17. Wat kan ons op praktiese wyse doen om te toon dat ons gebalanseerd is in heiligheid?

17 Ons kan ook toon dat ons gebalanseerd is in heiligheid deur ons gees van samewerking en goeie buurmanskap. Soms is dit nodig dat bure saam werk, moontlik om die buurt skoon te maak of, soos in party lande, om die paaie en hoofweë te help verbeter. In hierdie verband kan ons heiligheid ook blyk uit hoe ons na ons tuin, werf of ander eiendom omsien. Kan ons sê dat ons ons bure met respek behandel as ons vullis laat rondlê of ’n verwaarloosde of onversorgde werf het, moontlik selfs met ou stukkende voertuie waar almal dit kan sien?—Openbaring 11:18.

Heiligheid by die werk en by die skool

18. (a) Met watter probleem het Christene vandag te kampe? (b) Hoe kan ons anders as die wêreld wees?

18 Die apostel Paulus het aan die Christene in die onheilige stad Korinte geskryf: “In my brief het ek aan julle geskryf om op te hou om met hoereerders om te gaan, nie dat ek bedoel het heeltemal met die hoereerders van hierdie wêreld of die gierigaards en afpersers of afgodedienaars nie. Anders sou julle in werklikheid uit die wêreld moes uitgaan” (1 Korintiërs 5:9, 10). Dit is ’n probleem vir Christene, wat daagliks met onsedelike of sedelose mense moet meng. Dit is ’n groot toets van onkreukbaarheid, veral in kulture waar seksuele teistering, korrupsie en oneerlikheid aangemoedig of vergoelik word. In hierdie omstandighede kan ons nie bekostig om ons standaarde te verlaag sodat ons vir diegene om ons “normaal” voorkom nie. Ons Christelike gedrag, wat goedhartig maar anders is, moet ons eerder laat uitstaan vir mense met onderskeidingsvermoë, vir diegene wat besef dat hulle ’n geestelike behoefte het en wat na iets beters soek.—Matteus 5:3; 1 Petrus 3:16, 17.

19. (a) Kinders, voor watter toetse kom julle by die skool te staan? (b) Wat kan ouers doen om hulle kinders en hulle heilige gedrag te ondersteun?

19 Daar is eweneens baie toetse waarvoor ons kinders by die skool te staan kom. Ouers, besoek julle die skool waar julle kinders skoolgaan? Weet julle watter soort atmosfeer daar by die skool heers? Het julle ’n goeie verstandhouding met die onderwysers? Waarom is hierdie vrae belangrik? Omdat skole in talle stedelike gebiede van die wêreld broeiplekke van geweld, dwelmgebruik en onsedelikheid geword het. Hoe kan julle kinders hulle onkreukbaarheid handhaaf en hulle gedrag heilig hou as hulle nie die volle simpatieke ondersteuning van hulle ouers kry nie? Paulus het ouers tereg vermaan: “Vaders, moenie julle kinders vertoorn nie, sodat hulle nie mismoedig word nie” (Kolossense 3:21). Een manier om kinders te vertoorn, is om te versuim om hulle daaglikse probleme en toetse te verstaan. Voorbereiding vir die versoekings by die skool begin in die geestelike atmosfeer van ’n Christenhuis.—Deuteronomium 6:6-9; Spreuke 22:6.

20. Waarom is heiligheid noodsaaklik vir ons almal?

20 Ten slotte, waarom is heiligheid vir ons almal noodsaaklik? Omdat dit as beskerming dien teen die aanslae van Satan se wêreld en denke. Dit is nou ’n seën en sal ’n seën in die toekoms wees. Dit help om ons te verseker van die lewe—die werklike lewe in die nuwe wêreld van regverdigheid. Dit help ons om gebalanseerde en genaakbare Christene te wees wat goed met mekaar kan kommunikeer—nie hardvogtige dwepers nie. Kortom, dit maak ons Christelik.—1 Timoteus 6:19.

[Voetnoot]

a Sien Die Wagtoring van 15 Augustus 1990, “Moenie jou huweliksmaat afskeep nie!” bladsye 20-2, en 1 November 1988, bladsye 24-5, paragrawe 20-2, vir verdere inligting oor taktvolle optrede teenoor ongelowige maats.

Onthou jy?

◻ Waarom het Petrus dit nodig geag om Christene raad te gee oor heiligheid?

◻ Waarom is dit nie maklik om ’n heilige lewe te lei nie?

◻ Wat kan ons almal doen om heiligheid in die gesin te verbeter?

◻ Watter onheilige gedrag moet ons vermy sodat die gemeente heilig kan bly?

◻ Hoe kan ons by die werk en by die skool heilig bly?

[Prent op bladsy 16, 17]

As Jehovah se Getuies moet ons vreugdevol wees in ons diens aan God en in ander bedrywighede

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel