Lei hulle op van kleintyd af
HEDENDAAGSE navorsing toon dat “fetusse fisiologies op stemme reageer”. Navorsers aan die Universiteit van Noord-Carolina “het gevind dat pasgebore babas wie se moeders vir hulle gelees het terwyl hulle in die baarmoeder was, gereageer het wanneer daardie gedeeltes weer vir hulle gelees is”, sê die Winnipeg Free Press. Wanneer vroue wat verwagtend is hardop lees, kan dit heel moontlik daartoe bydra dat goeie sedelike waardes by die kind ingeprent word. Die Bybel sê dat Timoteus “van kleintyd af die heilige geskrifte geken het” (2 Timoteus 3:14, 15). Sy moeder en ouma het klaarblyklik die waarde daarvan besef om hom van kleintyd af op te lei, wat heel waarskynlik beteken het dat hulle ook hardop vir hom gelees het.
Om te kan lees, is “die kragtigste lewensvaardigheid wat ons vandag in ons samelewing het”, sê die skrywer Jim Trelease. Taal- en woordeskatvaardighede word verbeter deur hardop te lees.
Dit is verstandig om al hardop vir jou kleintjie te begin lees sodra jy met hom of haar begin praat. Selfs al sal jou ongebore of pasgebore baba nie aanvanklik verstaan wat jy sê nie, is die moontlike langtermynvoordele die moeite werd. Spreuke 22:6 sê: “Lei ’n seun op ooreenkomstig die weg vir hom; ook as hy oud word‚ sal hy nie daarvan afwyk nie” (NW).
Wat kan jy lees wat sowel prakties as nuttig is? Lees elke dag die Bybel hardop vir jou kind. Lees ook ander publikasies wat die moeite werd is, soos Luister na die Groot Onderwyser, My boek met Bybelverhale, Die grootste mens wat nog geleef het en artikels in Die Wagtoring en Ontwaak!
Dit neem weliswaar tyd om op hierdie manier van jouself te gee, maar dit is tyd wat goed gebruik word. Dit is ’n tasbare manier om te toon dat jy omgee en lief is vir jou kind.