“Leer ons hoe om te bid”
“HERE, leer ons hoe om te bid.” Daardie versoek is deur ’n dissipel van Jesus Christus gedoen (Lukas 11:1). Die dissipel, wie se naam nie genoem word nie, was klaarblyklik ’n man met diepe waardering vir gebed. Ware aanbidders van vandag erken eweneens die belangrikheid daarvan. Gebed is op stuk van sake die middel waardeur ons die geleentheid kry om met die Hoogste Persoon in die heelal te praat! En dink bietjie! Die “Hoorder van die gebed” skenk persoonlike aandag aan ons bekommernisse en sorge (Psalm 65:3). Nog belangriker, deur middel van gebed dank en loof ons God.—Filippense 4:6.
Die woorde “leer ons hoe om te bid” laat nietemin ’n paar ernstige vrae ontstaan. Wêreldwyd gebruik verskillende godsdienste baie metodes om tot God te nader. Maar is daar ’n regte en ’n verkeerde manier om te bid? Kom ons kyk in antwoord hierop eers na party van die algemene godsdiensgebruike waarby gebed betrokke is. Ons sal ons toespits op dié wat in Latyns-Amerika beoefen word.
Beelde en “beskermheiliges”
Latyns-Amerikaanse lande is oor die algemeen baie godsdienstig. Die algemene gebruik om tot “beskermheiliges” te bid, kan byvoorbeeld oral in Mexiko waargeneem word. Trouens, dit is gebruiklik dat Mexikaanse dorpe “beskermheiliges” het vir wie daar op sekere dae feeste gehou word. Die Katolieke in Mexiko bid ook tot ’n groot verskeidenheid beelde. Watter “heilige” aangeroep word, hang egter af van die soort versoek wat die aanbidder wil doen. As iemand ’n huweliksmaat soek, sal hy dalk ’n kers vir “sint” Antonius aansteek. Iemand wat van plan is om ’n reis per motor te onderneem, sal hom dalk aanbeveel aan “sint” Christophorus, die beskermheilige van reisigers, veral van motoriste.
Maar waar het hierdie gebruike ontstaan? Toe die Spanjaarde in Mexiko aangekom het, het hulle volgens die geskiedenis ’n bevolking gevind wat aan die aanbidding van heidense gode toegewy was. In sy boek Los Aztecas, Hombre y Tribu (Asteke, die Mens en die Stam) sê Victor Wolfgang von Hagen: “Daar was persoonlike gode, elke plant het sy god gehad, elke bedrywigheid sy god of godin, selfs selfmoorde het een gehad. Yacatecuhtli was die sakemanne se god. In hierdie politeïstiese wêreld het al die gode duidelik omskrewe neigings en funksies gehad.”
Hierdie gode het so opvallend met die Katolieke “heiliges” ooreengekom dat die inboorlinge bloot van getrouheid aan hulle afgode tot getrouheid aan die kerk se “heiliges” oorgeslaan het toe die Spaanse veroweraars hulle probeer verchristelik het. ’n Artikel in The Wall Street Journal het die heidense oorsprong erken van die Katolisisme wat in party dele van Mexiko beoefen word. Dit het gesê dat die meeste van die 64 “heiliges” wat in een gebied deur die bevolking vereer word met “spesifieke Maja-gode” ooreengestem het.
Die New Catholic Encyclopedia voer aan dat “daar tussen die heilige en diegene op aarde ’n band van intieme vertroue is, . . . ’n band wat hoegenaamd nie afbreuk doen aan die verhouding met Christus en God nie, maar dit eerder verryk en verinnig”. Maar hoe kan ’n band wat duidelik ’n oorblyfsel van die heidendom is ’n mens se verhouding met die ware God verinnig? Kan gebede wat tot hierdie “heiliges” gerig word God werklik behaag?
Die oorsprong van die rosekrans
Die gebruik van die rosekrans is nog iets wat baie gewild is. Die Diccionario Enciclopédico Hispano-Americano (Spaans-Amerikaanse Ensiklopediese Woordeboek) beskryf die rosekrans as ’n “string van vyftig of honderd en vyftig krale wat in groepe van tien verdeel is deur ander groter krale en aan die punte met ’n kruis verbind is, wat tans deur drie krale voorafgegaan word”.
Een Katolieke publikasie sê ter verduideliking van hoe die rosekrans gebruik word: “Die Heilige Rosekrans is ’n vorm van mondelinge en verstandelike gebed oor die Geheimenisse van ons verlossing. Dit bestaan uit vyftien tientalle. Elke tiental bestaan uit die opsê van die Onse Vader, tien Wees gegroet, Maria’s en ’n Gloria Patri. Gedurende elke tiental word ’n geheimenis bepeins.” Die geheimenisse is leerstellings, of leringe, wat Katolieke moet ken, en in hierdie geval verwys dit na die lewe, lyding en dood van Christus Jesus.
The World Book Encyclopedia sê: “Vroeë vorme van gebede met ’n rosekrans het gedurende die Middeleeue in die Christendom in gebruik gekom, maar het eers in die 15de en 16de eeu iets algemeens geword.” Is die gebruik van die rosekrans tot Katolisisme beperk? Nee. Die Diccionario Enciclopédico Hispano-Americano sê: “Soortgelyke krale word in Islamitiese, Lamaïstiese en Boeddhistiese aanbidding gebruik.” Trouens, die Encyclopedia of Religion and Religions sê: “Daar is al beweer dat die Mohammedane die rosekrans van die Boeddhiste gekry het en die Christene weer van die Mohammedane ten tye van die Kruistogte.”
Party voer aan dat die rosekrans bloot as ’n geheuehulpmiddel dien wanneer die herhaling van ’n aantal gebede nodig is. Maar skep God behae in die gebruik daarvan?
Ons hoef nie oor die gepastheid of geldigheid van sulke gebruike te spekuleer of te debatteer nie. Jesus het ’n gesaghebbende antwoord gegee op die versoek om sy volgelinge te leer hoe om te bid. Wat hy gesê het, sal meer lig hierop werp en sal party lesers miskien verbaas.
[Prente op bladsy 3]
Die gebruik van rosekranskrale is algemeen onder Katolieke. Wat is die oorsprong daarvan?