1996 “Boodskappers van Goddelike vrede”-streekbyeenkoms
IN DIE ou tyd het Jehovah se volk elke jaar drie groot feeste gevier. In hedendaagse tye kom Jehovah se naamvolk insgelyks drie keer per jaar vir feestelike geleenthede bymekaar. Hulle geniet dit om byeen te kom vir die eendaagse spesiale byeenkomsdag, die tweedaagse kringbyeenkoms en die drie- of vierdaagse streekbyeenkoms. Hierdie jaar is die tema vir die streekbyeenkoms “Boodskappers van Goddelike Vrede”.
Hoe gepas is daardie tema tog! Ons God, Jehovah, is “die God van vrede”, ja, “die God wat vrede gee”. Ons Leier, Jesus Christus, is die “Vredevors”, en die boodskap wat knegte van Jehovah bring, is ’n boodskap van Goddelike vrede (Filippense 4:9; Romeine 15:33; Jesaja 9:5; Nahum 1:15). ’n Uitstekende byeenkomsprogram is gereël wat almal sal help om in groter mate te besef hoe belangrik Goddelike vrede is.
Hierdie jaar sal daar in die Verenigde State alleen 198 streekbyeenkomste gehou word. Daar sal waarskynlik ’n streekbyeenkoms naby jou gehou word. Vra gerus Jehovah se Getuies in jou omgewing presies waar en wanneer dit sal wees sodat jy reëlings kan tref om dit by te woon. Almal wat in ware, blywende vrede belangstel, sal hartlik verwelkom word.