Koninkryksverkondigers berig
Die krag van God se Woord wat mense verander
HY HET self erken dat hy “’n lasteraar en ’n vervolger en ’n onbeskaamde man” was (1 Timoteus 1:13). Maar hy het verander! Die verandering wat die apostel Paulus ondergaan het, was so groot dat hy later kon sê: “Word navolgers van my, net soos ek dit van Christus is.”—1 Korintiërs 11:1.
Vandag maak honderdduisende opregte aanbidders oor die hele wêreld soortgelyke veranderinge. Wat stel hulle in staat om dit te doen? Hulle neem kennis in van God se Woord en pas dit in hulle lewe toe. Die volgende ondervinding lig die krag toe wat God se Woord het om mense te verander.
In Slowenië het ’n ouerige egpaar alleen buite ’n dorpie gewoon. Die man, Jože, was ongeveer 60 jaar oud en het ’n ernstige drankprobleem gehad. Hy het nogtans vir sy siek vrou, Ljudmila, gesorg. Eendag het twee Koninkryksverkondigers na Jože gekom. Hy het die twee Getuies in sy huis ingenooi, waar hulle sy vrou ontmoet het. Toe sy die Koninkryksboodskap hoor, het trane van vreugde oor Ljudmila se wange gerol. Jože het ook geniet wat hy gehoor het en het baie vrae gevra. Nadat die Getuies Bybellektuur by die egpaar gelaat het, is hulle daar weg.
’n Maand later kon die Getuies weer teruggaan, en hulle het opgemerk dat die boek Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe op die tafel lê. Toe hulle Jože vra waar hy dit gekry het, het hy gesê: “Ek het ’n advertensie gesien op die agterblad van een van die tydskrifte wat julle by my gelaat het. Ek het toe na julle kantoor in Zagreb geskryf en die boek aangevra.” Vanweë sy belangstelling het hulle hom genooi om die komende herdenking van Christus se dood by te woon wat by die Koninkryksaal gehou sou word. Die Getuies was verheug toe hy opdaag!
Nie lank daarna nie is ’n Bybelstudie begin, en hulle het goeie vordering gemaak. Toe daar byvoorbeeld vir Jože in die Bybel getoon is dat ’n mens ‘vir jou geen gesnede beeld mag maak of jou voor hulle nie mag neerbuig en hulle nie dien nie’, het hy onmiddellik al die godsdiensbeelde asook -prente in die huis bymekaargemaak en weggegooi.—Exodus 20:4, 5.
Jože se dors na geestelike waarheid is bevredig. Maar ongelukkig het hy steeds ’n ander dors gehad. Ongeveer 18 jaar lank het hy elke dag omtrent sewe liter wyn gedrink. As gevolg van sy drankprobleem het hy nie veel aandag aan sy persoonsversorging geskenk nie. Maar nadat hy geleer het wat God se beskouing oor alkoholmisbruik is, was hy vasbeslote om te verander.
Hy het sy drankprobleem geleidelik probeer oorkom en boekgehou van hoeveel hy elke dag drink. In ’n kort tydjie was hy nie meer aan wyn verslaaf nie. Tydens sy Bybelstudies het hy ook geleer dat ware Christene goeie persoonlike higiëne moet handhaaf. Hy het gevolglik vir die Getuies geld gegee en gesê: “Wel, gaan koop die klere wat ek nodig het om by Christelike vergaderinge en in die veldbediening aanvaarbaar te wees!” Die Getuies het met onderklere, kouse, skoene, hemde, pakke klere, dasse en ’n aktetas teruggekom.
Nadat Jože en Ljudmila die Bybel ’n jaar bestudeer het, het hulle aan die vereistes voldoen om saam met die Getuies in die predikingswerk van huis tot huis te gaan. Drie maande later het hulle by ’n streekbyeenkoms van Jehovah se Getuies hulle toewyding aan God deur waterdoop gesimboliseer. Ten spyte van sy ouderdom en swak gesondheid het Jože gereeld die goeie nuus verkondig en later, tot sy dood in Mei 1995, getrou as ’n bedieningskneg in die gemeente gedien. Die goeie vrugte wat in die lewe van hierdie nederige man en sy vrou voortgebring is, lewer bewys van die krag wat God se Woord het om mense te verander!